Postings

Tuesday 15 May 2012

Ontstaan en gevolge van kultuur-historiese verskille in die geskiedenis van Suid Afrika


Ontstaan en gevolge van kultuur-historiese verskille in Suid-Afrika.


Wie moet verantwoordelikheid aanvaar.


                                                                                           Skrywer  Stes de Necker


Die ontmoeting tussen die witmens (hoofsaaklik van Europese afkoms) en swartmense (hoofsaaklik van Afrika afkoms), in die vroeë 19e eeu, was ook die begin van die rassevraagstuk in Suid Afrika, wat later tot ernstige konflik, segregasie en die daaropvolgende beleid van apartheid sou lei. 

Met hierdie ontmoeting het twee verskillende en bykans teenoorgestelde kulture, bymekaar gekom en vir die volgende 170 jaar die grondslag van die politieke ontwikkeling in Suid Afrika bepaal.

Die handhawing van ʼn Eurosentriese maatskaplike bestel deur die blankes, en die behoud van die tradisionele Afrosentriese norme  en waarde stelsel van die swart volkere van Suid Afrika, het twee uiteenlopend sisteme verteenwoordig wat prakties die presiese teenoorgesteldes van mekaar was. Wat (wedersyds) vir die een reg was, was vir die ander verkeerd; wat vir die een aanvaarbaar was, was vir die ander onaanvaarbaar.

Politieke ideologieë word nie gevorm deur maatskaplike en godsdienstige norme en waardes nie, maar eerder uit oorlewings omstandighede en die behoud van mag in die stryd om eiesoortige voortbestaan. Hoe langer die mens aan hierdie oorlewing doelstellinge blootgestel word, hoe meer word hierdie doelstellings verhef tot ʼn kollektiewe waardestelsel en hoe moeiliker word dit vir die individu om objektief teenoor die stelsel, waarvan hy/sy ʼn integrale deel is, te staan.

Vir die Afrikaans sprekende blanke leierskap het dit in die laat 19e eeu en vroeg 20e eeu primêr om ʼn eiesoortige, blanke (Eurosentriese) oorlewing in Suid Afrika gegaan. Die hoofsaaklike doelwit was die behoud van ʼn Europese waarde en norme sisteem, wat gelei het tot die ontstaan van die “Zuid-Afrikaansche Republiek” (Transvaal) in 1852, en die Oranje-Vrystaat Republiek in 1854.

Tot en met 1910 was die poletieke en ekonomiese mag in die oorblywende twee provinsies, naamlik die Kaap en Natal, uitsluitlik in Britse besit. Met die ontdekking van diamante in 1867 en goud in 1886, besluit die Britse regering om die hele grondgebied van Suid Afrika te annekseer, en dit lei tot die Eerste Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881.

Die Boere Republieke weer egter die Engelse aanslag af, maar in 1899 keer die Britse magte, ondanks sterk teenkanting van die Liberale Party in die Britse Parlement, in veel groter getalle terug na Suid Afrika.

Die aanbreek van die Anglo Boereoorlog in 1899, en die daaropvolgende totstandkoming van die Unie van Suid Afrika in 1910, het die behoefte aan eiesoortige selfbehoud onder die Afrikaanssprekende blankes net nog verder laat groei. Na uniewording het Engeland steeds die ekonomiese mag in Suid Afrika behou en het die oorgrote meerderheid van die Afrikaanssprekende Suid Afrikaners, wat voorheen van boerdery ʼn bestaan gemaak het, hulle nou verarmd en ongeskoold vir werk in ʼn geindustrialiseerde omgewing, bevind.

