Postings

Wednesday 16 May 2012

Darwinisme en Sosiale Darwinisme


Darwinisme en Sosiale Darwinisme


                                                                                            Outeur Dr. Coen Slabber


[Hierdie is beslis nie ʼn poging om evolusie te verdedig nie. As wetenskaplike glo ek egter dat ons noukeurig in ons woordgebruik moet wees. Hierdie is ʼn poging om twee begrippe wat dikwels (verkeerdelik) bymekaar gegooi word, te onderskei. Hoekom juis nou? Richard Dawkins se nuwe boek The Greatest Show on Earth - The Evidence for Evolution het pas verskyn en is vinnig besig om op die topverkoperlyste te klim.]

In 1859 - 150 jaar gelede - publiseer Charles Darwin sy bekende boek The Origen of Species. In hierdie 150-jarige herdenking word daar baie oor evolusie geskryf. Die probleem is dat mense nie altyd seker is waaroor hulle skryf nie. Die vraag wat ek op die tafel sit, is: Is Darwinisme en sosiale Darwinisme dieselfde ding?

Darwinisme

Met sy boek het Darwin wetenskaplikes se verstaan van biologie radikaal verander. Wat hy gedoen het, is om ʼn voorstel te maak waarin hy ʼn meganisme beskryf vir die geleidelike verandering van spesies - natuurlike seleksie. Hierdie teorie van natuurlike seleksie staan as Darwinisme bekend. Deur hierdie teorie so sterk aan die naam van ʼn enkele wetenskaplike te koppel, mag mense laat glo dat ons  hier te doen het met ʼn kultus van ʼn enkele wetenskaplike wat slaafs deur ander nagevolg word. Dit is nie waar nie, want honderde wetenskaplikes het onafhanklik bydraes gemaak tot die moderne teorie van evolusie.

Toe Darwin die meganisme van natuurlike seleksie daargestel het, het hy nie die besonderhede van oorerwing verstaan nie. Gregor Mendel, ʼn priester, se eksperimente met ertjies was reeds aan die gang. Hy ontrafel die presiese manier waarop eienskappe oorgeërf word. Die sintese van hierdie twee teorieë - Mendel se genetika en Darwin se natuurlike seleksie - staan as Neo-Darwinisme bekend.

Darwinisme is ʼn wetenskaplike teorie wat geen melding van godsdiens maak nie. Dit mag egter onverenigbaar met sekere godsdienstige sienings wees. Darwinisme is onverenigbaar met enige godsdiens wat sê dat die wêreld 10 000 jaar oud is. Darwinisme mag godsdienstige implikasie hê alhoewel dit nie melding maak van geloof in God nie.

Voorstanders van Kreasionisme, Intelligente Ontwerp en die nuwe ateïste sê dat die aanvaarding van Darwinisme sinoniem met ateïsme is. Hulle glo dat Darwinisme onverenigbaar met enige godsdienstige wêreldsiening is.

Daar is egter baie wetenskaplikes wat glo dat Darwinisme ʼn korrekte wetenskap is - dit beskryf die metode wat God gekies het om die wêreld te skep. Volgens hulle is Darwinisme nie onverenigbaar met geloof in God nie.

Die einde van hierdie debat is lank nog nie in sig nie.

Sosiale Darwinisme

Hierdie is ʼn totaal ander konsep. Sosiale Darwinisme is die siening wat ontstaan as sekere evolusionêre konsepte op groepe in ʼn sosiale konteks toegepas word. Dit is die idee dat Darwin se teorie uitgebrei en op sosiale gebied toegepas kan word. In uiterste gevalle beteken dit diskriminasie teen mense wat nie in ʼn magsposisie is nie.

Een voorbeeld van sosiale Darwinisme is eugenetika (rasverbetering). Daar is ook beheerde voortplanting met die doel om die menseras te verander volgens een of ander visie. Die hele doel is om die menseras te verbeter. So word verpligte sterilisasie van mense wat as "onbevoeg" vir die samelewing beskou word, aanbeveel.

Regter Oliver Wendell Holmes, Jr, stel dit soos volg:
"It is better for all the world, if instead of waiting to execute degenerate offspring for crime, or to let them starve for their imbecility, society can prevent those who are manifestly unfit from continuing their kind."

Die beredenering is: As mense deur natuurlike seleksie ontstaan het, is dit reg om teen mense wat "minder fiks" is, te diskrimineer.

Mense redeneer dat aanvaarding van Darwin se wetenskap ook aanvaarding van sosiale Darwinisme beteken. Hulle glo dan ook dat Darwin se idees  Adolf Hitler beïnvloed het. Daarmee ignoreer hulle dat die geskiedenis van die mens dikwels praat van uitwissing van rasse - reeds  lank voor Darwin.

Gevolgtrekking

Daar is ʼn duidelike verskil tussen Darwinisme en sosiale Darwinisme. Darwinisme is die wetenskaplike teorie van evolusie deur natuurlike seleksie wat later gekombineer is met Mendel se insette oor genetika. Wetenskaplikes wat evolusie ondersteun, sê dat evolusie die antwoord is op die vraag "Hoe"? God bly die antwoord op die vraag "Waarom"? Hulle glo dat God steeds die outeur van die proses is. Sosiale Darwinisme, daarenteen, is ʼn misleiding wat ontstaan het deur evolusionêre beginsels op die sosiale gebied toe te pas. Dit word deur geen Christen-wetenskaplike aanvaar nie.

Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com


No comments:

Post a Comment