VOORWOORD
Die bedoeling van hierdie drieledige werk, “Die Verborge Waarhede van die Ou Testament” , “Versteekte Skatte van die Nuwe Testament” en “Sola Scriptura - Die Skrif alleen is genoeg”, is nie om ʼn wetenskaplike verklaring of ʼn Teologiese seining oor die onderwerpe wat bespreek word te gee nie. Nog minder is dit bedoel om die Bybel wetenskaplik korrek te probeer bewys, of om die wetenskap, Bybels korrek te probeer bewys nie. Die bedoeling is bloot om, aan die hand van bestaande Bybelse gegewens en bewese wetenskaplike resultate, die Bybel vanuit ʼn suiwer pragmatiese perspektief te benader en gevolglik praktiese riglyne vir ons alledaagse uitlewing van ons Christenskap, daarvolgens te bepaal.
Soos derduisende kinders wêreldwyd, het ek ook as kleuter met verwondering en verbasing geluister na die verhale van die Skepping; Adam en Eva in die Tuin van Eden; die Sondvloed; Noag en die Ark; die toring van Babel; die uittog uit Egipte; die kruising van die Rooisee, en die land Kanaän waar druiwetrosse so groot geword het dat twéé mans dit met ʼn drastok moes dra!
Eers na my aftrede in 2006, het ek die geleentheid gekry om die navorsing te doen wat tot die skryf van hierdie boek gelei het. Aangesien ek nóg ʼn teoloog; nóg ʼn wetenskaplike is, het ek my gereeld in vreemde gebiedswaters bevind. Ek is egter daarvan oortuig dat die Heilige Gees my op wonderbaarlike wyse gelei het na die feite en waarhede waarna in die hierdie boek verwys word. Ek moet erken dat baie van hierdie feite vir my net so ʼn openbaring was!
Die groot hervormer Martin Luther het by geleentheid gesê: “Die Bybel is nie oud of modern nie; Dit is ewig”
Vir elkeen wat vir raad en advies in die Bybel soek, is Luther se woorde van besondere betekenis. Dit herinner ons elke keer dat die beloftes wat God eeue gelede aan die stamvaders van Israel gemaak het, nie saam met die Ou Verbond verstryk nie; inteendeel, Jesus Christus het juis na hierdie aarde toe gekom om deur Sy lyding en dood, vir eens en vir altyd God se beloftes van die Ou Testament aan ons te herbevestig.
Regdeur die geskiedenis was die Bybel nog altyd korrek. Elke voorspelling van die Ou Testament en elke voorspelling wat Jesus in die Nuwe Testament gemaak het, het waar geword presies soos dit voorspel is. Die Bybel is voorwaar die enigste ware Woord van God en ons moet nooit twyfel aan die betroubaarheid en korrektheid daarvan nie.
Tweedens het ek probeer aantoon dat die Bybel nie uit twee verskillende boeke, naamlik
die Ou- en die Nuwe Testament bestaan nie, maar dat dit eerder as een aaneenlopende heilsgeskiedenis gesien moet word, wat onder en tydens die bestaan van twee afsonderlike verbonde, plaasgevind het. Ons kan die Nuwe Testament net verstaan en waardeer as ons die geskiedenis van die Ou Testament ken. Augustinus het by geleentheid die volgende van die Ou- en Nuwe Testamente gesê: “ The New is in the Old concealed; The Old is in the New revealed.”
As dit nie vir die waarhede van die Ou Testament was nie, sou ons nooit die skatte van die Nuwe Testament, kon raaksien en waardeer nie.
In Deel III, “Sola Scriptura - Die Skrif alleen is genoeg”, kyk ons na veertien toepassings hoe ons as Christene, hierdie praktiese (pragmatiese) siening van die Bybel, daagliks kan toepas en uitleef sonder om bekommerd te wees dat ons die Bybel “miskien nie reg verstaan nie!”
Ek vertrou van harte dat hierdie drie boeke vir elke leser ʼn praktiese en verstaanbare perspektief op die Bybel sal gee en dat hierdie perspektief sal bydrae om ʼn diepere waardering en meer betekenisvolle begrip van die Bybel te kweek.
