Postings

Monday 14 May 2012

Depressie en selfmoord




Depressie en Selfmoord 


                                                                                                   Stes de Necker

Inleiding

Laat ek sommer uit die staanspoor dit baie duidelik stel dat ek nie ’n  sielkundige en nog minder ’n  dokter is. Maar jare gelede het ek ook deur die hel van depressie gegaan en was dit nie vir die genade van Jesus, sou ek sekerlik nie vandag hier gesit en skryf het nie.  Enigeen wat nog nie deur hierdie siekte getref is nie, sal ook nie weet wat so iemand deurmaak nie. Alle moontlike en onmoontlike negatiewe gedagtes kan so van jou besit neem en jou so aftakel, dat jy naderhand te moeg is om in die oggend op te staan. Jy is fisies bloot eenvoudig nie in staat om uit die bed uit op te staan nie!

Hierdie gedeelte is nie 'n poging om ’n  wetenskaplike verduideliking van die oorsaak en aard van hierdie siekte te gee nie, maar bloot ’n  poging om, van iemand wat self daardeur is se ervaringe te deel met die een wat óf self, (óf iemand ken), wat tans met hierdie toestand worstel. Hierdie hoofstuk is spesiaal vir julle bedoel en glo my as ek vir julle sê, julle het ál my simpatie!

Was daar iets soos depressie in die Bybelse tyd?

Die Bybel is vol verwysings na individue wat óf aan depressie gelei het, óf aanvalle daarvan beleef het.

Abraham ( Gen. 15), Jona (Jona 4), Job (Die boek Job), Elia (1 Kon. 19), Saul (1 Samuel 16: 14-23), Jeremia (Die boek Jeremia) en dan Koning Dawid, vir wie God baie lief was: Psalm 6, 13, 18, 23, 25, 27, 31, 32, 34, 37-40, 42-43, 46, 51, 55, 62-63, 69, 71, 73, 77, 84, 86, 90-91, 94-95, 103-104, 107, 110, 116, 118, 121, 123-124, 130, 138, 139, 141-143, 146-147.  Lees gerus weer in die besonder Psalm 38. In vers 11 sê Dawid: “My hart jaag, my krag het ingegee, ek kan nie eers meer sien nie.”
Klink dit bekend?

Maar hoor wat sê dieselfde koning Dawid in Psalm 42 en 43: (Vers 12 en 5 respektiewelik) “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n  loflied sing. Hy is my helper en my God.”

In Rom. 15: 13 sê Paulus:  “ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al  hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” Later in Fil. 4: 4-7 sê Paulus “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (5) Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. (6) Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (7) En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Dit lyk amper of Paulus die verlammende gevolge van depressie geken het en daarom alles in sy vermoë gedoen het om sy volgelinge daarteen te waarsku. As daar iemand was wat kwesbaar vir depressie was, dan was dit Paulus.

Ek weet maar te goed dat die heel laaste ding wat iemand wat reeds depressief is, wil hoor, is hoe sleg dit met iemand anders gaan. “Jong, dis nog niks! Wag totdat ek jou vertel wat met mý gebeur het!”  ... asof jy op daardie stadium ’n  duit omgee! Maar hier is die geloofs- reus, Paulus, wat nieteenstaande sy alles oorheersende geloof in Jesus Christus, ernstig daarteen moet stry om nie negatief en depressief te word nie. Hoor wat sê hy in 2 Kor. 11: 21-28:

 “Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was! ... (23) Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is; ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. (24) Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n  dag en ’n  nag in die oop see deurgebring. (26) Ek was dikwels op reis en in gevaar; daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. (27) Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. (28) Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. (29) As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. (30) As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede.”

