Postings

Thursday 18 October 2012

Oordeel of Veroordeel - Wat se die Bybel?



OORDEEL EN VEROORDEEL
                                                                                               


DIE OËNSKYNLIKE PARADOKS


  Stes de Necker



1. Jy mag nie oordeel nie
In Matteus 7:1-2 sê die apostel: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle ander oordeel, sal oor julle geoordeel word en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”
Daar bestaan verskeie verwysings in die Bybel wat vir ons sê dat ons nie oor ander mag oordeel nie. So byvoorbeeld lees ons in  Luk. 6:37, “Moenie oordeel nie en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry en julle sal vrygespreek word.” Ook in Rom 2:1 sê Paulus: “Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n  ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n  ander ’n  oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.”
As gevolg van hierdie skrif waarhede, is daar talle gelowiges wat baie ernstig voel oor die feit dat ons nie oor ander mense mag oordeel nie en daarom nie vir ʼn ander mens kan sê dat hy/sy verkeerd is nie.
Volgens die Bybel is dit 'n voldonge feit dat ons nie mag oordeel nie, maar wat beteken dit prakties? Wat mag of moet ons as Christene dan doen en wat mag ons nie doen nie? Net soveel verwysings as wat daar in die Bybel bestaan wat sê ons mag nie oordeel nie, net soveel verwysings bestaan daar wat vir sê ons moet ons medemens teregwys as ons sien dat hulle verkeerd doen.
2. Jy moet oordeel
In Esegiël lees ons verskeie kere waar dit voorkom asof God ons in werklikheid beveel om te oordeel:
Esegiël 20: 4 “Oordeel jy oor hulle, mens, oordeel jý. Vertel vir hulle van die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het.”
Esegiël 22: 2 “Mens, wil jy hom oordeel, wil jy oor die stad van bloedvergieting oordeel? Vertel dan vir hom van sy afskuwelike dade.”
Esegiël 23: 36 “Die Here het vir my gesê: ‘Mens, oordeel jý oor Ohola en Oholiba. Vertel vir hulle van hulle afskuwelike dade.”
Esegiël 23: 45 “Regverdige manne moet oor dié vrouens oordeel volgens die bepaling oor owerspel en die bepaling oor bloedvergieting, want hulle het owerspel gepleeg en daar is bloed aan hulle hande.”
Ook in die Nuwe Testament is daar voorbeelde waarvolgens dit lyk of God van ons verwag om oor sonde te oordeel. Joh. 7: 24, “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”
In  Matt. 18: 15 sê die apostel: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.”  Vêrder in verse 16 en 17 sê die apostel: (16) “Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. (17)  En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n  heiden en ’n  tollenaar behandel.”
In Levitikus 19:15 staan daar: “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.” In Eseg. 3: 18 sê God self: “Wanneer Ek vir ’n  goddelose sê hy gaan sterwe en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.” en dan in vers 21: “As jy hom waarsku om nie te sondig nie en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het en jy sal jou eie lewe behou.”
Volgens die Ou- en Nuwe Testament blyk dit dus baie duidelik dat ons ’n  verantwoordelikheid het om ander mense reg te help. God sê vir ons baie duidelik dat as ons dit nie doen nie, Hy ons verantwoordelik sal hou. Ons het dus die plig om sonde te oordeel. Die groot voorbehoud in die Ou- en Nuwe Testament is egter dat ons dit regverdig moet doen.
WAAR IS DIE VERSKIL
Die groot vraag is nou: Hoe rekonsilieer ons God se opdragte om wel te oordeel, met die verbieding daarvan in byvoorbeeld Matteus en  Lukas?
Eerstens lê die verskil in die wyse waarop ons die Bybel lees en interpreteer. Wanneer ons die verbiedinge van die apostels en God se opdragte noukeurig lees, kom ons agter dat God ons nie die reg gee om oor die “méns” te oordeel nie, maar die sondige praktyk, wat gepleeg word!
Ons weet dat God die sonde haat en dat ons alleen in Jesus Christus vergewing van die sonde kan ontvang. Maar omdat God ook van óns verwag om die sonde te haat, beteken dit geensins dat ons die “mens” agter die sonde, ook moet haat en veroordeel nie! Ons het nog altyd die plig om ons naaste lief te hê. Wat God van ons verwag is dat ons die sondige daad en die mens van mekaar moet skei.
Ons moet die sonde oordeel en veroordeel; nie die mens nie! 
Tweedens lê die verskil in ons interpretasie van die Bybel vanuit ons huidige lewensbeskouing. 
Humanisme.
Wat word met “humanisme” bedoel? Hierbo het ek gesê dat ons ook soms slagoffers van die post-modernesisme is. Elkeen is geregtig op sy/haar eie waarheid, aangesien daar nie iets bestaan soos ’n  absolute waarheid nie. Hierdie standpunt is die gevolg van humanistiese denke. “Die mens het nie die reg om iemand anders voor te skryf hoe sy/haar lewe moet lyk nie!
Humanisme is ’n  onbybelse, mens georiënteerde ideologie wat alreeds in die verlede groot inbreuk op die Christelike teologie gemaak het deur duidelike Bybelse leerstellings af te verwater ten einde die voorskrifte van die Bybel by die behoeftes van die moderne beskawing aan te pas. Nie alleen word die gesag van die Skrif daardeur ondermyn nie, maar word Bybelse konstantes, wat deur die eeue heen nog altyd gegeld het, bloot verwyder of vervang met dogmatiese teorieë  wat aan die vereistes van die samelewing kan voldoen. 
In sy artikel, “Die  Bybel bekoor met eenvoud” skryf Prof. Piet Strauss, vorige Moderator van die NG Kerk: “Die teks van die Skrif word oorwoeker deur maatstawwe van buite. By sommige praat hul eie verstaan van die omstandighede of konteks van 'n  teksgedeelte harder as die teks of die kern van die Boodskap. Vir die modernis is dít wat die toets van sy verstand of rede slaag beslissend. By die post-modernis is ruimte vir verskille oor kernsake van die Bybel, omdat elk se storie ’n  plek moet hê en die  Bybel volgens hulle geduldig daarby inval.”

