Postings

Wednesday 12 December 2012

Die totstandkoming van Afrikaans



Die totstandkoming van Afrikaans

Artikel uitgegee deur die Afrikaanse Taalmuseum Paarl

Stes de Necker

Afrikaans het uit ’n wye verskeidenheid van bronne ontwikkel en sy wortels lê oor drie kontinente versprei, naamlik Europa, Asië en Afrika. In 1652 het die VOC, die befaamde skeepsmaatskappy van Nederland, ’n verversingspos aan die Kaap gestig vir sy skepe op hul reis na en van die Ooste.
Die mense aan die Kaap was van verskillende Europese lande afkomstig, byvoorbeeld matrose en die amptenary uit Nederland, vakmanne en huursoldate uit die Duitssprekende gebiede, Nederland en die Skandinawiese lande en die Hugenote uit Frankryk.
Aangesien die taalbeleid van die VOC baie streng was en hulle gretig was om die Hollandse karakter van die Kaap te behou, is die mense almal verplig om Hollands aan te leer. Dit het ook gegeld vir die Khoi-groepe in die omgewing en die slawe wat uit Afrika en die Ooste ingevoer is.
Die resultaat van hierdie beleid was ’n aanleerderstaal waarvan Hollands die teikentaal was. Party navorsers verwys hierna as ’n Kreoolse taal. Reisigers het reeds in 1671 aangeteken dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word nie meer soos die taal van Europa klink nie. Die skryftaal was egter nog dieselfde.
Teen die middel van die 18de eeu, was Afrikaans as ’n nuwe taal met ’n eie identiteit reeds aan die Kaap gevestig. Dit is Kaaps-Hollands genoem, maar het in party streke ook ander name gehad. Só het die taal van die Genadendal-sendingstasie by die Britse owerheid bekend gestaan asGenadendal Dutch. In die 19de eeu het Afrikaans in kontak gekom met Engels en die tale van die verskillende swart groepe in die binneland. Hierdie tale het ook ’n invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad.    
Die vroegste Afrikaans
EEN van die eerste variante van Afrikaans was die sogenaamde Kaapse Afrikaans wat deur veral die oudslawe in die Kaap gepraat is. Aangesien die meeste van hierdie mense die Islamitiese geloof aangehang het, is die taal sterk deur Arabies en die Moslem-kultuur gekleur. Hierdie mense was verantwoordelik vir die eerste geskrewe Afrikaans toe hulle die Arabiese alfabet begin gebruik het om in Afrikaans te skryf.
“Oewhans wiet die riegtie wieg,” lees ’n mens. Dit lyk nie na Afrikaans nie. Totdat jy die woorde hardop vir jouself uitspreek en besef daar staan “ons weet die regte weg”.
Nog ’n getranskribeerde voorbeeld van hoe die Afrikaans van die Moslem-gemeenskap van destyds in Arabiese skrif voorgestel is, is: "Al die dank an parais es rieg fer Allah alien" (Al die dank en prys is reg vir Allah alleen).
En kyk 'n bietjie na ’n sinsnede soos “waas gawies fantefoewhar”—dis  mos “was vantevore gewees” in hedendaagse Afrikaans.
(Transkriberings en verklarings uit "Abu Bakr se 'Uiteensetting van die Godsdiens'" deur A. van Selms, 1979, North-Holland Publishing Company, Amsterdam/Oxford/New York)
Die eerste Afrikaanse skool in Suid-Afrika is ook deur die Moslem-gemeenskap tot stand gebring. Die skool of madrasah was in Dorpstraat 37 in die Bo-Kaap en die Moslem-kinders het hul godsdiensonderrig hier in Kaapse Afrikaans ontvang. Die madrasah is gestig deur Tuan Guru, ’n prins van Tidore in die Ternate-eilande (Indonesië) wat deur die VOC as banneling na Robbeneiland gestuur is. Teen 1807 het 375 slawekinders hul onderrig in die Koran en Arabies hier voltooi.
Een van hul leermetodes was om gedeeltes uit die heilige skrifte in hul koplesboeke in Afrikaans in Arabiese letters oor te skryf.
Verskeie Islamitiese heilige geskrifte is aan die Kaap in Arabiese Afrikaans oorgesit en die eerste Afrikaanse vertaling van die Koran is ook in hierdie skooltjie aangepak deur Achmat van Bengale.
Achmat Davids, ’n kenner op die gebied van Arabiese Afrikaanse geskrifte, is van mening dat Afrikaans reeds sedert omstreeks 1815 in die madrasah in Dorpstraat gebruik is. Die eerste gepubliseerde Arabiese Afrikaanse manuskrip het in 1845 verskyn en was die werk van Abu Bakir. Tot omstreeks 1957 het daar meer as sestig publikasies in Arabiese Afrikaans verskyn.
Die ‘Genootskap van Regte Afrikaners’ en hul stryd vir Afrikaans

