DIE SONDES EN BEGENADIGING
VAN ISRAEL
LESSE UIT DIE
BOEK RIGTERS
EN DIE
VOORSKRIFTE VAN DIE LEVITIKUS
Stes de Necker
Inleiding
Die naam van die boek
“Rigters” is ʼn direkte vertaling van die Hebreeuse woord sjafat, wat bestuur of regspraak beteken, en beskryf die
geskiedenis van Israel na die dood van Josua tot en met die salwing van Saul as
eerste koning van Israel.
Alhoewel
daar in Engels verwys word na “The Book of Judges”, was die Rigters egter nie,
juridies gesproke, regters nie, maar mense wat die volk met reg en geregtigheid
kon lei.
God
wou gehad het dat Sy volk volgens Sy wet en die profete leef, maar die
Israeliete het gereeld van hulle geloof in God afvallig geraak.
As
gevolg van hulle afvalligheid het God hulle telkens in die hande van vreemde
moondhede laat val, en wanneer hulle dan weer spyt gekry het oor hulle
afvalligheid , het God ʼn leier, of Rigter, gestuur om hulle van daardie
onderdrukking te verlos.
Die
boek Rigters handel oor hierdie afvallige tydperk in die vroeëre geskiedenis
van die Israeliete en verduidelik in besonder die feit dat God wil hê Sy
kinders moet Hom en Hom alleen dien; daar is geen plek vir gedeelde lojaliteite
nie.
Alhoewel
die boek Rigters die geskiedenis van die volk Israel na die dood van Josua tot
met die salwing van Saul as eerste koning beskryf, is dit in die eerste plek
nie ʼn geskiedenis boek nie, maar eerder bedoel om die lesse wat uit die
geskiedenis te leer is, te beskryf.
Die
Israeliete kon nie die “teokrasie” (God se heerskappy), aanvaar nie, en het God
as redder eerder as die “wetgewer” gesien. Laasgenoemde was die grootste sonde
van die Israeliete gedurende die tyd van die Rigters.
Verder
is dit belangrik om daarop te let dat hierdie tydperke van afvalligheid en
bekering oor dekades gestrek het en nie in die bestek van enkele jare
plaasgevind het nie. Daar was dus genoeg
tyd om telkens weer in sonde te verval.
Die
tydperk van die Rigters het volgens Paulus (Handelinge 13: 20), nagenoeg 450
jaar geduur. Paulus praat van “omtrent” terwyl daar in 1 Konings 6: 1, verwys
word na die tydperk “Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit
Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy
begin bou aan die tempel van die Here”. Laasgenoemde sou dus beteken dat die
tydperk van die Rigters nagenoeg 380 jaar geduur het.
20 Jaar
langer as wat daar blankes aan die Suid-punt van Afrika is!
Die Rigters
Otniël
was die eerste rigter van die Israeliete na die dood van Josua. Hy was die
skoonseun van Kaleb, een van die verkenners wat die land Kanaän moes verken.
Die
Israeliete het vir agt jaar as slawe onder die Koning van Mesopotamië gewerk.
Otniël het die volk bevry en daarna het die Israeliete vir veertig jaar vrede
beleef.
Na die
dood van Otniël het Ehud rigter geword. Israel het weer van God afvallig
geraak, en die Israeliete is vir agttien jaar in ballingskap weggevoer deur die
Moabiete.
Die
volk het weereens spyt gekry en vir Ehud gevra om hulle van die ballingskap te
bevry. Ehud was uit die stam van Benjamin.
Nadat
Ehud die koning van die Moabiete vermoor het, het hy, met die hulp van Efraim,
die Moabiete verslaan. Daarna het die Israelite vir tagtig jaar vrede beleef.
Die
verhaal van Samgar, die derde rigter, word net in Rigters 3: 31 na verwys.
Hiervolgens het hy die Israeliete van die onderdrukking deur die Filistyne
verlos het toe hy 600 Filistyne met ʼn sweepstok doodgeslaan het.
Die
volgende rigter, Barak, is deur die profetes Debora, beveel om ʼn leër saam te
stel om die koning van die Kanaäniete, Jabin,
wat die volk vir twintig jaar verdruk het, aan te val.
Barak
stem toe in, maar sê hy sal slegs gaan as Debora saamgaan.
Die
oorwinningslied van Debora word beskryf in Rigters hoofstuk 5.
Na die
oorwinning oor die Kanaäniete beleef die Israeliete vrede vir ʼn tydperk van
veertig jaar.
Na
Barak word Gideon, uit die stam van Manasse, rigter oor Israel. Die
verhaal van die Gideon’s bende, toe Gideon die Midianiete met slegs drie
honderd man verslaan het, is wel bekend . Onder leiding van Gideon, het die
Israeliete veertig jaar vrede beleef.