Die uitsluiting van die Afrikaner gemeenskap van die ekonomiese magsbasis en die voortgesette behoefte onder die Afrikaner gemeenskap aan ʼn eiesoortige (Eurosentriese) maatskaplike bedeling, was die hoof dryfkragte wat daartor gelei het dat die Nasionale Party, (op daardie stadium ʼn koalisie tussen die Nasionale Party van Dr. DF Malan en die Afrikanerparty van Mnr. Klasie Havenga), met die verkiesing van 1948, die Verenigde Party van Genl. Jan Smuts verslaan en die politieke mag in Suid Afrika oorneem. Hierdie koalisie het later net as die Nasionale Party bekend gestaan. Om die voortgesette behoud van hierdie nuutgevonde politieke mag te beskerm, word daar ná 1948 ʼn reeks afsonderings wette ingestel wat hoofsaaklik daarop gemik was om die politieke deelname, beweging, indiensneming, en maatskaplike integrasie van swart mense, wat die meerderheid van die bevolking op daardie stadium was, aan bande te lê.

In 1960 tree Suid Afrika uit die Britse beheerde Statebond uit, en in 1961 kom die Republiek van Suid Afrika tot stand.

Weens die getalle oorwig van die swart bevolking, en uit vrees vir ʼn swart oorheersing binne ʼn westerse demokratiese politieke stelsel, besluit die Suid Afrikaanse regering, onder leierskap van Dr. HF Verwoerd, op ʼn stelsel van afsonderlike ontwikkeling, waarin elke eiesoortige gemeenskap, binne sy eie grondgebied, selfstandig en afsonderlik kan ontwikkel. Ten einde hierdie konsep te fasiliteer word ʼn verskeidenheid “tuislande” geskep waarbinne die verskeie gemeenskappe geakkommodeer kan word.

Die uitvoering van hierdie beleid lei egter tot die onteiening van grondgebiede vir die skepping van sulke tuislande en die gevolglike gedwonge verskuiwing van gemeenskappe, ontworteling, vervreemding, en die disintegrasie van die gesinsverband as gevolg van die broodwinners wat nou gedwing is om werkgeleenthede ver verwyderd van hulle blyplek te vind en gevolglik vir lang tydperke nie by hulle families is nie.

Terwyl daar in werklikheid niks verkeerds was met die konsep van afsonderlike ontwikkeling nie, het die Nasionale regering egter nie rekening gehou met die praktiese implikasies wat die uitvoering van hierdie beleid sou inhou nie. Diep gewortelde Afrosentriese waardesisteme van die swart volkere is, hoofsaaklik weens onkunde op hierdie terrain, nie behoorlik in ag geneem nie met die gevolg dat die oneindige en onherstelbare leed wat die implementering van hierdie beleid vir miljoene Swart Suid Afrikaners wat hierdeur geraak is sou inhou, nie verdiskonteer is nie.


Die beleid van afsonderlike omwikkeling het natuurlik ook ʼn verswygde sekondêre doelstelling bevat naamlik, indien die beleid sou slaag en elke etniese groepering aan ʼn amptelike erkende eie grondgebied gekoppel is, daar nie meer sprake van ʼn blanke minderheidsregering kon wees nie aangesien die blankes dan die meerderheid in die geallokeerde “wit” gebied sou wees! Net so sou elke ander etniese groep die meerderheid in húlle afsonderlike gebiede gewees het.

Benewens die drakoniese apartheids wetgewing, het die Nasionale regering, veral onder die leierskap van Adv. John Vorster en later PW Botha, (met die aktiewe ondersteuning van die Afrikaner Bond en die Staatsveiligheid Raad) baie seker gemaak dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling op alle vlakke van die samelewing, toegepas en uitgevoer word. Patriargale maatskaplike strukture soos Universiteite, Skole, die Kerk, Staatsdiens, georganiseerde Handel en Nywerheid, Sport, Landbou, die Weermag, Polisie, Veiligheid Polisie ens. ens. is op taktvolle dog ernstige wyse gemaan om geen wederstrewigheid te duld nie en seker te maak dat alle voorskrifte en bepalinge van die regering nougeset uitgevoer en nagekom word.

As kind, wat gedurende die vyftiger en sestiger jare in ʼn streng Gereformeerde huis grootgeword het en in ʼn suiwer Christelik-Nasionale skool skoolgegaan het, was ek nooit toegelaat om vir myself te dink nie. En pasop vir die een wat wel vir hom- of haarself probeer dink het! So ʼn enkeling is baie gou as “anders” geëtiketteer en “anders” was eenvoudig nie aanvaarbaar nie.

