OORDEEL EN VEROORDEEL
DIE OËNSKYNLIKE PARADOKS
Stes de Necker
1. Jy mag nie oordeel nie
In Matteus 7:1-2 sê die apostel: “Moenie
oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee
julle ander oordeel, sal oor julle geoordeel word en met dieselfde maat waarmee
julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”
Daar bestaan verskeie verwysings in die
Bybel wat vir ons sê dat ons nie oor ander mag oordeel nie. So byvoorbeeld lees
ons in Luk. 6:37, “Moenie oordeel nie en oor julle
sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie en julle sal nie veroordeel
word nie. Spreek vry en julle sal vrygespreek word.” Ook in Rom 2:1 sê Paulus:
“Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat
jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself,
want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.”
As gevolg van
hierdie skrif waarhede, is daar talle gelowiges wat baie ernstig voel oor die feit dat ons nie oor ander mense mag
oordeel nie en daarom nie vir ʼn ander mens kan sê dat hy/sy verkeerd is nie.
Volgens die Bybel is dit 'n voldonge feit
dat ons nie mag oordeel nie, maar wat beteken dit prakties? Wat mag of
moet ons as Christene dan doen en wat mag ons nie doen nie? Net
soveel verwysings as wat daar in die Bybel bestaan wat sê ons mag nie oordeel
nie, net soveel verwysings bestaan daar wat vir sê ons moet ons medemens teregwys
as ons sien dat hulle verkeerd doen.
2. Jy moet oordeel
In Esegiël lees ons verskeie kere waar dit
voorkom asof God ons in werklikheid beveel om te oordeel:
Esegiël 20: 4
“Oordeel jy oor hulle, mens, oordeel jý. Vertel vir hulle van die afskuwelike
dinge wat hulle voorvaders gedoen het.”
Esegiël 22: 2
“Mens, wil jy hom oordeel, wil jy oor die stad van bloedvergieting oordeel?
Vertel dan vir hom van sy afskuwelike dade.”
Esegiël 23: 36
“Die Here het vir my gesê: ‘Mens, oordeel jý oor Ohola en Oholiba. Vertel vir
hulle van hulle afskuwelike dade.”
Esegiël 23: 45
“Regverdige manne moet oor dié vrouens oordeel volgens die bepaling oor
owerspel en die bepaling oor bloedvergieting, want hulle het owerspel gepleeg
en daar is bloed aan hulle hande.”
Ook in die Nuwe
Testament is daar voorbeelde waarvolgens dit lyk of God van ons verwag om oor
sonde te oordeel. Joh. 7: 24, “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel
regverdig.”
In Matt. 18: 15 sê die apostel: “As jou broer
verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen
is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.” Vêrder in verse 16 en 17 sê die apostel: (16)
“Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat
alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.
(17) En as hy na hulle nie
luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister
nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.”
In Levitikus
19:15 staan daar: “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie
partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel
nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.” In Eseg. 3: 18 sê God self:
“Wanneer Ek vir ’n goddelose sê hy gaan
sterwe en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen
sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde
sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.” en dan in vers 21: “As
jy hom waarsku om nie te sondig nie en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy
hom laat waarsku het en jy sal jou eie lewe behou.”
Volgens die Ou-
en Nuwe Testament blyk dit dus baie duidelik dat ons ’n
verantwoordelikheid het om ander mense reg te help. God sê vir ons baie
duidelik dat as ons dit nie doen nie, Hy ons verantwoordelik sal hou. Ons het
dus die plig om sonde te oordeel. Die groot voorbehoud in die Ou- en Nuwe
Testament is egter dat ons dit regverdig moet doen.
WAAR IS DIE VERSKIL
Die
groot vraag is nou: Hoe rekonsilieer ons God se opdragte om wel te oordeel, met
die verbieding daarvan in byvoorbeeld Matteus en Lukas?
Eerstens lê die verskil in die wyse waarop
ons die Bybel lees en interpreteer. Wanneer ons die verbiedinge van die
apostels en God se opdragte noukeurig lees, kom ons agter dat God ons nie die
reg gee om oor die “méns” te oordeel nie, maar die sondige praktyk, wat gepleeg
word!
