Postings

Thursday 17 May 2012

Kruisdood





KRUISDOOD


Kruisdood – Wat dit beteken om gekruisig te word.


Stes de Necker

                                                                                        Skrywer  Dr. Coen Slabber

“Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het (Markus 15:25). Jesus het daardie selfde dag - ongeveer drie-uur - gesterf. Johannes vertel vir ons dat die twee misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is toe nog gelewe het. Die soldate het hulle bene gebreek.  Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie (Johannes 19:33).
Ons moet aanvaar dat Jesus se fisiese toestand voor sy gevangeneming goed was - Hy het immers groot afstande te voet afgelê. Tussen sy aankoms by Getsémané en die aanvang van die kruisiging het Jesus egter erge emosionele spanning ondervind. Ons lees van Jesus se stryd in Getsémané, die herhaalde verhore, sy vriende (die dissipels) wat Hom in die steek gelaat het, die geseling deur die Jode, ens. Waarskynlik het Hy nie daardie Donderdagnag geslaap nie. Hy moes tussen 2,5 en 3 km geloop het van die een verhoor na die ander. Dit het Hom baie kwesbaar gemaak vir die geseling van die Romeinse soldate.
Daar is drie aspekte van Jesus se dood wat vir medici kontroversieel is:
(1)        Wat was die oorsaak van Jesus se dood?
(2)        Hoekom is Jesus so gou dood? Volgens Markus was die totale duur van Jesus         aan die kruis ses uur. Dit is baie kort vir ʼn jong man. Hoekom?
(3)        Wat was die aard van die wond in Jesus se sy?
Ons begin met ʼn oorsig van Jesus se kruisiging. 
Wat weet ons van Jesus se kruisiging?
Daar is min besonderhede van Jesus se kruisiging in die evangelies. Waarskynlik was dit omdat geseling en kruisiging so algemeen was dat die evangeliste dit as onnodig beskou het om meer hieroor te sê. Ek gaan niks sê oor die psigiese en geestelike lyding wat Jesus as gevolg van die losprys wat Hy vir ons sondes betaal het, ondervind het nie. Ek gaan slegs die fisiologiese en anatomiese aspekte van sy lyding en dood hanteer.
Vir ons doeleindes wil ek sekere aspekte beklemtoon.
1.         Die Middeleeuse en Renaissance skilders het altyd vir Jesus geskilder waar hy die hele kruis gedra het. Die vertikale paal van die kruis was meestal permanent in die grond ingeplant. Die veroordeelde moes net die dwarshout (= patibulum) gedra het - van die tronk tot by die plek van teregstelling. Dit word bereken dat hierdie dwarshout tussen 35 en 50 kg geweeg het.
2.         Meeste skilderye toon dat die spykers in Jesus se hande ingeslaan is. Spykers in die handpalms sou egter uitgeskeur het as die volle liggaamsgewig aan hulle gehang het. Die spykers is gewoonlik tussen die beentjies van die polsgewrig of net bokant die polsgewrig ingeslaan. Waar kom hierdie misverstand vandaan?
Waarskynlik van Jesus se woorde aan Tomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande (Johannes 20:27).
Anatome - veral in die antieke tyd - het die polsgewrig as deel van die hand beskou.
Kom ons probeer nou chronologies vasstel wat met Jesus gebeur het gedurende sy laaste 24 uur.
(a)        Die fisiese lyding van Jesus het nie by Golgota begin nie, maar reeds in Getsémané. Dit is interessant dat Lukas, die geneesheer, die enigste een is wat Jesus se sweet beskryf: Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val (Lukas 22:44). Vooraf lees ons dat Jesus in doodsangs geraak het en dat Hy nog ernstiger gebid het. Kan ʼn mens bloed sweet? Hematidrose (bloed sweet) is ʼn baie seldsame verskynsel en is gewoonlik die gevolg van erge emosionele spanning. Klein bloedvaatjies in die sweetkliere bars. So word bloed en sweet gemeng.
(b)        Daardie aand verskyn Jesus voor Annas, Kajafas en die Joodse Raad. Reeds hier begin sy fisiese trauma: Een van die wagte klap Hom, want hy het nie gehou van Jesus se antwoord op die hoëpriester se vraag nie. Die manne wat Jesus bewaak het, het met Hom die spot gedryf en Hom geslaan. Hulle het Hom geblinddoek en gesê dat Hy as profeet moet sê wie dit is wat Hom slaan.
(c)        Die oggend vroeg verskyn Jesus voor die Joodse Raad. Teen hierdie tyd was Hy al gekneus en waarskynlik gedehidreer. Hy het nie baie geslaap nie. Hy word vroeg die oggend van die Praetorium na Burg Antonia, Pontius Pilatus se setel, geneem. As gevolg van die oproepe van die skare het Pilatus vir Jesus oorgegee om gegesel en gekruisig te word.
