Postings

Friday 23 November 2012

Daardie Verdomde Skoenveter



Daardie verdomde skoenveter


                                                                                                Stes de Necker



Dit het alles die dag begin met daardie verdomde skoenveter. Ek was alreeds laat vir werk, sommer heelwat laat, toe my skoenveter boonop ook nog breek. Ek het die betrokke oggend 'n baie belangrike afspraak met 'n kliënt gehad en kon eenvoudig nie bekostig om laat te wees nie.

Ek het toe maar 'n skoenveter by een van my ander skoene geleen en inderhaas, vroulief gegroet, my baadjie gegryp en motor toe gestorm. Daar het die tweede probleem my reeds ingewag, want toe ek die aansitter draai, was daar net so een moedelose hum...hum...  en toe niks verder nie. Pap battery.

Gelukkig was vroulief se motor byderhand en kon ek my Colt bakkie redelik vinnig ge-“jumpstart” kry.

Op pad kantoor toe het hierdie gebeure in my kop bly draai. Hoekom gebeur sulke goed altyd met 'n mens op die onmoontlikste tye. My bakkie se battery kon mos eers môre pap geword het en die skoenveter kon darem seker nog tot môre gehou het. Hoekom nou juis vandag. More sou ek nie 'n afspraak moes nakom nie en sou ek boonop genoeg tyd gehad het om met sulke soort probleempies te deel.

“Murphy’s Law” sê hulle.

Terwyl ek nog so sit en dink aan die onbillikhede van die lewe, word die verkeerslig voor my rooi en ek moet stop. Al weer 'n oponthoud! Om alles te kroon kom daar nog een van hierdie stopstraat bedelaars en klop aan my venster om te vra of ek nie vir hom net 'n paar sente het sodat hy vir hom 'n brood kan koop. Onmiddellik is ek sommer die moer in en vertel vir hom in geen onduidelike taal om my nie te probeer bullshit met sy brood kopery nie, want ek weet mos hy gaan die geld by die naaste kroeg of drankwinkel uitsuip. Stel jou voor, brood koop! Asof ek gister gebore is.

Die lig verander na groen en ek kon gelukkig weer ry.

Op kantoor aangekom moes ek hoor dat die kliënt nie langer vir my kon wag nie en het maar geloop. 'n Potensiële R50,000 se transaksie daarmee heen. Ag, Heretjie wat nog!

Die res van die dag het ook nie veel beter verloop nie. My sigarette raak op en daar is nie 'n spaar dosie in my lessenaar laai nie; My sekretaresse will die middag af hê want haar kind is ongesteld; Die lêer wat ek gister nog mee gewerk het, is nie meer op my lessenaar nie. Ens. ens.

Half vier die middag besluit ek dis nou genoeg, nou gaan ek huis toe. Nie nog 'n minuut van hierdie nonsens nie.

By die huis gekom het ek my kortbroek en loopskoene aangetrek en besluit ek gaan 'n ent in die veld stap, net om weer 'n slag vars lug te kry.

So in die stap, terwyl ek probeer om elke bossie met my kierie vlenters te slaan, dink ek weer aan die gebeur van daardie dag. Wragtig, dis darem nie “fair” nie. Alles kon mos maar reg geloop het ook. Maar nee, dit moes nou juis op daardie dag gebeur!

Eensklaps hoor ek 'n stem wat vir my vra: “Stes, wat loop jy so en mor. Wat het vandag met jou gebeur?”

Dadelik besef ek dat dit die Here is wat met my praat.

“Maar Here, U weet mos wat met my gebeur het. U weet dan alles. Alles het net verkeerd geloop. Ek het 'n groot besigheids transaksie verloor en dit net oor 'n verdomde skoenveter wat gebreek het en 'n kar wat nie wou vat nie.”

“Nou kom Ek vertel jou iets” antwoord die Here my. "Jou sekretaresse wou die middag afgehad het om haar kind dokter toe te kon neem, nè.  Weet jy dat as sy daardie kindjie nie vanmiddag by die dokter gekry het nie, sou daardie kindjie vanaand gesterf het. Gelukkig kon die geneesheer haar net betyds die inspuiting gegee het wat haar lewe gered het.”

“En die kamstige transaksie wat jy verloor het. Het jy geweet dat die sogenaamde kliënt een van die mees uitgeslape bedrieërs op twee voete is. As jy daar daardie transaksie met hom aangeknoop het, sou jy vanaand R50,000 armer gewees het. Hy sou jou uit alles verkul het.”

“En die bedelaar wat aan jou venster geklop het by die verkeerslig. Het jy geweet dat dit eens een van die mees vooraanstaande sakemanne van die stad was wat deur dieselfde bedrieër wat jy so graag wou sien, ingeloop en van alles wat hy besit het, beroof is. Boonop het sy vrou hom verlaat, sy kinders wil hom nie meer sien nie en sy enigste heenkome saans is 'n bedjie by die Heilsleër se koshuis vir hawelose mans.”

“As jou motor gevat het toe jy dit wou aanskakel, sou jy daardie bedrieër nog in jou kantoor gekry het.”

“En, o ja, daardie verdomde skoenveter waaroor jy so moan. Het jy geweet dat vroeër vanoggend 'n swaar gelaaide vragmotor se remme ingegee het en dit oor die stopteken by die kruising naby jou huis, gejaag het. Gelukkig was daar op daardie oomblik geen verkeer of voetgangers by die kruising nie, anders was hulle gewis dood. Inteendeel, niemand het eers gesien hoedat daardie vragmotor oor die kruising gejaag het nie. Gelukkig kon die bestuurder van die vragmotor daarin slaag om die voertuig onder beheer te hou en het hy uiteindelik veilig sy bestemming bereik.

Die vyf minute wat dit jou geneem het om 'n ander skoenveter te kry, was presies die vyf minute wat jou lewe gered het. Want sien, as dit nie vir daardie vyf minute was nie, sou jy presies, op die oomblik toe daardie vragmotor oor die stopteken gejaag het, reg voor hom in die kruising gewees het. En Ek kan dit maar vir jou sê, jy sou dit nie gemaak het nie!”

“Ek is jammer Here. Vergewe my. Vergewe my, my klein gelowigheid en alewige gemor. My lewe is in U hand en niks sal met my gebeur wat nie U Goddelike wil is nie. U laat alles ten goede meewerk vir die wat U liefhet.” 

Vind nog interessante artikels op my blog.

No comments:

Post a Comment