Vêrder in dieselfde artikel sê Prof. Strauss: “Daar is moderne teoloë wat die Bybeltekste oor homoseksualiteit so oorspeel met die destydse konteks, dat hulle aflei die Bybel gee nie ’n  mening oor moderne homoseksualiteit nie.”

Die mens het eenvoudig belangriker as die Bybel geword!

Homoseksualiteit.
Homoseksualiteit is seker een van die mees omstrede onderwerpe waaroor daar vandag in Suid-Afrika en in die res van die westerse wêreld, hewig gedebatteer word. So byvoorbeeld het die sogenaamde “Gay Rights Movement” in Suid-Afrika alreeds gegroei tot ʼn sosio-politieke beweging wat openlike optogte en demonstrasies hou om homoseksualiteit in die samelewing goedgekeur en aanvaarbaar te maak. Selfs die Kerk word nie gespaar in hierdie mense se strewe na erkenning en aanvaarbaarheid nie. In Australië behoort selfs prostitute aan ’n  erkende vakbond!
Homoseksualiteit is sekerlik een van die belangrikste dimensies van geestelike oorlogvoering waarby die kerk vandag betrokke is.
Die Bybel spreek tot ons in geen onduidelike terme nie. In Levitikus 18:22-30 word homoseksualiteit vyf keer ’n  gruwel genoem. Dit was só afstootlik in die oë van die Here dat dit die doodstraf deur steniging gedra het. In Lev. 20:13 staan daar: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’'n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”
Selfs in die Nuwe Testament sê Paulus: “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie. Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”
Die ou vertaling het gepraat van sodomiete. Hiermee het Paulus beslis nie na die inwoners van die stad Sodom verwys nie! Sodomie beteken presies wat die Afrikaanse Verklarende Woordeboek sê dit is: “Teennatuurlike ontug; geslagtelike omgang tussen mens en dier, of ook homoseksuele omgang”.
Die woord sodomie is afkomstig van die Latynse “peccatum Sodomiticum” wat in Afrikaans vertaal kan word as “Die sonde van Sodom”.
In die Griekse vertaling van die Bybel (Septuagint) word die woord “ekporneuō” gebruik wat na alle vorme van immorele seksuele praktyke verwys. Vandaar die woord “pornografie”.
Selfs met die heel mooiste en edelste bedoelings kan die praktyk van homoseksualiteit NOOIT geregverdig of gekondoneer word nie. Dit beteken egter nie dat ons die “mens” wat homoseksualiteit beoefen, of deur homoseksuele begeertes geteister word, ook mag veroordeel nie!
Net God kan ʼn “mens” oordeel. In Heb. 10: 30 staan daar: “Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Presies dieselfde vermaning vind ons in Rom. 12: 19 “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld, sê die Here.”