Op universiteit het ek by geleentheid ernstig met ʼn dosent verskil oor ʼn sekere ekonomiese teorie, en nieteenstaande drie daaropvolgende pogings, kon ek nooit in daardie vak slaag nie!

Dit was weliswaar nooit vir my nodig om vir myself te dink nie want:
  • Die skool het vir my besluit hoe ek moet my hare moes sny en kam en wat ek moet aantrek;
  • Die onderwyser het vir my besluit wat ek op skool sal leer of nie sal leer nie;
  • Die staat het vir my besluit in watter rye ek moet staan en by watter ingange en parke ek moet ingaan;
  • Die kerk het vir my besluit watter sport ek op watter dae mag beoefen;
  • Die Sensor Raad het vir my besluit wat ek mag lees en wat ek nie mag lees nie; wat ek mag sien en wat ek nie mag sien nie;
  • Die Universiteit het vir my besluit wat ek moet studeer;
  • Die werkgewer het vir my besluit hoe ek my werk moet doen.

Teen die tyd toe ek 25 jaar oud was, was ek ʼn professionele na-aaper!

Ek is oortuig dat daar vandag duisende Suid Afrikaners (Wit en Swart) daar buite rondloop, met die bittere gevoel in hulle binneste dat hulle in die verlede openlik en blatant deur die Nasionale regering verkul en bedrieg is.

Naas die beskerming van politieke mag, was die volgende doelwit van die Nasionale regering om ook die ekonomiese mag, wat tot op daardie stadium nog hoofsaaklik in die hande van Engelssprekende Suid Afrikaners was, so gou as moontlik te bekom.

Na 1948 kom daar, met die ondersteuning van die Nasionale regering, ʼn hele aantal groot Afrikaanse ondernemings tot stand soos onder andere Nasionale Pers, Sanlam, Volkskas en Rembrandt. 

Die bereiking van die regering se ekonomiese doelwitte lei tot die promulgering van ʼn verdere aantal apartheids wette wat onder andere die indiensneming van swart mense in poste in die staatsdiens en sekere ambagte, verbied.

Hierdie wetgewing veroorsaak dat blankes, veral onopgeleide en ongeletterde individue, hulleself in ʼn verskansde en abnormale bevoorregte posisie bevind het. Velkleur was in die meeste gevalle hulle enigste kwalifikasie op aanspraak vir ʼn betrekking in die staatsdiens of sekere vakkundige rigtings soos bv. die boubedryf.  

Die daaropvolgende afsondering en marginalisering van swart mense was die hoof oorsaak dat daar ʼn ontwaking van ʼn Afrosentriese selfbehoud onder swart Suid Afrikaners plaasvind en die ANC word die amptelike verteenwoordiger van die swart mense in stryd om politieke selfbehoud.   

In 1960 word die ANC en PAC uit Suid Afrika verban en wat voorheen nie-gewelddadige swart bewustheid organisasies was, verander noodgedwonge in militante “ondergrondse” bewegings. 

Soos reeds genoem het die afsonderingswette, wat later allerweë bekend sou word as die apartheids beleid van Suid Afrika, oneindige leed vir miljoene swart Suid-Afrikaners berokken. Swart mense, wat verreweg die meerderheid van die bevolking was, is uitgesluit van byna elke moontlike meetbare standaard, insluitend inkomste, opvoeding, verblyf, behuising en gesondheid.

Die apartheids beleid het beide ín Suid Afrika en internasionaal, só omstrede geword dat die land in die laat sewentigs so te sê totaal van die buiteland geïsoleer was.


Intussen het die kollektiewe behoefte om selfbehoud en oorlewings-omstandighede onder die swart mense so toegeneem dat dit in die vroeë tagtiger jare oorgespoel het in hewige onluste aan die Rand en ander dele van die land. Meeste van hierdie onluste is geweldadig onderdruk en in 1984-1985 reageer die Suid Afrikaanse regering met al hoe strawwer teenmaatreëls. Hierdie maatreëls lei op sy beurt tot al hoe feller weerstand deur die anti-apartheidsbewegings, veral die ANC.

