Postings

Thursday 28 February 2013

Skinderbekke en Nuusdraers.



Skinderbekke en Nuusdraers


Die mees verwerplike eienskappe wat daar bestaan


Stes de Necker



Een van die slegste dinge wat met 'n mens kan gebeur is wanneer ander van jou skinder en jy niks daaraan kan doen nie. Elkeen wat al die slagoffer van ’n valse beskuldiging of kwaadwillige skinderstorie was, sal weet hoeveel wroeging en leed dit kan veroorsaak. Daardie gevoel van teleurstelling, gekrenktheid, bitterheid en gramskap teenoor die een wat jou loop en beskinder het. Vernaam nog as so ʼn skinderstorie nie die waarheid is nie; wat nege-en-negentig persent van die tyd die geval is.

Hoe slaan jy die vure dood en hoe verdedig jy jouself? Ons eerste reaksie is gewoonlik om so ’n persoon trompop te loop en presies te laat verstaan wat ons van hom/haar dink. Om so een selfs te vermorsel! Dit maak mos seer wanneer mense stories oor jou loop en vertel. Dit raak aan 'n mens se siel en eergevoel wanneer skindertonge oor jou oordeel. Maar dit is nie net “ander” mense wat van jou skinder nie, selfs jou familie sal van jou skinder. Soms is daar selfs mense wat jou glad nie eers ken wie of wie jy nog nooit in jou lewe ontmoet het nie, wat praat asof hulle jou al jare lank persoonlik ken!

’n Mens wonder hoeveel pyn en hartseer skindertonge al in ander mense se lewens veroorsaak, en hoeveel mense al hierdeur verwoes is.

In die Engelse “The Message” Bybel, Jak.3: 16-18, staan daar:
“Whenever you’re trying to look better than others or get the better of others, things fall apart and everyone ends up at the others’ throats. Real wisdom, God’s wisdom, begins with a holy life and is characterized by getting along with others. It is gentle and reasonable, overflowing with mercy and blessings, not hot one day and cold the next, not two-faced. You can develop a healthy, robust community that lives right with God and enjoy its results only if you do the hard work of getting along with each other, treating each other with dignity and honour.”

So, hoekom doen mense dit dan? Daar kan seker 'n hele klomp redes wees, maar waarskynlik is jaloesie een van die grootstes. Iemand is jaloers oor iemand anders se sukses– oor dit wat die ander persoon al in die lewe bereik en gedoen het – en stuur dan 'n skinderstorie van daardie persoon die wêreld in om hom/haar sleg te laat lyk.

Of kan dit dalk wees dat iemand so bedreig voel deur ’n ander se sukses dat die skinderbek alles sal doen om daardie persoon swart te smeer en te beswadder?

Nog 'n rede is mense wat te min het om te doen, en nou leef en teer hulle op sappige brokkies nuus van ander mense.

Nog 'n rede kan wees dat jy nie na 'n ander se pype wou dans nie, en nou versuur daardie een jou lewe met halwe waarhede en leuens.

Die volgende persoonlike eienskappe gaan gewoonlik ook hand aan hand met ʼn tipiese skinderbek:  
·        Om beter te probeer wees as ander;
·        Om iemand te verkleineer deur te wys hoe goed hy/sy is;
·        Om nie met die mense om hom/haar klaar te kom nie;
·        Om onredelik en baasspelerig te wees;
·        Nie genade vir ander mense te hê nie;
·        Buierig en wisselvallig te wees;
·        Dubbel standaarde te hê en
·        ‘n Tweegesig te wees.

In die apokriewe boek, Die Wysheid van Ben Sirag (Hfst. 28) staan daar: "Vervloek is die skinderbekke en die mense wat uit twee monde praat! Hulle vernietig baie mense wat na vrede strewe. Mense wat hulle oorgee aan skinder, sal nie rus vind nie; hulle sal nooit in rustigheid kan woon nie. As 'n mens iemand met 'n sweep slaan, sit daar 'n merk, maar as jy iemand met jou tong slaan, slaan jy tot op die been! Skinder se juk is van yster, die boeie van koper." 