Ons is egter nie almal dieselfde nie, en dit is belangrik dat elke mens gemaklik moet wees met dit waarmee hy assosieer. As die beskouings in hierdie boeke nie by jou aanklank vind nie, laat dit maar verbygaan. Vir elkeen met wie hierdie pragmatiese benadering egter resoneer, is dit my opregte begeerte dat hierdie boeke die nodige inspirasie sal bied om die Bybel meer ondersoekend, en met opwinding en verwagting te lees. Aan diesulkes wil ek sê: “Welkom in die wêreld van die Pragmatis!”
Die doel met die insluiting van die verskillende gedetailleerde bylaes soos bv. die wet van Moses (Mosaïese wette) en die geloofsbelydenisse en kerkordes van die Afrikaanse susterkerke, is tweërlei. Eerstens om vir die leser, in één enkele bundel, so ʼn wyd moontlike verwysings-raamwerk te bied vir die aannames wat ons as gelowiges soms maak en tweedens om, veral vir ons jongmense, (en moontlik ook ʼn paar van die oueres!) ʼn beter begrip te gee van die regulatoriese raamwerk (protokol) waarbinne die Gereformeerde Susters Kerke, juridies, verplig is om te funksioneer. Die Belydenis en Kerkorde van die Kerk waaraan jy behoort, is in wese niks anders as die “grondwet” of “konstitusie” van die Kerk-“vereniging” (denominasie) waarvan jy lid is.
In hierdie trilogie word daar deurgaans terug verwys na die Bybel, so hou maar jou Bybel byderhand wanneer jy hierdie boeke lees! Tensy anders aangedui verwys alle aanhalings uit die Bybel na die Nuwe Vertaling (1983) van die Afrikaanse Bybel.
Alle eer aan God.
Stes de Necker 30 Maart 2011
INDELING VAN DIE BOEK
DEEL i
VERBORGE WAARHEDE VAN DIE OU TESTAMEN 6
ONTSTAAN VAN DIE MENSDOM ~ VANAF DIE SKEPPING TOT DIE MENS
VAN RAMESES TOT JERIGO ~UITTOG UIT EGIPTE EN DIE TOG DEUR DIE ROOISEE
GESLAGSREGISTERS VAN DIE OU TESTAMENT ~ FEITE UIT DIE GESKIEDENIS WAT
DIE BYBEL
SE WAARHEDE BEVESTIG
WISKUNDE VAN DIE PENTATEUG ~DIE GETALLE VAN NUMERI
DIE SONDE EN BEGENADIGING VAN ISRAEL ~ LESSE UIT DIE BOEK RIGTERS EN DIE
VOORSKRIFTE
VAN DIE LEVITIKUS
ONTSTAAN VAN DIE BYBEL SAMEVATTING EN BETEKENS VAN DIE BOEK JOB
DEEL ii
Versteekte skatte van die nuwe testament 433
Twee Millennia van Joodse vervolging - Die Uitverkiesing - Die Geskiedenis van die
kerk van Jesus Wie is my naaste en hoe met ek hom/haar liefhê -
Die Goddelike Drie-eenheid -
Bestaan daar nog iets soos die hel - Die geboorte van Jesus en Sy kinderjare -
Die Heilige Gees
Openbaring - Die Sakramente - Respek vir die Bedienaars van die Woord –
Kruisdood - Dwalinge van die moderne tyd - Judas en Pilatus -
Psalms ~ Liedboek of Profesie – Wonderwerke -
Siele, Geeste, Demone en dergelike dinge - Samevatting~
“Bybel bekoor met eenvoud”
DEEL iiI
(SLOTSOM)
SOLA SCRIPTURA – DIE SKRIF ALLEEN IS GENOE 677
DIE BYBEL ~ HANDBOEK OF REËLBOEK - MORALISME VERSUS GENADE
- GEBED, GELOOF EN BESKIKKING - BEGINSELS EN GELOOF -
BEKERING EN WEDERGEBOORTE - VERSOEKINGS EN BEPROEWINGS –
TELEURSTELLINGS - SKULDGEVOEL EN SELFVERWYT -
DEPRESSIE EN SELFMOORD - OORDEEL OF VEROORDEEL -
HOEVEEL HEMELE IS DAAR - VERLOWING
HOE LANK NOG KAN DIE AARDE IE MENS SE AANSLAG AFWEER -
VRAE WAT JONGMENSE BAIE KEER VRA
iNLEIDING DEEL i
Eeue reeds soek die mens na antwoorde op die tergende vrae soos: “Wie was Adam?” “Waar kom die mens vandaan?” “Was Adam regtig die eerste mens op aarde?” “Waar het die kruising van die Rooisee plaasgevind?” ”Wanneer het die aarde ontstaan?” ”Wanneer het die heelal ontstaan?” “Wat was daar voor die heelal ontstaan het?” ens.