Vir die swart leierskap het dit op daardie stadium gegaan oor wat belangrik vir die swart bevolking op daardie stadium was, naamlik oorlewing en selfbehoud.

Een baie belangrike aspek wat dikwels uit die oog verloor word, is die feit dat die swart mense van Suid Afrika nie net uit een homogene groep bestaan nie. Een van die talle gevolge van die Nasionale regering se apartheids beleid, was juis dat dit die gemarginaliseerde bevolkings groepe, naamlik Swartes, Kleurlinge en Indiërs, in een vereenigde front gedwing het.

Dit bring ons onmiddellik by ʼn tweede baie belangrike aspek wat net so dikwels uit die oog verloor word, en dit is dat die blanke bevolking van Suid Afrika ook nie ʼn homogene gemeenskap is nie!

In 1990 word die President van die ANC, Nelson Mandela, na ʼn gevangenisskap van 27 jaar, uit die tronk vrygelaat, en in 1994 word die eerste veelrassige verkiesing in Suid Afrika gehou wat gelei het tot die bewinds oorname deur die ANC.

Die verkiesing van 1994 het min of meer afgeloop soos wat algemeen verwag was. Afgesien van die dosyne poletieke groeperinge wat aan die verkiesing deelgeneem het, het daar in werklikheid, insoverre dit poletieke ideologië betref, net twee hoofstrominge gemanifesteer het naamlik, ʼn pluralistiese Afrosentrisme én ʼn pluralistiese Eurosentrisme. (verskillende afsonderlik- identifiseerbare groepe wat ʼn enkele eenheid vorm) Blanke kiesers het hulle hoofsaaklik by die tradisioneel blanke poletieke groeperinge geskaar, terwyl die swart kiesers hulle oorwegend by die swart groeperinge geskaar het. Kleurling kiesers was min of meer eweredig tussen die hoofstrominge verdeel, terwyl die Indiërs hulle hoofsaaklik agter die Indiër leierskap geskaar het. 
Vandag in 2011, bevind die blankes van Suid Afrika hulle nie net in ʼn predisposisie met betrekking tot hulle poletieke identiteit nie, maar loop ook die gevaar om, indien hulle nie bereid is om by ʼn gediversifiseerde groepering in te skakel nie, polities geïsoleer te word. Die moontlikheid word al hoe groter dat, hoe langer die status quo voortduur, die swart jeug se kollektiewe waarde- en normesisteem sodanig beïnvloed gaan word dat hulle uiteindelik ook nie meer objektief teenoor die kommunisties geïnspireerde waardestelsel van die huidige regering, sal kan staan nie.

Soos ek reeds gesê het, het dit gedurende die laat 1990’ tigs en vroeg 2000 vir die swart leierskap gegaan oor selfbehoud en oorlewing. Nadat politieke selfbehoud in 1994 bereik is, vind daar nou, net soos in die geval van die blankes ná 1948, ʼn daadwerklike aanslag op die tradisioneel blanke besit van die ekonomiese magsbasis, plaas.  

Eise vir die nasionaliserng van myne, grond en finansiële instellings van die kant van ʼn hoofsaaklik onopgeleide en ongekwalifiseerde swart jeug, is kenmerkend van die onvolwasse (on)begrip onder hierdie mense van die ekonomiese realiteite van Suid Afrika. Frustrasie onder swart jeugdiges as gevolg hiervan, asook die huidige regering se onvermoë om genoegsame vordering op die terrein van ekonomiese selfbeskikking te maak, is sekerlik vandag dié grootste oorsaak van die vlaag van sinnelose geweld en misdaad wat deur (hoofsaaklik) swart jeugdiges, gepleeg word.

ʼn Mens sou kon aanvaar dat die volwasse swart bevolking en die jeugdige swart bevolking, dieselfde oor die toestand voel; Hulle gaan net verskillend daarmee te werk! 

