Postings

Wednesday 30 May 2012

Enkele gedagtes oor die doodstraf




ENKELE GEDAGTES OOR DIE DOODSTRAF


                                                                                                                   


DIE WARE GOD IS OPSYGESTOOT

Die gesprek oor die herinstelling van die doodstraf as maksimum vonnis in Suid-Afrika het sedert 1994 'n omstrede onderwerp geword na die oorname deur die ANC/SAKP regering in Suid Afrika. 

Die "nuwe bedeling" het gepaardgegaan met die implementering van die eertydse Tussentydse Grondwet van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993. Dit is later met die finale grondwet, Wet 108 van 1996 vervang. 

Laasgenoemde is sedertdien al menige male gewysig, meestal om sekere prosesse se implementering en uitvoerbaarheid vir die regerende party te vergemaklik.

In terme van die nuwe grondwet is 'n heel nuwe soort waardestelsel op die Suid-Afrikaanse gemeenskap afgedwing. Die grondwet is tot groot mate op die ANC/SAKP se sogenaamde Freedom Charter gegrond, wat in wese die nuwe regime se bloudruk is vir hul sosio-politiese rewolusie in Suid-Afrika. Die sekulêre humanisme en liberalisme dien as grondslag van die nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika.

Die uitwerking is sommer met die intrapslag opvallend in die aanhef tot die Konstitusie, wat soos volg lui: We, the people of South Africa, recognise the injustices of the past... en verder: ... a democratic and open society in which government is based on the will of the people ... en verder: This Constitution is the supreme law of the Republic: law or conduct inconsistent with it is invalid... 

Die RSA Grondwet is tans die hoogste gesag in Suid-Afrika en nie God en sy Gebod nie.

Die voormalige RSA se grondwet, Wet 32 van 1961, se aanhef het opvallend heel anders gelui, naamlik: In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van volkere... en verder: Die volk van die RSA erken die oppergesag en leiding van die Almagtige God (Artikel 2).

Die mens het homself verhef tot God

Die huidige grondwet is 'n radikale wegbreek van die gevestigde en tradisionele waardestelsel van die Afrikaner. Ons is gekonfronteer met 'n vreemde kultuur wat uiting vind in die liberalisme en sekulêre humanisme wat die huidige grondwet voorskryf.  

Waarom vreemd? Die protestantse Calvinisme ken nie die andersoortige wêreldbeskouing van die sekulêre humanisme en die radikale liberalisme nie. Beide hierdie wêreldbeskouings bevat die filosofiese onderbou waar die mens sentraal staan en onafhanklik (outonoom) is van enige metafisiese verhouding met 'n goddelike wese.

Eenvoudig gestel, beteken dit dat die mens sy eie god is en nie afhanklik is van God Drie-enig nie. Die mens self word die maatstaf van alle dinge.

Hierdie lewensbeskoulike element van die huidige Suid-Afrikaanse grondwetlike bestel het gevolge op elke lewensterrein van die samelewing. Dit vind uiting in die sogenaamde Handves van menseregte wat deel is van hoofstuk 2 van die nuwe SA se huidige grondwet – artikels 7 tot 39 daarvan – en alle nuwe wetgewing sedert 1994. Hier dink mens in besonder aan die wetgewing oor arbeidsake, vroueregte, kinderregte, misdadigers se regte, gelykmaking van geslag, ras, kulture en godsdienste. Dit het dan ook neerslag gevind in die kwessie oor die doodstraf.

Doodstraf word afgeskaf

Gedurende 1995 het die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 'n beslissing gevel dat die doodstraf hier ter lande afgeskaf word. Gevangenes wat reeds tot doodstraf gevonnis is, se vonnisse is verander na lewenslange gevangenisstraf.

Voorspelbaar en tipies van die liberalisme en die sekulêre humanisme, word lewenslange gevangenisstraf beskou as 'n mensliewender soort straf as die doodsvonnis. Of lewenslange gevangenisstraf in die oorvol en sindikaatbeheerde Suid-Afrikaanse tronke werklik mensliewender as die doodstraf is, is egter 'n debatteerbare punt.