Na al die soeke op antwoorde vir hierdie, en talle ander kwelvrae, moet die mens erken dat, desnieteenstaande die vordering wat daar op wetenskaplike, tegnologiese en intellektuele terrein gemaak is, die mens nog steeds niks weet van die Goddelike terrein nie.
Steeds het die mens nog geen persepsie van die grootsheid van die skepping en die ontsaglike grootsheid van God nie. Steeds weet ons nie wat lewe is nie. Wat is intelligensie? Wat is bewussyn? Wat is waarheid? Wat is werklikheid? Met ons beperkte verstandelike vermoë, vasgevang in die beperkende dimensies van tyd, ruimte en oorsaak en gevolg, is die mens eenvoudig nie in staat om hierdie begrippe te verstaan of te begryp nie. Die gevolg is dat menige wetenskaplike teorieë en selfs teologiese sienings, God eerder tot ons bestaansfeer probeer “aftrek”, om Hom sodoende meer verstaanbaar en meer “hanteerbaar” te maak. Dan kan ons ook ons mensgemaakte teorieë en versinsels, makliker formuleer en verdedig.
Met betrekking tot die ontstaan van die mensdom, is dit egter insiggewend dat wanneer ons die natuur-wetenskaplike teorieë oor die skepping en die ontstaan van die kosmos en die mensdom aan die een kant, en die Bybelse weergawe en gegewens oor die skepping en ontstaan van die mens Adam aan die anderkant, prakties en sistematies ontleed, die Bybel en die wetenskap verstommend in ooreenstemming met mekaar is!
In sy boek: “Die Groot Gedagte – abstrakte weefsel van die kosmos” skryf Gideon Joubert die volgende: “Die wetenskap se terrein is om die natuur te ontdek. God se terrein is die geestelike wêreld, ʼn gebied wat onmoontlik is om met die gereedskap en taal van die wetenskap te ontdek. Laasgenoemde moet deur die hart ondersoek word, en die verstand en die siel…” Dit beteken egter nie dat hierdie twee wêrelde, naamlik God se terrein en die wetenskap se terrein, verskillende wêrelde verteenwoordig nie. Die wêreld van die moderne wetenskap, hoe uiters klein en beperk in vergelyking tot die Goddelike grootsheid dit ook mag wees, is nog altyd deel van God se wêreld! Wetenskaplikes en teoloë kyk miskien vanuit verskillende perspektiewe na dieselfde universele vrae en waarhede en dikwels verskil hulle, maar deur die geskiedenis heen het beide se standpunte mekaar gereeld ontmoet.
Hierdie ooreenkomste bevestig die feit dat die wetenskap en die godsdiens wel langs mekaar kan staan en mekaar kan verryk en verlig. Harmonie tussen die Bybel en die natuurwetenskappe is sekerlik moontlik!
God het die mens ʼn ondersoekende gees gegee en gevolglik kan hy nie anders as om voortdurend te hunker na meer kennis en ʼn beter begrip van sy doel en betekenis op aarde nie. Handelinge 17:27: “God het hulle (die nasies) gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moet rondtas om Hom te vind.”