Later in 2 Kor. 11: 8 lees ons: “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Paulus, sekerlik die grootste dissipel van Jesus waarvan ons in die Nuwe Testament kan lees, moes deur onmenslike swaar tye gegaan, maar God het hom nooit verlaat nie; hom nooit in die steek gelaat nie.  Paulus het ook nie “voorkeurbehandeling” ontvang nie! Net soos Daniël en sy vriende in die Ou Testament, het God nie vir Paulus uit sy beproewinge weggeneem nie, maar het Hy sáám met hom daardeur gegaan. God was deurentyd by Paulus; God was deurentyd in beheer!

Wat is depressie

Ons het al gehoor dat depressie in vandag se terme beskryf word as die “gewone verkoue” (common cold) van geestelike ongesteldhede. Wetenskaplikes beweer dat een uit elke 10 mense die een of ander tyd gemoed versteurings ondervind. Suid-Afrika beklee tans die sewende plek op die wêreld ranglys waar die voorkoms van mense met gemoed versteurings die hoogste is.
Gemoed versteuring, wat maar net 'n ander woord vir depressie is, is vandag die derde grootste oorsaak van tienersterftes in Suid-Afrika. 20% van ons jongmense beleef depressie nog voordat hulle volwassenheid bereik!

Ongelukkig word depressie nog steeds nie ernstig genoeg opgeneem nie. Baie jongmense verkeer onder die indruk dat hulle self die druk in hulle lewens kan verwerk, terwyl ander weer onder die wanindruk verkeer om dit as ’n  teken van swakheid te sien as jy erken dat jy nie die druk kan hanteer nie.

Van laerskool af word daar al van ons kinders verwag om teen die snelle pas van die 21ste eeu te beweeg en die arme bloedjie wat nie hiermee kan byhou nie word as ’n  swakkeling of onintelligent beskou. Kinders word vandag nie meer toegelaat om “kind” te wees en nog te speel nie! Prestasie is al wat tel. Skoolkinders leer vandag in graad 4 wat ons ouer geslag eers in graad 9 geleer het! Tyd vir speel bestaan nie meer nie en die bietjie vryetyd wat daar nog mag wees, word op selfone, rekenaarspeletjies en “I-pads” bestee. Geen wonder jongmense stress hulleself vandag dood nie!

Die tragiese hiervan is dat die meeste van ons onderwys leiers en ouers van hierdie toestand bewus is, maar steeds word daar niks hieraan gedoen nie! Inplaas daarvan om die oorsake van die probleem uit die wag te ruim, word daar net meer kinderleiding terapeute by skole aangestel. Die spreekwoordelike puisie op die vel word behandel en nie die dieperliggende oorsaak nie.

Volgens medici bestaan daar verskillend soorte depressie waarvan sekeres deur chemiese wanbalanse in die brein veroorsaak word terwyl ander ’'n diepgaande geestelike oorsprong het. Vir depressie weens Chemiese wanbalanse in die brein bestaan daar vandag uitstekende medikasie en terapie om dit te beheer.  Depressie wat egter 'n diepgaande geestelike oorsprong het, is medikasie alleen nie voldoende nie en benodig dit ook behandeling deur spesialiste op hierdie gebied. Die probleem bly egter dat hierdie siekte baie selde betyds gediagnoseer word. Teen die tyd dat die onderwyser of ouer of vriende begin bekommerd raak, is dit gewoonlik al te laat.

Depressie is 'n komplekse geestelike ongesteldheid wat spesialis aandag verg. Te dikwels word dit bloot afgemaak as maar net deel van die “pubertyd stadium” of “buierigheid”.  Hoe dikwels hoor jy: “Hy/sy is vandag weer in een van sy/haar buie!” 

Die mees algemene vorm van depressie, sogenaamde “reaktiewe depressie”, word veroorsaak deur skielike onbeheerbare veranderinge in ’n  mens se lewe. Hierdie veranderinge plaas die mens onder enorme druk en laat hom uiteindelik totaal uitgeput en uitgebrand.

