Postings

Monday 22 October 2012

Die Uittog van Israel uit Egipte.




DIE UITTOG UIT EGIPTE
EN DIE TOG DEUR DIE ROOISEE


                                                                                                 Stes de Necker



Inleiding

Die Middeleeuse Joodse filosoof, Moses Maimonides (1135-1204 n.C.) het by geleentheid gesê dat die botsing tussen die Bybel en die wetenskap, óf vanweë ʼn gebrek aan wetenskaplik kennis, óf ʼn foutiewe begrip van die Bybel is. Daar kan immers net één waarheid bestaan.

Anders as in die geval van die “Skepping Van Die Mens”, waar daar ʼn merkwaardige ooreenkoms tussen die Bybel en die wetenskap bestaan het rondom die ontstaan van die moderne mens, bestaan  daar  egter wesenlike verskille oor die feite met betrekking tot die Israeliete se uittog uit Egipte, en meer spesifiek tot waar die kruising van die Rooisee plaasgevind het.

Selfs in die Afrikaanse Bybel (1983 Vertaling pg. 86),  dui die illustrasie  van “Die trek deur die woestyn van Egipte af na Kanaän toe” die kruising van die Rooisee aan as ʼn punt oorkant die stad Sukkot, aan die noordelike punt van die Golf van Suez. (Sien kaart 1.)  Hierdie punt lê aan die kant van die “Bitter Meer” noord van die Golf van Suez.

Wetenskaplikes daarenteen beweer weer dat die kruising plaasgevind het by ʼn punt aan die noordelike “nek” van die Golf van Suez, terwyl ander dit wil hê dat die kruising naby die noordelike punt van die Golf van Akaba (die ander noordelike “been” van die Rooisee), plaasgevind het. (Sien Kaart 1)

Ewe-eens bestaan daar ook wesentlike verskille met betrekking tot waar sekere stede en dorpe op die trek roete geleë was.

So byvoorbeeld dui die Afrikaanse Bybel aan dat die dorp Mara, asook die dorp Elim,   oos van die Golf van Suez geleë  is, terwyl die jongste navorsing aandui dat die dorp Mara, wes van die Golf van Akaba geleë  is, terwyl die stad Elim in werklikheid aan die noordelike kus van die Rooisee geleë is.

Aan die hand van die Bybelse weergawe van die trek roete, soos opgeteken in Eksodus en Josua 1 tot 6, asook die jongste navorsing resultate op hierdie gebied, is die Bybelse weergawe van hierdie epiese tog volgens Num. 33, nog steeds die enigste korrekte en mees logiese uiteensetting van die roete wat die Israeliete  gevolg het.

Die mees betroubare bevestiging van die voorgestelde roete, volgens hierdie beredenering, vind ons in Numeri 33 vanaf vers 5. Hierin word die hele trek roete, vanaf Rameses tot by die Jordaan rivier, kronologies uiteensit. Hierdie beskrywing skakel dan ook die roete volgens die Bybel kaart, heeltemal uit, aangesien die kruising van die Rooisee in werklikheid gevolg het net nadat die Israeliete Migdol verlaat het. Volgens die Bybel kaart het die kruising plaasgevind net nadat hulle Sukkot verlaat het.

Hierdie feite bevestig weereens dat God, net soos die Bybel dit beskryf, die Israeliete deur die Rooisee laat trek het nadat Hy, op Goddelike en bo-natuurlike wyse, vir hulle ʼn pad deur die see oopgemaak het.

In hierdie beskouing word gekonsentreer op die verloop van die roete vanaf die stad Rameses in Egipte tot by die aankoms van die Israeliete by die berg Sinai, aangesien die meeste menings verskille, tussen wetenskaplikes en die Bybelse gegewens, juis gaan oor hierdie gedeelte van die trekroete. 

Die uittog uit Egipte het plaasgevind gedurende die derde regeringsjaar van farao Amenhotep II, m.a.w. 1445 v.C.  [Volgens die datering van Aartsbiskop Ussher van Ierland The Annals of the World  iv (1658), 1491 v.C.]