Ons weet dat God die sonde haat en dat ons
alleen in Jesus Christus vergewing van die sonde kan ontvang. Maar omdat God ook van óns
verwag om die sonde te haat, beteken dit geensins dat ons die “mens” agter die
sonde, ook moet haat en veroordeel nie! Ons het nog altyd die plig om
ons naaste lief te hê. Wat God van ons verwag is dat ons die sondige daad en
die mens van mekaar moet skei.
Ons
moet die sonde oordeel en veroordeel; nie die mens nie!
Tweedens lê die verskil in ons
interpretasie van die Bybel vanuit ons huidige lewensbeskouing.
Humanisme.
Wat word met “humanisme” bedoel? Hierbo
het ek gesê dat ons ook soms slagoffers van die post-modernesisme is. Elkeen is
geregtig op sy/haar eie waarheid, aangesien daar nie iets bestaan soos ’n absolute waarheid nie. Hierdie standpunt is
die gevolg van humanistiese denke. “Die
mens het nie die reg om iemand anders voor te skryf hoe sy/haar lewe moet lyk
nie! “
Humanisme is ’n onbybelse, mens georiënteerde ideologie wat
alreeds in die verlede groot inbreuk op die Christelike teologie gemaak het
deur duidelike Bybelse leerstellings af te verwater ten einde die voorskrifte
van die Bybel by die behoeftes van die moderne beskawing aan te pas. Nie alleen
word die gesag van die Skrif daardeur ondermyn nie, maar word Bybelse
konstantes, wat deur die eeue heen nog altyd gegeld het, bloot verwyder of
vervang met dogmatiese teorieë wat aan
die vereistes van die samelewing kan
voldoen.
In sy artikel, “Die Bybel bekoor met eenvoud” skryf Prof. Piet
Strauss, vorige Moderator van die NG Kerk: “Die teks van die Skrif word
oorwoeker deur maatstawwe van buite. By sommige praat hul eie verstaan van die
omstandighede of konteks van 'n teksgedeelte harder as die teks of die kern
van die Boodskap. Vir die modernis is dít wat die toets van sy verstand of rede
slaag beslissend. By die post-modernis is ruimte vir verskille oor kernsake van
die Bybel, omdat elk se storie ’n plek
moet hê en die Bybel volgens hulle
geduldig daarby inval.”
Vêrder in dieselfde artikel sê Prof.
Strauss: “Daar is moderne teoloë wat die Bybeltekste oor homoseksualiteit so
oorspeel met die destydse konteks, dat hulle aflei die Bybel gee nie ’n mening oor moderne homoseksualiteit nie.”
Die
mens het eenvoudig belangriker as die Bybel geword!
Homoseksualiteit.
Homoseksualiteit is seker een van die mees
omstrede onderwerpe waaroor daar vandag in Suid-Afrika en in die res van die
westerse wêreld, hewig gedebatteer word. So byvoorbeeld het die sogenaamde “Gay
Rights Movement” in Suid-Afrika alreeds gegroei tot ʼn sosio-politieke beweging
wat openlike optogte en demonstrasies hou om homoseksualiteit in die samelewing
goedgekeur en aanvaarbaar te maak. Selfs die Kerk word nie gespaar in hierdie
mense se strewe na erkenning en aanvaarbaarheid nie. In Australië behoort selfs
prostitute aan ’n erkende vakbond!
Homoseksualiteit is sekerlik een van die
belangrikste dimensies van geestelike oorlogvoering waarby die kerk vandag
betrokke is.
Die Bybel spreek tot ons in geen
onduidelike terme nie. In Levitikus 18:22-30 word homoseksualiteit vyf keer
’n gruwel genoem. Dit was só afstootlik
in die oë van die Here dat dit die doodstraf deur steniging gedra het. In Lev.
20:13 staan daar: “Twee
mans wat homoseksueel verkeer, doen ’'n afskuwelike sonde. Hulle moet
doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”
Selfs in die Nuwe Testament sê
Paulus: “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die
koninkryk van God nie. Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of
afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of
diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry
aan die koninkryk van God nie.”
Die ou vertaling het gepraat
van sodomiete. Hiermee het Paulus beslis
nie na die inwoners van die stad Sodom
verwys nie! Sodomie beteken presies wat die Afrikaanse Verklarende
Woordeboek sê dit is: “Teennatuurlike ontug; geslagtelike omgang tussen mens en
dier, of ook homoseksuele omgang”.
