Postings

Tuesday 27 November 2012

Die Toekoms van Suid Afrika - Sonder Siener van Rensburg



Die Toekoms van Suid Afrika –

Sonder Siener van Rensburg

Stes de Necker

 

“As ʼn  profeet iets in die naam van die Here aankondig, en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”  (Deut. 18:22)

 

 

Dit wil voorkom of daar vandag baie mense in Suid Afrika is wat meer waarde heg aan die sogenaamde visioene van Siener van Rensburg as aan die onwankelbare Woord van God. Van die 700 opgetekende “visioene” van, van Rensburg, is daar alreeds hordes wat nooit bewaarheid is nie.

Wat is dan fiksie en wat is waarheid? Hoekom word daar altyd net n politieke- en nie ook n Godsdienstige interpretasie daaraan geheg nie? 

Vir elke Christen gelowige behoort Openbaring 13:5 van besondere Godsdienstige betekenis te wees wanneer daar geskryf staan: "Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.”

Die onverantwoordelike toepassing van hierdie teksvers op Suid-Afrika se politieke bedeling na 1994 is, om die minste te sê, skyn heilig en aanmatigend. Openbaring 13:5 is, in die eerste instansie, 'n oproep vir elke gelowige om hom- of haarself tot God te bekeer voordat dit te laat is.

In die onderstaande artikel bespreek Prof. Johan Malan (Middelburg Mpumalanga) die twyfelagtige profesieë van hierdie man.

 

