Postings

Thursday 3 January 2013

God skuld my n suksesvolle en gelukkige lewe!




GOD SKULD MY N SUKSESVOLLE LEWE


Stes de Necker


Hoe baie sien of hoor ons van jongmense, vars uit Universiteit en met een voet nog wankelend in die praktyk, wat vas oortuig is dat, na drie of vier jaar se studie aan die een of ander Universiteit, hulle die wêreld se wysheid in pag het en dat die lewe hulle nou 'n groot toekoms verskuldig is!

Vernaam nog meer as pa en ma hoogaangeskrewe lede van die gemeenskap is en die gesin getrou Sondag na Sondag in die kerk gesien is en jaarliks mildelik tot die kerkbasaar bygedra het.

Vir hierdie spruite kan Dominee dan ook nie anders as om roerende getuigskrifte te gee wat in meeste gevalle eerder die lof van die ouers as die van die kind besing nie.

Jannie of Sannie was tot groot hoogtes bestem, totdat die dag aanbreek waarvan ons in Matteus 7:27 lees dat: “Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”  

Dan vind pa en ma met 'n skok uit dat al die roem en goeie dade nie genoeg was om Jannie of Sannie se fondamente op rots te kon vestig nie. Ongelukkig is dit ook die dag wanneer Jannie of Sannie se lewens in duie stort wanneer hulle nie kan verstaan, of aanvaar, dat hulle swaarverdiende kwalifikasies en voorbeeldige lewens toe nooit 'n waarborg vir 'n suksesvolle toekoms was nie. Die gevolge hiervan is maar al te goed bekend. Kinders wat totaal van die Kerk afvallig word; Kinders wat verward en teleurgesteld is; Kinders wat hulle ouers blameer vir die posisies waarin hulle, hulle bevind; Kinders wat aan erge depressie lei en helaas, kinders wat selfmoord pleeg.

En dan die stomme verbasing en ongeloof van die ouers en die gemeenskap. “Hoe kon hy/sy so iets doen! Wat het dan skeefgeloop? Hy/sy het dan so 'n mooi toekoms gehad. Hoekom? Waarom?

Liewe vriend en vriendin, geen kwalifikasie ter wêreld, nie die mees vroomste lewe en nie die mees voorbeeldigste agtergrond en opvoeding kan ons sukses in die lewe waarborg nie! Alles is in die hande van God en net Sy wil en genade is al wat sal bepaal wat van ons gaan word. Ware genade is die Woord van God wat mense verander.

Ek kan al hoor hoe mense sal reageer en sê: “Hoe kan jy so sê!  God het ons immers ook die verantwoordelikheid vir ons lewens gegee. As ons dit opmors moet ons nie God daarvoor blameer nie! Die mens het 'n eie wil en moet self toesien dat hy/sy nie 'n mislukking is nie. Jou toekoms is mos in jou eie hande”

My liewe vriend of vriendin, as jy al ooit so geredeneer het, of as jy al ooit in 'n situasie was wat jy so gevoel het, dan het ek vandag vir jou slegte nuus! Net so min as wat 'n vroom lewe en goeie dade alleen nie jou verlossing by God kan bewerk nie, net so min kan 'n voorbeeldige lewe of akademiese kwalifikasies alleen, nie jou sukses in die lewe bewerkstellig nie.

In 'n vorige artikel, “Moralisme versus Genade” het ek geskryf oor die humanistiese filosofie wat besig is om oor die wêreld heen pos te vat. Die beskouing dat die mens die belangrikste entiteit in die lewe is en dat die elkeen sy eie heil bewerkstellig.

In die woordelys van die Nederlandse Taal word die woord “moralisme”, soos dit in teologiese verband gebruik word, beskryf as: “levenshouding van waaruit alles volgens onwrikbare ideeën over goed of slecht wordt beoordeeld.” Binne teologiese verband beteken moralisme dus die siening dat die mens deur goeie werke sy verlossing en saligmaking kan bewerk.

In die Fariseïese teologie was genade, (God se guns), iets wat verdien moes word. Daarom het die Fariseërs hulself sovêr as moontlik toegespits daarop om soveel moontlike goeie en verdienstelike werke en wetsgehoorsaamheid te doen. Gevolglik was hierdie mense oortuig dat hulle op hierdie wyse vir hulself “krediete” by God kan bymekaarmaak.