Volgens Numeri 1: 44, was daar altesaam 603,550 manlike Israeliete, van 20 jaar en ouer, (uitgesonderd die Leviete) aan die begin van die uittog, in Egipte. Indien ons sou aanneem dat 80% van hierdie mans op daardie stadium getroud was, en dat elke sodanige huishouding uit 6 lede bestaan het (vader, moeder en vier kinders), beteken dit dat nagenoeg 3,621,300, Israeliete die tog meegemaak het.

Bogenoemde berekening sluit nie die “menigte mense van ander afkoms” (Eks. 12:38) wat ook die tog meegemaak het, in nie. Alles insluitend kon die getal heel waarskynlik so hoog as 4 milj. mense gewees het.

Vir doeleindes van die beredeneringe in hierdie artikel, word daar egter volstaan met ʼn minimum van 3 milj. mense wat die tog meegemaak het.


Uittog uit Egipte - Grafiese Voorstelling































 























































Kaart 1
Vanaf Rameses tot Sukkot

Voor die uittog uit Egipte was die Israeliete  hoofsaaklik in en om die stad Rameses saamgetrek.

In Eksodus 13: 17 lees ons: “Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was, want Hy het gesê:  ‘As die volk in ʼn geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan.” En verder in vers 18: “Daarom het God die volk met ʼn ompad laat gaan, met die woestynpad in die rigting van die Rietsee.” Hebreërs 11: 29 verwys spesifiek na die Rooisee: “Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek.”

Volgens die satelliet kaart van die Sukkot omgewing, is dit duidelik dat die kortste pad vanaf Rameses in ʼn suid-oostelike rigting sou wees. Dit sou die Israeliete egter direk na die gebied wat deur die Filistyne bewoon is, gelei het.

Gevolglik laat God die volk ʼn ompad vat, in die rigting van die Rooisee. “Die Israeliete het toe in ʼn suidelike rigting na Sukkot getrek”. (Eksodus 12: 37)

Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte (Eks.12: 40), en ʼn mens sou dus kon aanvaar dat die Israeliete die hele Egipteland en omgewing goed geken het. Vir hulle sou die omgewing nie onbekend gewees het nie.

Indien die Israeliete enigsins bedreig sou voel het oor die feit dat die trek roete hulle in die Golf van Suez sou laat vasloop, kan ʼn mens aanvaar dat hulle nie sou stilgebly het nie! 

Die gebied noord van die Golf van Suez, tot by die Bitter Meer, bied voldoende geleentheid om deur die bolope van die Golf van Suez (waar die Suez kanaal vandag is) op droë  grond na die oostekant van die Golf te trek.

In Eksodus 13: 20 lees ons: “Hulle het Sukkot verlaat en by Etam aan die rand van die woestyn kamp opgeslaan”. (Sinai woestyn)


Sukkot en Omgewing

Kaart 2a


Kaart 2b


Vanaf Sukkot tot by Etam

Die roete na Etam strek in ʼn suidelike rigting oos van die Golf van Sues, tussen die Sinai woestyn en die Golf.

Ongelukkig word die dorp Etam nie op die Bybel kaart aangedui nie en gevolglik kan dit nie met die Bybelse gegewens vergelyk word nie.

Volgens Eksodus 13: 20 word dit egter duidelik aangedui dat Etam aan die rand van die woestyn, (ook na verwys as “Die Egiptiese Wildernis”) is.

Soos op die onderstaande kaart aangedui, is die dorp Etam aan die suidelike punt van die Sinai woestyn, (suid van die Egiptiese wildernis) aan die suidpunt van die Sinai skiereiland.










































































































































                                                        Kaart 3



Vanaf Etam tot by Baäl-Sefon – Kruising van die Rooisee


Kaart 4

Die grootste verskille oor die trek roete gaan oor die vraag ‘Waar het die deurgang deur die Rooisee plaasgevind’.

Menige teoloë, wetenskaplikes, navorsers en ontdekkingsreisigers verskil oor die presiese plasing van hierdie epiese gebeurtenis, en ʼn mens kan dus verstaan hoekom daar soveel verskillende liggings vir hierdie plek aangedui word.

Die drie mees algemene liggings wat voorgestel word is:
1. Deur die Bitter Meer, noord van die Golf van Suez. (Afr. Bybel)
2. Deur die noordelike punt van die Golf van Suez
3. Deur die noordelike punt van die Golf van Akaba.

Voordat ons verder gaan met hierdie beredenering is dit nodig om net weer te kyk na die berekening van die minimum getal Israeliete wat die tog meegemaak het.

In Gen. 46: 26 lees ons dat Jakob Egipte toe getrek het en dat 66 van sy afstammelinge die tog meegemaak het. Hierdie getal het egter nie Jakob se skoondogters ingesluit nie. Indien ons aanvaar dat, ingeslote Jakob se slawe en werksmense, daar oorspronklik altesaam 250 mense Egipte toe getrek het, is dit dus baie moontlik dat, 430 jaar later, daar nagenoeg 3 milj. Israeliete in Egipte was met die aanvang  van die uittog.

Vereenvoudigde Berekening
AANNAME:
Aanwas koers: 4 kinders per gesin.
Gemiddelde lewensverwagting: 28 jaar
Aanvanklike bevolkings grootte: 250
Tydperk: 430 jaar
Aantal geslagte: 15 (15 X 28 = 420)






































NOTA:
Volgens die voorgaande vereenvoudigde berekening vir bevolkings aanwas, is dit duidelik dat ʼn aanvanklike bevolkings grootte van 250 (125 mans en 125 vroue) in die bestek van 15 geslagte kan aanwas tot ʼn totaal van 2,976,517.
Teen ʼn gemiddelde lewensduurte van 28 jaar, sal 15 geslagte m.a.w. 420 jaar duur (15 X 28).
Indien Jakob (Israel), en almal wat saam met hom Egipte toe getrek het, in totaal 250 mense was, en hulle was vir 430 jaar in Egipte (Eks. 12: 41), dan bevestig hierdie berekening die feit dat nagenoeg 3 milj. Israeliete uit Egipte weggetrek het.
Sekere navorsers beweer selfs dat daar meer mense kon wees.

Moses sou dus ernstig rekening moes hou met die omgewing waarlangs die roete sou strek. Daar sou genoegsame ruimte moes wees vir die groot getalle mense en diere om te beweeg, daar sou genoegsame water moes wees, genoegsame kos vir die diere, genoegsame kampeer ruimte ens.

In Eksodus 12: 37 lees ons:  “Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek.” Rameses was die stad wat deur die Israeliete tydens die bewind van farao Rameses II gebou is en daarna Eksodus 13: 20: “Hulle het by Etam aan die rand van die woestyn kamp opgeslaan.” Etam is geleë aan die suidelike punt van die Sinai skiereiland, noord van die stad Migdol.

ʼn Baie belangrike aanduiding van die trek roete, waarop hierdie beredenering berus, vind ons in Eksodus 14: 1-3:  “Die Here het vir Moses gesê ‘Beveel die Israeliete om weg te draai en kamp op te slaan naby Pi-Hagirot tussen Migdol en die see. Reg oor Baäl-Sefon by die see moet julle kamp opslaan. Dan sal die farao dink die Israeliete het verdwaal en is deur die woestyn vasgekeer.”

Bogenoemde opdrag van God skakel ook die deurtog by die Bitter Meer, asook deur die noordelike punt van die Golf van Suez uit, aangesien die topografie van beide hierdie gebiede nie vir so ʼn ligging voorsiening maak nie.

Daarteenoor is die ligging, tussen Migdol en die see, uiters gunstig vir so ʼn “vaskering” of beleg.

Die stad Pi-Hagirot lê aan die mees suidelike punt van die Sinai skiereiland, naby die kus aan die Rooisee, en word aan die noorde kant blokkeer deur die Egiptiese wildernis. Hierdie wildernis gebied word gekenmerk deur barre berg- en dorre woestyn gebied. Daar sou onmoontlik genoeg  water en kos vir die diere kon wees!

Baäl-Sefon, waarna verder verwys word in Eks.14, lê aan die ooste kant van die Golf van Akaba, effens noord van Pi-Hagirot.

Eksodus 14: 15-16: “... Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan”

In Eksodus 14 vanaf vers 21 lees ons: “Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ʼn sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos ʼn muur gestaan.”

