Die
totstandkoming van Afrikaans
Artikel
uitgegee deur die Afrikaanse Taalmuseum Paarl
Stes de Necker
Afrikaans het uit ’n wye
verskeidenheid van bronne ontwikkel en sy wortels lê oor drie kontinente
versprei, naamlik Europa, Asië en Afrika. In 1652 het die VOC, die befaamde
skeepsmaatskappy van Nederland, ’n verversingspos aan die Kaap gestig vir sy
skepe op hul reis na en van die Ooste.
Die mense aan die Kaap was
van verskillende Europese lande afkomstig, byvoorbeeld matrose en die amptenary
uit Nederland, vakmanne en huursoldate uit die Duitssprekende gebiede,
Nederland en die Skandinawiese lande en die Hugenote uit Frankryk.
Aangesien die taalbeleid
van die VOC baie streng was en hulle gretig was om die Hollandse karakter van
die Kaap te behou, is die mense almal verplig om Hollands aan te leer. Dit het
ook gegeld vir die Khoi-groepe in die omgewing en die slawe wat uit Afrika en
die Ooste ingevoer is.
Die resultaat van hierdie
beleid was ’n aanleerderstaal waarvan Hollands die teikentaal was. Party navorsers
verwys hierna as ’n Kreoolse taal. Reisigers het reeds in 1671 aangeteken dat
die Hollands wat aan die Kaap gepraat word nie meer soos die taal van Europa
klink nie. Die skryftaal was egter nog dieselfde.
Teen die middel van die
18de eeu, was Afrikaans as ’n nuwe taal met ’n eie identiteit reeds aan die
Kaap gevestig. Dit is Kaaps-Hollands genoem, maar het in party streke ook ander
name gehad. Só het die taal van die Genadendal-sendingstasie by die Britse
owerheid bekend gestaan asGenadendal Dutch. In die 19de eeu het
Afrikaans in kontak gekom met Engels en die tale van die verskillende swart
groepe in die binneland. Hierdie tale het ook ’n invloed op die ontwikkeling
van Afrikaans gehad.
EEN van die eerste
variante van Afrikaans was die sogenaamde Kaapse Afrikaans wat deur veral die
oudslawe in die Kaap gepraat is. Aangesien die meeste van hierdie mense die
Islamitiese geloof aangehang het, is die taal sterk deur Arabies en die
Moslem-kultuur gekleur. Hierdie mense was verantwoordelik vir die eerste
geskrewe Afrikaans toe hulle die Arabiese alfabet begin gebruik het om in
Afrikaans te skryf.
“Oewhans wiet die
riegtie wieg,” lees ’n mens. Dit lyk nie na Afrikaans nie. Totdat jy die woorde
hardop vir jouself uitspreek en besef daar staan “ons weet die regte weg”.
Nog ’n
getranskribeerde voorbeeld van hoe die Afrikaans van die Moslem-gemeenskap van
destyds in Arabiese skrif voorgestel is, is: "Al die dank an parais es
rieg fer Allah alien" (Al die dank en prys is reg vir Allah alleen).
En kyk 'n bietjie
na ’n sinsnede soos “waas gawies fantefoewhar”—dis mos “was vantevore
gewees” in hedendaagse Afrikaans.
(Transkriberings
en verklarings uit "Abu Bakr se 'Uiteensetting van die Godsdiens'"
deur A. van Selms, 1979, North-Holland Publishing Company, Amsterdam/Oxford/New
York)
Die eerste Afrikaanse skool in Suid-Afrika is ook deur
die Moslem-gemeenskap tot stand gebring. Die skool of madrasah was in Dorpstraat 37 in die Bo-Kaap en die Moslem-kinders
het hul godsdiensonderrig hier in Kaapse Afrikaans ontvang. Die madrasah is
gestig deur Tuan Guru, ’n prins van Tidore in die Ternate-eilande (Indonesië)
wat deur die VOC as banneling na Robbeneiland gestuur is. Teen 1807 het 375
slawekinders hul onderrig in die Koran en Arabies hier voltooi.