Siener van Rensburg en die Boerevolk

Prof. Johan Malan, Middelburg
Twyfelagtige profesieë oor ‘n broeiende konfrontasie tussen swartes en wittes in Suid-Afrika doen vir jare reeds die ronde. Daar was onlangs weer ‘n vlaag SMS- en epos-boodskappe waarin beweer word dat Nelson Mandela op sterwe lê en dat ‘n vreeslike bloedbad daarna sal plaasvind, waarin duisende blankes vermoor sal word. Hierdie gerugte kom van ekstreme Israelvisiegroepe af wat ‘n eiesoortige toekomsverwagting het.
Dié groepe glo aan die dwaling dat die blanke nasies direkte, biologiese afstammelinge van die tien stamme van Israel is, en in ‘n ewigdurende konfrontasie met die anderskleurige heidense nasies is. Israelvisiegroepe plaas hulleself in ‘n Ou Testamentiese situasie waarin God op verskillende tye openbarings deur middel van profete aan sy volk gemaak het. Hulle aanvaar nie die feit dat die Bybel klaar geskryf is en die volle raad van God vir die mens bevat nie. As gevolg hiervan is hulle vir buite-Bybelse profesieë deur selfaangestelde profete oop, en kan sodoende maklik mislei word.
Een van die sogenaamde “Boere-profete” wat steeds aangehang word, is Siener Van Rensburg. Hy het duidelik in sy denke ‘n vorm van vervangingsteologie gehuldig en dit het ook in sy drome en visioene neerslag gevind. Siener het die Boerevolk in die plek van Israel gestel – net soos wat die Israelvisie ook doen – en na aanleiding daarvan profesieë wat op Israel betrekking het, op die Boerevolk van toepassing gemaak. As gevolg hiervan het daar ‘n baie skewe en krom vertolking van eindtydse profesieë van hom af gekom – ‘n soort groot verdrukking in Suid-Afrika onder ‘n swart regering wat deur ‘n tipiese messiaanse figuur gelei word, iemand wat feitlik deur almal aanbid word.
Die Bybel is baie duidelik daaroor dat die Antichris in die eindtyd beheer oor Israel (die werklike volk Israel in die Midde-Ooste) en ook oor al die ander nasies sal kry (Dan. 9:27; Op. 13:5-7). Hy sal homself in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4), Israel se nasionale godsdiens afskaf (Dan. 11:31) en die aanbidding van alle mense opeis (Op. 13:15). Hy sal sewe jaar lank regeer (Dan. 9:27). Hierdie tyd word in twee helftes van 42 maande elk verdeel (vgl. Op. 13:5). Aan die einde van sy skrikbewind sal die Antichris deur Christus se wederkoms verdelg word (2 Thess. 2:8; Op. 19:19-20). Die fokusgebied vir hierdie gebeure sal Israel wees (vgl. Sag. 14:4-5,12-13) en nie Suid-Afrika nie.
Die Israelvisie het in die lig van hierdie profesieë tot die verkeerde gevolgtrekking gekom dat die Boerevolk vir ‘n tyd lank onder die dwingelandy van ‘n antichristelike swart regering sal staan, maar dat hulle ná 42 maande van dié regering se oorheersing bevry sal word. Dit het by baie van hulle die verwagting geskep dat die ANC-regering, wat in 1994 aan die bewind gekom het, vroeg in 1998 tot ‘n val sou kom. Daar was selfs die verwagting dat Mandela, wat toe staatspresident was en op ‘n buitelandse besoek was, in ‘n vliegtuigongeluk sou sterf en dat die waarnemende president, Gatsha Buthelezi, dan aan die bewind sou kom en saam met die Boere die land sou oorneem en regeer. Dan, het hulle gesê, sou oom Siener se profesieë oor die bevryding van die Boerevolk vervul word.
Volgens ander profesieë van Oom Siener sou die bevryding teen die draai van die eeu kom, m.a.w. in die jaar 2000. Daar sou ‘n nag van terreur wees waarin die Boere in opstand sou kom en deur die Here se hulp die juk van vreemde oorheersing afwerp. Een van die Israelvisie-ondersteuners het my uit Kaapstad gebel en verseker dat vroeg in die jaar 2000, met die geelperske-reën, die groot stakings sal begin wat die land sal lamlê, dan sal die verwagte bloedbad volg waarin die blankes uitgemoor sal word. Ek het hom verseker dat dit nie sal gebeur nie, omdat daar nie in die Bybel so-iets ten opsigte van “Israel” voorspel is nie.
Profesieë van Oom Siener en Johanna Brandt is egter deur sekere Israelvisie- én ander regse groepe aangegryp, en planne is gemaak om die regering onder meer deur terreurdade tot ‘n val te bring. Kos, medisyne en wapens is vir die stryd opgegaar. Nie alle Israelvisiegroepe het hierdie strategie ondersteun nie, maar het nogtans die hoop gekoester dat daar deur ‘n goddelike ingryping bevryding sou kom. Dit het nie gebeur nie, en hierdie verwagting wat deur buite-Bybelse profete geskep is, was grootliks daarvoor verantwoordelik dat van die Boeremaglede tot ‘n militante “bevrydingstryd” toegetree en in die gevangenis beland het.
Hoewel Siener se profesieë sedertdien baie van hulle geloofwaardigheid verloor het, is daar steeds Israelvisiegroepe wat al hulle geloof in sulke buite-Bybelse profesieë stel. In Mei 2004 het Dirk van Vuuren van die Dogter van Sion ‘n boodskap aan Nelson Mandela, die regering en die media gerig waarin hy profesieë aanhaal van God se oordele wat oor Suid-Afrika uitgestort sal word (onder andere verwoestende natuurrampe) indien die Boeremaglede nie uit die tronk vrygelaat word nie. Hy het die boodskap wyd per epos uitgestuur, ook aan my, omdat ek mense teen die Israelvisie waarsku. Direkte woorde van Jahweh word aangehaal, soos na bewering aan sy profetes, Linda Newkirk, die sg. “White Buffalo Calf Woman,” geopenbaar is. Hierin eis Jahweh dat sy volk, Israel, soos van ouds in Egipte, deur die moderne Farao vrygelaat sal word – anders sal Hy groot oordele oor die regering en sy mense uitstort. Niks het egter gebeur nie, en intussen het Linda Newkirk in onguns verval en word sedertdien as ‘n valse profetes beskou.

