Postings

Sunday 20 May 2012

Toe kinders nog kinders was.




Toe kinders nog kinders was


                                                                                                            Stes de Necker



Een van die mees tragiese gevolge van ons sogenaamde moderne samelewing, is die feit dat ons kinder van vandag vergeet het hoe om te speel.

Vandag word elke spaar oomblik opgeneem deur 'n geklets op Blackberries, I-phones, Facebook, Twitter en wat nog alles. Graad 1 kindertjies doen op skool wat ons eers in Hoërskool geleer het. Alles gaan oor prestasie. Prestasie in die klaskamer, op die sportveld, op kulturele gebied ens. ens.

Ek het op 'n plaas grootgeword en gewoonlik was daar nooit genoeg ure in 'n dag op naweke en vakansies om alles te kon doen wat ek graag wou doen nie. Saam met my plaas vriende, kinders van die plaaswerkers, het ons perdgery, donkie gery, vlotte gebou om op die plaasdam mee te ry, kettie geskiet, kleilat gegooi, tol gespeel, albaster gespeel en wat nog alles. Die skool vakansies was almal te kort, om van naweke nie eers te praat nie.

En dan breek daardie verpeste Maandae aan. Terug koshuis toe. Terug na die roetine van opstaan, ontbyt, skool toe, middagete, studie, sport, aandete, studie, slaaptyd. En dit terwyl die verlange terug na die plaas en jou plaas maatjies, jou nie vir 'n enkele oomblik laat los nie.

As enigiemand my vandag sou vra wat my punte op laerskool was, sal ek dit om my lewe te red nie kan onthou nie! Want dit was nie belangrik nie. Van belang was om normaal groot te word. Om te leer deur te speel. Om wedersydse aanvaarding te leer deur met jou anderskleurige plaas maats saam te verkeer. Om respek vir grootmense te leer wanneer pa jou foeter omdat jy Outa Jan sommerso op sy voornaam genoem het en hom nie gerespekteer het deur Outa te sê nie. Om die natuur te leer ken en self te kon uitmaak wanneer die reën op pad is. En dan die grootste lesse van almal, en dit is om te leer dat melk van 'n koei kom en nie uit 'n bottel in die kafee nie; dat mieliemeel van gemaalde mielies kom wat eers geplant en gestroop met word. Dat koue botter jou brood gaan opfrommel as jy dit nie eers laat sag word het, nie. Om van vuur gebraaide mielies, stokbrood, vars “separater” melk, plaasbotter, die geur van 'n vars geplukte tamatie nie eers te praat nie.

Dit was leer!

Nie hierdie opgesmukte akademiese getjommel wat ons kinder vandag gevoer word nie. Hoekom moét klein Jannie of Sannie alreeds in standerd een, Newton se wette ken? Wat maak dit saak of hulle alreeds in standerd een, Fisika en toegepaste wiskunde moét ken?! Genade, daar lê vir hulle 'n hele lewe nog voor waarin hulle al hierdie dinge kan leer as hulle eers groter is.

Maar nou word so veel as moontlik so gou as moontlik in hulle ingedril en ingestop dat 'n mens sou sweer iemand is bang die arme bloedjie gaan dood vóórdat hy/sy al hierdie goed geleer het.

Ek onthou nog so goed toe ek in standerd drie was, moes ons 'n Engelse opstel skryf oor enige iets interessants wat ons die vorige naweek gedoen of beleef het. Hoe kon ek dan anders as om oor die plaas te skryf.

Die betrokke Saterdag het die weer uit die Noord-weste begin saampak en kort voor lank toe bars daar 'n donderstorm los dat dit lyk of hemel en aarde wil vergaan. Ons skape het dié dag in die veld geloop en toe die weer effens opklaar, besluit ek dat dit beter sal wees as die skaap die aand eerder in die kraal slaap.

Dit was die onderwerp van my opstel, maar tale en spelling was nog nooit een van my sterk punte nie. In daardie dae het ons van “diktee”, inplaas van spelling gepraat.

Die tweede paragraaf van my opstel sal ek nooit vergeet nie. Dit klink toe so:
“I went to bring the sheep too the kraal. But every time I keer them here, the wetherlight strikes there. And when I keer them there the wetherlight strikes here.”

'n Dag later, toe die juffrou my opstel boek vir my teruggee, het sy onderaan my literêre kunswerk geskryf: “Vir jou storie kry jy tien uit tien. Maar vir Engels net 'n halwe punt, want hierdie keer het jy darem nie weer sheep met n "j" gespel nie"!

Dit was die dae toe kinders nog normaal grootgeword het. Toe kinders nog kinders was.

En daar het dit my nou net aan my volgende wysheid laat dink.

As jy vandag normaal grootword, is jy al klaar mal genoeg.


Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com



No comments:

Post a Comment