Die woord sodomie is afkomstig
van die Latynse “peccatum Sodomiticum” wat in Afrikaans vertaal kan word as “Die sonde van Sodom ”.
In
die Griekse vertaling van die Bybel (Septuagint) word die woord “ekporneuō” gebruik wat na alle vorme van
immorele seksuele praktyke verwys. Vandaar die woord “pornografie”.
Selfs met die heel mooiste en
edelste bedoelings kan
die praktyk van homoseksualiteit NOOIT geregverdig of gekondoneer word
nie. Dit beteken egter nie dat ons die “mens” wat homoseksualiteit beoefen, of
deur homoseksuele begeertes geteister word, ook mag veroordeel nie!
Net God kan ʼn “mens” oordeel. In Heb. 10: 30 staan
daar: “Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal
vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” Presies dieselfde
vermaning vind ons in Rom. 12: 19 “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,
sê die Here.”
Die vraag is: hoekom word
homoseksualiteit spesifiek, vandag uitgesonder om soveel aandag te kry. Gesien
teen die agtergrond van die Skrif, wat maak die homoseksuele persoon na alles,
enigsins verskillend van byvoorbeeld 'n alkoholis, of dief, of bedrieër, (alle
vorme van bedrog), of lasteraar of selfs ’n
moordenaar!?
MENSEREGTE
Soms wil dit voorkom of
Suid-Afrikaners oor die algemeen té gou, té veel “menseregte” bekom het. Wat
niemand, waarvan ek weet, egter ooit gesê het nie, is dat daar vir elke reg wat
daar bestaan, ʼn resiproke “teen-verantwoordelikheid” bestaan. Almal het die reg
op vrye beweging, maar dan moet jy jou binne die voorskrifte van die land se
wette gedra. Almal het die regop
grondbesit, maar dan moet jy jou stukkie grond binne die neergelegte
voorskrifte bekom. Almal het die regop vryheid van spraak, maar dit beteken nie
jy kan iemand
vrylik loop en ander belaster nie.
Hoe dikwels het ons al
gehoor: “Dit is my reg om lief te hê wie
ek wil en niemand kan vir my voorskryf wie ek mag liefhê en wie ek nie mag
liefhê nie!” of “Dit is my lewe en ek het
die reg om te drink soveel as wat ek wil en niemand kan vir my sê wanneer ek
moet ophou drink nie!” “Dit is my reg om grond te besit, daarom kan ek vir my grond vat
soos ek wil!” “Ek het die reg tot
vryheid van spraak, daarom kan
ek sê wat ek wil!” Wat is die verskil
tussen sommige van hierdie regte en “Gay” regte?
Stel jouself voor; wat sal ons
sê as al die alkoholiste, of diewe of bedrieërs of moordenaars vandag ’'n
“Alcoholics Rights Movement” of “The Stealers Rights Movement” of “The Corrupt
Rights Movement” of “The Killers Rights Movement” sou begin!? Wat sal die Staat (en my en jou) se reaksie
wees as hierdie klomp die dag in die strate begin demonstreer vir die erkenning
van húlle regte?
Ek sal my kop op ’n blok
sit dat hulle nie soveel simpatie as die “Gay” aktiviste gaan kry nie!
Prostitusie en aborsie word
alreeds in Suid-Afrika nie meer as misdade beskou nie, terwyl ons wéét dat die
Bybel dit ten sterkste verbied.
Hoekom word prostitusie,
aborsie, homoseksualiteit, Godslastering ens. vandag nie meer as misdade
gereken nie?
Vroeër het ek gesê dat
humanisme ’'n onbybelse, mens georiënteerde ideologie is wat alreeds groot
inbreuk op die Christelike teologie gemaak het.
In die post-moderne “verligte”
humanistiese ideologieë, op politieke sowel as teologiese terryn, word die mens
se sogenaamde “vryheid” as baie meer belangrik as die mens se Godgegewe
verantwoordelikhede, beskou. By die geringste aanduiding dat die mens se
“vryheid” in gedrang gebring kan
word, word enige moontlike verwysing na die sondigheid daarvan, luidkeels
aangeval.
Onder die dekmantel van menseregte en demokrasie, kan enige sonde
regverdig word!
ETIKETTERING
ʼn Verdere belangrike oorsaak
vir die mistastings in die Evangelie is die geneigdheid van die mens om alles
en almal om hom te etiketteer (te “label”).