Die handves van menseregte bepaal in artikel 11 daarvan: Elke mens het die reg op lewe. Dit klink op die oor af goed. Maar daar is tog 'n paar vrae wat ontstaan: Het die mens dan nie voorheen die reg op lewe gehad nie? Wat is so besonders daaraan om iets op skrif te stel wat eintlik al eeue lank vanselfsprekend deur die mensdom aanvaar is?

Die humaniste se antwoord op hierdie vraag is dat mense se lewens voorheen (byvoorbeeld gedurende die donker middeleeue) nie hoë waarde gehad het nie. In die "nuwe" Suid-Afrika onder ANC/SAKP regering het ons van die heel hoogste moordsyfers in die wêreld en is sedert April 1994 al ongeveer 350 000 vermoor, waarvan baie wreedaardig en barbaars.

Dit is duidelik dat vandag die toestand maar steeds dieselfde is: Menselewe het steeds nie veel waarde nie. Hier te lande word mense vermoor vir so min as 'n tweedehandse selfoon of R5,00 in 'n beursie. Wat het daardie 350 000 vermoordes se "reg op lewe" hulle gehelp?

Absoluut niks!

In teenstelling met die inhoud van artikel 11 van die grondwet dat elke mens die reg op lewe het, bepaal die sesde gebod: Jy mag nie doodslaan nie. Gemeenregtelik is moord strafbaar en was dit nog altyd so vanaf die vroegste tye. Die mensdom het vanaf die vroegste tye nie 'n verklaarde "mensereg" op lewe nodig gehad om moord en doodslag te verstaan en strafbaar te stel nie. Wat het dan sedertdien verander?

Menswaardigheid teenoor Natuurlike Verdorwenheid

Ek meen dat die antwoord op hierdie vraag gesoek moet word in die begrip menseregte.

Onderliggend aan die idee van menseregte is dat elke mens inherent goed is en met inherente menswaardigheid gebore word. Daardie ingebore en inherente menswaardigheid (wat deur die humanisme as 'n reg beskou word) moet volgens hierdie idee van menseregte dan beskerm word.

Vergelyk ons dit met ons belydenisskrifte en spesifiek die Heidelbergse Kategismus Sondag 2, dan stel ons egter presies die teenoorgestelde as die genoemde aanname van die liberalisme en die sekulêre humanisme. Ons glo naamlik dat die natuurlike, onbekeerde en nie-wedergebore mens van nature geneig is om God en sy naaste te haat. Hierdie inherente verdorwenheid van die menslike natuur word ook bevestig deur die Dordtse Leerreëls (Leerstukke 3 & 4, par. 1-4) en die NGB (artikels 14 & 15).

Kyk ons na die toestand in Suid-Afrika (en ook die res van die wêreld) van ernstige morele verval, selfverryking, geldsug, magsug, grypsug, geweld en misdaad, dan is dit veel eerder tekenend van die mens se inherente geneigdheid tot boosheid en sy eie verdorwe aard, eerder as sy inherente of aangebore goedheid. Dat dit so is, is skokkend en tragies, maar die feit is dat die mensdom se basiese instinkte en boosheid in 6000 jaar nog nie veel verander het nie.

Die sekulêre humanisme en die liberalisme leer ook dat die natuurlike mens nie met 'n verdorwe natuur gebore word nie, maar deur sy omgewing (dws deur die samelewing) besoedel en verdorwe gemaak word. Dit toon verbasende ooreenkoms met die dwaalleer van die Pelagiane gedurende die laat 16de eeu tot vroeë 17de eeu, wat geleer het dat erfsonde en die mens se verdorwe natuur uit niks anders as uit navolging ontstaan nie. Soos die Prediker sê: Daar is niks nuuts onder die son nie.

Tans is ons egter opgesaal met hierdie liberale en humanistiese grondwet en het sy tentakels reeds diep in elke fasset en op elke lewensterrein (ook die kerk) ingedring. Die debat oor die doodstraf moet teen hierdie agtergrond verstaan word.