NÁ die tweede Britse oorname in 1806 het Engels geleidelik die amptelike voertaal aan die Kaap geword en ’n streng verengelsingsbeleid is ingestel om Nederlands en Afrikaans te probeer verdring.

’n Paarlse predikant, ds. Van der Lingen, het in 1858 ’n private skool met Nederlands as voertaal gestig om Afrikaanssprekende kinders te onderrig. Die skool was De Gimnasium en een van die onderwysers was Arnoldus Pannevis, ’n Nederlander, wat in 1866 in die Paarl aangekom het. 

Pannevis was ook ’n taalkundige en het besef dat die sogenaamde Kaaps-Hollands wat die mense gepraat het, nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands toon om dit as een van sy dialekte te kan beskou nie. Hy was die eerste persoon wat die taal Afrikaans genoem het.

Pannevis was ’n diep godsdienstige persoon en was baie gretig dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word. Hy het aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf om dit onder hul aandag te bring en voorgestel dat ’n jong predikant, S.J. du Toit, die Bybelvertaling sou onderneem. Die Bybelgenootskap het aan Du Toit die opdrag gegee om ondersoek in te stel of daar werklik só ’n groot behoefte aan ’n Afrikaanse Bybel bestaan.
Ds. Du Toit het ’n groep vriende en familie vir ’n vergadering byeengebring om só ’n vertaling te bespreek. Hierdie vergadering is op 14 Augustus 1875 in die huis van Gideon Malherbe, ’n neef van S.J. duToit, gehou.
Tydens die vergadering is daar vasgestel dat daar wel ’n groot behoefte vir ’n Afrikaanse Bybel bestaan, maar dat Afrikaans nog nie baie geskryf is nie en dus nie die nodige erkenning as ’n skryftaal geniet het nie. Hulle sou dit eers as ’n skryftaal uit eie reg erken moes kry en op alle vlakke help bevorder. Daar is toe besluit om ’n vereniging te stig wat hom hiervoor kon beywer. Dit was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).
Die rede vir hierdie naam van die Genootskap was dat die manne gevoel het dat daar in daardie stadium drie verskillende soorte Afrikaners in Suid-Afrika was naamlik:
  