(d)        Tydens geseling is al Jesus se klere uitgetrek, sy hande is aan ʼn paal bokant sy kop vasgemaak en Hy is geslaan. Die Joodse wet het ʼn beperking op die aantal houe geplaas - veertig. Dit is twyfelagtig of die Romeinse soldate hulle aan hierdie beperking gesteur het. Jesus is met die sogenaamde flagrum geslaan. Dit was ʼn kort sweep met verskeie swaar leerrieme. Naby die punte van hierdie rieme is of klein lood balletjies of stukkies been ingevleg. Die lood balletjies in die sweep veroorsaak erge kneusings. Die rieme en beentjies skeur die vel. Later sou selfs die onderliggende spiere beseer en geskeur word. Die vel op die rug hang in lang repe. Pyn en bloedverlies was erg. Die hoeveelheid pyn en bloedverlies het bepaal hoe lank so ʼn slagoffer aan die kruis sou oorleef. As die soldaat dink dat die slagoffer naby aan dood is, word die slanery gestaak.
(e)        Daarna is Jesus losgemaak. Die soldate trek vir Hom ʼn pers mantel aan, sit ʼn doringkroon op sy kop en gee vir Hom ʼn stok in sy regterhand. Die soldate spoeg op Jesus en slaan Hom met die stok oor sy kop. Hierdie mag die dorings dieper in sy kopvel ingedryf het. Almal van ons weet dat die kopvel baie bloedryk is en erg kan bloei.
(f)        Nadat die soldate Jesus klaar gespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer Jesus se eie klere vir Hom aangetrek. Op hierdie stadium het die mantel reeds aan Jesus se rug vasgesit as gevolg van die gestolde bloed. Om dit uit te trek, moes baie seer gewees het. Dit het ook die bloeding weer laat begin.
(g)        Daarna kry Jesus sy kruis om na Golgota te dra. Die kruis is gewoonlik op die slagoffer se skouers met toue vasgebind. Nou begin die optog langs die Via Dolorosa. Jesus kon egter nie die kruis dra nie, en Simon van Sirene word opgekommandeer om te help dra. Ons moet aanvaar dat die dra van die kruis Jesus se wonde weer oopgemaak het en verdere bloeding veroorsaak het.
(h)        By Golgota bied die soldate vir Jesus ʼn mengsel van wyn en mirre (gal) aan. Hierdie mengsel het ʼn matige pynstillende effek. Jesus weier egter om dit te drink. Hierna word Jesus gekruisig. Die normale prosedure is dat die twee hande/polsgewrigte eers vasgespyker word. Daarna word die dwarshout opgelig en aan die vertikale paal vasgemaak. Daarna word die voete aan die vertikale paal vasgespyker.
(i)         Geleidelik sak die slagoffer laer. Meer gewig word op die spykers in die polsgewrig geplaas. Verskriklike pyne skiet af in die hand en op in die arm, want daar word drukking geplaas op die groot senuwees wat deur die polsgewrig loop. Om dit te verhoed, lig die slagoffer hom op, maar nou plaas hy sy volle gewig op die spykers in sy voete.
(j)         Soos die arms moeg word, ontwikkel erge krampe in die spiere. Op hierdie stadium kon Jesus Hom nie meer opdruk nie. Die spiere tussen die ribbes kan nie meer funksioneer nie. Lug kan ingeasem, maar nie uitgeasem word nie. Jesus moet Hom oplig om uit te asem. Elke keer as Hy dit doen skaaf sy rou rug teen die paal van die kruis. Dit veroorsaak erge pyn en bloeding. Dit is gedurende hierdie tyd wat Hy die sewe kort kruiswoorde uiter.
(k)        Nou kom daar ʼn verdere pyn - ʼn drukkende pyn soos die hartsak stadig gevul word met vloeistof en geleidelik drukking op die hart plaas. Dit laat ʼn mens dink aan Psalm 22:15: Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my.
(l)         Ons nader nou die einde. Die verlies aan bloed en vog bereik nou kritieke vlakke; die hart sukkel om te pomp; die longe kan skaars meer lug inasem. Weereens herinner dit ons aan Psalm 22:  Ek is so min werd soos ʼn potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is (Psalm 22:16). Dit is toe dat Jesus sê: Ek is dors. Die soldate maak ʼn spons vol suur wyn, sit dit op ʼn hisoptakkie en gee dit vir Jesus.
(m)      Jesus besef dat die dood naby is: Dit is volbring. Met ʼn groot inspanning kry Jesus sy laaste woorde uit: Vader, in u hande gee Ek my gees oor. Sy sending is afgehandel. Hy sterf.
(n)        Om seker te maak dat Jesus wel dood is, het een van die soldate ʼn spies in sy gesteek -  en daar het dadelik bloed en water uitgekom. “





No comments:

Post a Comment