Postings

Monday 26 November 2012

Wie is nou eintlik die "Afrikaners" in Suid Afrika?



Wie is nou eintlik die “Afrikaners” 
in Suid Afrika?

                                                                                              Stes de Necker


Afrikaners is nie hoofsaaklik afstammelinge van die Hollanders soos wat dit algemeen in die eietydse media en selfs in historiese werke beskou word nie. Alhoewel die eerste blankes wat in 1652 aan die Kaap geland het, Hollanders was, het hulle hierheen gekom in diens van die V.O.C. en nie as setlaars nie. Hulle was Hollanders wat 'n voorraad depot vir hulle skeepsvaarders moes kom vestig. Jan van Riebeeck self het teruggekeer Nederland toe en nooit weer Suid-Afrika daarna besoek nie.

Dit was egter 'n ander groep Europeërs wat in die Kaap aangekom het, wat die kern van die ware setlaars in die Wes Kaap gevorm het. Hierdie setlaars het van verskeie Europese lande soos Duitsland , Holland , Frankryk en 'n paar ander kleiner lande gekom.

Dit is belangrik om daarop te let dat daar in werklikheid twee uiteenlopende groepe Nederlanders na Suid Afrika gekom het. Die eerste groep was amptenare van die VOC wat 'n baie sterk liberale wêreld en lewensbeskouing gehad het. Hierdie beskouing word onder andere bevestig deur die aanstelling van Simon van der Stel as goewerneur op 12 Oktober 1679. Simon van der Stel was van gemengde oorsprong. Hy is 1639 op die eiland Mauritius gebore, waar sy vader kommandeur was. Sy grootmoeder aan moeder kant was ene Monica da Costa wat van Oosterse oorsprong was.

Die tweede groep Nederlanders was Christen Protestante met ‘n sterk Nasionale en Christelike beskouing wat groot waarde geheg het aan die vaste leerstellings van die Bybel.

Teen 1685 het die here VXII besluit dat die Kaap aktief gekoloniseer moes word en onder die groepe wat hulle aangemoedig het, was die Franse Hugenote, wat uit Frankryk gevlug het toe die Edik van Nantes herroep is en hulle geweier het om van hulle Protestantse godsdiens afstand te doen.

In 1820 het 'n derde groep Europeërs, die Britse Setlaars, in groot getalle in Suid-Afrika aangekom.

Dit is interessant om daarop te let dat daar meer Nederlanders na Suid-Afrika verhuis het in die tydperk 1808 tot 1837, toe die Kaap onder Britse bewind was, as in die tydperk 1787 tot 1807, toe die Kaap nog grotendeels onder Nederlandse bewind was. Die Nederlandse getalle word egter totaal oorskadu deur die 30 000 tot 40 000 Duitsers wat die laaste groep Europeërs was wat hulle in die negentiende eeu in Suid-Afrika gevestig het.

Tydens die Nederlandse bewind (1787 – 1807) het 'n groep Nederlandse setlaars, baie van wie reeds tevore moes vlug weens vervolging en dus 'n tradisie van onafhanklikheid ontwikkel het, hulle teen die Nederlandse koloniale bewind begin verset. Hierdie verset het uiteindelik gelei tot die ontstaan van die "Vryburger-beweging". Die Vryburgers was in werklikheid die “ontkieming” van die Boervolk. Hulle was die eerste Blankes wat verantwoordelik was vir die oorgangstadium vanaf setlaars na 'n blanke inheemse volk wat later as die Boere bekend sou staan.

Tydens die Britse besetting van die Kaap (1808 – 1837), het 'n groot groep van hierdie Boere, wat 'n eie onafhanklikheid nagestreef het, opgepak en noordwaarts begin uitwyk na wat later bekend sou wees as die Oranje-Vrystaat, Transvaal en Natal.

Die Britse Regering wou egter steeds die Boere kolonialiseer en in 1840 word Natal as Britse gebied geannekseer. Na 'n paar ligte veldslae teen die Engelse, het die Boere weereens opgepak en Natal verlaat om hulle by hul volksgenote in die Oranje-Vrystaat en Transvaal aan te sluit.