Die vraag is: hoekom word homoseksualiteit spesifiek, vandag uitgesonder om soveel aandag te kry. Gesien teen die agtergrond van die Skrif, wat maak die homoseksuele persoon na alles, enigsins verskillend van byvoorbeeld 'n alkoholis, of dief, of bedrieër, (alle vorme van bedrog), of lasteraar of selfs ’n  moordenaar!?

MENSEREGTE

Soms wil dit voorkom of Suid-Afrikaners oor die algemeen té gou, té veel “menseregte” bekom het. Wat niemand, waarvan ek weet, egter ooit gesê het nie, is dat daar vir elke reg wat daar bestaan, ʼn resiproke “teen-verantwoordelikheid” bestaan. Almal het die reg op vrye beweging, maar dan moet jy jou binne die voorskrifte van die land se wette gedra.  Almal het die regop grondbesit, maar dan moet jy jou stukkie grond binne die neergelegte voorskrifte bekom. Almal het die regop vryheid van spraak, maar dit beteken nie jy kan iemand vrylik loop en ander belaster nie.
Hoe dikwels het ons al gehoor:  “Dit is my reg om lief te hê wie ek wil en niemand kan vir my voorskryf wie ek mag liefhê en wie ek nie mag liefhê nie!” of  “Dit is my lewe en ek het die reg om te drink soveel as wat ek wil en niemand kan vir my sê wanneer ek moet ophou drink nie!” “Dit is my reg om grond te besit, daarom kan ek vir my grond vat soos ek wil!”  “Ek het die reg tot vryheid van spraak, daarom kan ek sê wat ek wil!”  Wat is die verskil tussen sommige van hierdie regte en “Gay” regte?
Stel jouself voor; wat sal ons sê as al die alkoholiste, of diewe of bedrieërs of moordenaars vandag ’'n “Alcoholics Rights Movement” of “The Stealers Rights Movement” of “The Corrupt Rights Movement” of “The Killers Rights Movement” sou begin!?  Wat sal die Staat (en my en jou) se reaksie wees as hierdie klomp die dag in die strate begin demonstreer vir die erkenning van húlle regte?
Ek sal my kop op ’n  blok sit dat hulle nie soveel simpatie as die “Gay” aktiviste gaan kry nie!
Prostitusie en aborsie word alreeds in Suid-Afrika nie meer as misdade beskou nie, terwyl ons wéét dat die Bybel dit ten sterkste verbied.
Hoekom word prostitusie, aborsie, homoseksualiteit, Godslastering ens. vandag nie meer as misdade gereken nie?
Vroeër het ek gesê dat humanisme ’'n onbybelse, mens georiënteerde ideologie is wat alreeds groot inbreuk op die Christelike teologie gemaak het.
In die post-moderne “verligte” humanistiese ideologieë, op politieke sowel as teologiese terryn, word die mens se sogenaamde “vryheid” as baie meer belangrik as die mens se Godgegewe verantwoordelikhede, beskou. By die geringste aanduiding dat die mens se “vryheid” in gedrang gebring kan word, word enige moontlike verwysing na die sondigheid daarvan, luidkeels aangeval.
Onder die dekmantel van menseregte en demokrasie, kan enige sonde regverdig word!