In die lig van hierdie feite kon die kruising dus op geen ander plek as deur die Rooisee, noord van die straat van Tiran, plaasgevind het nie.

Die verhaal hoe die Egiptiese soldate die Israeliete agterna gesit het en toe deur die see meegesleur is, en verdrink het, is algemeen bekend.

Ons kan seker maar sê dit was die grootste “divine ambush”  (Goddelike lokval) in die geskiedenis!

Die kruising van die Rooisee het waarskynlik gedurende April maand plaasgevind. Volgens Eks. 12: 41, het die Israeliete “…. presies op die dag waarop die fees (Paasfees) nou gevier word …”  uit Egipte vertrek. Paasfees word normaalweg gevier op die 15 de dag van Nisan (Maart/April van die “maan” kalender – [ Lunar Calendar] of 1 ste dag van Abib (April van Babiloniese kalender) 

Die tog vanaf Rameses tot by Migdol, ʼn afstand van nagenoeg 530 kilometer, kon op die uiterste  12 dae geduur het indien die Israeliete slegs gedurende die dag, teen ʼn spoed van 4 km. per uur getrek het.  Dit sou beteken het dat hulle die Rooisee op nagenoeg die twaalfde dag van April moes bereik.  

Vanaf Elim tot by Berg Sinai


Kaart 5


Eks. 16: 1  “Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê.”

Volgens die Bybelse roetekaart lê die berg Sinai in die suide van die Sinai skiereiland, suid van die dorp Refidim.

Alhoewel daar wel ʼn berg met die naam Sinai in hierdie gebied geleë is, is dit egter nie die berg Sinai waarna in die Ou Testament verwys word nie.

Die elektroniese ensiklopedie Wikipedia, verwys na die Ou Testamentiese Sinai as: “The Biblical Mount Sinai (Hebrew: Har Sinai) is an unlocated Mountain at which the Hebrew Bible states that the Ten Commandments were given to Moses by God.

Die rede hoekom Wikipedia verwys na die “unlocated” berg Sinai, is hoofsaaklik gebaseer op die agttiende eeuse ontdekkingsreisiger, Von Haven, wat in 1761-1767 n.C. geskryf het: "I have observed earlier that we could not possibly be at Mount Sinai. The monastery [of St. Catherine] was situated in a narrow valley, which was not even large enough for a medium-sized army to be able to camp in, let alone the 600,000 men that Moses had with him, who, together with their wives and children, must have come to over 3,000,000."

Die feit dat die berg Sinai tradisioneel aangedui word in die omgewing van die St. Catharine klooster, in die middel van die Sinai skiereiland, het ontstaan toe Koningin Helena, moeder van Keiser Konstantyn II van Rome, beweer het dat God in ʼn droom aan haar openbaar het dat die berg Sinai by die berg Musa geleë is. Hierdie beweerde openbaring het tot die gevolg gehad dat die St. Catharine klooster later hier gebou is.

Na Helena se dood het dit egter aan die lig gekom dat sy baie van haar “visioene” so geïnterpreteer het dat dit tot voordeel van die politieke landskap van Rome sou wees.

Konstantyn II, ook bekend as Konstantyn die Grote, was keiser van Rome van 306 tot 337 VC. Hy is allerweë bekend as die eerste Romeinse keiser wat die Christelike geloof aangeneem het. Sy ma, Helena, word as “Heilige” (Saint) beskou deur sowel die Katolieke, Anglikaanse en Lutherse kerke.

Die mees betroubare getuienis dat die berg Sinai nie in die Sinai skiereiland kan wees nie, maar wel oos van die Golf van Akaba, vind ons in Galasiërs 4: 24-25, waar Paulus skryf oor die Bloed verbond wat God met sy volk by die berg Sinai gesluit het. In vers 24 sê  Paulus: “….Die verbond is Hagar”, en dan in vers 25 : “Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië……”

Abraham se vrou Sara, en haar slavin Hagar, was gesien as verteenwoordigend van die Ou en die Nuwe Verbond wat God met Israel gesluit het; Hagar die Ou Verbond en Sara die Nuwe Verbond.  Hagar (Ou Testament) het slawe voortgebring, terwyl Sara (Nuwe Testament) die vry-gekooptes verteenwoordig.