Tipiese simptome van depressie is:
Ø       'n Onvermoë om te presteer
Ø       Sosiale onttrekking
Ø       Gebrek aan entoesiasme en energie
Ø       Swak selfbeeld
Ø       Oorreaksie op kritiek of negatiewe opmerking oor sy/haar gedrag
Ø       Swak konsentrasie
Ø       Besluiteloosheid
Ø       Angs
Ø       Hulpeloosheid
Ø       Gevoelens van mislukking
Ø       Skuldgevoel

Liewe leser, as jy enige van hierdie simptome in jouself, of in jou kind, of in iemand wat jy ken, waarneem, maak werk daarvan, want óf jyself óf die ander persoon het dringend hulp nodig! Gewoonlik besef die persoon wat alreeds depressief is self nie dat hy/sy hulp nodig het nie.

Depressie verander ’n  mens

In Spreuke 18: 14 staan daar: “Moed laat ’n  mens sy lyding dra; as hy moed verloor het, kan niemand hom dit weer gee nie.”  In die Engelse vertaling staan daar: “The spirit of a man will sustain him in sickness, but  who can bear a broken spirit?”

Enigiemand wat al vasgevang was in die kloue van depressie sal vir jou sê dat depressie ’n  mens verander. Of dit nou ten goede of ten slegste is, maak nie saak nie; een ding is seker, jy sal nie weer dieselfde wees nie.

Een van die beste voorbeelde van depressie in die Bybel vind ons in die verhaal van Job. Job het sy hele familie en alles wat hy besit het, verloor. Satan het Job met die vreeslikste swere getref, sodanig dat sy vriende hom nie eers erken het nie.

Job sit in sak en as en die drie vriende wat hy nog oor het, Elifas, Bildad en Sofar, kan ook maar nie veel doen om Job beter te laat voel nie! Job was oortuig dat selfs God hom verlaat het. In Job 23 vanaf vers 8 sê hy: “Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. (9) Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie.”

Selfmoord

In 'n toestand van depressie is dit onmoontlik om rasioneel te dink. Jy sien skaars vir God raak, laat staan nog die positiewe dinge om jou. Dit is dán wanneer jy op jou kwesbaarste is vir Satan se versoekings! Dit is dán wanneer dit vir jou lyk of selfmoord die enigste uitkoms is.

Vir enigeen wat in ’n  ernstige toestand van depressie verkeer is dit niks snaaks om ’n  pistool teen sy/haar kop te druk en die sneller te trek nie. Vra my, ek weet. Toe ek destyds deur dieselfde hel moes gaan, sou ek nie twee maal gedink het om dit te doen nie; Dit was bloot net die genade van onse Here Jesus wat my gekeer het om dit nie te doen nie! 

My liewe vriend of vriendin, selfmoord wás nog nooit, ís nog nooit en sál ook nooit, die oplossing wees nie!

As jy maar net vir ’n  oomblik daaraan dink hoeveel oneindige smart en lyding jy aan hulle wat vir jou omgee, hulle wie jou lief het, sal veroorsaak. As jy weet hoeveel daar is wat jou wil help sal jy verseker nie so ’n  onbesonne daad eers oorweeg nie! Ek besef egter terdeë dat, op daardie oomblik, nie eers die vir wie jy die liefste is, vir jou saak maak nie. Alles draai net om jouself. Hoe jý voel; hoe alleen jý is, hoe sleg dit met joú gaan; hoe min ander joú verstaan; hoe min ander weet wat jý deurmaak.

Selfmoord is in werklikheid nie ’n  daad van uitkoms nie; dit is ’n  daad van selfsugtigheid!  Los die probleme vir die ander, ek gee pad!”

Moet ook nooit dink dat selfmoord lafhartigheid is nie. Allermins! Vir enige mens om, onder normale omstandighede, ’n  pistool te vat en teen sy kop te druk, sal uiters baie moed verg.