Straf en Vergelding opsygestoot

Die vroegste strafbeginsel het straf en vergelding as hoogste motief gehad. Dit was in ooreenstemming met Bybelse beginsels van straf. Mettertyd is hierdie Bybelse beginsel ondergrawe deur humanistiese opvattings wat daartoe gelei het dat die basiese doel van straftoemeting aan die misdadiger verander het. Rehabilitasie en korrektiewe terapie is deesdae aan die orde as die uiteindelike doel van straftoemeting. Straf en vergelding word deesdae as onmenslik en outyds (oftewel "Bybels") gesien. Ons sien dieselfde opvattings ook in Suid-Afrika se strafregstelsel.

Die rede hiervoor is die opvattings van die humanisme: Indien die mens sy eie god (dit wil sê outonoom) is, dan is die mens en menselewe die hoogste goed. Hiervolgens is die ergste sonde die toepassing van die doodstraf deur die owerheid en die wreedaardigste mense is diegene wat ten gunste van die doodstraf is.

'n Strafregstelsel wat op Bybelse beginsels gegrond is, eis die doodstraf vir moord. Ons vind dit in Genesis 9:5-6; Exodus 21:14, 23-25; Numeri 35:31; Deuteronomium 19:21; Matteus 26:52; en Romeine 13:4. Omdat die Bybel lewe as kosbaar beskou, en die neem van 'n lewe as 'n ernstige wandaad beskou, verbeur die moordenaar sy eie lewe. Hierin dra die owerheid die swaardmag om doodslag te straf en wet en orde te hou.

Die idee van gevangenisstraf het eers in 1771 in Frankryk posgevat. Vandag is die doodstraf uit die mode en is die uitdien van gevangenisstraf die enigste opsie. Dit is egter nie soos God dit beveel het nie. Persoonlike aanspreeklikheid en verantwoordelikheid is een van die hoekstene van Goddelike (Bybelse) reg.

Gruwelgevolge van Menslike Selfverheffing

Die oorsaak van die hoë misdaadsyfer van epidemiese afmetings kan by die eiegeregtigheid van die liberalisme en die humanisme gesoek word. Die fout word nie meer by die misdadiger gevind nie, maar by die "siek" samelewing, wat bearbei moet word deur heropvoeding. Die misdadiger word sodoende nie persoonlik aanspreeklik gehou vir sy wandaad nie, maar die samelewing word in die beskuldigdebank geplaas en verwyt.

Reg en geregtigheid word afgebreek wanneer die geloof agter die reg verdwyn. Die humanisme se vyandigheid teenoor die doodstraf is in wese hul vyandigheid teenoor God se reg. Die staat of owerheid dra die swaardmag om veroordeelde moordenaars deur die regspleging en oplegging van die doodstraf regverdig te straf en om wetsgehoorsame burgers te beskerm (Romeine 13:4). Wanneer die owerheid egter die doodstraf afskaf en ook nie meer sy wetsgehoorsame burgers beskerm nie, het hy sy plig versaak en het sy swaard stomp geword (vergelyk NGB art. 36, oorspronklike bewoording).

Spreuke 12:10 vat hierdie situasie mooi raak: Die barmhartigheid van die goddelose is wreed.

Daar is duidelike inkonsekwentheid in die afskaffing van die doodstraf. Ironies genoeg word die veroordeelde moordenaar se reg op lewe gerespekteer en beskerm, maar ongebore babas se reg op lewe word geminag en babamoord – aborsie – openlik gewettig en vergemaklik. Ook ironies is die feit dat die veroordeelde moordenaar nie die doodsvonnis opgelê kan word weens sy totale minagting van sy vermoorde slagoffer se lewe nie. Inteendeel, die slagoffer se naasbestaandes moet nog deur belastings vir dekades lank indirek bydra tot die lewenslange versorging van die moordenaar.

Vir en Teen die Doodstraf

Prof. Marinus Wiechers, voormalige hoogleraar in die regte, is van mening dat al die argumente vir of teen die doodstraf almal eintlik ewe geldig is (artikel op die webwerf LitNet van 4 Junie 2008).

Hy gaan voort: ...die gemeenskap (wil) in sy diepste wese wel vergelding hê. Nie bloot uit wraakgierigheid nie, maar ter wille van sy eie voortbestaan... Gemeenskappe vrees vir hul eie voortbestaan as misdadigheid en veral gruwelike misdadigers nie permanent uitgewis kan word nie. Dit spruit uit die diepste sug na sekerheid en veiligheid...

