Postings

Tuesday 27 November 2012

Oordeelsdag - 21 Desember 2012!



21 Desember 2012 – Oordeelsdag?


Stes de Necker



Die internet is vol allerhande teorieë dat die wêreld op 21 Desember 2012 sal vergaan. Selfs Hollywood het op die wa gespring met 'n film waarin aardbewings en meteoriet-storms die aarde sal tref. Die Wit Huis beland selfs op 'n vliegdekskip wat deur 'n magtige tsunami meegevoer word!  

Volgens aanhangers van die “einde van die wêreld” teorie, vestig hierdie doemprofete hulle aannames uitsluitlik op die Maya kalender wat net tot 21 Desember 2012 strek.

Eeue gelede het die Maya’s voorspel dat daar 'n verandering op hierdie datum sou kom, maar nooit het hulle voorspel dat dit die einde van die aarde sou beteken nie. Of hierdie verandering maar bloot die einde van 'n era of 'n beskawing sou wees, weet niemand.




Die Mayaanse (Asteke) Kalender


'Baktuns'
Die Maya's het verskeie stelsels gebruik om hulle kalenders op datum te hou. Die kalender waarna die doemprofete so graag verwys word algemeen na verwys as die 'lang telling'. In werklikheid is die jaartelling 'n baie eenvoudige idee. Dit tel bloot die dae sedert 'n vaste beginpunt naamlik 3114 v.C. Daarna word die jaartelling in vaste periodes van ongeveer 394 jaar aangedui. Hierdie periodes van 394 jaar word na verwys as “Baktuns”. Aangesien die getal '13' so 'n belangrike en heilige getal vir die Maya's was, verstryk die dertiende “Baktun” (394 jaar periode) op 21 Desember 2012.

David Stuart, spesialis in Mayaanse inskripsies aan die universiteit van Texas, stel dit soos volg: "Dit is 'n spesiale verjaardag van 'n skepping. Die Maya's het nooit gesê dat die Aarde vernietig sou word. Hulle het selfs nooit gesê dat daar iets ergs staatkundig sal gebeur nie. Hulle het bloot die verjaarsdag datum van die sogenaamde 'Monument Ses' aangekondig.

Bolon Yokte
Die “Bolon Yokte” is 'n klip tablet wat in die jare sestig gevind in 'n ruïne in die suide van Mexiko met die aanleg van 'n pad. Die “Bolon Yokte” is uniek in die sin dat die ekwivalent van die jaar 2012 in ons kalender daarop vermeld. Die opskrif beskryf 'n gebeurtenis wat in 2012 sal plaasvind met “Bolon Yokte”, 'n geheimsinnige god van die Maya's wat met beide oorlog as skepping geassosieer word.

Ongelukkig het die klip tablet oor die jare heen so erg beskadig geraak dat baie van die inskripsies daarop nie meer leesbaar is nie. Argeoloog Guillermo Bernal van die Universiteit van Mexiko interpreteer die laaste woorde op die tablet as volg: "En hy sal uit die hemel neerdaal".

Bernal het dan ook sy eie verklaring vir die talle doem scenario's wat tans die rondte doen. "Die openbaring is 'n Westers-, Christelike konsep wat op die Maya's geprojekteer word. Miskien omdat alle Westerse mites oor die einde van die wêreld reeds lankal weerlê is."

Melkweg
Dit is algemeen bekend dat die Maya sterrekundiges verstommend korrek in hulle berekeninge en voorspellings was. Ongelukkig het hulle ook (foutiewelik) bereken dat die aarde en die son op dieselfde lyn met die middelpunt van ons Melkweg tot stand sal kom op 21 Desember 2012; iets wat slegs een keer elke 25,800 jaar gebeur. Tegnies sou dit dan 'n soort zero-toestand in die draaiwerking van die elektromagnetiese velde van ons sonnestelsel, beteken .

Volgens die doemprofete sou hierdie “zero-toestand” veroorsaak dat die tektoniese plate op aarde begin verskuif, met die gevolg dat die magnetiese pole van plek sou verander wat op sy beurt 'n wêreldwye ramp sou veroorsaak.

Gevolgtrekking

Volgens Philip Plait, 'n sterrekundige wat die webwerf 'Bad Astronomy' administreer, sal die aarde en die son wel een of ander tyd in 'n lyn ​​met die middelpunt van die Melkweg te staan kom, maar daar bestaan geen aanduiding dat dit noodwendig in 2012 sal gebeur nie!  

Gaan maar rustig voort om nog saans "Sewende Laan” te kyk. Ek het dit op goeie gesag dat daar niks ernstigs op 21 Desember 2012 sal gebeur nie!

Ps. Hoekom nou juis 21 Desember verstaan ek ook nie. As dit eerder 20 Desember was, sou dit ons mos baie meer rede gegee het om te spekuleer. Ek spekuleer ook maar net; 20 12 2012 !!  Of miskien is ons net 100 jaar te vroeg !?  - 21 12 2112?  Wonder maar net....



Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net  http://stesdeneckers.blogspot.com   

No comments:

Post a Comment