Die briljante fisikus en wetenskaplike, Galileo, wat in ernstige konflik met die Rooms Katolieke Kerk gekom het oor sy standpunt dat die aarde om die son roteer, het by geleentheid gesê: “I do not feel obliged to believe that the same God who has endowed us with sense, reason and intellect, has intended us to forgo their use.”
Ek glo dat God alreeds in sy heilige woord, die meeste antwoorde op ons menslike vrae gegee het. Ons moet dit net soek!
Reeds in die Middeleeue het die Joodse filosoof Moses Maimonides (1135-1204) geskryf dat die botsing tussen die Bybel en die wetenskap, óf vanweë ʼn gebrek aan wetenskaplike kennis, óf ʼn foutiewe begrip van die Bybel is. Daar kan net één waarheid wees. Prof. Albert Einstein, sekerlik die grootste wetenskaplike van ons tyd, het by geleentheid gesê: “Science without religion is lame, religion without science is blind”
Soos reeds gemeld, word daar in hierdie boek geensins gepoog om die wetenskap Teologies korrek te bewys, of om die Bybel, wetenskaplik korrek te bewys nie. Waar ʼn bevinding ook nie strook met ʼn spesifieke bepaling van die meer algemene belydende geskrifte nie, word so ʼn afwyking spesifiek uitgewys.
Terwyl die Kerkordelike standpunt van die Nederduitse Gereformeerde Kerk m.b.t. die Bybel, (soos vervat in Artikel 11 van die Riglyne en Funksionele Besluite) naamlik dat die Bybel nie gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie, in beginsel ondersteun word, moet daar ernstig gewaak word dat die hedendaagse teologiese kritiek op die Bybel se historiese korrektheid, nie twyfel of skeptisisme in die geloofwaardigheid van die Ou Testament, veroorsaak nie.
George Ladd, The New Testament and Criticism (Grand Rapids: Eerdmans, 1967) sê op
Bld. 16: “The authority of the Word of God is not dependent upon infallible certainty in all matters of history and criticism.”
Die mens kan net met absolute sekerheid (sonder enige twyfel) glo, in dit wat hy sintuiglik kan waarneem, of in die alternatief, as hy dit nie self kan waarneem nie, die feite deur betroubare getuienis bevestig en gestaaf kan word. Vir die res is alles vir die mens, binne sy persoonlike en unieke verwysingsraamwerk, bloot aanvaarbaar (geloofwaardig) of nie-aanvaarbaar (ongeloofwaardig).
Terwyl die Bybel nog altyd as ʼn “geloofs-boek” gelees moet word, beteken dit sekerlik nie dat die historiese inligting en gegewens wat daarin vervat is, sonder meer as historiese versinsel afgemaak kan word nie.
Om vir die tipiese pragmatis (wat ek glo die meeste van ons is) bloot te sê om maar net te glo, is so goed jy sê vir ʼn regter in ʼn hofsaak om enige getuienis wat aangebied word, maar net goedertrou te aanvaar.
Wanneer ons die Bybel se getuienis (gegewens) vanuit ʼn meer praktiese oogpunt (pragmaties) benader, beteken dit geensins dat die Christelike geloof hierdeur aangeval word nie, inteendeel, dit bied vir ons ʼn soveel breër en ryker siening van die Bybel waardeur ons geloof net verder versterk kan word.
Die Christen gelowige beskik sekerlik ook oor die mees betroubaarste en geloof waardigste getuienis wat ʼn mens op aarde kan kry; Die Heilige Gees. Die Bybel sê vir ons baie duidelik dat die Heilige Gees getuig vir ons, en Sy getuienis is waar.
In Hoofstuk 1 word die vraag bv. gevra, hoe is dit moontlik dat Adam en Eva, op die tydstip toe die slang (Satan) Eva verlei het, kon weet dat hulle sondig, aangesien hulle op daardie stadium nog nie van die vrug van die Boom van kennis, van goed of kwaad (oor reg of verkeerd), geëet het nie? ʼn “Catch twenty two” as jy van een wil praat!