As gevolg van die ontdekking van diamante in 1867 en goud in 1886, besluit die Britse regering om die hele grondgebied van Suid Afrika te annekseer, en dit lei tot die Eerste Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881.

Die Boere Republieke weer egter Engeland se aanslag af, maar in 1899 keer die Britse magte, ondanks sterk teenkanting van die Liberale Party in die Britse Parlement, in veel groter getalle terug na Suid Afrika.

Ondanks verbete weerstand deur die Boere, oorweldig die Britse magte egter die Boere en dit lei tot die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in 1902, waarvolgens Brittanje volle heerskappy van Suid Afrika verkry. Agt jaar na die sluiting van die Vrede van Vereeniging kom die Unie van Suid Afrika as Britse dominium, tot stand.

Aan die einde van die Anglo Boere-oorlog was daar dus drie sterk onderskeibare etniese groepe onder die breë spektrum van die Blanke bevolking in Suid-Afrika: 
1. Die inheemse Boerevolk;
2. Die Kaaps/Nederlandse Setlaars wat trou gebly het aan Engeland en Europa.
3. Die Engelssprekende Wit setlaars, wat trou gebly het aan Engeland.

In 1902 het 'n sekere Dr. H.T. Colenbrander (Herman Theodoor, 1871-1945), 'n Nederlandse historikus, 'n studie onderneem na die genealogiese samestelling van die Kaapse populasie van Europese afkoms. [Colenbrander, H.T. De afkomst der Boeren”, Kaapstad, C. Struik, 1964. Tweede Uitgawe. “Study of the origins of European settlers of the Cape up to 1885”]

Vir die doel van sy navorsing het Colenbrander die sluiting van huwelike en geboortes tot 1885 as basis gebruik. Op bladsye 20 tot 105 van sy publikasie word daar 'n kronologiese uiteensetting van die "Stamvaders en stammoeders van Kaapsche geslachten" gegee.

Die genealogiese klassifikasie is gedoen ooreenkomstig die land van herkoms van 25,000 immigrante en ouers van kinders wat aan die Kaap gebore is. In hierdie klassifikasie is Vlaminge as Nederlanders, Luxemburgers en Switsers as Duitsers en Wale as Franse ingedeel.

Indien aanvaar word dat:
1. Die mans in die Retief-deputasie wat Dingaan in Februarie 1838 besoek het;
2. Die mans in die Bloedrivier laer van Desember 1838, en
3. Die Kaapse Rebelle wat op kommando was aan die einde van die Anglo-Boereoorlog in 1902,
‘n genealogiese monster verteenwoordig van die blankes wat die Kaapkolonie destyds verlaat het, kan daar, aan die hand van die Colenbrander klassifikasie, die proporsionele gene-samestelling van die Afrikaners, wat voorheen in die Kaapprovinsie gekonsentreerd was, in die onderstaande Tabel aangegee kan word:


Verteenwoordigende
Groep
%
Nederlands
%
Duits
%
Frans
%
Engels
%
Ander
Immigrante in die
Kaapkolonie tot 1885

50.4

27.0

17.25

0

5.35
Retief-deputasie en
Bloedrivier laer - 1813

52.84

28.17

17.69

1.1

0.2
Kaapse Rebelle - 1902
44.84
31.17
16.08
2.42
5.48


In soverre die data 'n getroue weergawes is van die populasies waaruit dit versamel is, kan aanvaar word dat daar in 1902 geen beduidende genetiese verskil was tussen die Afrikaner-populasie van die Boere Republieke en die Afrikaner populasie in die voormalige Kaapkolonie nie.

Benewens die verwydering tussen Boer en Brit wat deur die Anglo-Boereoorlog veroorsaak is en gevolglik enige huwelik tussen Engelse en Afrikaners so te sê ondenkbaar gemaak het, asook sekere kernaspekte van die Calvinisme, het grootliks daartoe bygedra dat die Afrikaner prakties as 'n genetiese geslote populasie bly voortbestaan het. Dit was juis hierdie Calvinistiese lewensbeskouing wat die Afrikaner daarvan weerhou het om hulself met die inboorlingstamme van Suid-Afrika te vereenselwig en dus geneties te vermeng, aangesien sulke gelykstelling “strydig (is) met die wetten van God ent natuurlike onderscheid van afkomst en geloof” sou wees. (Dr. Du Toit soos aangehaal deur Nepgen, 1938).