Na die
dood van Gideon het Tola rigter van Israel geword en die Israeliete vir twintig
jaar gelei.
Tola is opgevolg deur Jair,
wat met behulp van sy dertig seuns Israel gelei het.
Jair is opgevolg deur Jefta,
wat ʼn belofte afgelê het dat hy die eerste wat uit sy huis sou uitkom, sou
doodmaak. Met sy terugkeer by die huis, het sy dogter eerste by die huis
uitgekom om hom te groet. Jefta hét toe met haar gehandel volgens sy gelofte wat
hy afgelê het. Jefta het die Ammoniete, wat Israel vir agttien jaar onderdruk
het, verslaan. Hy was ses jaar lank rigter van Israel.
Ibsan, Elon en Abdon, het
opeenvolgend rigters van Israel
geword. Daar is egter nie veel oor hulle
bekend nie.
Ibsan was sewe jaar rigter van
Israel, Elon was tien jaar rigter van Israel, en Abdon was agt jaar rigter van Israel.
Na veertig jaar se
onderdrukking deur die Filistyne, het Simson rigter geword. Met sy geboorte het
God beveel dat sy hare nie afgesny mag word nie; hy mag aan niks vat wat reeds
dood is nie, en hy mag geen wyn gedrink het nie.
Simson verbreek egter al drie
hierdie beloftes. Hy word deur die Filistyne in die tronk gestop, toe hy nie
meer oor sy brute krag beskik het nie, maar toe sy hare terug gegroei het,
breek hy die pilare van die Filistyne se tempel van Dagon, en sterf saam met
drie duisend Filistyne wat ook in die tempel was.
Tot en met sy dood was Simson
vir twintig jaar ʼn rigter van Israel.
In 1 Samuel word beskryf dat
Eli, die Hoё priester, en die profeet Samuel ook rigters van die volk Israel was. Die
goddelose seuns van beide hierdie rigters, het egter tot hulle ondergang gelei.
Na die profeet Samuel wou die
Israeliete nie meer onder die leiding van die rigters wees nie en het
aangedring op ʼn koning om hulle te lei.
God het toe vir Saul laat salf
as koning.
Dit is interessant om daarop
te let dat nie een van die Rigters uit die stam van Juda gekom het nie. Die
enigste afleiding wat gemaak kan
word is dat Juda bestem was vir die Konings, en meer spesifiek Jesus, wat later
sou kom.
Opsomming
Israel was vir 8 jaar onder die slawerny van die
Mesopotamiërs. Na hulle verlossing deur Otniël
beleef die Israeliete veertig jaar vrede.
Daarna
was Israel vir 18 jaar as
bannelinge na Moab
weggevoer. Na hulle verlossing onder Ehud, beleef hulle vir tagtig jaar vrede.
Na
Ehud verlos Samgar die Israeliete van die verdrukking deur die Filistyne.
Daarna
word die volk vir twintig jaar deur die Kanaäniete regeer.
Na die
oorwinning oor die Kanaäniete deur Barak, beleef die Israeliete weer veertig
jaar vrede.
Nadat
die Israeliete onder Gideon, die Midianiete verslaan het, beleef hulle wéér vrede
vir ʼn tydperk van veertig jaar.
Na veertig jaar se
onderdrukking deur die Filistyne, word Simson rigter van Israel en verlos hy
die Israeliete van dié onderdrukking.
Gedurende die tydperk van die
Rigters het die Israeliete dus vir vyf tydperke van veertig jaar
(aaneenlopend), vrede beleef. Gedurende dieselfde tyd het die Israeliete vir
altesaam 111 jaar onderdrukking gelei.
In 587 VC. word die Israeliete
deur koning Nebukadnesar in ballingskap na Babilon
weggevoer.
Betekenis van hierdie beskouing
1. God is genadig maar straf sonde
Uit die voorafgaande opsomming
sien ons dat God, gedurende die tyd van die Rigters, sy volk vir vyf tydperke
van veertig jaar, vrede laat beleef het, en vir een tydperk van veertig jaar
onder die verdrukking van die Filistyne laat leef het. Die Israeliete moes
sekerlik terug gedink het aan die veertig jaar wat hulle voorgeslagte in die
woestyn moes deurbring as gevolg van hulle sondes. Trou aan hulle tradisie, kon
(of wóú) die Israeliete egter nie God se boodskap aanvaar nie.
Maar God is ʼn genadige God wat
Sy kinders keer op keer vergewe. Gedurende die tydperk van die Rigters het God
sy volk sewe keer begenadig en uit die hande van hulle onderdrukkers gered.
