Postings

Tuesday 12 June 2012

Die Christendom van Suid Afrika in ballingskap



Suid-Afrika en Israel in die tyd van die Rigters



                                                                                           
  Stes de Necker


Gedurende die tyd van die Rigters, het God sy volk vir vyf tydperke van veertig jaar vrede laat beleef, en vir een tydperk van veertig jaar onder die verdrukking van die Filistyne laat leef.

Gedurende die veertigjarige onderdrukking van die Israeliete, moes hulle sekerlik ook terug gedink het aan die veertig jaar wat hulle voorgeslagte in die woestyn moes deurbring as gevolg van hulle sondes. Maar trou aan hulle tradisie, kon (of wóú) die Israeliete steeds nie God se boodskap aanvaar nie.

Maar God is ʼn genadige God wat Sy kinders keer op keer vergewe. Gedurende die tydperk van die Rigters het God sy volk sewe keer begenadig en uit die hande van hulle onderdrukkers gered.

In Matteus 18: 21 vra Petrus vir Jesus: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Dan in vers 22 antwoord Jesus hom:  “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.” Hoeveel te meer sal God dan nie sewentig maal sewe keer vergewe nie. God is lankmoedig en genadig, maar dit beteken ook nie dat Sy genade onbepaald  aanhou nie!

In die laaste hoofstukke van die boek Rigters word dit duidelik gestel dat daar "in daardie tyd nog nie 'n koning in Israel was nie, elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë" (Rig. 17: 6; 21: 25;  8: 1; en 19: 1). Hierdie siening, om te doen “wat reg is in sy eie oё”, het veroorsaak dat die tyd van die Rigters die mees goddelose  tydperk in die geskiedenis van Israel was.  

Mense in Suid Afrika wat vandag ook net doen wat ookal reg is in hulle eie oё, is die grootste oorsaak dat ons vandag te kampe het met soveel misdaad en korrupsie. Daar gaan nie ʼn dag verby dat die media nie berigte oor moord; roof; verkragting; aanranding; aborsie; ontug; prostitusie; korrupsie; bedrog; diefstal ens, bevat nie. Barbarisme; Gods lasterlike uitsprake; sosiale euwels; homoseksualiteit; aanvalle op die Christelike leer en openlike uitdaging van die gesag van God, is aan die orde van die dag en hierdie euwels kom dwarsoor die totale kleurspektrum voor. Dit het hoegenaamd niks te make met ras, kleur, politieke oortuiging of sosiale stand nie. Dit is 'n endemiese verrotting wat in bykans alle vlakke en fasette van die samelewing voorkom.

As ons Suid Afrika (en onsself persoonlik) beoordeel aan die hand van God se vereistes vir 'n gehoorsame en Godvresende samelewing, dan moet ons erken dat die toestand in Suid Afrika vandag ʼn spiёlbeeld is van Israel gedurende die tyd van die Rigters!

In ʼn land soos Suid Afrika, wat daarop aanspraak maak dat 80% van die bevolking Christene is, moet daar iets ernstigs verkeerd wees as selfs die land se Grondwet nie eers meer God as die enigste en ware God erken nie, en as die wetgewers, op nasionale en provinsiale vlak, te “sensitief” is om hulle sittings in die naam van die Here te open. Die bede van die grondwet dat God die mense van Suid Afrika sal seën en beskerm, beteken niks solank Hy nie op alle vlakke en in alle fasette van die samelewing, as die ware en enigste God erken en bely word nie. 

Wat baie mense nie besef nie, is dat Suid Afrika vandag nog steeds ʼn minderheid-regering het! Die verskil is net dat dit nie meer ʼn minderheid regering is wat op rasse-grondslag gebaseer is nie, maar op geloofs-grondslag. Die Christendom, wat verreweg die grootste is en die meerderheid van die bevolking verteenwoordig, word deur ʼn minderheid heidene, wat met ʼn sosialisties geïnspireerde wêreldbeskouing van sekulêre humanisme en radikale liberalisme, regeer. Die mens het belangriker as God geword.  

In 1990, toe die Suid Afrikaanse regering se apartheidsbeleid die toppunt van die kruin bereik het, was die blanke bevolking van Suid Afrika 3,6 milj. mense; Presies dieselfde hoeveelheid Israeliete wat daar in die tyd van die Rigters was!

Die apartheidsbeleid het miljoene mense, waarvan die oorgrote meerderheid Christene was, gemarginaliseer en verontreg. Voor 1994 het selfs die Kerk, soos talle ander nie-regerings liggame en instansies, ook die beleid van rassediskriminasie ondersteun en selfs, in sekere gevalle, skriftuurlik regverdig!
 
Die verkiesing van 1994, toe Suid Afrika onder ʼn swart kommunisties- en sosialisties geïnspireerde meerderheid regering beland het, behoort vir elke Christen-gelowige in Suid Afrika van baie groter en dieper Christelike, eerder as politieke, betekenis te wees.

Ongehoorsaamheid en Godsdienstige verval, eerder as ras, kleur of enige politieke ideologie, is in 1994 by die stembus verslaan.

Die Christene van Suid-Afrika vind hulleself vandag weer in ballingskap. Ballingskap in hulle eie land!

Die vraag is net: Hoe lank sal dit duur voordat God ook vir ons, Christene van alle ras taal of politieke oortuiging, ook 'n Rigter sal stuur om ons uit ons ballingskap te bevry.




No comments:

Post a Comment