Arabië is die gebied oos van die Golf van Akaba. Wes van die golf is Egipte.

Die Sinwoestyn, waarna verwys word in Eksodus 16, is die gebied oos en suid van die Sinai gebergtes.

Eks. 16 verwys verder na die Sinwoestyn wat “tussen Elim en Sinai geleë is”.
Op die satelliet kaart van hierdie omgewing kan die ligging van die woestyngebied tussen Elim en Sinaiberg duidelik gesien word. (Sien Kaart 5)

Eksodus 17: 1 “Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het.” Dit was tydens die Israeliete se verblyf in Refidim wat hulle Moses daarvan beskuldig het dat hy hulle uit Egipte laat uittrek het, net om hulle, hulle kinders en hulle vee, hier by Refidim van die dors te laat omkom. (Eks.17: 3)

In Eksodus 17: 6 lees ons dan : “Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”

In vers 7 lees ons verder dat Moses die plek Massa genoem het.
Die dorp Makna, soos Massa hedendaags na verwys word,  is geleë wes van die berg Horeb amper aan die kus van die Golf van Akaba

Terloops, die berg Sinai, wat deel van die Sinai gebergtes is, se hoogte word aangegee as 2,403 meter, terwyl die berg Horeb, wat suid van die Sinaiberg geleë is, se hoogte  2,385 meter is. Beide hierdie bergspitse is dus, op ʼn paar meter na, net so hoog soos Mount Aux Sources in Suid Afrika wat 3,299 meter hoog is.


                                                     St. Catharine klooster   


















MANNA


                 









  






   



    



     





                                 



            


            


  











KWARTEL
       




Vanaf die Berg Sinai tot by die kruising van die Jordaan Rivier – “Die Tweede Kruising”

















































































































Kaart 6


Behalwe vir kleinere aanpassings hier en daar, bestaan daar nie wesentlike meningsverskille oor die trekroete vanaf Sinaiberg tot by die Jordaan rivier nie.

Wat wel van belang is, is die feit dat baie mense uit die oog verloor dat die deurgang deur die Rooisee, nie die enigste deurgang deur ʼn massa water was nie.

In Josua 3:14-16 lees ons: “Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlak water kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaan vallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. Die priesters wat die verbond ark van die Here dra, het daar binne in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel op die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.”

Die Jordaan se water is helder en op sommige plekke bereik die rivier, met normale vloei,  ʼn wydte van nagenoeg 7-8 meter en ʼn diepte van 6 meter. Wanneer die rivier egter in vloed is, wat die geval was tydens die Israeliete se kruising daarvan, kan dit ʼn wydte van tot twee honderd meter en ʼn diepte van tot vyftig meter bereik.



Die belangrikste voedingsbron van die rivier is die see van Galilea, ook bekend as die meer van Gennesaret.

Die kruising van die Jordaan rivier was in alle opsigte net so ʼn wonderwerk as die kruising van die Rooisee. Die Israeliete is nie deur ʼn driffie  nie!

In Josua 4:19 staan daar: “Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo.” Aangesien die uittog plaasgevind het 1445 VC. en die Israeliete veertig jaar in die woestyn rondgeswerf het, beteken dit dat die Israeliete in die jaar 1405 VC. in Kanaän aangekom het.


Eksodus – ʼn Logistieke wonderwerk

Die uittog van die Israeliete uit Egipte, was sekerlik dié grootste logistieke wonderwerk in die geskiedenis van die mensdom.

Indien slegs 3 milj. mense die uittog meegemaak het, kan ons met behulp van ʼn paar eenvoudige berekeninge, die volgende bepaal:

  1. Om 3 milj. mense daagliks net van drinkwater te voorsien, (10 Liter per persoon) sou 30 milj. liter water per dag benodig word.
  2. Om soveel water na die woestyn aan te ry, sou ʼn trein met 492 tenkwaens, 4.5 kilometer lank, elke dag benodig word.
  3. Bereken teen 3 kwartels (200 g./eenh.) en 3 koppies manna (.022199 kg./koppie) per dag, per persoon, sou daar ten minste 9,000,000 (1800 ton) kwartels, (54,000 ton vir 1 maand) en 200 ton manna daagliks, benodig word.
  4. As die konvooi 2000 meter wyd sou wees (2 km.) sou dit 75 km. in lengte gewees het.
  5. As die konvooi glad nie sou stop nie, (aaneen sou loop) sou dit 19 uur geneem het om by  ʼn sekere punt verby te beweeg.
  6. Teen 360 vk. meter kampeer-ruimte per familie, sou daar ten minste 21,000 Hektaar (210 vk. kilometer) benodig word, om kamp te kon opslaan.
  7. Om die Rooisee in één nag te deurkruis (m.a.w. 12 uur), [die breedte van die Rooisee waar die kruising, volgens hierdie beredenering, plaasgevind het, is 20 kilometer] met ʼn konvooi wat teen 4 km. per uur beweeg, beteken dit dat, teen ʼn totaal van 10 vk. meter spasie per persoon en ʼn addisionele 300 vk. meter per familie, (om voorsiening te maak vir diere waens ens.) die  pad deur die see ten minste 4.5 kilometer wyd moes wees, sodat al die Israeliete (met hulle diere en waens) in één nag, deur die Rooisee kon trek.
  8. Altesaam 17 dae (400 uur) is spandeer op trek self, en die res op kamp tyd. M.a.w. ʼn tog wat 17 dae moes duur, het veertig jaar geduur.
  9. Daar kan waarskynlik nog baie meer soortgelyke berekenings gemaak word, maar die slotsom sal altyd dieselfde wees, en dit is: God het vir veertig jaar lank, dag en nag, die uittog gelei en op wonderbaarlike wyse in ál die behoeftes van die Israeliete (kos, klere, water, gesondheid, skuiling ens.)  voorsien.
  
Die uittog, op sigself,  was alreeds ʼn Goddelike wonderwerk!


Betekenis van hierdie Beredenering

Die betekenis van hierdie beskouing lê eerstens daarin dat die menslike verbeelding (voorstelling) van al God se wonderwerke gedurende die tog, die feit dat die uittog op sigself ʼn Goddelike wonderwerk was, kan oorskadu. Selfs die klere wat die Israeliete gedra het, het in 40 jaar nie verslyt nie! (Deut. 29:5)  Die enorme logistieke omvang van die tog was, menslik gesproke, eenvoudig onmoontlik, en slegs ʼn Goddelike wonderwerk kon dit moontlik maak. 

In die tweede plek lê die betekenis van hierdie beredenering in die feit dat die Bybel nog altyd die enigste ware en betroubare woord van God is, en die moeite werd is om “ten volle aangeneem te word”.

Wanneer die Bybel gevolglik sê die Israeliete het deur die Riet, (of Rooi) See getrek, dan het hulle deur die Rooisee getrek, en nie deur enige ander “meer geskikte” deurgang plek nie.

Al die alternatiewe kruisings punte, wat deur die verskillende geskied skrywers, navorsers en selfs teoloë, vir dekades reeds as deurgangsroetes voorgehou is, is almal, menslik gesproke, veronderstel om meer praktiese, makliker en veiliger deurgang- roetes te wees.

Dit wil voorkom asof hierdie skrywers, weereens, God na hierdie wêreld van ons probeer “aftrek”, deur vir Hom ʼn makliker en veiliger roete vir die Israeliete voor te stel.

Die Bybel ís die ware en betroubare woord van God en bevat nie sprokies verhale nie!

Derdens lê die betekenis daarin, dat God juis die Rooisee as deurgangsroete uitgekies het (en nie een of ander boloop daarvan nie), om vir die mens sy almag en heerskappy te toon.

Vir God is die onmoontlike, moontlik. Daarom kies God nie ʼn eenvoudige roete nie, maar juis die moeilike roete sodat daar geen twyfel oor Sy almag kan wees nie.

In Eksodus 14: 18 sê God: “Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

In vers 31 lees ons: “Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.”

Enige van die “makliker” roetes sou beteken dat andere kon beweer (wat inderdaad die geval is) dat die Israeliete prakties self  kon regkom en dat dit nie werklik God was wat hulle gehelp het nie. God het die Rooisee oop gekloof, en om enigiets anders te glo, sou neerkom op ʼn onverantwoordelik aantasting van die roem van God.