Vir die een wat dood is, is dit eintlik maklik. Al sy probleme is opgelos! Maar wat van die wat agterbly. Dink aan die skok, smart, pyn, leiding, selfverwyt en rou wat jy veroorsaak. Is dit wat jy wil doen? Om behalwe jou eie lewe maar ook die van jou geliefdes en vriende se lewens in een oogopslag te verwoes en vir altyd omvêr te werp. Sien jy kans om dit aan hulle te doen?

As jyself nie die een is wat hulp nodig het nie maar iemand wil help wat reeds so vêr gegaan het om selfmoord selfs te oorweeg,  in vaders naam, moet tog nie vir daardie persoon vertel hoe sleg dit met jou ook gaan nie! Dit is die heel laaste ding wat so ’n  persoon op daardie stadium wil hoor. Inplaas daarvan om saam met hom/haar te kerm en te “mope”, doen iets daadwerklik. As dit nodig is, vat hom/haar aan die kraag en sleep so een dokter of hospitaal toe! Daar is mense wat toegerus is met die nodige kennis en toerusting om met sulke gevalle te werk. En onthou ook, ons dokters en verpleegsters is ook deur God geroep om hulle werk te doen en daarom het Hy hulle ook met die nodige verstand en vermoëns beklee sodat hulle mense in nood kan help.

Mense beweer gedurig dat die tyd van wonderwerke verby is, maar die feit dat God mense wat my en jou gesond kan maak, die vermoë gegee het om andere gesond te maak, (met ander woorde dat God self, déúr die dokter of verpleegster, my en jou gesond maak) dit word nie as ’'n wonderwerk
gesien nie!

Wat sê die Bybel oor selfmoord?

In die Bybel lees ons vyf keer van selfmoord:
Die eerste geval is die dood van Simson in Rigters 16: 23-31. Simson bevind hom tussen twee pilare van 'n tempel van die Filistyne, en roep tot God om hom weer die krag te gee sodat hy die Filistyne kan vernietig. God verhoor sy gebed en baie Filistyne sterf saam met Simson toe hy die pilare met sy brute krag breek en die gebou op die Filistyne ineenstort. Nêrens in die Ou Testament lees ons dat Simson veroordeel is vir hierdie “selfmoord” nie.

Tweedens lees ons van Koning Saul, soos ons dit vind in 1 Samuel 31: 1-13 en 1 Kronieke 10: 1-14. Saul is besig om die geveg te verloor en vra sy swaarddraer om hom eerder dood te maak as dat hy lewend in die hande van sy vyand val. Toe Saul se swaarddraer weier om hom dood te maak, val Saul in sy eie swaard. Toe die kneg besef Saul is dood, doen hy dieselfde. Weereens lees ons nie dat daar enige oordeel oor hulle uitgespreek word nie.

Derdens lees ons van Agitofel in 2 Samuel 17: 23 wat Absalom moes adviseer, maar toe Absalom nie na sy advies luister nie, keer hy teug na sy huis en neem sy eie lewe.

Vierdens lees ons van Koning Simri, wat bekend was vir die feit dat hy net sewe dae Koning was. Simri verneem dat sy mense besig is om die stad in te neem, om die dood van hulle vorige koning op hom te wreek. Hy vlug na 'n veilige deel van sy paleis, steek dit aan die brand en sterf self ook in die brand. Die Bybel praat op verskillende plekke van Simri se sondes, maar sy selfmoord word nie as sonde aangespreek nie.

Vyfdens lees ons van Judas wat Jesus verraai het en dan probeer om dit reg te maak deur die geld terug te gee aan die priesters. (Mat. 27: 3-10 en Handelinge 1: 12-20.) Wanneer hy besef dat hy nie kan regmaak wat hy verbrou het nie, hang hy homself op. Judas se selfverwyt was so groot, dat hy homself eerder doodmaak as om met sy berou te moet saamleef.

In geen van die bogenoemde voorbeelde, lees ons dat die persone veroordeel is as gevolg van hulle daad nie.

