Postings

Saturday 23 February 2013

Vals beskuldigings.



Vals Beskuldigings


Stes de Necker



Elkeen wat al die slagoffer van ’n valse beskuldiging(s) was, sal weet hoeveel wroeging en leed dit kan veroorsaak. Daardie gevoel van teleurstelling, gekrenktheid, bitterheid en gramskap teenoor die een wat jou vals beskuldig het. Ons eerste reaksie is gewoonlik om so ’n persoon trompop te loop en presies te laat verstaan wat ons van hom/haar dink. Om so een selfs te vermorsel! Maar wat sê die Bybel?

In die Engelse “The Message” Bybel, Jak.3: 16-18, staan daar:
“Whenever you’re trying to look better than others or get the better of others, things fall apart and everyone ends up at the others’ throats. Real wisdom, God’s wisdom, begins with a holy life and is characterized by getting along with others. It is gentle and reasonable, overflowing with mercy and blessings, not hot one day and cold the next, not two-faced. You can develop a healthy, robust community that lives right with God and enjoy its results only if you do the hard work of getting along with each other, treating each other with dignity and honour.”

Moet dus nie ’n fout maak nie; Christene kan hulle net so maklik aan hierdie sondes skuldig maak! Die volgende persoonlike eienskappe gaan gewoonlik hand aan hand met diegene wat ’n ander so maklik valslik kan beskuldig:
Ø       Om beter te probeer wees as ander;
Ø       Om iemand te verkleineer deur te wys hoe goed jy is;
Ø       Om nie met die mense om jou klaar te kom nie;
Ø       Om onredelik en baasspelerig te wees;
Ø       Nie genade vir ander mense te hê nie;
Ø       Buierig en wisselvallig te wees; en
Ø       Dubbel standaarde te hê en
Ø       ‘n Tweegesig te wees.

Hierdie dade is ‘n sonde voor God en diegene wat daarin volhard, leef in rebellie teen die lewende God. In 1 Kor. 5:11 beklemtoon Paulus die noodsaaklikheid om op te tree teen diegene wat liefdeloos en onheilig lewe:
Maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.” 

Mense wat voorgee dat hulle aan Christus behoort maar hulle aan hierdie dade skuldig maak, se getuienis dat hul aan Christus behoort kom dadelik onder verdenking aangesien iemand wat aan Christus behoort, onder die gesag van Christus staan, en sy optrede as getuienis daarvan sal dien.
Wanneer iemand jou valslik beskuldig, is daar dikwels ander dinge wat in so ‘n persoon se binneste skuil. Die Bybel sê waar jaloesie is, is allerhande gemene dade. Jaloesie in die hart gee geboorte aan liefdeloosheid. As iemand aanhoudend valse beskuldigings inbring skuil daar iets duister in sy hart. Hierdie gedrag is uiters skadelik. Selfs die sekulêre staat erken die daad en die skade wat daarmee saamgaan en word in die reg as crimen injuria beskryf. Dit kan kortom as kriminele of kwaadwillige (emosionele) aanranding van iemand se reputasie beskryf word.

As jy dus deur jou gedrag of woorde iemand valslik beskuldig het, moet jy dit met daardie persoon uitklaar en vir hom/haar in nederigheid en sagmoedigheid om verskoning vra. God hou jou hiervoor verantwoordelik. Maar as jy niks verkeerd gedoen het nie – nie voor God of die mense nie – het jy niks om voor verskoning te vra nie.

In die bergrede (Matt. 4 vanaf vers 5) lees ons:
“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.  Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

As daar een was wat geweet het hoe dit voel om vals beskuldig te word, dan was dit Jesus en nog steeds kon hy, terwyl hy alreeds aan die kruis gehang het, uitroep: “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

As ons Here Jesus Sy valse beskuldigers kon vergewe, hoeveel te meer is dit ons plig om die wat valse getuies teen ons inbring, te vergewe.

Wanneer jy valslik beskuldig word, weet eerder dat jy in goeie geselskap is. Jesus was valslik tot die dood toe, beskuldig!

Bron:  Ds. Riekert Botha, predikant van die Vredendal Baptiste Kerk, Wes-Kaap.

Vind nog interessante artikels op my blog.



1 comment: