Postings

Friday 16 November 2012

Suid Afrika se Politieke Siekte.



Suid Afrika se Politieke Siekte.


Kan Suid Afrika se politieke ongesteldheid nog genees word?


                                                                                               Stes de Necker


Suid Afrika se beroemde hartspesialis, wyle Prof. Chris Barnard, het by geleentheid gesê dat die een ding wat hy in die mediese wetenskap geleer het, is dat die meeste siektetoestande of ongesteldhede, progressief degenereer totdat dit 'n sekere punt bereik waar genesende behandeling nie meer moontlik is nie. 'n Sekere “point of no return”.

Wanneer die siektetoestand hierdie perk verbysteek, is al wat oorbly, sterfte van die pasiënt of drastiese ingryping soos om te opereer en die aangetaste liggaamsdeel te verwyder.

'n Gaatjie in 'n mens se tand kan byvoorbeeld gestop word, maar as die verrotting eers te erg geword het, dan is al wat oorbly om die tand te verwyder.

Die huidige politieke toestand in Suid-Afrika is sekerlik ideaal vergelykbaar met Prof. Barnard se teorie.

Die vraag is: Kan Suid-Afrika se politieke siekte nog genees word?

Nog nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika het die sosio-ekonomiese vooruitsigte vir Suid-Afrika so bleek gelyk nie. As hierdie land 'n menslike pasiënt was, was dit al lankal in 'n intensiewesorgeenheid opgeneem!

Na agtien jaar van ANC bewind, beleef ons die meeste arbeidsonrus, moord, diefstal, korrupsie en burgerlike verset wat hierdie land nog ooit gesien het.

Meer kommerwekkend is die feit dat politieke opportuniste en radikale elemente soos Malema en die Jeugliga, die onbestendige politieke klimaat misbruik om hulle eie sosialistiese ideologieë te bevorder.

Suid-Afrika kon daarin slaag om die wêreld te verras met ons vreedsame oorskakeling na 'n nuwe politieke bestel en die relatiewe vreedsame verloop van die proses to op hede. Ongelukkig besef die land se President, Jacob Zuma en die huidige regering nie dat die ernstige sosio-ekonomiese onrus in Suid-Afrika maar net die simptoom van 'n baie ernstiger onderliggende oorsaak is.

Radikale elemente in die ANC kon daarin slaag om 'n looneis by die Lonmin myn af te dwing, die polisie te blameer vir die onrus wat daar geheers het, bestaande arbeids vakbonde te diskrediteer en die regering magteloos te laat om die situasie te beheer.

Myne moes onder dwang aan die stakers se looneise toegee, die polisie was gedwing om onder ernstige provokasie hulleself te verdedig en bestaande ervare vakbonde moes verneem dat hulle nie meer hulle lede verteenwoordig nie. 'n Dodelike resep om die huidige bestel omvêr te werp en in die hande van onverantwoordelike onopgevoede radikales te plaas.

Lapwerk elke keer as daar onrus ontstaan sal nie die probleem oplos nie. Inteendeel, dit gee aan hierdie radikales net nog meer mag in hulle strewe na revolusie.

Ekonomiese aanpassings, aanpassings in die onderwysstelsel, veranderinge aan die landbou beleid en 'n menigte ander laslappies, vererger die toestand nog meer!

Drastiese aanpassings in regeringsbeleid is nodig om die toestand te herstel; aanpassings wat in die huidige regeringsbeleid onmoontlik is soos byvoorbeeld:

  • Om stakings en oproer selfs met geweld te beëindig wanneer die land se veiligheid bedreig word;
  • Om die polisie die mag te gee om hulleself te verdedig wanneer hulle lewens bedreig word;
  • Om individue se magte tot sogenaamde vryheid van spraak in te kort wanneer binnelandse veiligheid bedreig word;
  • Om korrupsie en selfverryking uit te roei wanneer die land se ekonomie bedreig word;
  • Om van onbevoegdheid ontslae te raak wanneer daar nie dienslewering geskied nie 
Sedert 1994 kon hierdie regering nooit nie daarin slaag om Suid-Afrika se ekonomie met meer as 3.5% pj te groei nie. Teen hierdie groeikoers bestaan daar géén moontlikheid om die werkloosheid probleem op te los nie.

Distribusie van inkomste tussen ryk en arm is baie meer on-eweredig as in 1994, die land se voedselbronne het drasties afgeneem, reële inflasie het die hoogte ingeskiet en Suid-Afrika het van die wêreld se hoogste werkloosheid syfers.

Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse regering te lank nagelaat om die ongesteldhede in sy sisteem effektief te behandel. Sedert 1994 is on-populêre besluite uitgestel, ernstige leemtes is nie aangespreek nie en pynlike regstellings is nie gedoen nie.

Die vraag is:
Is die toestand in Suid-Afrika nog behandelbaar, of is ons alreeds by die omdraaipunt verby?

Ek, vir een, glo dat ons reeds by die omdraaipunt verby is. Suid Afrika staar n algehele politieke ineenstorting in die gesig, en nog steeds is die ANC regering besig om, om die vuur van politieke oppertunisme en ontkenning van die realiteite te dans.

Die dag sal kom dat die woord "Comrade" in hierdie land ook n skelwoord sal wees soos wat dit tans die geval in Rusland is. Toe die wereld nog gedink het kommunisme is onvernietigbaar, toe was dit alreeds net n lee dop.  


Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com


No comments:

Post a Comment