God het ’n  plan vir ons lewens. Jer. 29: 11 “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil julle ’'n toekoms gee, ’n  verwagting!”

Wat sê Job in Hfst. 23: 10? “As hy my toets is ek suiwer soos goud.” In Psalm 27: 14 sê Dawid: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!

Meeste van jou gevoelens van wanhoop en moedeloosheid word deur Satan se leuens veroorsaak. Wanneer jy op jou mees kwesbaarste is, is dit wanneer Satan vir sê: “jy is ʼn mislukking; dit is jou skuld dat dit met jou gaan soos dit gaan; jy woú mos;  niemand kan jou nou meer help nie; daar is nie nog ʼn mens wat so swaar soos jy het nie.”  En dan die grootste leuen van almal: “daar bestaan vir jou geen uitkoms meer nie!”  

In Joh. 8: 44 sê die apostel: “Hy (die duiwel) was van die begin af ʼn moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie.”

In Rom.  6: 21 vra Paulus: “Wat was die vrug van die dinge waaroor julle nou skaam kry. (wat het dit vir julle opgelewer?)  Die uiteinde van dié dinge is die dood.”  en dan in vers 23 sê hy: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

In 1 Joh. 3: 8 het ons gelees: “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.”

Ons lewens behoort aan God en is nie ons s’n om daarmee te maak soos ons goeddink nie. By so baie mense en veral jong mense, bestaan daar vandag die totale wanopvatting van: “Dit is my lewe, ek sal maak soos ek wil!” en asof dit nie genoeg is nie, is daar nog die verdere mistasting dat: “Ek kan self regkom, ek het niemand nodig nie!”

In 1 Kor. 6: 19 se Paulus: “... besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang en julle behoort nie aan julleself nie; Julle is gekoop en die prys is betaal.”

Liewe vriend of vriendin, jou lewe behoort NIE aan jouself nie en jy kan NIE alleen regkom nie!

Jou lewe behoort aan Christus en jy kan NIE sonder Sy hulp regkom nie!

Kan iemand wat selfmoord pleeg hemel toe  gaan?

Reeds in die 5e eeu  n.C. het die kerkvader Augustinus gesê dat selfmoord sonde is aangesien jy “nie mag doodslaan nie.” Later het een van die groot leiers van die Katolieke kerk, Thomas Aquinas, sovêr gegaan om te beweer dat selfmoord een van die “dood sondes” (cardinal sins) van hierdie wêreld is.

Om bloot eenvoudig aan te neem dat aangesien die Tien Gebooie sê jy mag nie doodslaan nie, dit terselfdertyd van toepassing te maak op selfmoord, klink vir my maar redelik aanmatigend. Ek stem saam dat ons lewens nie aan onsself behoort nie maar aan God wat ons Sy lewegewende Gees gegee het. Ons het gevolglik nie die rég om ons Godgegewe lewe eie geregtig te beëindig nie.

MAAR DAT SELFMOORD N DOODSONDE IS, IS DOODGEWOON ONSIN!

In die Katolieke geloof is dit belangrik dat, voordat iemand sterf, daardie persoon eers vergiffenis van sonde moet ontvang. Ons sien gereeld hoedat die familie eerste die Priester laat kom om aan die sterwende sy “laaste regte” (last rights) te bedien, vóórdat die persoon doodgaan. Aangesien selfmoord beteken dat so ’n  persoon nie belydenis van sy sonde kon doen voordat hy/sy selfmoord gepleeg het, beteken dit dat hy mét al sy sondes sterf en gevolglik vir die ewige verdoemenis bestem is.

