Postings

Saturday 26 May 2012

Suid Afrikaners se Grondwetlike Regte


Suid-Afrikaners se Grondwetlik regte

Realiteit of pypdroom


                                                                                                                                 Stes de Necker


Onlangs het die FW de Klerk Stigting die volgend uitspraak van oud Pres. De Klerk op die sosiale netwerk Face Book geplaas:
“Gedurende die negentigs het ons Suid-Afrikaners ooreenkoms bereik oor die tipe gemeenskap wat ons wou vestig. Ons het besluit op 'n grondwetlike demokrasie. Ons moet ons Grondwet ondersteun en die regte wat dit verseker, opeis.”
Soveel as wat ek met Mnr. De Klerk sou wil saamstem, koester ek egter ernstige bedenkinge oor die wyse waarop die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners dit in die praktyk gaan regkry om hulle konstitusionele regte individueel op te eis.

Na 1994 bevind die oorgrote meerderheid Suid Afrikaners hulle in n politieke wildernis. Voor 1994 het daar nog iets soos 'n groep identiteit, elk met hulle eie leiers en organisasie strukture, bestaan. Na 1994 egter, voel baie gewone behoudende Suid-Afrikaners, vanuit die totale kleurspektrum, hulleself totaal leierloos.

Vir baie van hierdie Suid-Afrikaners bestaan daar vandag nie 'n gemeenskaplike forum waar hulle, in groepsverband, hulself teen die meedoënlose rasse aanslag van die ANC kan verdedig nie. Behalwe vir 'n paar individuele menseregte wat konstitusioneel verskans is en deur ons howe juridies beskerm kan word, bestaan daar nie veel ondersteuning vir die enkeling wat teen die georkestreerde aanslag van die ANC die beskerming van sy/haar groepsidentiteit en eiesoortige waarde en norme standaarde wil beskerm nie.

Baie Suid-Afrikaners smag vandag na ʼn groepsidentiteit met ʼn aanvaarde leiersfiguur wat daardie norme en standaarde, wat vir hom/haar belangrik is, kan verteenwoordig. Of so n forum binne of buite die politieke sfeer moet funksioneer is natuurlik debatteerbaar. Feit van die saak bly egter dat sonder ʼn gemeenskaplike spreekbuis, meeste Suid-Afrikaners nie veel gaan vermag teen die oormag van die ANC nie.

Ek wil my haas om te sê dat ek geensins verwys na ʼn soort laer trek nie. Meeste regdenkende Suid-Afrikaners besef terdeë die noodsaaklikheid om met alle rasse en politieke groeperinge saam te werk. Die probleem bly egter; hoe doen hy dit as individu?

Die bestaande politieke spektrum bied vir min Suid-Afrikaners 'n tuiste waar hulle, hulleself tuis kan voel.

Benewens die ANC en die DP, wat so te sê versadiging bereik het, bestaan daar in werklikheid geen ander politieke party wat enige potensiaal vir groei in die toekoms het nie. Die tragiese versplintering van COPE, wat die enigste resente groepering was wat oor 'n groot groeipotensiaal beskik het, het die politieke skaakspel in Suid-Afrika weereens in 'n skaakmat posisie gelaat.

Nog nooit sedert 1994, was Suid-Afrika so ryp vir die skepping van 'n politieke groepering, waarin die aspirasies van alle behoudende Suid-Afrikaners, geakkommodeer kan word nie. Al wat kortkom is 'n sterk leiersfiguur wat die oorgrote meerderheid Suid Afrikaners agter hom/haar kan verenig. 

Suid-Afrikaners het vêr gevorder op die pad van politieke wasdom. Die meeste mense besef dat politieke leierskap nie op die altaar van massageweld en radikale opportunisme geoffer kan word nie. Suid-Afrika is 'n land van realiteite wat nie met vreemde ideologieë regeer kan word nie. Ons benodig 'n eiesoortige Afrikanisme wat vir óns kan werk; nie wat die buiteland dínk vir Suid-Afrika behoort te werk nie!

Dit is vir ons, huidige geslag Suid-Afrikaners, om die uitdaging te aanvaar en werk te maak daarvan. Ons sit almal in dieselfde bootjie en as daardie bootjie die dag sink, dan sink ons almal saam met dit.

Ongelukkig is tyd nie aan ons kant nie. Wat ook al gedoen moet word, moet noú gedoen word, voordat die huidige regering dit wat nog oor is, ook vernietig het.

Suid Afrika kort dringend n nuwe politieke groepering wat bevoeg en in staat sal wees om die kretieke veranderinge wat gemaak moet word deur te voer aangesien die ANC nie by magte is om dit te doen nie. Die ANC beskik eenvoudig nie oor die nodige mens-potensiaal om dit te kan doen nie. Hulle is juis die mense wat verantwoordelik is vir die bestaande toestand!

Alle potensiaal binne die ANC sit vasgevang in die bestaande ANC ideologie en daarom is dit naief om te dink dat die Mbeki's of Motlantle's of Ramaphosa's van hierdie wereld enige wesentlike verandering kan meebring. 

Suid Afrika benodig leiers met die nodige intelegensie, dryfkrag, integriteit en vermoë om hierdie land van ondergang te red. Die soort kapasiteit wat bloot eenvoudig nie binne die ANC beskikbaar is nie.

Suid Afrikaners kan "toi toi" en staak tot hulle blou in die gesig is om hulle Grondwetlike regte op te eis, maar sonder die nodige politieke infrastruktuur waarbinne hulle georganiseerd kan funksioneer, sal al sulke pogings futiel bly.  

Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com








No comments:

Post a Comment