Die nag van die lang messe

Vir etlike jare reeds is Israelvisiegroepe besig om paniek in die land te saai deur valse gerugte dat sekere radikale elemente in die ANC/SAKP alliansie besig is om ‘n bloedbad te beplan waarin hulle alle blankes in die land wil uitmoor. Mandela word egter as ‘n gematigde persoon beskou wat sulke optrede sal teëstaan, daarom word daar na bewering net gewag totdat hy sterf voordat die bloedbad sal begin.
Hierdie operasie staan onder verskillende name bekend, onder andere Operation Uhuru, Operation white clean-up, en Night of the long knives (Nag van die lang messe). ‘n Artikel wat hieroor deur die Israelvisie geproduseer en ook na die webblad www.siener.co.za gepos is, is al by herhaling deur verskillende mense aan my gestuur – per epos, per gewone pos, per faks, en dit is ook al oor my hek in die tuin gegooi. Dankie, mense, ek het reeds daarvan kennis geneem maar stem hoegenaamd nie in die minste daarmee saam nie.
Hierdie mense maak ‘n groot ophef van twee van Siener se gesigte wat hy in 1915 en 1917 gehad het. In die een het hy gesien hoedat ‘n Suid-Afrikaanse swart leier wat wêreldbekend is, gewelddadig sterf en vir sewe dae in ‘n glaskis in staatsie lê terwyl roubeklaers van oor die hele wêreld hulle laaste eer aan hom bewys. Wanneer hy daarna begrawe word, kom daar vuur uit die graf op. Dit dui op die geweld wat dan teen die blankes sal ontbrand. Nelson Mandela word as die beroemde swart leier gesien wat sal sterf, en direk ná sy begrafnis in die helde-akker in Pretoria sal die geweld na verwagting uitbreek.
In die ander gesig het die Boere-profeet gesien hoedat mieliestronke by Johannesburg aan die brand raak. Volgens die huidige vertolking daarvan dui dit op onluste wat daar gaan uitbreek. In die gesig is ook ‘n klomp vaal witpensbokke op ‘n bult gesien, en dit word verklaar as Engelse wat met die Boere assosieer en saam met hulle staan. Hy het ook wilde makoue gesien wat uit die Ooste aangevlieg kom, en daar word gemeen dat dit op immigrante uit Oos-Afrika dui (veral uit Mosambiek) wat die land oorstroom en ook hier chaos skep. Verder verskyn daar ‘n lang ry assegaaie, wat gesien word as georganiseerde swart geweld teen die blankes.
Johanna Brandt het ook in 1916 ‘n visioen gehad waarin sy die groot slagting gesien het wat in Johannesburg sal begin, na Pretoria sal uitbrei en daarna na die hele land. Dit sal deur groot stakings voorafgegaan word waarin die hele land lamgelê word. Die vreeslike geweld wat sy in die gesig teen die blankes gesien het, het haar in een nag glo heeltemal grys laat word.

Wapens

Die Israelvisie kleur hierdie prentjie verder in deur na vergesogte bewerings oor die opgaar van wapens soos AK 47’s, plofstof en kapmesse te verwys, asook planne vir die vinnige vervoer van die moordenaars. Hulle sê onder meer in hulle wyd verspreide artikel: “Daar word beraam dat minibus-taxis tot soveel as 70 000 gewapende swartes binne ‘n uur vanaf die swart woongebiede tot in die middestad van Johannesburg kan vervoer. Groot hoeveelhede AK 47’s, ammunisie, handgranate en selfs brandbomme word snags in die geheim per vragmotor na opslagplekke in KwaNonqaba by Mosselbaai gebring. Dit vind ook by dorpe in al nege die provinsies plaas.” Waar is hierdie opslagplekke vir gevaarlike wapens en waarom is nog nie een daarvan in die afgelope paar jaar ontdek nie?
Spesifieke bewerings word oor die opgaar van duisende pangas (lang messe) gemaak: “Op ‘n vergadering op 27 April te Kameeldrift-Wes is die volgende aan ons meegedeel: Daar is ‘n hardeware-winkel in die Noordooste van Pretoria (die naam is aan ons bekend) wat die afgelope maand meer as 38 000 pangas aan swartes verkoop het. Party kom koop tot 20 op ‘n slag... Die oproep van die voorvadergeeste kom eerste vir die pangas. Nou begin hulle hulleself gereed kry. In ons gebied hoor ons nou ook gereeld die Afrika tromme in die nag.”
Hierdie berig is al ou nuus, en vir etlike jare reeds word die artikel versprei waarin gesê word dat daar die afgelope maand 38 000 pangas in een winkel verkoop is. Wanneer was hierdie “afgelope maand”? Dit beteken dat daar in een maand omtrent 1460 pangas per dag in net een winkel verkoop is. Dié “afgelope maand” gaan egter nou al jare lank aan!

Verdere paniek

Radikale Israelvisiegroepe is baie vindingryk en bekend daarvoor dat hulle allerlei nuwe gerugte bedink om hulle bangmaakstories lewendig te hou. Nadat Siener Van Rensburg se profesieë oor die einde van die eeu nie in die jaar 2000 in vervulling gegaan het nie, het hulle aan die storie van dieNag van die lang messe begin werk. Van toe af hou hulle Nelson Mandela se gesondheid fyn dop omdat sy dood volgens hulle na die skielike uitbars van geweld teen die blankes sal lei. In November 2005 het een van die moderne “Boere-profete” op ‘n joernaalprogram op Kyknet gesê dat die bekende swart leier waarna Oom Siener verwys het, teen die middel van 2006 sal sterf en dan in ‘n glaskis in staatsie sal lê. Dit het nie gebeur nie.
In Februarie vanjaar (2007) was daar ‘n SMS-veldtog waarin beweer is dat Mandela terminaal siek is en in ‘n koma lê. Hierdie gerugte het soveel paniek veroorsaak dat Mandela se blanke sekretaresse oor TV gesê het dat daar geen waarheid in steek nie. Mandela het in daardie stadium by sy vrou in Mosambiek vakansie gehou en was glad nie siek nie. Niemand weet wat die oorsprong van hierdie valse gerugte was nie. Dit sluit egter direk by dié van die Israelvisie aan, maar dit kan ook wees dat ander groepe die blankes wil skrik maak sodat meer van hulle die land sal verlaat. Baie mense het dalk al as gevolg van hierdie disinformasie-veldtog na die buiteland verhuis. Daar is miskien genoeg ander redes om die land te verlaat, maar hierdie samesweringsteorie kom uit bedenklik vertolkings van ewe bedenklike drome, en moet gladnie ernstig opgeneem word nie.
Daar is ook baie soortgelyke teorieë (conspiracy theories) in Amerika in omloop, en hulle het almal dieselfde tema van een of ander duistere sameswering deur geheime groepe om chaos te skep, regerings tot ‘n val te bring en groot getalle mense dood te maak. Daar is wél so-iets soos sameswerings om geweld te pleeg, maar iewers moet die streep tussen die werklikheid en vrye verbeeldingsvlugte getrek word. Daar moet darem harde feite wees om ‘n teorie te staaf.