Laastens moet die uittog vir ons ʼn les wees om God ten volle te vertrou en om nooit te probeer om Sy roem ooit aan te tas nie. God sal, op Sý tyd, en op Sý manier, vir alles sorg!  God sal ons nooit “drop” nie!  Joh. 14: 13 “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”

Dr. Anton Rupert, stigter van die Rembrandt Groep,  het by geleentheid gesê: “Hy wat nie in wonderwerke glo 'n
ie, is nie ʼn realis nie.”




Kaart van die tog roete volgens die Afrikaanse Bybel (1983 vertaling)


           

Voorgestelde Roete van die Uittog


Kaart 7

Totale Afstand van die Roete                                        1600 Km.
Totale Trek Tyd                  400 Uur                                                17 Dae
Totale Kamp Tyd                14,583 Uur                                           39 Jaar en 348 Dae




Kamporde van die Israeliete tydens die uittog uit Egipte


Num. 2:2 – “Die Israeliete moet kamp opslaan, elkeen by sy vaandel, by sy familieteken. Hulle moet die kamp rondom die tent van ontmoeting opslaan, so ʼn entjie daarvandaan.”



Skematiese voorstelling van die kamp orde

Trek orde: 1ste: Juda -  2de: Ruben - 3de: Efraim - 4de: Dan.

Nota: 1. Volgens die beskrywing van die kamp- en trek orde in Numeri 2, het die
                volk van Israel, afgesien van die feit dat hulle in vyf groepe ingedeel
                was, altyd as één volk (groep) saam getrek.
           2. Sirkelvormig, sou elke kamp ten minste 26 kilometer in deursnit gewees het.


Slot

Hierdie beredenering moet gelees word teen die agtergrond dat die nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel, wat in 1983 verskyn het, gefinaliseer is voordat daar Satelliet beelde van “Google Earth” op die internet was en voordat daar ʼn “inligting ontploffing” van die internet plaasgevind het.

Die vertalers van die Bybel was aangewese op inligting wat uit vorige vertalings gekom het, en vir die res moes hulle staatmaak op boeke, geskrifte en publikasies wat in ʼn magdom van bergplekke opgegaar is.

Met behulp van moderne elektroniese hulpmiddels (Internet, Satelliet verbindings, die Globale Posisionering Setsel ens.) is dit soveel makliker om ʼn magdom van inligting vinnig en moeitevry te bekom.

Voor die koms van die elektroniese media, was die mens aangewese op die gedrukte media, met ander woorde boeke, publikasies, kaarte ens.

Daarbenewens is baie van hierdie publikasies met die minimum hulpmiddels geskep en geskryf, selfs nog voordat die drukkuns kommersieel beskikbaar was.

Die volgende foto is van ʼn kaart van die gebied noord van die Golf van Suez, tussen Egipte en Israel, wat in 1662 deur ene John Speed in Engeland gepubliseer is.




Wat hierdie kaart besonders maak is die feit dat die karteerder die kaart vanaf die dek van ʼn boot, wat al langs die kus gevaar het, geteken het.

Die volgende kaart, wat in 1629 gepubliseer is, bevat byvoorbeeld glad nie die Golf van Akaba nie. (Die Golf ontbreek in die gebied in wit aangedui)




Enige teoloog of navorser wat in daardie tyd die kruising van die Rooisee probeer vasstel het, sou sekerlik ʼn ligging iewers aan die Golf van Sues voorgestel het, bloot omdat hy/sy nie bewus van die bestaan van die Golf van Akaba was nie! Die eerste kaart wat die Golf van Akaba aangedui het is eers in 1750 deur William Albert Bachiene gepubliseer.

Tensy so ʼn skrywer, of iemand ná hom, die gebied persoonlik besoek het, sou hierdie fout seker vir dekades kon voortduur.

Dit is my opregte begeerte dat hierdie beredenering die grondslag vir ʼn vars en nuwe (her)-beskouing van die Bybel se gegewens m.b.t. die Israeliete se uittog uit Egipte sal bied.









No comments:

Post a Comment