Postings

Wednesday 23 May 2018

VERSKANSDE WAARHEDE VAN DIE OU TESTAMENT - OORSIG VAN DIE MANUSKRIP





VERSKANSDE WAARHEDE VAN DIE OU TESTAMENT

OORSIG VAN DIE MANUSKRIP

Stes de Necker



Die primêre oogmerk met die skrywe van die drieledige werk, “Die Verborge Waarhede van die Ou Testament” , “Versteekte Skatte van die Nuwe Testament” en “Sola Scriptura - Die Skrif alleen is genoeg”, is nie om ʼn wetenskaplike verklaring of ʼn Teologiese seining oor die onderwerpe wat bespreek word te gee nie. Nog minder is dit bedoel om die Bybel wetenskaplik korrek te probeer bewys, of om die wetenskap, Bybels korrek te probeer bewys nie. Die bedoeling is bloot om, aan die hand van bestaande Bybelse gegewens en bewese wetenskaplike resultate, die Bybel vanuit ʼn suiwer pragmatiese perspektief te benader en gevolglik praktiese riglyne vir ons alledaagse uitlewing van ons Christenskap, daarvolgens te bepaal. 

Soos derduisende kinders wêreldwyd, het ek ook as kleuter met verwondering en verbasing geluister na die verhale van die Skepping; Adam en Eva in die Tuin van Eden; die Sondvloed; Noag en die Ark; die toring van Babel; die uittog uit Egipte; die kruising van die Rooisee, en die land Kanaän waar druiwetrosse so groot geword het dat twéé mans dit met ʼn drastok moes dra!

Die groot hervormer Martin Luther het by geleentheid gesê: “Die Bybel is nie oud of modern nie; Dit is ewig”

Vir elkeen wat vir raad en advies in die Bybel soek, is Luther se woorde van besondere betekenis.  Dit herinner ons elke keer dat die beloftes wat God eeue gelede aan die stamvaders van Israel gemaak het, nie saam met die Ou Verbond verval het nie; inteendeel, Jesus Christus het juis na hierdie aarde toe gekom om deur Sy lyding en dood, vir eens en vir altyd God se beloftes van die Ou Testament aan ons te herbevestig. 

Regdeur die geskiedenis was die Bybel nog altyd korrek. Elke voorspelling van die Ou Testament en elke voorspelling wat Jesus in die Nuwe Testament gemaak het, het waar geword presies soos dit voorspel is. Die Bybel is voorwaar die enigste ware Woord van God en ons moet nooit twyfel aan die betroubaarheid en korrektheid daarvan nie.

Tweedens het ek probeer aantoon dat die Bybel nie uit twee verskillende boeke, naamlik die Ou- en die Nuwe Testament bestaan nie, maar dat dit eerder as een aaneenlopende heilsgeskiedenis gesien moet word, wat onder en tydens die bestaan van twee afsonderlike verbonde, plaasgevind het. Ons kan die Nuwe Testament net verstaan en waardeer as ons die geskiedenis van die Ou Testament ken.

Augustinus het by geleentheid die volgende van die Ou- en Nuwe Testamente gesê: “ The New is in the Old concealed; The Old is in the New revealed.” 

As dit nie vir die waarhede van die Ou Testament was nie, sou ons nooit die skatte van die Nuwe Testament, kon raaksien en waardeer nie.

In Deel III, “Sola Scriptura - Die Skrif alleen is genoeg”, kyk ons na veertien toepassings hoe ons as Christene, hierdie praktiese (pragmatiese) siening van die Bybel, daagliks kan toepas en uitleef sonder om bekommerd te wees dat ons die Bybel “miskien nie reg verstaan nie!”

Ons is egter nie almal dieselfde nie, en dit is belangrik dat elke mens gemaklik moet wees met dit waarmee hy assosieer. As die beskouings in hierdie boeke nie by jou aanklank vind nie, laat dit maar verbygaan. Vir elkeen met wie hierdie pragmatiese benadering egter resoneer, is dit my opregte begeerte dat hierdie boeke die nodige inspirasie sal bied om die Bybel meer ondersoekend, en met opwinding en verwagting te lees.

 Aan diesulkes wil ek sê: “Welkom in die wêreld van die Pragmatis!”
 
Die doel verder met die insluiting van die verskillende gedetailleerde bylaes soos bv. die wet van Moses (Mosaïese wette) en die geloofsbelydenisse en kerkordes van die Afrikaanse susterkerke, is tweërlei. Eerstens om vir die leser, in één enkele bundel, so ʼn wyd moontlike  verwysings-raamwerk te bied vir die aannames wat ons as gelowiges soms maak en tweedens om, veral vir ons jongmense, (en moontlik ook ʼn paar van die oueres!) ʼn beter begrip te gee van die regulatoriese raamwerk (protokol) waarbinne die Gereformeerde Susters Kerke, juridies, verplig is om te funksioneer.

Die Belydenis en Kerkorde van die Kerk waaraan jy behoort, is in wese niks anders as die “grondwet” of “konstitusie” van die Kerk-“vereniging” (denominasie) waarvan jy  lid is. 

Ek vertrou van harte dat hierdie drie boeke vir elke leser ʼn praktiese en verstaanbare perspektief op die Bybel sal gee en dat hierdie perspektief sal bydrae om ʼn diepere waardering en meer betekenisvolle begrip van die Bybel te kweek. 

Alle eer aan God.
Stes de Necker                                                                                     

No comments:

Post a Comment