Die rol van profete

Groot misbruik word van buite-Bybelse profete gemaak wat volgens hulle eie aansprake inligting oor die toekoms by die Here gekry het en dit dan aan mense bekend maak. Die feit is dat alle profetiese inligting wat die Here oor die toekoms aan ons bekend wou maak, reeds in die Bybel opgeteken is. Ná die jaar 95 n.C. toe die apostel Johannes sy gesigte oor die eindtyd op die eiland Patmos ontvang het, was daar nie weer profete van hierdie aard nie. Ons het van toe af die volle raad van God in sy Woord gehad (Hand. 20:27), en dit is die rede waarom geen verdere profetiese boeke of boodskappe sedert daardie tyd tot die Bybel toegevoeg is nie. Mense tree arrogant en aanmatigend op as hulle op direkte, buite-Bybelse openbarings van God deur drome en visioene aanspraak maak. Hulle soek ook altyd ‘n groot gevolg misleides wat hulle siening deel.
Dit is duidelik dat sulke mense se profesieë nooit almal uitkom nie. Hierdie profesieë is meesal só vaag en kripties dat hulle op verskillende tye en maniere vervul kan word. Baie spekulasie en verbeeldingskrag is nodig om te probeer verstaan wat die siener bedoel het. In elk geval is verskeie van Oom Siener se profesieë, veral dié wat aan tye soos die einde van die eeu gekoppel is, nie vervul nie.
Mense soos hy vat ‘n groot kans om hulleself as profete van die Here voor te doen nadat die Bybel klaar geskryf is. Selfs in Bybelse tye toe daar wél profete was, is hulle aan streng standaarde onderwerp omdat daar baie valse profete was: “As die profeet in die naam van die Here spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie” (Deut. 18:22). Daar moet geen ontsag vir sy profesieë wees nie.
Die drome en naggesigte wat mense het, kom gewoonlik uit hulle eie gedagtes. Persone wat baie oor die Bybel of oor die toekoms dink, sal natuurlik ook by geleentheid daaroor droom. Dit beteken egter nie dat die Here met hulle gepraat het nie. Indien hulle dit wel beweer, dan begewe hulle hulself in troebel waters. Die Here sê: “Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!” (Jer. 23:25). Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 1159) sê oor hierdie teks: “The prophets claimed that God had given them revelation in a dream, but their visions were only delusions of their own minds.”
Ons het nie die opdrag om drome en visioene te verkondig nie – net die Woord: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2). Sommige mense (hoofsaaklik charismate) beroep hulleself op Handelinge 2:17 wat meld dat daar in die laaste dae mense sal wees wat gesigte sien en drome droom. Dit is egter ‘n profesie oor Israel (Joël 2:28) wat net gedeeltelik op pinksterdag in vervulling gegaan het. Die volle vervulling hiervan sal in die verdrukking wees wanneer “die son verander sal word in duisternis en die maan in bloed” (Joël 2:31). In daardie tyd sal die woord van die Here baie skaars wees (Amos 8:12), daarom sal Hy sy wil weer op bonatuurlike maniere aan sy voortvlugtende volk, Israel, bekend maak.
Ons hét egter die Woord van God en ook ‘n wolk van getuies oor die groot weldade van die Here (Heb. 1:1; 12:1). Dit hoef nie deur profete se drome en visioene aangevul te word nie. As ons die Woord van die Here ken, dan sal ons as mense van God volkome wees, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:16-17). Die profetiese woord in die Bybel sal ons pad verlig sodat ons sal weet waarop die wêreld afstuur en hoe die Here sy kerk uit die komende verdrukking sal red (2 Pet. 1:19). As ons ‘n profetiese bediening oor die eindtyd wil hê en mense wil waarsku oor die toorn wat aan die koms is, dan is ons slegs op die Bybel aangewese. Mense moet geleer word om Bybelse profesieë te bestudeer en reg te verstaan – nie die profesieë van ander mense nie.
Dit is opvallend dat die Israelvisie in hierdie bangmaak-artikel na Siener van Rensburg en Johanna Brandt se profesieë verwys, maar nie na Johannes, Paulus, Jesaja en Daniël se profesieë oor die eindtyd nie, en ook nie na die Here Jesus se profetiese rede waarin Hy baie inligting oor die tyd voor sy wederkoms gee nie. Dit is die hele rede waarom hulle op ‘n dwaalspoor is en hoogstens verwarring by mense kan skep. Wil hulle hê al die blankes in hierdie land moet nou aan ‘n selfopgelegde vreeskompleks begin ly en met bewing op Mandela se dood wag?