Net so min as wat ʼn dier kan onderskei tussen goed of kwaad, of reg en verkeerd, aangesien dit nie oor ʼn rede of morele gewete (kennis en verstand) beskik nie, word daar in die beskouing in Hoofstuk 1 van die standpunt uitgegaan dat Adam en Eva net so min geweet dat hulle besig was om sonde te doen. Hulle was bloot te dom om te weet wat reg of verkeerd was!
Dit is my opregte begeerte dat die pragmatiese benadering wat in hierdie boek gevolg word, vir elkeen wat dit lees, ʼn soveel breër en ryker praktiese siening van die Bybel sal gee dat dit sal veroorsaak dat ons weer die Bybel met opwinding en verwagting sal lees.
iNLEiding DEEL ii
In Deel I, “Verborge Waarhede” het ek gesê dat, op die verhoog van die lewe, die evangelie van Jesus afspeel teen die agtergrond “backdrop” van die Pentateug, met die Ou Testament as die res van die dekor.
In hierdie Deel “Versteekte Skatte van die Nuwe Testament”, kyk ons nou in die tweede bedryf van ons “opvoering”, hoe die lewe en werk van ons Here Jesus Christus in die Nuwe Testament voortgesit word.
Ek het vanaand na ʼn gedeelte gekyk van die Mej. Wêreld kompetisie wat vanjaar in London in Engeland plaasgevind het; en wat ʼn mooi klomp meisies was dit nie! Maar toe tref dit my weereens: Uiterlike beskou, kyk ons na omtrent 160 van die wêreld se mooiste meisies in hulle pragtige aandrokke, gegrimeer deur van die wêreld se beste grimeerkunstenaars en versier met die mooiste juweliersware wat ʼn mens jou kan voorstel. Terwyl ons die uiterlike prag en skoonheid, sintuiglik kan waarneem, kan ons egter niks sien van die innerlike skoonheid wat daar in hierdie meisies is nie. Enige mens wat nie een van hierdie meisies op persoonlike vlak ken nie, sal nooit weet of sy innerlik net so mooi of selfs nog mooier is nie.
Dit is presies dieselfde in ons siening van Jesus Christus. Afgesien van die beeld wat die Bybel vir ons gee van Jesus, en afgesien van die beeld wat die kerk vir ons deur die jare van Jesus geskets en voorgehou het, kan ons die ware glorie en skoonheid van ons Heiland eers raaksien wanneer ons daardie intieme en persoonlike verhouding met Hom het. Vir die res sien ons maar net die uiterlike “grimering en versiering” van Christus.
Vir elkeen van ons is dit moontlik om Jesus op hierdie vlak te leer ken en lief te hê; Want die Bybel sê vir ons presies wat om te doen om daardie intieme persoonlik verhouding met Jesus, te bekom! Ons moet in Hom glo! Dis al! Jesus sal die res doen. En hoe kry ons daardie geloof? Die Bybel gee ook vir ons die antwoord hierop in Rom. 10: 14 “En hoe kan jy van Hom (Jesus) hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?” In die King James Bybel staan daar: “……faith cometh by hearing, and hearing by the woord of God.”
In ʼn neutedop kan ons seker sê dat die Ou- en Nuwe Testament gaan oor die geskiedenis van die wêreld sedert die skepping, en God se doel met die mens op aarde. Na die skepping verval die mens in sonde en word uit die Paradys van God se beskerming uitgesluit. Die mens is nou blootgestel aan die gevare buite die Paradys; smart, pyn en lyding, dood en die ewige verdoemenis. God laat egter nie die mens alleen aan sy lot buite die beskerming van die Paradys oor nie, maar sluit met die mens ʼn verbond, dat Hy hulle God sal wees wat hulle sal bewaar en beskerm, maar dan moet die mens lewe soos wat Hy wil hê hulle moet lewe. Aangesien die mens nie in staat is om in homself volgens God se voorskrifte te leef nie, besluit God, na eeue se stryd tussen goed en kwaad, om ʼn nuwe verbond met die mens aan te gaan wat in wese daarop neerkom dat die mens voortaan, alleen uit genade, van die gevare buite die Paradys gered sal word, maar dan moet die mens in sy Seun, Jesus Christus glo.