Misdaad en geweld in Suid Afrika is gevolglik nie ʼn sistemiese fenomena nie, maar eerder ʼn simtomatiese manifestering van ʼn dieperliggende oorsaak, naamlik frustrasie. Die enigste manier om hierdie euwel uit te roei is om die onderliggende oorsaak uit die weg te ruim.  ʼn Groter polisiemag of meer gevangenisse sal nie die probleem oplos nie.

In die basiese behoefte hiërargie  van die mens, bestaan daar in werklikheid dus nie ʼn wesentlike verskil in die basiese behoeftes van die Wit- en Swartmense van Suid Afrika nie. (Verwys gerus na die sielkundige, Abraham H. Maslow, se hiërargie van menslike behoeftes.)  Die groot verskil lê in die Eurosentriese en Afrosentriese norme en waardesisteme wat in die proses om hierdie behoeftes te bevredig, aangewend word.

Die tragiese van die verhaal is dat Witmense en Swartmense vir meer as drie eeue reeds saam woon en leef in hierdie land, maar na ál hierdie tyd het hulle mekaar nog nooit werklik leer ken en verstaan nie.  

Die volgende ontleding gee ʼn aanduiding van ʼn aantal basiese verskille wat daar bestaan in die meer algemene sosiale gebruike van die Wit- en Swarmense in Suid Afrika.

Daar moet in gedagte gehou word dat nie al die Swart etniese groeperinge dieselfde gebruike het nie. Gebruike verskil selfs binne ʼn groep as gevolg van geografiese verspreiding.

Westerse gebruik
Swart gebruik
1. Die mindere groet die meerdere eerste
1. Die mindere praat nie voordat die meerdere hom/haar toestemming gegee het om te praat nie.
2. Die meerdere se kop kan laer wees as die van die mindere
2. ʼn Mindere se kop mag nooit hoër wees as die van die meerdere
3. Die mindere mag nie sit voordat die meerdere hom/haar toestemming gegee het om te sit nie
3. Die mindere sal van nature gaan sit wanneer die meerdere ook sit, want sy/haar kop (hoof) mag nie hoër wees as die van die meerdere
4. ʼn Vrou word altyd die geleentheid gegee om eerste by ʼn deur in te gaan. ʼn Motor se deur word eerste vir ʼn vrou oopgemaak.
4. ʼn Man sal voor ʼn vrou by ʼn deur ingaan om aan te toon dat hy haar agter sy rug vertrou. In sekere gemeenskappe moet die man voor loop ten einde enige verskuilde gevare die hoof te bied.
5. Mans staan wanneer daar gebid word
5. Mans en vrouens moet hulle so laag as moontlik op die grond neerbuig
6. Mense wat hard praat word as ongemanierd beskou
6. Mense wat sag praat word beskou dat hulle van iemand skinder en andere dit nie mag hoor nie 
7. Wanneer ʼn meerdere ʼn mindere aanspreek moet die mindere die meerdere in die oë kyk.
7. Wanneer ʼn mindere aangespreek word mag die mindere die meerdere nie in die oë kyk nie want dit is ʼn teken van aggressie
8. ʼn Mindere word gewoonlik nie die geleentheid gegun om sy/haar kant van ʼn saak te verduidelik nie
8. ʼn Mindere word altyd die geleentheid gegun om sy/haar kant van ʼn saak te verduidelik
9. Wanner jy ʼn meerdere op kantoor besoek klop jy aan die deur, wag om ingenooi te word en wag om toestemming te kry om te gaan sit
9. Wanneer jy ʼn meerdere op kantoor besoek, maak jy die deur stilletjies oop, gaan in, gaan sit, en wag vir die meerdere om die mindere raak te sien en te groet wanneer dit die meerdere pas
10. Wanneer jy iemand met die hand groet dan doen jy dit met ʼn stewige en ferm handdruk.
10. Wanneer jy iemand met die hand groet en hard druk dui dit op aggressie en baasskap. ʼn Sagte handdruk dui onderdanigheid en vrede aan.
11. Om iemand net op sy/haar van aan te spreek word as onbeskof beskou
11. Iemand wat op sy/haar van aangespreek word beskou dit as respek vir sy/haar herkoms
12. Die mindere moet die meerdere eerste groet
12. Die persoon wat na ʼn ander by ʼn plek opdaag (2e opdaag) moet eerste groet