Die profetiese woord

Daar is groter probleme as die swart gevaar waarteen mense in hierdie land gewaarsku moet word. Daar is ‘n sondekultuur besig om oor die hele wêreld te spoel, en dit is teen sonde en verlorenheid dat mense in die eerste plek gewaarsku moet word. Mense se ongeredde toestand, die duiwel wat hulle verlei en versoek, hulle vleeslikheid, vormgodsdienstigheid en wêreldgesindheid, is die dinge wat hulle in ‘n donker put aftrek en na die verderf sleep. Hieruit moet hulle gered word, of hulle lewens fisies deur allerlei ander dinge bedreig word of nie.
As ons na gevaar wil kyk, dan is die heel grootste gevaar die komende verdrukking wanneer die Antichris ‘n skrikbewind oor die hele aarde sal voer (Op. 13:1-8). Die Here Jesus het gesê dat daar ‘n groot verdrukking kom soos daar nog nooit op aarde was nie, en as daardie dae nie verkort word nie, sal geen vlees gered word nie (Matt. 24:21-22). Saam met die waarskuwing oor die komende verdrukking moet egter ook die oplossing verkondig word: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Die Here bied aan sy kinders ontvlugting.
Wanneer ons profesieë uit die Bybel verkondig, dan kan alle mense daarmee identifiseer en ook die nodige stappe neem om hulle verhouding met die Here reg te kry. Dit sal ‘n positiewe gevolg in mense se lewens hê. Om egter twyfelagtige drome en visioene te verkondig oor sake wat nie eers in die Bybel genoem word nie, kan net verwarring en onsekerheid skep.
Die profesieë van Oom Siener, Johanna Brandt, Nostradamus en ander is nie God se woord nie, en dit sal nie help om geloofwaardigheid daaraan te probeer gee nie. In elk geval dui sekulêre gebeurtenisse in ons land nie op so ‘n bloedbad in die nabye toekoms nie. Die ANC-regering geniet die voordele van kapitalisme, die geld loop in dik strome deur hulle koffers, hulle huise word al hoe luukser en hulle motors al hoe blinker, hulle populariteit in die wêreld raak al hoe hoër, en feitlik daagliks is die wêreldbeker-koors vir 2010 se sokkerkampioenskappe besig om hulle beet te pak en ‘n blye verwagting by almal te skep. Wie wil nóú die ekonomie verwoes deur die gans wat die goue eiers lê, nek om te draai en die appelkar om te keer? Waarom sal die volksmoorde van diktators soos Hitler, Stalin, Idi Amin en Dingaan as ‘n oplossing nagestreef word? Hoe kan die swartes daarby baat, want die blankes onderdruk hulle nie?
Probleme waarmee daar wél rekening gehou moet word, is die morele verval soos die aanvaarding van homoseksuele huwelike, prostitusie, aborsie, drankmisbruik, dwelmmisbruik, korrupsie, geweldsmisdade soos aanrandings op vroue, kinders, bejaardes en gesinne op eensame boereplase, diefstal, inbrake en baie ander vergrype. Hierdie dinge is ‘n rede tot kommer, asook die feit dat die doodstraf afgeskaf is en moordenaars en verkragters geen vrees meer vir die gereg het nie.
Laat ons ons toevlug tot die Here neem en Hom vertrou om ons daagliks te lei, te beskerm en van die Bose te bewaar. Laat ons in heiligmaking toeneem en die Here Jesus verwag wat ons sal uitred uit die uur van beproewing wat oor die hele wêreld sal kom. Dit sal veel erger wees as vlamme wat dalk iewers uit ‘n graf sal opslaan om ‘n vlaag onluste in Suid-Afrika aan die gang te sit oor ‘n swart vryheidstryd wat reeds verby is.

Vir meer besonderhede oor die Israelvisie, lees gerus: Die Verbondsvolk Israel: Wie is Hulle?  -  www.bibleguidance.co.za 

Vind nog interessante artikels op my blog.


No comments:

Post a Comment