Prof. Wiechers skryf verder: ...Die doodstraf het ‘n geweldige afskrikwaarde, wát ookal tot die teendeel probeer bewys word. Veral vandag, met die moderne media se moontlike dekking van verhore, veroordelings en teregstellings, sal die voltrekking ‘n skrikbeeld van misdaad versprei soos geen ander waarskuwende boodskap ooit sal regkry nie. Dink maar aan die skokgolwe in ons gemoedere toe die teregstelling van Saddam Hoessein vertoon is.

Moet daar dus aanvaar word dat die doodstrafdebat vir altyd in sirkels en sirkels verstrengel sal wees en nooit ‘n uitkome sal hê nie? Tog nie – as die debat in die laaste instansie nie oor die voor- en nadele van die doodstraf gaan nie, maar oor die aard van die staat waarin ons wil lewe.

Natuurlik sal ons almal in ‘n staat wil lewe waar die uitvoering van die staatsmag aan ‘n stel hoër waardenorme gekoppel is. Maar, word aangevoer, ons lewe ongelukkig nie in so ‘n utopie nie. Ons lewe eenvoudig in ‘n Afrika-werklikheid waar die meeste mense net die taal van die mag verstaan en waar die staat die mag oor lewe en dood moet hê om die verskriklike misdadigheid te bekamp. En eendag, as ons moreel gevorderd, beskaafd, mens- en vredeliewend is en geleer het om gehoorsaam aan sulke hoër norme te wees, kan ons weer probeer om ‘n verhewe staatsorde bokant die staatsmag te skep. ... Aldus Prof. Wiechers.

Gelowiges moet Boosheid Teengaan!

Ek is egter van mening dat ons nie moet sit en wag totdat Afrika se mense eendag moreel gevorderd, beskaafd, mens- en vredeliewend is nie, want dit mag duisende jare neem, indien ooit. Ek is van mening dat ons as gelowiges ons moet beywer om in ons skole, werk, staat en kerk onder medegelowiges die ernstige dwaling en misleiding van die liberalisme en sekulêre humanisme uit te wys en te bestry. Boosheid floreer wanneer die gelowige swyg en apaties staan en toekyk. 

Daar is duidelik 'n geestelike oorlog aan die gang tussen die sekulêre humanisme en die Christendom en die openbare media, internet, staatskole, die staat en selfs sommige kerke is aan die kant van die humanisme. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen hierdie verderflike idees en valse filosofie wat die koninkryk van God voortdurend ondergrawe (kyk Efesiërs 6 in hierdie verband).

Ek meen ook dat ons as gelowiges vir die huidige en onder hierdie omstandighede nie te hard moet mor oor die afskaffing van die doodstraf in Suid-Afrika nie. 

Die huidige owerheid verloën en misken die Drie-enige God en Sy gebod. Hulle ontken en misken dat ook hul gesag as regeerders van God afkomstig is.  

Hul volvoer nie hul roeping as regeerders wat so moet regeer dat die landsburgers "'n rustige en stil lewe" kan lei nie. (Vgl.1 Tim.2:2)

Die regbank van Suid-Afrika is vandag gevul met ANC gekeurde regslui wat noodwendig daartoe neig om eerder polities-lojale, maar minder bekwame, regsprekende amptenare in posisies van mag te wees.   

Dieselfde gebeur in die polisie.

Verder leef ons in 'n staatsbestel wat uitgesproke vyandiggesind is teenoor Blankes in die algemeen en Afrikaners in die besonder en daartoe geneig is om al hulle probleme en mislukkings op die Blankes te blameer, hoe vergesog dit ook mag wees.

Dit is daarom onwenslik en selfs gevaarlik om onder sulke omstandighede die doodstraf in die hande van 'n onverantwoordelike, goddelose en roekelose owerheid te plaas.

Solank skaamtelose geldsug, magsug en geddeloosheid aan die orde van die dag is, kan ons nie verwag dat daardie knoetserige doringboom enige vye moet dra nie.



No comments:

Post a Comment