Postings

Thursday 17 May 2018

VERSKANSDE WAARHEDE VAN DIE BYBEL - KOMMENTARE











KOMmentare

“Stes de Necker moet ernstig en met aandag gelees word

Die drieledige werk van Stes de Necker naamlik die “Verborge waarhede van die Ou Testament”, “Versteekte skatte van die Nuwe Testament” en Sola Scriptura – Die Skrif alleen is Genoeg, verteenwoordig ‘n deeglike poging deur ‘n nie-teoloog en “gewone” lidmaat. Sedert die erkenning van die algemene priesterskap van die gelowiges in die Kerkhervorming van die 1500’s, is daar waardering vir lidmate wat vanuit die kerkbank saampraat oor Bybelkwessies.

Stes se bydrae is verantwoord, goed nagevors en lesenswaardig. Kernprobleme en kernwaarhede – vir vandag – word aangesny: die ontstaan van die Bybel, die Bybel en die ouderdom van die aarde, God se Raadsplan, uitverkiesing, wie is my naaste?, God-Drieënig, bestaan die hel?, en selfs Openbaring.

Stes bied hierdie werk nederig aan en sonder ‘n soeke na eie belang. Hy wil eerder die debat stimuleer as strem. Sy hantering van die NG Kerk se belydensskrifte en ander dokumente maak die prentjie meer volledig en verdien vermelding.”

Prof Piet Strauss.
(Voormalig) Moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk 
Januarie 2012.

-----------------


“Dit is 'n uiters omvangryke boek en getuig van breë navorsing wat oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe en kwessies van die Bybel gedoen is. Die opmerkings en kommentaar oor hierdie sake in die Bybel lees interessant en lesers sal dit geniet. Dit is sake en onderwerpe wat nie aldag in die gesigsveld van die gewone leser/lidmaat kom nie. Dat dit baie stof tot nadenke laat, is verseker. Hierdie boek is veral vir die fynproewer denkende mens bedoel.”

Danny Fourie
Publikasiehoof
Bybel-Media (voorheen Bybelkor)

-----------------


“Wanneer teoloë oor aktuele vraagstukke begin debatteer, is dit goed. Wanneer gelowiges wie nie formele teologiese opleiding het nie, oor Bybelse sake begin praat en skryf, is dit baie beter, veral wanneer hul navorsing omvattend is en aansluit by vrae wat gereeld deur die man op straat gevra word.

Hierdie boek is so ‘n boek, vir die man op straat, maar ek is oortuig ook vir vele dominees. In my eie bediening moes ek gereeld die vraagstukke wat in hierdie boek ontleed en behandel word, aan lidmate en selfs tieners verduidelik. Daar is by talle gelowiges ‘n fundamentalistiese aanslag wat daartoe aanleiding gee dat hulle in ‘n geloofskrisis wil beland (selfs anderdenkendes verdag wil maak!) wanneer veral Ou Testamentiese ‘historiese’ waarhede vanuit ‘n ander perspektief beskou word. Die Bybel wil geensins ‘n histories-ekskansde Waarhede sakte handboek wees nie. En wanneer sekere aspekte anders interpreteer word en verklaar word, is dit geen aanslag op die Christelike geloof nie! ‘Verskansde Waarhede van die Bybel’ is ‘n vars uitkyk op talle omstrede sake, wat waag om krities te kyk na sogenaamde ‘heilige koeie’ in Bybeluitleg.

Nog ‘n belangrike saak is dat hierdie boek ‘n mens stimuleer en aanmoedig om dieper en verder te dink. Vir my is in die kommunikasiemedia ‘n deurslaggewende faktor dat die leser/hoorder se soeke na kennis en verklarings sodanig geprikkel sal word dat hulle sal begin vrae vra, ‘elaborate’, self verder sal navorsing doen. Hierdie boek, glo ek, sal juis dít doen vir lesers.  Ek is oortuig dat ‘Verskansde Waarhede’ van groot hulp sal wees vir beide dominee én lidmaat. Dis nie swaar akademiese taal en redenerings wat verveel nie, maar bied teologies-Bybelse waarhede aan as genotvol en interessant.”

Dr. Wollie Grobler, leraar
NG Klipkerk
Bloemfontein-Noord


-----------------

Email
sdnsdn0@gmail.com

No comments:

Post a Comment