Postings

Tuesday 15 May 2012

Bewys vs. Bevestiging


Bewys vs. Bevestiging

                                                                                                Stes de Necker


Ek het in ʼn streng Gereformeerde huis grootgeword waar daar elke aand “boeke gevat” is en waar Sondag kerk toe gaan, nie onderhandelbaar was nie. Alhoewel ek talle kere in my lewe 'n herbevestiging van God se teenwoordigheid en werking en my lewe ervaar het, (en nog steeds ervaar), het ek egter nooit ʼn werklike “Damaskus ervaring” beleef nie. Van kindsbeen af was my Christenskap nog altyd 'n integrale deel van my lewe.

In my omgang met mede jongmense toe ek destyds in die Lugmag was en later op Universiteit en in die werksplek, was dit egter vir my opmerklik hoeveel van my vriende en kennisse wat wel deur so 'n Damaskus ervaring tot geloof gekom het, later verflou en party selfs weer teruggeval het in hulle ou weë.

Dit het my laat besef hoe slinks Satan in ons lewens te werk kan gaan. Een van die duiwel se sterkste wapens, is twyfel en gewoonlik sal hy toeslaan kort na iemand se bekering of wanneer daardie persoon nog jonk in die geloof is. Dit is dan wanneer hy twyfel en verwarring in jou gemoed saai oor die geloofwaardigheid van die Bybel en God se wil vir jou lewe. Dit is dan wanneer hy jou probeer wysmaak dat hierdie of daardie sonde nie werklik so 'n groot sonde is nie en dat jy jou nie onnodig aan al die voorskrifte van die Skrif moet steur nie. Dit is die tyd waarteen Paulus waarsku in 1 Tim. 3: 6 “Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word, en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland.”

Vir elke bekeerde gelowige is dit nodig om in die Geloof te groei en daarom is 'n deeglike kennis en begrip van die Bybel so onontbeerlik. Die vinnigste manier om 'n jongeling te laat twyfel, is om twyfel in die betroubaarheid en waarheid van die Bybel te veroorsaak.

Die Bybel is nie 'n eksakte historiese of wetenskaplike handboek nie; dit bly nog altyd 'n geloofs- boek. Baie gelowiges soek gevolglik nie noodwendig na “bewyse” vir die Bybel se gegewens nie, maar eerder bloot net na bevestiging van die betroubaarheid daarvan.


No comments:

Post a Comment