Een van hul leermetodes
was om gedeeltes uit die heilige skrifte in hul koplesboeke in Afrikaans in Arabiese letters oor te skryf.
Verskeie Islamitiese
heilige geskrifte is aan die Kaap in Arabiese Afrikaans oorgesit en die eerste
Afrikaanse vertaling van die Koran is ook in hierdie skooltjie aangepak deur
Achmat van Bengale.
Achmat Davids, ’n kenner
op die gebied van Arabiese Afrikaanse geskrifte, is van mening dat Afrikaans
reeds sedert omstreeks 1815 in die madrasah in Dorpstraat gebruik is. Die
eerste gepubliseerde Arabiese Afrikaanse manuskrip het in 1845 verskyn en was
die werk van Abu Bakir. Tot omstreeks 1957 het daar meer as sestig publikasies
in Arabiese Afrikaans verskyn.
Die ‘Genootskap van Regte Afrikaners’ en hul stryd vir
Afrikaans
NÁ die tweede Britse oorname in 1806 het Engels
geleidelik die amptelike voertaal aan die Kaap geword en ’n streng
verengelsingsbeleid is ingestel om Nederlands en Afrikaans te probeer verdring.
’n Paarlse predikant, ds. Van der Lingen, het in 1858 ’n
private skool met Nederlands as voertaal gestig om Afrikaanssprekende kinders
te onderrig. Die skool was De Gimnasium en een van die onderwysers was Arnoldus
Pannevis, ’n Nederlander, wat in 1866 in die Paarl aangekom het.
Pannevis was ook ’n
taalkundige en het besef dat die sogenaamde Kaaps-Hollands wat die mense
gepraat het, nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands toon om dit as een van
sy dialekte te kan beskou nie. Hy was die eerste persoon wat die taal Afrikaans
genoem het.
Pannevis was ’n diep
godsdienstige persoon en was baie gretig dat die Bybel in Afrikaans vertaal
moes word. Hy het aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf om dit
onder hul aandag te bring en voorgestel dat ’n jong predikant, S.J. du Toit,
die Bybelvertaling sou onderneem. Die Bybelgenootskap het aan Du Toit die
opdrag gegee om ondersoek in te stel of daar werklik só ’n groot behoefte aan
’n Afrikaanse Bybel bestaan.
Ds. Du Toit het ’n groep
vriende en familie vir ’n vergadering byeengebring om só ’n vertaling te
bespreek. Hierdie vergadering is op 14 Augustus 1875 in die huis van Gideon
Malherbe, ’n neef van S.J. duToit, gehou.
Tydens die vergadering is
daar vasgestel dat daar wel ’n groot behoefte vir ’n Afrikaanse Bybel bestaan,
maar dat Afrikaans nog nie baie geskryf is nie en dus nie die nodige erkenning
as ’n skryftaal geniet het nie. Hulle sou dit eers as ’n skryftaal uit eie reg
erken moes kry en op alle vlakke help bevorder. Daar is toe besluit om ’n
vereniging te stig wat hom hiervoor kon beywer. Dit was die Genootskap van
Regte Afrikaners (GRA).
Die rede vir hierdie naam
van die Genootskap was dat die manne gevoel het dat daar in daardie stadium
drie verskillende soorte Afrikaners in Suid-Afrika was naamlik:
· Afrikaners
met Hollandse harte wat nog vasklou aan hul Hollandse verlede en die moederland
in Europa wat hulle reeds 225 jaar gelede verlaat het.
· Afrikaners
met Engelse harte wat die taal en kultuur van die Engelse regering aanvaar het
as hul eie.
· Regte
Afrikaners met Afrikaanse harte wat die taal en kultuur van die nuwe land
aangehang het.
Hierdie laaste groep was
die mense wat hulle wou verenig in die Genootskap van Regte Afrikaners. Die
doel van die Genootskap was nie net om die Afrikaanse taal te bevorder nie,
maar ook om die Afrikaanse kultuur in sy geheel te ondersteun.
