Postings

Sunday 10 June 2012

Louis Kirsten - 26/02/1920 - 21/06/86

Ter herinnering aan my oorlede skoonpa, Louis Kirsten


                                                                                                                                     Stes de Necker


Tog eienaardig dat dit wil voorkom of die mense wat na aan jou is, altyd te vroeg weggeneem word, terwyl die ander wat jy verpes, lyk of hulle nooit sal padgee nie.

My skoonpa, Louis Kirsten, is te gou van ons weggeneem.

Vir my was hy altyd baie meer as 'n skoonpa. Ons was boesemvriende en met sy dood het ek sekerlik my grootste boesemvriend van almal verloor.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, het pa Louis by die Suid-Afrikaanse weermag aangesluit en was hy een van die Springbokke van die Suid-Afrikaanse Weermag wat as deel van die Geallieerde Agtste Leër, onder bevel van Generaal Montgomery, in Noord-Afrika geveg het.

Pa Louis was een van die sein bodes wat korrespondensie en boodskappe, per motorfiets, tussen die verskillende weermagbasisse moes vervoer.

Dit het hom dan ook die geleentheid gegee om die Sahara woestyn, waarvan hy my so baie vertel het, beter te leer ken.

In 1941 het Veldmaarskalk Rommel, aanvoerder van die Duitse magte in Afrika, Afrika op strategiese wyse vanaf die Noorde ingesypel. Hierdie insypeling was strategies so goed beplan dat, toe Generaal Scoby van die Britse weermag, wat op daardie stadiuk reeds in Noord-Afrika was, wakker skrik, die Duitse leër alreeds so naby aan die hom was dat daar nie veel alternatief was om in die rigting van Tobruk terug te val nie.

Generaal Scoby het daarop staatgemaak dat Engeland genoeg skepe na Tobruk sou stuur om die troepe vanaf land te verwyder, maar by sy aankoms in Tobruk moes hy die skokkende nuus verneem dat die Engelse skepe deur die Duitse leër aangeval is en dat daar nie alternatiewe skeepsvervoer beskikbaar was om die Britse soldate te red nie.

Scoby en sy manne is aangesê om Tobruk tot die laaste te verdedig. Die Britse magte was behoorlik deur Rommel se gekombineerde Duits/Italiaanse mag vasgekeer en die beleg van Tobruk wat daarop gevolg het, het 240 dae lank geduur. Dit het begin op 11 April 1941 en is eers op 27 November 1941 beëindig toe die Duitsers deur die geallieerde Agtste Leër verslaan is.

Tydens die beleg van Tobruk was die vasgekeerde Engelse soldate letterlik die see ingejaag. Enigiets, van 'n motorband tot 'n militêre trommel, is glo gebruik om die see mee in te swem in 'n poging om te ontsnap.

Maar om by my eintlike storie te kom.

Terwyl Rommel besig was om met sy grofgeskut te konsentreer op die vasgekeerde troepe, het die onttrekking van 'n aantal Duitse tenks wat buite om Tobruk geposisioneer was, 'n opening gelaat vir die Agtste Leër om deur die Duitse linie te breek en sodoende die Engels magte te hulp te snel.

Voor die finale slag van Tobruk, moes die Engelse soldate wat in die stad vasgekeer was, eers verwyder word ten einde te verhoed dat daar nie op hulle ook gevuur word nie.

Die operasie moes in doodse stilte en sonder enige lig plaasvind. Die gevolg was dat die soldate al wat n jas en kombers wat hulle hul hande op kon lê, oor die trokke se enjins gegooi het om die geraas van die enjins te demp en aangesien daar onder geen omstandighede 'n lig aangeskakel kon word nie (selfs nie eers n vuurhoutjie mog aangesteek word nie), het die trokke wat die soldate moes vervoer, so te sê stamper teen stamper gery sodat hulle ten minste mekaar se posisies in die donker kon eien.

Pa Louis was een van die trok bestuurders wat die soldate vervoer het en toe die konvooi glo so 'n kilometer of wat van die stad af weg was, toe kom daar 'n Ierse soldaat van agter af aangehardloop, al op die dakke van die trokke langs. Van die kajuit van die een trok spring hy op die bak-seil van die volgende trok en so laat spaander die kêrel bo-oor almal in die konvooi.

Skoonpa vertel dat toe die Ier so bo-oor hulle trek hy nog vir hom wou vra wat hy nou eintlik dink hy doen, toe die Ier vir hom skreeu: “Jou beter get the fouck out of ere. Dhose fouckin Gerries are comen with their foucken tanks and dhose foucken tanks are as big as foucken houses!”

Die Duitsers moes natuurlik berig ontvang het van die konvooi en besluit om dit agterna te sit.
Pa Louis en die res van die konvooi kon egter slaag om veilig weg te kom, maar niemand kon glo ooit uitvind wie daardie Ierse soldaat was nie!

Pa Louis, ek hoop dat jy daardie Ier intussen al raakgeloop het. Dit is bygesê natuurlik dat hy ook die hemel veilig gehaal het.       


No comments:

Post a Comment