ETIKETTERING
ʼn Verdere belangrike oorsaak vir die mistastings in die Evangelie is die geneigdheid van die mens om alles en almal om hom te etiketteer (te “label”). 
Kom ons lees weer die verhaal in Johannes Hoofstuk 9 wat gaan oor die man wat sedert sy geboorte, blind was:
(1)  “Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n  man wat van sy geboorte af blind was.
(2) Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind is: sy eie of sy ouers s’n?”
(3) En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”

Jesus se dissipels het reeds aanvaar dat die man se blindheid as gevolg van sonde was. Al wat hulle wou weet is: wie se sonde was dit; syne of sy ouers s’n. Hulle het klaar die blinde geëtiketteer as 'n “sondaar”. Die feit dat hierdie man ’n  bedelaar was wat hulp nodig gehad het, het nie by hulle getel nie.

Ons almal is vandag nog skuldig hieraan. Wanneer iemand op straat bedel is dit omdat hy te lui is om te werk; As iemand meer besit as jyself, is dit omdat hy/sy of ryk geërf het of omdat hy/sy hulle ryk gesteel het; As jou vel wit is, is jy ’n  rassis; As jou vel swart is, is jy korrup; As jy vir die Vryheids Front stem is jy konserwatief, as jy vir die SAKP stem is jy radikaal!  Vir alke moontlike optrede het ons ’n  naambordjie.

Die volgende aanhaling van Moeder Teresa som dit miskien die beste op:

People are often unreasonable, illogical and self-centered;
Forgive them anyway.

If you are kind, people may accuse you of being selfish, or having ulterior motives;
Be kind anyway.

If you are successful, you will win some false friends and some true enemies; Succeed anyway.

If you are honest and frank, people may cheat you;
Be honest and frank anyway.

What you spend years building, someone could destroy overnight;
Build anyway.

If you find serenity and happiness, they may be jealous;
Be happy anyway.

The good you do today, people will often forget tomorrow;
Do good anyway.

Give the world the best you have, and it may never be enough;
Give the world the best you’ve got anyway.

You see, in the final analysis, it is between you and God. It was never between you and them anyway.

Jesus het altyd die “mens” raakgesien. Toe Sy dissipels hom vra: “Deur wie se sonde is dit dat hierdie man blindgebore is”, antwoord Hy hulle: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”  
Vir Jesus was hierdie man nie ’n  slagoffer van sonde nie; Hy was ʼn wonderwerk wat gewag het om te gebeur.  
Wanneer mense jou verwerp, aanvaar Jesus jou. Wanneer mense jou verlaat, bly Jesus by jou. Wanneer iemand anders nie tyd vir jou het nie, sal Jesus altyd vir jou tyd hê. Wanneer ander ván jou praat, sal God mét jou praat.
In Matt. 7: 1 sê Jesus: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.” en vêrder in vers 3: “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie.”  In Rom. 2: 1-3 sê Paulus: “Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou mens, wat ’'n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n  ander ’n  oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge. (2) Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. (3) Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom?” 
GOD SE WIL
Hoe weet ek en jy wat God se doel met die lewe van ʼn mens is? Wat sou ons oordeel byvoorbeeld gewees het oor die lewe van Paulus voordat hy tot bekering gekom het?
In Hand. 22 vanaf vers 6 lees ons die verhaal van Paulus se bekering. “Terwyl ek op reis was en naby kus gekom het, het daar teen die middag skielik ’n  sterk lig uit die hemel op my gestraal. (7) Ek het op die grond neergeval en ’n  stem vir my hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My? (8) ‘Wie is U Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret’, het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.”
In Hand. 22: 4 vertel Paulus self wat hierdie vervolging werklik behels het. “Ek wou die mense wat die leer van Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en in tronke laat stop.” Later, in sy brief aan die Galasiërs, skryf Paulus: “Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog ’n  aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei.” (Gal. 1: 13)

Stel jou vir een oomblik voor dat ons Regering vandag ʼn Wet uitvaardig wat die Christendom in Suid-Afrika verbied en bepaal dat alle Christene vervolg en in die tronke gestop moet word!

