Postings

Friday 16 November 2012

"Cry the Beloved Country" - We're still Crying !



“Cry the Beloved Country” – We're still Crying !


Suid Afrika Quo Vadis

                                                                                                 Stes de Necker


Hoe is dit moontlik dat duisende buitelandse besoekers wat ʼn dekade gelede nog Suid Afrika besoek het, vandag hierdie land vermy;

Hoe is dit moontlik dat verskeie buitelandse beleggers wat ʼn dekade gelede nog so opgewonde was om in Suid Afrika te belê, hulle beleggings elders geneem het;

Hoe is dit moontlik dat vreedsame optogte en betogings deesdae binne die bestek van minute kan ontaard in geweld en doodslag.

Waar het dit alles so verkeerd begin loop.

Vergete is die edele ideale van opheffing van die minder bevoorregtes. In die plek daarvan heers daar vandag 'n kultuur van “Word so gou moontlik, so ryk moontlik”.

Daarbenewens is hierdie kultuur van selfverryking slegs tot die beskikking van 'n paar bevoorregte lojaliste in die ANC. Verskil van hierdie groep en hierdie reg tot selfverryking word jou baie vinnig ontneem. Dit is 'n Kultuur wat 'n verskeidenheid euwels omarm, die meeste waarvan gemik is op die erodering van ons grondwetlike demokrasie en die instandhouding van die gewetenlose en onbevoegde politici in hulle gepaneelde kantore en luukse limousines.

Die beste voorbeeld van so 'n omarmde euwel is sekerlik die regering se omstrede tender stelsel. Dit bied die geleentheid vir elke vriend en familielid van die regerende elite om uiters winsgewende kontrakte te bekom waarvan die oorgrote meerderheid nooit uitgevoer word nie, of anders so half uitgevoer word, dat die werk of diens in elk geval oorgedoen moet word.

Vir diegene wat nie voldoende nepotisties aan die regerende elite gekoppel is nie, bestaan daar altyd die moontlikheid om 'n winsgewende posisie iewers in die ANC se kader ontplooiing te bekom. Sou jy in daardie posisie jouself skuldig maak aan diefstal en korrupsie, is dit ook nie so erg nie. Op die heel uiterste kan jy geskors word met volle betaling, wat beteken dat jy vir die volgende tien jaar heerlik by die huis kan sit en niks doen nie. Teen die tyd as die onbeholpe regsproses uiteindelik tog 'n aanvang neem, het daar reeds soveel tyd verlore gegaan dat enige verhoor in elk geval onbillik en onregmatig sal wees, met die gevolg dat daar geen kans bestaan dat jy van die aanklag teen jou skuldig bevind kan word nie! 

Swart Ekonomiese Bemagtiging, regstellende aksie, nasionalisering en grondhervorming was, en is, nog steeds van die grootste euwels van die ANC kultuur.

Suid-Afrika lê besaai van mislukte landbou projekte terwyl miljoene rande se ekonomiese ontwikkelings fondse in die sakke van korrupte ANC ondersteuners beland het.

Eens hoogs produktiewe landbougrond lê vandag onbewerk en onproduktief. Die murasies en verroeste implemente en toerusting van eens florerende boerdery eenhede dien vandag as grafstene van eens lewende boerdery gemeenskappe.

Kriminele selfverryking is aan die orde van die dag aangesien dit nie-effektief bestry kon word toe dit aanvanklik kop uitgesteek het nie. Die onvermoë van die regering om daadwerklik op te tree toe hulle dit moés doen, het veroorsaak dat hierdie strooptogte met hand oor tand toegeneem het en 'n mens selfs die indruk kry dat daar die gevoel bestaan  dat as jy nie sorg dat jy jou deel nou kry nie, moenie huil die dag as daar nie meer iets oor is om te stroop nie!

Korrupsie, in alle fasette en vlakke van landsregering, beskik sekerlik vandag oor die beste inkomste tot risiko verhouding aangesien minder as 5% van alle korrupsie-aanklagte suksesvol in ons howe vervolg word.  

Suid-Afrika se probleme is groter as wat die meeste Suid-Afrikaners dink dit is en solank die groep bevoorregte politieke elite aan bewind bly, is dit onwaarskynlik dat daar enige noemenswaardige verbetering in die heersende toestande sal plaasvind. 






Bure of Personeel!




Find some more interesting articles on my blog.
Just click   http://stesdeneckers.blogspot.com


No comments:

Post a Comment