Jesus het hierdie godsdiens van die Fariseërs ten sterkste verwerp aangesien dit “ 'n mensgemaakte godsdiens” was waardeur die méns in plaas van God, verheerlik word! Dit was 'n skynheilige, uiterlike, godsdiens, waarin die mens met allerlei godsdienstige rituele en tradisies voorgegee het dat hulle God dien terwyl hulle in werklikheid hulle eie belange gedien het. Die Fariseïes godsdiens het 'n godsdiens van humanisme, (liefde vir mense) en moralisme, (korrekte lewe), beteken. Dit was 'n evangelie van “red jouself”.

Dit is wat die Duitse teoloog Bonhoeffer “goedkoop genade” genoem het. Bonhoeffer was ’'n teoloog in Nazi-Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog. Vir hom was dit duidelik dat die politieke ideologie van Hitler van die duiwel self was. Die Duitsers het ook kerk toe gegaan, gereeld eredienste gehou, bidure gehou, gereeld nagmaal gebruik, hulle kinders gedoop, hulle bydraes aan die kerk gegee, vas oortuig dat hulle saak met God reg was. Hierdie mistasting van die Duitsers was juis dit wat Bonhoeffer die meeste gepla het. Vir hom was dit onmoontlik om te aanvaar dat die Duitse volk met soveel oortuiging, Hitler se sataniese ideologie so maklik kon aanvaar.

Dieselfde Duitsers wat so gereeld kerk toe gegaan het en so toegewyd aan die kerklike bediening deelgeneem het, was dieselfde mense wat, wanneer die kerk uitgekom het, miljoene Jode vervloek, verontmenslik en vermoor het.

Die ware genade van Jesus is wat ek voorheen na verwys het as “die Woord van God wat mense verander”. Ons as Christene besef ons geestelike bankrotskap en die ware omvang van ons sondes wat enige verdienstelikheid by God totaal onmoontlik maak.

Enige kerk wat dan ook die genade van God tot 'n vlak van “goedkoop genade” degradeer is niks anders as ʼn moralistiese kerk nie. 'n Tipiese sektariese geloof wat 'n  Fariseïes mentaliteit koester.
In Ef. 2: 8 skryf Paulus:  “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is “ 'n gawe van God.” en dan in vers 9: “Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”

In die evangelie van Christus is sukses, vroomheid, goeie werke, voorbeeldigheid en wat nog meer, (hoe prysenswaardig hierdie eienskappe ook al mag wees) nie waaroor dit in die eerste plek gaan nie. Éérs geloof in Jesus Christus en dán die res.

In Matt. 6:33 sê Jesus vir ons baie duidelik: “ Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Ons almal ken die uitdrukking dat die pad hel toe besaai is met mooi voornemens! 'n Mooi lewe sónder die evangelie van Jesus, beteken nie veel nie. Dit bly altyd bloot ʼn lewenswandel van moralisme, humanisme en wettisisme. In Matt. 5: 20 se Jesus: “Ek sê vir julle: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” Geloof en liefde uit die hart van die gelowige, is die enigste twee elemente van ware gehoorsaamheid aan God.

Vir bloot 'n mooi en suksesvolle lewe sal mense altyd sê “dis mooi so”, maar wanneer ons die evangelie van Jesus se genade daadwerklik uitleef, dán is dit wanneer mense sien dat jy ʼn ware Christen is. Dan is jy ʼn voorbeeld vir andere om, onder alle omstandighede, tot eer van God te leef. Dit is dan wanneer jy in die eerste instansie aangesien word as kind van God en nie die kind wat vir 'n suksesvolle lewe gekwalifiseer het nie.

“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Dit is dan wanneer ons as gelowiges kan getuig dat: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom. 8:28) Elkeen wat nie in hierdie belofte van Jesus glo nie, glo nie in die Woord van God nie en maak God tot leuenaar. Maar elke Christen wat in hierdie belofte van Jesus glo en daaraan vashou, wéét dat alles wat in die lewe met hom/haar moes gebeur het, presies gebeur het soos wat God dit voorbestem het.

Alles, maak nie saak wat gebeur nie, hartseer, pyn, droefheid, smart, lyding, vreugde, geluk, voorspoed, alles sal vir jou ten goede meewerk. En al weet ons nie altyd wat daardie goeie rede was of is nie, een ding weet ons verseker en dit is dat die Here dit op Sy tyd aan ons sal openbaar. Al is dit nie hier benede nie, dan eendag by Hom in Sy hemelse heerlikheid.

Liewe vriend of vriendin, vergeet van jou sogenaamde “eie wil”, vergeet van die idee dat jou toekoms in jóú hande is, vergeet dat jy dit op eie stoom en op eie krag kon regkry. 'n Ware kind van God wéét dat alles, alles, blote genade is. “ 'n Gawe uit die hand van God”.

“Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”


No comments:

Post a Comment