Ons sou nie net hulle wat aangestel word om die vervolging uit te voer, maar sekerlik ook die hele Regering daarmee saam, tot in die aller ewigste verdoemenis veroordeel het!

Die verhaal van Paulus se bekering is sekerlik die beste voorbeeld in die Bybel hoe min ons weet wat God se plan nie alleen vir ons eie lewe is nie, maar ook vir die lewe van 'n ander.

God vergewe Paulus nie net al sy onmenslike handelinge nie, maar maak hierdie “satan”, Paulus, die grootste dissipel van Jesus waarvan ons in die Bybel kan lees.
Wanneer ons oordeel moet ons uiters versigtig wees om nooit die persóón self te veroordeel nie.
DIE ROL VAN DIE HEILIGE GEES 
In Matt. 12: 31 sê Jesus: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.” 1 Joh. 5:16 sê “As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.”
Ek het al voorheen gesê dat die Heilige Gees daardie stil stem in jou binneste is wat gewoonlik moet skreeu om gehoor te word.
Wanneer jy, teen jou beter wete in, iets doen wat verkeerd is en desnieteenstaande die berisping van die Heilige Gees, voortgaan met jou verkeerde dade, verwerp jy nie die teregwysing van mens nie, maar verwerp jy die teregwysing van God self. Dan maak jy God tot leuenaar!
Elke persoon wat voorgee dat hy of sy ʼn Christen is en terselfdertyd openlik wil loop en verkondig dat hy of sy homoseksueel is, behoort vir hulleself die volgende saak uit te maak:
Wanneer jy bely dat jy ’n  kind van God is, bely jy dat jy in God se Woord ( Bybel) glo en wanneer jy die Bybel bevraagteken, bevraagteken jy God se Woord. Wanneer ons nie glo wat die Bybel sê nie, glo ons nie wat God self sê nie!  Of anders gestel; Hoe kan jy beweer dat jy in God glo, maar jy glo nie in Sy Woord nie?
Dit geld ook vir enigeen wat bely dat hy/sy ’n  Christen is, maar terselfdertyd hom/haar skuldig maak aan prostitusie, aborsie, diefstal, korrupsie, moord  ens.
In Joh. 12: 48 sê Jesus: “Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.”  
DIE BYBEL IS NIE “VEROUDERD” OF “ONDUIDELIK” NIE.
In 2 Tim. 3: 16 staan daar: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n  regte lewenswyse te kweek.” 

Die boek Openbaring handel oor die visioene wat Jesus aan die apostel Johannes openbaar het op die eiland Patmos. Hierdie openbaring was veel meer as ’n  blote inspirasie van die apostel, dit is die skriftelike getuienis van die apostel oor die visioen wat Jesus hom fisies laat sien het. Jesus was só ernstig oor die korrekte weergawe van hierdie gebeure dat Hy in Op. 22: 18 sê “As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.”

As Jesus so ernstig gevoel het oor die korrekte weergawe van hierdie gebeure, kan ons met groot veiligheid aanneem dat Jesus net so ernstig is oor die korrektheid van die res van die Bybel se inhoud.

Óf ons aanvaar die  Bybel in sy geheel, of ons aanvaar niks wat daarin staan nie!
SLOT
Die Bybel is duidelik. As Christene is dit ons plig om die sonde te oordeel en te veroordeel, maar onder geen omstandighede mag ons die “mens” agter die sonde veroordeel nie! 
Liewe vriend of vriendin, laat eerder die oordeel aan God oor. Maar as jy dan moét oordeel, oordeel die mens se dade en nie die mens self nie. En selfs dan moet ons altyd onthou, is daar nog altyd twee voorbehoude; Eerstens moet ons regverdig oordeel en tweedens moet ons baie seker maak dat ons eie lewens reg is, voordat ons oor iemand anders se lewe oordeel. Met die maat waarmee ons meet, sal ook vir ons gemeet word.
 Luk. 6: 37 “Spreek vry en julle sal vrygespreek word.”





No comments:

Post a Comment