Postings

Saturday 23 February 2013

Geloof soos n mosterdsaadjie.



GELOOF SOOS n MOSTERDSAAD


Stes de Necker



MATTEUS 17:20: “Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Daar bestaan seker nie nog ’n vers in die Bybel waaroor daar meer gepreek en geteoretiseer is as Matt. 17:20 nie. Bygesê, bestaan daar seker ook nie ’n vers wat al soveel keer verkeerd of wan geïnterpreteer is as hierdie vers nie.

Sedert die koms van Christus het daar reeds nagenoeg 12 biljoen mense op aarde geleef en ons weet dat daar nog nooit iemand was wat die vermoë gehad het om ’n berg te verskuif nie!

Sou dit dan beteken dat van al die biljoene mens wat sedert Christus se tyd op hierdie aarde geleef het, of steeds nog leef, nie een oor die geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie beskik het nie? Wat van al die geloofs-reuse wat daar alreeds was? Wat van ’n Paulus, Petrus, Stefanus, reg deur die geskiedenis tot by Luther, Calvyn en talle ander. Beteken dit dat selfs hulle nie oor geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie beskik het nie. Ek wil my verstout om te sê dat as enigeen van hulle oor die geloofs-vermoë beskik het om fisies ’n berg van een plek na ’n ander te kon skuif,  daar ’n paar berge sou wees wat nie meer op hulle oorspronklike plekke sou staan nie!

As gevolg van so ’n letterlik fundamentele interpretasie van Matt. 17:20, bestaan daar sekerlik ook min ander verse in die Bybel wat mense, myself ingesluit, al so laat twyfel het oor hulle geloof as juis hierdie vers.

As kind op laerskool, onthou ek nog goed hoe ’n oud onderwyseres vir ons vertel het dat ons eers oor die nodige geloof sal beskik die dag as ons vir ’n berg sal kan sê om op ’n ander plek te gaan staan. Nodeloos om te sê dat hierdie siening my vir jare daarna nog altyd aan my geloof laat twyfel het toe ek by verskeie geleenthede probeer het om dit reg te kry. Brandkop, oos van die plaas waar ek groot geword het en wat veroorsaak het dat die son eers heelwat later by ons begin skyn het, wou verdomp nooit skuif nie! Ek was naderhand oortuig dat ek nou maar eenmaal nie ’n gelowige was nie. Dit was eers baie jare later dat ek begin besef het dat ons nie Matt. 17:20 letterlik kan verstaan nie, maar eerder moet lees as ’n tipiese nuwe Testamentiese beeldspraak en hiperbool (oordrywing).


Die “mosterdsaadjie-geloof” is nie ’n kwalifikasie maatstaf waaraan die grootte van iemand se geloof gemeet kan word nie. Met ander woorde, omdat ʼn persoon ʼn berg kan versit, daarom het hy/sy die geloof soos ’n mosterdsaadjie. Ons het al so gewoond geraak aan die prestasie-gedrewe samelewing waarin ons leef, dat ons alles wil meet aan een of ander prestasie standaard.

Jy kan ’n graad kry, maar dan moet jy eers die eksamen slaag; Jy kan ’n groot salaris verdien, maar dan moet jy eers hard werk daarvoor; Jy kan ’n kampioen sportman wees, maar dan moet jy eers hard oefen daarvoor; Jy kan vir ’n berg sê gaan staan daar eenkant, maar dan moet jy tenminste eers die geloof van ’n mosterdsaad hê. As jy nie eers oor die vereisde kwalifikasie beskik nie, kan jy niks regkry nie!

Dit is nie wat Jesus vir ons in Matt. 17 sê nie. Geensins. Geloof soos ’n mosterdsaadjie is bedoel om vir ons as aansporing te dien eerder as daardie vereiste minimum kwalifikasie. Jesus sê vir jou en my: “Met slegs ’n titseltjie geloof in My, kan julle alreeds die skynbaar onmoontlike (die berg) vermag.” Wat ’n aansporing! 

Vers 20 moet verder gelees word teen die agtergrond van die res van die verhaal in Matt. 17.
Jesus en Sy dissipels het pas van die verheerliking op die berg afgekom, toe ’n man voor Jesus gekniel het en Hom gesmeek het om sy seun gesond te maak. Hy het die seun voorheen na Jesus se  dissipels gebring maar hulle kon die seun nie gesond maak nie. Nadat Jesus die seun genees het van die duiwel wat in hom was, het die dissipel Jesus gevra waarom hulle dit nie kon regkry om die duiwel te verdryf nie, waarop Jesus hulle geantwoord het: “Omdat julle geloof te klein is. Dit verseker Ek julle : As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

“Die Berg” waarvan Jesus hier praat, is duidelik nie die berg waarvandaan Hy en die dissipels so pas teruggekeer het nie. Soos op soveel ander plekke in die ou en nuwe Testament, verwys die woord “berg” (beeldspraak) na ’n, oënskynlik, menslik on-oorkomentlike probleem. Met die geloof in, en met die krag van, God, kan hierdie probleem, hierdie ‘berg’, oorkom word.

Ons moet altyd onthou dat dit juis dieselfde dissipels van Jesus was wat, na die uitstorting van die Heilige Gees, “baie wonders en tekens “ gedoen het waarvan ons in Handelinge lees soos bv. die genesing van die verlamde man by die tempelpoort, die dood van Saffira, vrou van Ananias, Petrus se genesing van talle siekes en mense wat onder bose geeste gely het, Petrus se genesing van Eneas ens.

Deur hulle geloof in Jesus Christus kon hierdie kinders van God, ‘berge versit’.

Geloof in Jesus Christus gee ons toegang tot die wonderbare krag van God! 


No comments:

Post a Comment