·       Afrikaners met Hollandse harte wat nog vasklou aan hul Hollandse verlede en die moederland in Europa wat hulle reeds 225 jaar gelede verlaat het.
·       Afrikaners met Engelse harte wat die taal en kultuur van die Engelse regering aanvaar het as hul eie.
·        Regte Afrikaners met Afrikaanse harte wat die taal en kultuur van die nuwe land aangehang het.
Hierdie laaste groep was die mense wat hulle wou verenig in die Genootskap van Regte Afrikaners. Die doel van die Genootskap was nie net om die Afrikaanse taal te bevorder nie, maar ook om die Afrikaanse kultuur in sy geheel te ondersteun.
Die rede hiervoor was dat die Britse ryk in die negentiende eeu wêreldwyd kolonies gehad het en hul eie kultuur, wat hulle as superieur beskou het, op hierdie kolonies se mense wou afdwing. Die Britse kultuur het ’n baie groot invloed op al hierdie kolonies gehad en veral ook in Suid-Afrika waar die nuwe jong Afrikaanse kultuur nog nie so goed gevestig was nie. Dit was die doel van die GRA om hierdie Britse kultuurinvloed op die jong Afrikaanse kultuur teen te werk. 
Twee van die maniere waarop die GRA hul taak onderneem het, was deur die publikasie van ’n Afrikaanse koerant Die Afrikaanse Patriot en deur die stigting van ’n Afrikaanse skool, die Gedenkschool der Hugenoten.
Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot het op 15 Januarie 1876 verskyn. Aanvanklik was dit ’n maandblad in ’n klein formaat, maar sy gewildheid het vinnig toegeneem en teen die 1890's was dit ’n weekblad in volgrootte koerantformaat. D.F. du Toit (ook bekend as Oom Lokomotief) was een van die eerste redakteurs van die koerant. Die Patriotwas egter nie die eerste Afrikaanse koerant in Suid-Afrika nie.
De Bode, die koerant wat sedert 1859 deur die Morawiese Sendingdorp Genadendal uitgegee is, het reeds tekste en briewe in Afrikaans bevat.
  
Gedenkschool der Hugenoten—en die uiteindelike erkenning van Afrikaans
DIE Gedenkschool der Hugenoten is in 1882 op die plaas Kleinbosch in Daljosafat tot stand gebring. D.F. du Toit was die eerste onderwyser. Soos reeds gesien is, was hierdie skool nie die eerste skool waar daar van Afrikaans gebruik gemaak is nie; dit het egter wel ’n belangrike rol gespeel by pogings om Afrikaans as ’n amptelike skooltaal erken te kry. 
Afrikaans het in 1914 as amptelike skooltaal erkenning gekry. In 1925 het dit saam met Engels een van twee amptelike landstale geword. Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling het in 1933 verskyn.
Ná 1994 het Afrikaans een van elf amptelike landstale geword. Tans is Afrikaans met meer as ses miljoen moedertaalsprekers die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika naas Zulu en Xhosa. Daar is ook groot Afrikaanssprekende gemeenskappe elders in die wêreld bv. Londen, Australië en Nieu-Seeland.
Die taal is voortdurend aan die ontwikkel en verander en het reeds ook op ander tale ’n invloed begin uitoefen, soos gesien kan word aan die volgende lys van Afrikaanse leenwoorde in ander tale:
Leenwoord      Taal                  Afrikaans
Ihempe            Xhosa              hemp
Ifestile             Xhosa              venster
Ibhulukwe        Xhosa              broek
Ifestela            Zulu                 venster
Isitulo              Zulu                  stoel
Ibhuku             Zulu                  boek
Ipapa               Zulu                 (stywe) pap
Imfolomane     Zulu                  voorman
Vayela             Zulu                  waai (tot siens)
Ummese           Zulu                  mes
Isikele              Zulu                  skêr
Ibhulukwe        Zulu                  broek
Layisha            Zulu                  laai (ww)
Isikhebhe         Zulu                  skip
Umata              Zulu                  mat
Mpompa           Zulu                  pomp
Afrikaanse woorde wat dikwels in Engels gehoor word
Lekker             Sommer
Nogal               Mos
Veld                Trek
Dorp                Braai
Stoep              Biltong
Wors               Voetstoots
Ja                    Klap
Gooi                 Skop


Bronne
Davids, A                 1991       The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915 (Ongepubliseerde
                                                MA-tesis, Universiteit van Natal).
Meiring, AGS           1974        Die Afrikaanse Taalbeweging, Nasou Beperk: Kaapstad.
Van Rensburg, C (red)     1997        Afrikaans in Afrika, JL van Schaik: Pretoria.


Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net  http://stesdeneckers.blogspot.com

No comments:

Post a Comment