In die Gereformeerde geloof glo ons aan die vergiffenis van sonde alleen deur die genade van ons Here Jesus Christus en nie deur ons goeie werke nie. Selfs belydenis van sonde sonder ware geloof in Jesus Christus, is bloot maar net lippediens. (Ef. 2: 8-9)

In Romeine 8: 37-39 sê Paulus dat niks ons kan skei van die liefde van God nie. Vanaf vers 38 staan daar: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Die belofte van 1 Joh. 5: 11-12,  “... God het ons die ewige lewe gegee en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” geld vir alle gelowiges en nie net vir dié wat hulle nié aan selfmoord skuldig gemaak het nie!  In Joh. 10: 28 staan daar: “Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie.

Ons glo dat selfmoord wel n sonde is, maar dat dit verseker nie beteken dat ’n  kind van Christus, as gevolg daarvan, tot die ewige verdoemenis veroordeel sal word nie. Met ander woorde, die vraag is nie of 'n mens Hel toe sal gaan omdat hy selfmoord gepleeg het nie; die vraag is eerder of hy Hel toe sal gaan omdat hy/sy nie in Jesus Christus geglo het nie!

Gelukkig begin ons kerke deesdae meer aandag gee aan die psigopatalogie van selfmoord eerder as die moreel-etiese beoordeling daarvan.
In Joh. 5: 24 se Jesus: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word ...” Dit sluit natuurlik nie lastering teen die Heilige Gees in nie, want vêrder in dieselfde vers sê Jesus: “...maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.”
Daar bestaan ook nie iets soos “groot” en “klein” sondes nie. Sonde bly sonde. Wat daar wel bestaan is vergeefbare en onvergeeflike sonde, met ander woorde sonde wat nie tot die dood lei nie en sonde wat wel tot die dood lei. Selfmoord, (per sé), is nie ’n  “doodsonde” nie!
In Joh. 5: 24 se Jesus: “Dit verseker ek julle: Wie luister na wat Ek sê en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”  Wat ’n  versekering!

Wat se raad kan ons iemand gee wat aan depressie lei ? 

Ek sou sê die volgende:
Ø       Vermy eensaamheid. As dit nodig is forseer jouself (of die persoon wat depressief is) om in die geselskap van goeie vriende te wees.
Ø       Soek hulp! Praat met mense wat dieselfde pad as jy geloop het. Spreek ’n  spesialis; praat met jou dokter; praat met jou predikant; vertel jou familie hoe jy voel. Moet net nie stilbly nie!
Ø       Soek God se hulp en vertrou en gló wat Hy vir jou sê. Die Heilige Gees, daardie stil stem in jou binneste wat skreeu om gehoor te word, luister daarna en weet (en glo) dit is God wat met jou praat!
Ø       Gee jouself oor aan die beskerming van Jesus Christus. Raak “don’t care”! Tot nou toe kon jy op jou eie nie veel regkry nie, so hoekom vertrou jy dan nie maar op Jesus om jou te help nie!
Ø       Gee jou probleem onvoorwaardelik oor aan Jesus. Hy sal toesien dat jou probleme opgelos word!  Niks is vir God onmoontlik nie. Waar jou en my vermoëns ophou, daar begin God s’n.  Vir God is die onmoontlike, moontlik!
Ø       Begin solank om vir God dankie te sê dat Hy alreeds besig is om jou te help, al kan jy dit op hierdie stadium nog nie sien nie! 

Die goeie nuus is dat depressie nie on-oorkomelik of ongeneesbaar is nie! Wat dit ook al genoem word en van watter graad van ernstigheid dit ook al mag wees, depressie kan oorkom word!  Met die nodige ondersteuning, professionele behandeling en korrekte medikasie, hoef niemand onnodig daaronder te lei nie.

Onthou, God stel Homself en Sy totale heelal tot jou beskikking. Al wat jy moet doen, is om Hom op Sy woord te neem en vir Sy hulp te vrá. Hy sal dit nooit van jou weerhou nie!

God is in beheer van jou lewe – Jy sál gesond word – Jy sál weer die lewe geniet – Jy sál weer gelukkig wees! 




No comments:

Post a Comment