Kom ons lees weer die verhaal
in Johannes Hoofstuk 9 wat gaan oor die man wat sedert sy geboorte, blind was:
(1) “Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was.
(2) Sy
dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind
is: sy eie of sy ouers s’n?”
(3) En
Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n
nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan
word.”
Jesus se dissipels het reeds aanvaar dat die man se blindheid as
gevolg van sonde was. Al wat hulle wou weet is: wie se sonde was dit; syne of
sy ouers s’n. Hulle het klaar die blinde geëtiketteer as 'n “sondaar”. Die feit
dat hierdie man ’n bedelaar was wat hulp
nodig gehad het, het nie by hulle getel nie.
Ons almal is vandag nog skuldig hieraan.
Wanneer iemand op straat bedel is dit omdat hy te lui is om te werk; As iemand
meer besit as jyself, is dit omdat hy/sy of ryk geërf het of omdat hy/sy hulle
ryk gesteel het; As jou vel wit is, is jy ’n
rassis; As jou vel swart is, is jy korrup; As jy vir die Vryheids Front
stem is jy konserwatief, as jy vir die SAKP stem is jy radikaal! Vir
alke moontlike optrede het ons ’n
naambordjie.
Die volgende aanhaling van Moeder Teresa
som dit miskien die beste op:
People
are often unreasonable, illogical and self-centered;
Forgive
them anyway.
If you
are kind, people may accuse you of being selfish, or having ulterior motives;
Be
kind anyway.
If you
are successful, you will win some false friends and some true enemies; Succeed
anyway.
If you
are honest and frank, people may cheat you;
Be
honest and frank anyway.
What
you spend years building, someone could destroy overnight;
Build
anyway.
If you
find serenity and happiness, they may be jealous;
Be
happy anyway.
The
good you do today, people will often forget tomorrow;
Do
good anyway.
Give
the world the best you have, and it may never be enough;
Give
the world the best you’ve got anyway.
You
see, in the final analysis, it is between you and God. It was never between you
and them anyway.
Jesus het altyd die “mens” raakgesien. Toe Sy dissipels hom vra:
“Deur wie se sonde is dit dat hierdie man blindgebore is”, antwoord Hy hulle: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie
deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom
gesien sal kan word.”
Vir Jesus was hierdie man nie ’n slagoffer van sonde nie; Hy was ʼn wonderwerk
wat gewag het om te gebeur.
Wanneer mense jou verwerp, aanvaar Jesus
jou. Wanneer mense jou verlaat, bly Jesus by jou. Wanneer iemand anders nie tyd
vir jou het nie, sal Jesus altyd vir jou tyd hê. Wanneer ander ván jou praat,
sal God mét jou praat.
In Matt. 7: 1
sê Jesus: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met
dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word
en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”
en vêrder in vers 3: “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog
is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie.” In Rom. 2: 1-3 sê Paulus: “Daarom is daar vir
jou geen verontskuldiging nie, vir jou mens, wat ’'n ander veroordeel, wie jy
ook al is. Deurdat jy oor ’n ander
’n oordeel uitspreek, veroordeel jy
jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge. (2) Ons weet
dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. (3)
Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen en jy doen dit
self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom?”
GOD SE WIL
Hoe weet ek en jy wat God se doel met die
lewe van ʼn mens is? Wat sou ons oordeel byvoorbeeld gewees het oor die lewe van
Paulus voordat hy tot bekering gekom het?
In Hand. 22 vanaf vers 6 lees ons die
verhaal van Paulus se bekering. “Terwyl ek op reis was en naby kus gekom het,
het daar teen die middag skielik ’n
sterk lig uit die hemel op my gestraal. (7) Ek het op die
grond neergeval en ’n stem vir my hoor
sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My? (8) ‘Wie is U Here?’ het ek
gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret’, het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy
vervolg.”
In Hand. 22: 4 vertel Paulus self wat
hierdie vervolging werklik behels het. “Ek wou die mense wat die leer van
Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en
in tronke laat stop.” Later, in sy brief aan die Galasiërs, skryf Paulus:
“Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog ’n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die
kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei.” (Gal. 1: 13)
Stel jou vir een oomblik voor dat ons Regering
vandag ʼn Wet uitvaardig wat die Christendom in Suid-Afrika verbied en bepaal
dat alle Christene vervolg en in die tronke gestop moet word!