Die rede hiervoor was dat die Britse ryk in die negentiende eeu wêreldwyd
kolonies gehad het en hul eie kultuur, wat hulle as superieur beskou het, op
hierdie kolonies se mense wou afdwing. Die Britse kultuur het ’n baie groot
invloed op al hierdie kolonies gehad en veral ook in Suid-Afrika waar die nuwe
jong Afrikaanse kultuur nog nie so goed gevestig was nie. Dit was die doel van
die GRA om hierdie Britse kultuurinvloed op die jong Afrikaanse kultuur teen te
werk.
Twee van die maniere
waarop die GRA hul taak onderneem het, was deur die publikasie van ’n
Afrikaanse koerant Die
Afrikaanse Patriot en deur
die stigting van ’n Afrikaanse skool, die Gedenkschool der Hugenoten.
Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot het op 15 Januarie 1876 verskyn.
Aanvanklik was dit ’n maandblad in ’n klein formaat, maar sy gewildheid het
vinnig toegeneem en teen die 1890's was dit ’n weekblad in volgrootte
koerantformaat. D.F. du Toit (ook bekend as Oom Lokomotief) was een van die
eerste redakteurs van die koerant. Die
Patriotwas egter nie die eerste Afrikaanse koerant in Suid-Afrika nie.
De Bode, die koerant wat sedert 1859 deur die Morawiese
Sendingdorp Genadendal uitgegee is, het reeds tekste en briewe in Afrikaans
bevat.
Gedenkschool der Hugenoten—en die uiteindelike erkenning van Afrikaans
DIE Gedenkschool der Hugenoten is in 1882 op die plaas
Kleinbosch in Daljosafat tot stand gebring. D.F. du Toit was die eerste
onderwyser. Soos reeds gesien is, was hierdie skool nie die eerste skool waar
daar van Afrikaans gebruik gemaak is nie; dit het egter wel ’n belangrike rol
gespeel by pogings om Afrikaans as ’n amptelike skooltaal erken te kry.
Afrikaans het in 1914 as
amptelike skooltaal erkenning gekry. In 1925 het dit saam met Engels een van
twee amptelike landstale geword. Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling
het in 1933 verskyn.
Ná 1994 het Afrikaans een
van elf amptelike landstale geword. Tans is Afrikaans met meer as ses miljoen
moedertaalsprekers die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika naas Zulu en
Xhosa. Daar is ook groot Afrikaanssprekende gemeenskappe elders in die wêreld
bv. Londen, Australië en Nieu-Seeland.
Die taal is voortdurend
aan die ontwikkel en verander en het reeds ook op ander tale ’n invloed begin
uitoefen, soos gesien kan word aan die volgende lys van Afrikaanse leenwoorde
in ander tale:
Leenwoord Taal Afrikaans
Ihempe Xhosa hemp
Ifestile Xhosa venster
Ibhulukwe Xhosa broek
Ifestela Zulu venster
Isitulo Zulu stoel
Ibhuku Zulu boek
Ipapa Zulu (stywe) pap
Imfolomane Zulu voorman
Vayela Zulu waai (tot siens)
Ummese Zulu mes
Isikele Zulu skêr
Ibhulukwe Zulu broek
Layisha Zulu laai
(ww)
Isikhebhe Zulu skip
Umata Zulu mat
Mpompa Zulu pomp
Afrikaanse woorde wat
dikwels in Engels gehoor word
Lekker Sommer
Nogal Mos
Veld Trek
Dorp Braai
Stoep Biltong
Wors Voetstoots
Ja Klap
Gooi Skop
Bronne
Davids,
A 1991 The Afrikaans of the Cape
Muslims from 1815 to 1915 (Ongepubliseerde
MA-tesis, Universiteit van Natal).
Meiring, AGS 1974 Die Afrikaanse Taalbeweging,
Nasou Beperk: Kaapstad.
Van Rensburg, C
(red) 1997 Afrikaans in Afrika, JL
van Schaik: Pretoria.