Teen die einde van die vorige eeu het Suid Afrika, hoofsaaklik as gevolg van die ontwikkeling op die terrein van vervoer- en kommunikasietegnologie, deel geword van die sogenaamde “Global Village”. Globalisering het Suid Afrika se ontwikkeling onder die nuwe ANC regering vierkantig onder die soeklig van die internasionale gemeenskap geplaas. 

Laasgenoemde was grotendeels verantwoordelik vir die feit dat die Suid Afrikaans jeug (beide wit en swart) baie van hulle tradisionele waardesisteme laat vaar het ten gunste van assosiasie met hulle buitelandse, hoofsaaklik Europese en Amerikaans eweknië. Die gevolg is dat die meeste aanvaarbare (of onaanvaarbare) tradisionele gewoontes en gebruike, nie meer so belangrik geag is nie en mettertyd selfs geheel en al verdwyn het.

Die feit van die saak bly egter dat die jongmense van vandag onder die grondleggers van hierdie kulturele waardes en norme sisteme, naamlik die ouer geslag Wit- en Swartmense, geleer en grootgeword het en op hierdie wyse die historiese verskille tusse wit en swart oorgeërf het. Dit was juis die ouer geslag wat nie daarin kon slaag om hulle Westerse en Afrika gewoontes met mekaar te versoen nie.

Indien ons ʼn toekomstige intensifisering van die kulturele stryd tussen wit en swart in hierdie land wil afweer, moet ons so gou as moontlik (indien dit nie reeds te laat is nie) mekaar waarlik leer ken en verstaan teneinde ʼn nuwe –isme, naamlik Afrikanisme, op hierdie vasteland te vestig.

Gelukkig is ons skole besig om, tot ʼn groot mate, aan hierdie vereiste te voldoen.

Die uitdaging vir die opinie- en beleidsvormers in Suid Afrika vandag, is om ʼn gemeenskaplik aanvaarde (kollektiewe) waardesisteem te ontwikkel wat voorsiening maak vir eenheid in diversiteit. Erkenning en respek vir die identiteit en behoud van die kulturele waardes en norme van álle groeperinge binne Suid Afrika, moét verseker word. Alleenlik wanneer ons dit regkry, sal dit nie meer nodig wees vir enigiemand om hierdie land te verlaat uit vrees vir die vernietiging van sy/haar selfbehoud nie.

Een van die grootste foute wat die ANC regering seker mee besig is, is om mense van verskillende oorsprong, identiteit, geloof, kultuur en taal, in een gemeenskaplike samelewing te probeer versmelt.

Amerika is ʼn voorbeeld waar groepe van verskillende en uiteenlopende identiteit, vreedsaam en ongehinder met mekaar saamleef, maar wat nog steeds trots is op hulle gemeenskaplike Amerikaanse identiteit.

In Suid Afrika kan hierdie ideal slegs verwesentlik word as almal bereid is om mekaar se waardes, norme en standaarde, te ken, te verstaan en te respekteer. 

ʼn “Winner-takes-all” mentaliteit het nie in die verlede, en sal ook nie in die toekoms, in Suid Afrika slaag nie, want wie is die eintlike Afrikanis wat, in die finale analise, oor ʼn alleen mandaat as “regeerder” kan beskik? Suid Afrika is ʼn land van minderhede en daar bestaan geen enkele groepering wat hulleself tot verteenwoordigers van ʼn ander kan verhef nie.

Die huidige ANC regering is in werklikheid ook ʼn minderheid regering; Dit hang bloot af wat die kriteria is wat gebruik word om verteenwoordiging teen te meet.