Jesus Christus kom gevolglik na hierdie wêreld om die Ou Verbond af te skaf en deur Sy soen verdienste, ʼn Nuwe Verbond met die mens in te stel en te beseël, en nou breek die eindtyd, die tyd waarin ons leef, aan. In die Nuwe Testament het daar min “nuwe” dinge tot stand gekom, wat die Ou Testament nie alreeds aan ons openbaar het nie. Al wat nou nog moet gebeur is dat Jesus weer moet terugkeer aarde toe soos Hy belowe het, om eens en vir altyd ʼn einde te maak aan die sonde en die voortdurende stryd tussen goed en kwaad.
Die Woord van God is dus nie nét die Nuwe Testament nie! Om ons Here Jesus werklik te ken en te waardeer wat Hy vir ons gedoen het toe Hy die straf vir ons sondes aan die kruis op Hom geneem het, sodat ons bloot uit genade en nie uit verdienste gered kan word, is dit nodig dat ons dit moet sien teen die agtergrond en voorskrifte en omstandighede van die Ou Testamentiese tyd.
In hierdie Deel sal altesaam sewentien aspekte uit die Nuwe Testament in meer besonderhede beskou word, om sodoende die konteks waarbinne dit beskou moet word, vas te stel. Dit is my opregte begeerte dat, wanneer hierdie aspekte binne die historiese konteks gesien word, God self, vir elkeen wat dit lees, ʼn nuwe begrip en waardering vir Sy Woord en vir Sy liefde en genade vir ons, sal gee.
In Psalm 119: 130 skryf die Psalmdigter: “Wanneer U woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is.”
In Deel I en II het ons, vanuit 'n pragmatiese beskouing, na die “Verborge Waarhede van die Ou Testament” en die “Versteekte Skatte van die Nuwe Testament” gekyk.
Met beide hierdie gedeeltes was die bedoeling nie om “iets nuuts” (iets wat nie voorheen bestaan het) in die Bybel te vind nie, maar bloot om vanuit 'n praktiese perspektief (pragmaties) na dit wat reeds in die Bybel staan, te kyk; 'n Herontdekking van eeue oue Bybelse waarhede, net in 'n ander ideoom!
Hierdie beskouings moet ook nie as 'n “alternatiewe eksegese”, of 'n aanval op die Christelike geloof gesien word nie. Dit is bloot 'n praktiese benadering vanuit die pragmatiese filosofie wat die waarde van 'n bewering of stelling, uitsluitend volgens die praktiese belang daarvan vir die mens, beoordeel.
Die primêre doel met die skryf van hierdie trilogie is om, vir elkeen wat in die verlede al geworstel het met sommige van die Bybel se historiese voorskrifte en gegewens, asook die toepaslikheid daarvan in ons hedendaagse sameleweing, 'n praktiese en verstaanbare verwysingsraamwerk te bied wat ons kan help met ons soeke na antwoorde op die vele kwelvrae wat vandag nog bestaan.
Die Bybel, God se brief aan jou en my, is nie bedoel om 'n geheimsinnige geskrif te wees wat net deur geleerdes verstaan en geïnterpreteer kan word nie. In die Bybel praat God self met my en jou op 'n wyse en in 'n taal, wat ons self kan verstaan en begryp. God praat nie met ons in “kodes” of raaisels nie!
In hierdie Deel kyk ons na 'n aantal praktiese toepassings van die pragmatiese beskouings van Dele I en II, asook na 'n paar vrae wat jongmense dikwels mee worstel.
Dit is my innige wens dat hierdie beskouings en riglyne, vir elkeen wat dit lees, 'n vars en duidelike begrip van die Bybel en God se wil vir elkeen van ons lewens, sal bied.
Onthou altyd: GOD IS VíR ONS; NIE TééN ONS NIE!
KOMmentaRE
“Stes de Necker moet ernstig en met aandag gelees word
Die drieledige werk van Stes de Necker naamlik die “Verborge waarhede van die Ou Testament”, “Versteekte skatte van die Nuwe Testament” en Sola Scriptura – Die Skrif alleen is Genoeg, verteenwoordig ‘n deeglike poging deur ‘n nie-teoloog en “gewone” lidmaat. Sedert die erkenning van die algemene priesterskap van die gelowiges in die Kerkhervorming van die 1500’s, is daar waardering vir lidmate wat vanuit die kerkbank saampraat oor Bybelkwessies.