Desnieteenstaande die volgehoue immigrasie en blootstelling aan die Engelse invloed, en voortdurende kontak met die inboorlinge van Suid-Afrika, kan daar aanvaar word dat die gene-samestelling van die Afrikanervolk tot 'n groot mate konstant gebly het tot aan die einde van die moderne era in die laat negentiger jare. In die post-moderne tyd, hoofsaaklik na 1994, was daar natuurlik n dramatiese toename in gemengde huwelike binne die totale spektrum van volkere en kultuur groepe.  

Dekades later (1971) het navorsers soos dr. J.A. Heese egter bereken dat die Duitse gene in die Afrikaner bevolking verreweg oorheersend is, hoewel daar ’n min of meer gelyke verdeling van Neder­landse en Duitse bloed in die Afrikaner is. [Die Herkoms van die Afrikaner  1971.]

Volgens Heese, wat die genealogiese samestelling van die Afrikaner vir die periode 1657 tot 1867 bestudeer het, is die samestelling van die Afrikaner: Nederlands 35,5%, Duits 34,4%. Frans 7,2%, Nie-Europese oorsprong 7,2%, Engels 2,6%, ander Europese oorsprong 3,5% en onbekend 3,5%. (Volgens Heese was daar gedurende die periode 1652 tot 1800 nagenoeg 1200 gemengde huwelike en daarvolgens kon hy bepaal dat nagenoeg 7,2% van die Afrikaner oorsprong, Nie-Europees was).

Laasgenoemde vermenging was hoofsaaklik verantwoordelik vir die totstandkoming van Suid Afrika se Bruin (Kleurling) bevolking.

GFC de Bruyn daarinteen, [J.S. Bergh ed. Herdenkingsjaar 1988, R.T.J. Lombard "Die bydrae van die Franse Hugenote tot Suid-Afrika se bevolkingsamestelling"] wat 'n verskillende basis van berekening gebruik het, beweer dat die samestelling 34,1% Nederlands, 29,2% Duits, 24,7% Frans, 0,3% Engels, ander Europese oorsprong 2,4%, Nie-Europese oorsprong 5,4% en onbekend 3,9% is.

Ofskoon ons dus byna ewe veel "Duits" as "Hollands" van afkoms is, is die Duitse bydrae tot ons gene-poel kwantitatief baie groter. Die Afrikaner het dus bykans ewe veel Nederlandse en Duitse bloed in sy are, maar wat die genetiese verskeidenheid aanbetref, is hy oorwegend Duits van oorsprong.

Sou dit miskien kon verklaar waarom soveel Afrikaners tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n groter geestelike verwantskap met die Duitsers getoon het, en hoekom daar in so baie Afrikaner-huise in die verlede nooit juis ’n besondere band met Nederland bestaan het nie? 



Bronnelys
Botha, C.G. (1939) “Die Kaapse Hugenote”  Nasionale Pers, Bpk., Kaapstad. 
Norval, E.J.G. (2002) “Bloed, Sweet en Trane. Die verhaal van die Voortrekkers” Bienedell Uitgewers, Pretoria. 
Nepgen, C.C. (1938). “Die sosiale gewete van die Afrikaanssprekendes”  Uitgegee deur die Christen-studentevereeniging van Suid-Afrika. 
Colenbrander, H.T. (1902) “De Afkomst der Boeren”  Uitgegeven door het algemeen
Nederlansch verband 
Hermann Giliomee “Allowed such a state of freedom: Women and gender relations in the Afrikaner community before enfranchisement in 1930”  Universiteit van Stellenbosch.Johan van Vlaams “Herkoms van die Afrikaner: Ons is Duits eerder as Nederlands!” (http://en.wikipedia.org/wiki/northern_Low_Saxon 
Heese, J.A “Die Herkoms van die Afrikaner 1657-1867” 
Lombard, R.T. J. "Die bydrae van die Franse Hugenote tot Suid-Afrika se bevolkingsamestelling" 
Bergh J.S. ed., Herdenkingsjaar 1988




Vind nog interessante artikels op my blog.

No comments:

Post a Comment