Postings

Tuesday 6 November 2012

My Kersboodskap aan almal vir 2012



My Kersboodskap aan almal vir 2012

                                                                                                 Stes de Necker


Ek glo dat elke Christen gelowige 'n spesifieke Bybelvers het wat vir hom/haar van besondere betekenis is.

Met Kersfees 2012 ophande, wil ek graag Rom. 8:28 met U deel: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Hierdie Bybelvers was nog altyd vir my van onskatbare waarde. In hierdie een enkele vers is vir my, as pragmatis, my hele aardse bestaan saamgevat.

As ek hierdie belofte van Jesus Christus glo, dan kan ek nie anders as om te glo dat alles wat in die lewe met my moes gebeur het tot nou toe, presies, in detail, gebeur het soos wat God dit vir my voorbestem het.

Alles wat met my gebeur het, het gebeur op die regte oomblik, op die regte wyse, op die regte plek, op presies die regte manier, soos wat dit moes gebeur, want alleen dan weet dat God alles vir my ten goede laat meewerk het. Alles, maak nie saak wat dit was nie. Hartseer, pyn, droefheid, smart, lyding, vreugde, geluk, voorspoed, alles het ten goede meegewerk. En al weet ek nie altyd wat daardie goeie rede was of is nie, een ding weet ek verseker en dit is dat die Here dit op Sy tyd aan my sal openbaar. Al is dit nie hier benede nie, dan eendag by Hom in Sy hemelse heerlikheid.
Al die ‘wat as’, al die ‘as ek tog maar’, al die ‘hoekoms’, al die ‘waaroms’, al die ‘dit kon so anders gewees het’, word beantwoord in hierdie een vers, “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet ...” Alles.

Vergeet van jou sogenaamde “eie wil”, vergeet dat dit ánders kon gewees het, vergeet dat jy self vir enigiets verantwoordelik was.

ALLES was God se wil, Sy voorbestemming.
As ons dit nie glo nie, glo ons nie God se versekering (Sy Woord) nie.

God sal jou nooit in die steek laat nie.  Hy het my nog nooit "gedrop" nie!!

Prys God hiervoor!

Ek wens almal van U, n wonderlike en geseende Kersfees toe.


Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com

No comments:

Post a Comment