Stes se bydrae is verantwoord, goed nagevors en lesenswaardig. Kernprobleme en kernwaarhede – vir vandag – word aangesny: die ontstaan van die Bybel, die Bybel en die ouderdom van die aarde, God se Raadsplan, uitverkiesing, wie is my naaste?, God-Drieënig, bestaan die hel?, en selfs Openbaring.
Stes bied hierdie werk nederig aan en sonder ‘n soeke na eie belang. Hy wil eerder die debat stimuleer as strem. Sy hantering van die NG Kerk se belydensskrifte en ander dokumente maak die prentjie meer volledig en verdien vermelding.”
Prof Piet Strauss.
(Voormalig) Moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk
Januarie 2012.
-----------------
“Dit is 'n uiters omvangryke boek en getuig van breë navorsing wat oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe en kwessies van die Bybel gedoen is. Die opmerkings en kommentaar oor hierdie sake in die Bybel lees interessant en lesers sal dit geniet. Dit is sake en onderwerpe wat nie aldag in die gesigsveld van die gewone leser/lidmaat kom nie. Dat dit baie stof tot nadenke laat, is verseker. Hierdie boek is veral vir die fynproewer denkende mens bedoel.”
Danny Fourie
Publikasiehoof
Bybel-Media (voorheen Bybelkor)
-----------------
“Wanneer teoloë oor aktuele vraagstukke begin debatteer, is dit goed. Wanneer gelowiges wie nie formele teologiese opleiding het nie, oor Bybelse sake begin praat en skryf, is dit baie beter, veral wanneer hul navorsing omvattend is en aansluit by vrae wat gereeld deur die man op straat gevra word.
Hierdie boek is so ‘n boek, vir die man op straat, maar ek is oortuig ook vir vele dominees. In my eie bediening moes ek gereeld die vraagstukke wat in hierdie boek ontleed en behandel word, aan lidmate en selfs tieners verduidelik. Daar is by talle gelowiges ‘n fundamentalistiese aanslag wat daartoe aanleiding gee dat hulle in ‘n geloofskrisis wil beland (selfs anderdenkendes verdag wil maak!) wanneer veral Ou Testamentiese ‘historiese’ waarhede vanuit ‘n ander perspektief beskou word. Die Bybel wil geensins ‘n histories-ekskansde Waarhede sakte handboek wees nie. En wanneer sekere aspekte anders interpreteer word en verklaar word, is dit geen aanslag op die Christelike geloof nie! ‘Verskansde Waarhede van die Bybel’ is ‘n vars uitkyk op talle omstrede sake, wat waag om krities te kyk na sogenaamde ‘heilige koeie’ in Bybeluitleg.
Nog ‘n belangrike saak is dat hierdie boek ‘n mens stimuleer en aanmoedig om dieper en verder te dink. Vir my is in die kommunikasiemedia ‘n deurslaggewende faktor dat die leser/hoorder se soeke na kennis en verklarings sodanig geprikkel sal word dat hulle sal begin vrae vra, ‘elaborate’, self verder sal navorsing doen. Hierdie boek, glo ek, sal juis dít doen vir lesers. Ek is oortuig dat ‘Verskansde Waarhede’ van groot hulp sal wees vir beide dominee én lidmaat. Dis nie swaar akademiese taal en redenerings wat verveel nie, maar bied teologies-Bybelse waarhede aan as genotvol en interessant.”
Dr. Wollie Grobler, leraar
NG Klipkerk
-----------------
Al 818 bladsye van 'Verskansde Waarhede' is beskikbaar op elektroniese
media (CD) en kan bestel word by:
Stes de Necker Epos adres: sdnsdn0@gmail.com of
Skakel my op +27 0786792770 of op Whatsapp by dieselfde nommer.
BEKENDSTELLINGS PRYS R599 !!