Ons
sou nie net hulle wat aangestel word om die vervolging uit te voer, maar
sekerlik ook die hele Regering daarmee saam, tot in die aller ewigste
verdoemenis veroordeel het!
Die verhaal van Paulus se bekering is
sekerlik die beste voorbeeld in die Bybel hoe min ons weet wat God se plan nie
alleen vir ons eie lewe is nie, maar ook vir die lewe van 'n ander.
God vergewe Paulus nie net al sy
onmenslike handelinge nie, maar maak hierdie “satan”, Paulus, die grootste
dissipel van Jesus waarvan ons in die Bybel kan lees.
Wanneer
ons oordeel moet ons uiters versigtig wees om nooit die persóón self te
veroordeel nie.
DIE ROL VAN DIE HEILIGE
GEES
In Matt. 12: 31 sê Jesus: “Daarom sê Ek
vir julle: Elke sonde en lastering kan die
mense vergewe word maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.” 1 Joh. 5:16 sê
“As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid
en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie
tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie
dat hy moet bid nie.”
Ek het al voorheen gesê dat die Heilige
Gees daardie stil stem in jou binneste is wat gewoonlik moet skreeu om gehoor
te word.
Wanneer jy, teen jou beter wete in, iets
doen wat verkeerd is en desnieteenstaande die berisping van die Heilige Gees,
voortgaan met jou verkeerde dade, verwerp jy nie die teregwysing van mens nie,
maar verwerp jy die teregwysing van God self. Dan maak jy God tot leuenaar!
Elke persoon wat voorgee dat hy of sy ʼn
Christen is en terselfdertyd openlik wil loop en verkondig dat hy of sy
homoseksueel is, behoort vir hulleself die volgende saak uit te maak:
Wanneer
jy bely dat jy ’n kind van God is, bely
jy dat jy in God se Woord ( Bybel) glo en wanneer jy die Bybel bevraagteken,
bevraagteken jy God se Woord. Wanneer ons nie glo wat die Bybel sê nie, glo ons
nie wat God self sê nie! Of anders
gestel; Hoe kan
jy beweer dat jy in God glo, maar jy glo nie in Sy Woord nie?
Dit geld ook vir enigeen wat bely dat
hy/sy ’n Christen is, maar terselfdertyd
hom/haar skuldig maak aan prostitusie, aborsie, diefstal, korrupsie, moord ens.
In Joh.
12: 48 sê Jesus: “Wie
My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die
woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.”
DIE BYBEL IS NIE “VEROUDERD”
OF “ONDUIDELIK” NIE.
In 2 Tim. 3: 16 staan daar: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en
het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry,
verkeerdhede reg te stel en ’n regte
lewenswyse te kweek.”
Die boek Openbaring handel oor die
visioene wat Jesus aan die apostel Johannes openbaar het op die eiland Patmos . Hierdie openbaring was veel meer as ’n blote inspirasie van die apostel, dit is die
skriftelike getuienis van die apostel oor die visioen wat Jesus hom fisies laat
sien het. Jesus was só ernstig oor die korrekte weergawe van hierdie gebeure
dat Hy in Op. 22: 18 sê “As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die
plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die
woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van
die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.”
As Jesus so ernstig gevoel het oor die
korrekte weergawe van hierdie gebeure, kan
ons met groot veiligheid aanneem dat Jesus net so ernstig is oor die
korrektheid van die res van die Bybel se inhoud.
Óf ons
aanvaar die Bybel in sy geheel, of ons
aanvaar niks wat daarin staan nie!
SLOT
Die Bybel is
duidelik. As Christene is dit ons plig om die sonde te oordeel en te
veroordeel, maar onder geen omstandighede mag ons die “mens” agter die
sonde veroordeel nie!
Liewe vriend of
vriendin, laat eerder die oordeel aan God oor. Maar as jy dan moét oordeel,
oordeel die mens se dade en nie die mens self nie. En selfs dan moet ons altyd
onthou, is daar nog altyd twee voorbehoude; Eerstens moet ons regverdig oordeel
en tweedens moet ons baie seker maak dat ons eie lewens reg is, voordat ons oor
iemand anders se lewe oordeel. Met die maat waarmee ons meet, sal ook vir ons
gemeet word.
Luk. 6: 37
“Spreek vry en julle sal vrygespreek word.”
No comments:
Post a Comment