My geslag het grootgeword met die idee dat Wit Suid Afrikaners hulleself ekonomies opgehef het en sodoende die “armblanke vraagstuk” van voor 1910 self opgelos het. Terwyl daar sekerlik ʼn mate van waarheid in hierdie teorie bestaan, moet daar egter nie uit die oog verloor word dat hierdie ontwikkeling hoofsaaklik plaasgevind as gevolg van die enorme steun wat die Nasionale regering aan veral moedertaal onderrig en die ontwikkeling van Afrikaanse ondernemings gegee het.

Ontkoming van die huidige onewewigtige verspreiding van die ekonomiese welvaart in Suid Afrika, kan net geskied as die huidige ANC regering, net soos in die geval van die Nasionale regering van 1948, daadwerklike hulp verleen aan die ekonomies verarmde deel van die bevolking.

In ʼn demokratiese pluralistiese samelewing soos Suid Afrika, waar beide armoede en rykdom geen kleur of etikettering van enige aard behoort te hê nie, lê die uitdaging daarin om, in die proses van opheffing (bevoordeling) van die benadeelde groep, nie die bevoordeelde groep te benadeel nie. 
Indien die huidige regering bereid is om één les uit die vorige bestel te leer, dan is dit hoe om die “arm swart vraagstuk” in Suid Afrika op te los, maar hierdie keer, sónder om ʼn nuwe (kleurlose) “arm klas” te skep.

Werkskepping en moedertaal onderrig was nog altyd die grondslag van ekonomiese ontwikkeling wêreldwyd en dit wil voorkom of die huidige regering besig is om groot vordering op hierdie gebied te maak. Die enigste negatiewe aspek in hierdie ontwikkeling is egter die feit dat die regering sal moet waak teen die skepping van ʼn welsynstaat.

Suid Afrika het tans die grootste welsyn stelsel ter wêreld en alhoewel erkenning gegee moet word aan die feit dat miljoene mense ten minste kan oorleef as gevolg van die welsynstoelae wat hulle maandeliks van die Staat ontvang, hierdie toelaes nie werkgeleenthede skep nie. (behalwe natuurlik vir die getal staatsamptenare wat die stelsel moet administreer!) 

ʼn Mens wonder net wat die resultaat sou wees as die geld wat tans aan sosiale toelaes spandeer word, eerder vir werkskepping aangewend sou word.

Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com


7 comments:

  1. Anonymous31 May, 2014

    Howdy! Someone in my Facebook group shared this site with us so
    I came to give it a look. I'm definitely loving the information. I'm bookmarking and will be tweeting this
    to my followers! Superb blog and superb design.

    My web page; clash of clans hack

    ReplyDelete
    Replies
    1. Thank you for your kind comment. Much appreciated.

      Delete
  2. Anonymous01 June, 2014

    You really make it seem so easy with your presentation but I find this matter to be really something which I think I would never understand.

    It seems too complex and very broad for me. I'm
    looking forward for your next post, I will try to get the hang of it!


    Feel free to surf to my site ... hop to this page; Waplife.me,

    ReplyDelete
  3. Anonymous10 June, 2014

    Very nice post. I just stumbled upon your blog and wished to say that I've really enjoyed surfing around your blog posts.
    After all I will be subscribing to your rss feed and I hope
    you write again very soon!

    Feel free to visit my weblog :: Real Racing 3 Cheater

    ReplyDelete
    Replies
    1. You are most welcome my friend. Hoping you all of the best and God bless.

      Delete
  4. Anonymous11 June, 2014

    This is really fascinating, You are an excessively professional blogger.
    I have joined your rss feed and sit up for in search of extra
    of your fantastic post. Additionally, I've shared your site in my social networks

    my homepage clash of clans hack

    ReplyDelete
  5. Anonymous15 June, 2014

    Hmm it seems like your blog ate my first comment (it
    was super long) so I guess I'll just sum
    it up what I submitted and say, I'm thoroughly enjoying your blog.
    I as well am an aspiring blog blogger but I'm still new to everything.

    Do you have any recommendations for novice
    blog writers? I'd definitely appreciate it.

    Feel free to surf to my website - top eleven hack, matrosite.com,

    ReplyDelete