Skinder en kwaad-pratery is ‘n sonde voor God en diegene wat daarin volhard, leef in rebellie teen die lewende God. In 1 Kor. 5:11 beklemtoon Paulus die noodsaaklikheid om op te tree teen diegene wat liefdeloos en onheilig lewe:
Maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.” 

Mense wat voorgee dat hulle aan Christus behoort maar hulle aan hierdie dade skuldig maak, se getuienis dat hul aan Christus behoort moet dadelik onder verdenking staan, aangesien iemand wat aan Christus behoort, onder die gesag van Christus staan, en sy optrede as getuienis van Christus in sy/haar lewe sal dien.

Selfs die sekulêre staat erken die daad en die skade wat met valse beskuldigings saamgaan en word in die reg as crimen injuria beskryf. Dit kan kortom as kriminele of kwaadwillige (emosionele) aanranding van iemand se reputasie beskryf word.

“Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” (Spreuke 18:21) Hierdie is 'n interessante teksvers, en word so baie deur mense aangehaal, maar wat beteken dit werklik? Dit beteken eenvoudig dat ons met ons tonge fisies dood of lewe kan spreek oor iemand of 'n saak. En “dood spreek”, sluit ook gewone menslike skinder in!

In die middel eeue kon mense, wanneer hulle nie van 'n persoon gehou het nie, hom/haar brandmerk as 'n heks en so een dan op 'n brandstapel verbrand. Vandag vernietig skindertonge mense se karakter en eerbaarheid en lewens op die brandstapels van hulle vurige tonge. 

Voordat jy weer iemand beskinder of beswadder, dink net eers aan die skade wat jy aan daardie persoon kan doen. Dink net eers aan die pyn wat jy veroorsaak.

Aan diegene wat al slagoffers van ’n ander se swartsmeerdery of kwaadpratery was of tans is, onthou altyd God se vertroosting in Eksodus 14:14: "Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees." Wat 'n wonderlike gedagte om te weet ons hoef nie 'n groot kabaal op te skop nie, want die Skepper sê dat jy maar net stil hoef te wees en Hy sal vir jou stry.

Maar wat doen jy wanneer iemand met 'n skinderstorie by jou kom? As jy enige integriteit in jou het, sal jy so ’n persoon ondubbelsinnig laat verstaan dat jy nie in sy/haar skinderpraatjies belangstel nie. Onthou, wie ook al bý jou skinder, sal ook ván jou skinder. “Met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”  (1 Kor. 5:11)

In Spreuke 11:13 lees ons: “Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek 'n saak.” (Om ’n saak te bedek beteken, om ’n geheim te bewaar)

En indien ons iemand te nagekom het met ’n skinderstorie, moet ons daardie persoon in nederigheid en opregtheid om vergifnis vra. God hou ons hiervoor verantwoordelik. Maar as jy niks verkeerd gedoen het nie – nie voor God of die mense nie – het jy niks om voor verskoning te vra nie. 

As daar een was wat geweet het hoe dit voel om vals beskuldig te word, dan was dit Jesus en nog steeds kon hy, terwyl hy alreeds aan die kruis gehang het, uitroep: “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Kom ons wees mense wat met 'n geheim vertrou kan word. Kom ons gebruik ons tonge om LEWE in mense se lewens te spreek. In plaas daarvan om iemand af te breek, af te kraak en negatiewe kritiek te versprei, kom ons bou eerder mekaar op. Kom ons gee erkenning aan mekaar en vertel van die ander se goeie hoedanighede eerder as om ’n ander seer te maak en te verwoes.

Die Bybel is baie duidelik, eendag sal ons die vrugte van dit wat ons gespreek het, pluk.
  
Vind nog interessante artikels op my blog.

No comments:

Post a Comment