In Matteus 18: 21 vra Petrus
vir Jesus: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds
teen my doen? Selfs sewe keer?” Dan in vers 22 antwoord Jesus hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs
sewentig maal sewe keer.” Hoeveel te meer sal God dan nie sewentig maal sewe
keer vergewe nie. God is lankmoedig en genadig, maar dit beteken ook nie dat Sy
genade onbepaald aanhou nie!
In 1990, toe die Suid
Afrikaanse regering se apartheidsbeleid sy toppunt bereik het, was die blanke
bevolking van Suid Afrika ook 3,6 milj. mense. Die apartheidsbeleid het miljoene
mense, waarvan die oorgrote meerderheid Christene was, gemarginaliseer en
verontreg. Voor 1994 het selfs die Kerk, soos talle ander nie-regerings liggame
en instansies, ook die beleid van rassediskriminasie ondersteun en selfs, in
sekere gevalle, skriftuurlik regverdig!
Die verkiesing van 1994, toe Suid Afrika onder ʼn swart
kommunisties- en sosialisties geïnspireerde meerderheid regering beland het,
behoort vir elke Christen-gelowige in Suid Afrika van baie groter en dieper
Christelike, eerder as politieke, betekenis te wees. Ongeregtigheid, en
nie ras, kleur of enige politieke ideologie, is by die stembus verslaan.
2. Wetteloosheid en sonde gaan hand aan hand
In die laaste hoofstukke van
die boek word dit duidelik dat daar "in daardie tyd nog nie 'n koning in Israel was nie,
elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë" (Rig. 17: 6; 21: 25; 8: 1;
en 19: 1). Hierdie siening, om te doen “wat reg is in sy eie oё”, het
veroorsaak dat die tyd van die Rigters die mees goddelose tydperk in die geskiedenis van Israel was.
Vir ons wat in 2012 in Suid Afrika leef moet dit ʼn baie groot les wees.
Mense in Suid Afrika wat net
doen wat ook al reg is in hulle eie oё, is die grootste oorsaak dat ons vandag
te kampe het met soveel misdaad. Daar gaan nie ʼn dag verby dat die media nie
berigte oor moord; roof; verkragting; aanranding; aborsie; ontug; prostitusie; korrupsie;
bedrog; diefstal ens, bevat nie. Barbarisme; Gods lasterlike uitsprake; sosiale
euwels; homoseksualiteit; aanvalle op die Christelike leer en openlike
uitdaging van die gesag van God, is aan die orde van die dag.
In ʼn land soos Suid Afrika,
wat daarop aanspraak maak dat 80% van die bevolking Christene is, moet daar
iets ernstigs verkeerd wees as die land se Grondwet nie meer God as die enigste
en ware God erken nie, en as die wetgewers, op nasionale en provinsiale vlak,
te “sensitief” is om hulle sittings in die naam van die Here te open. Die bede
van die grondwet dat God die mense van Suid Afrika sal seën en beskerm, beteken
niks solank Hy nie as die ware en enigste God erken en bely word nie.
Suid Afrika het vandag nog steeds ʼn minderheid-regering! Die
verskil is net dat dit nie meer ʼn regering is wat op rasse-grondslag gebaseer
is nie, maar op geloofs-grondslag. Die Christendom, wat verreweg die grootste
is en die meerderheid van die bevolking verteenwoordig, word deur ʼn minderheid heidene,
wat met ʼn sosialisties geïnspireerde wêreldbeskouing van sekulêre humanisme en
radikale liberalisme, regeer.
Die mens het belangriker as God geword.
As ons Suid Afrika (en onsself persoonlik) beoordeel aan die hand
van die huidige praktyke in hierdie land, dan moet ons erken dat die toestand
in Suid Afrika vandag ʼn spiёlbeeld is van Israel gedurende die tyd van die
Rigters!
3. Grondslag van die Suid Afrikaanse Regstelsel -
Voorskrifte van Levitikus
Meeste van die primêre elemente van die Westerse Gemenereg is
gegrond op die Mosaïese wet en die Tien Gebooie. Die Engelse regstelsel (soos
aangepas en gewysig) was oorspronklik grotendeels geskoei op die verordeninge
van die Pentateug. In die Ratcliff saak, (3 Coke Rep. 40, b.) het die Engelse
“Privy Council” die volgende gesê: “in almost all cases, the common law was
grounded on the law of God, which it was said was causa causans”.
In
die saak, Die Staat vs. Chandler, {2 Harr. 553 at 561 (1837)} verwys die Engelse Hof na
hoofstuk 27 van die Boek Numeri, om aan te toon dat die uitspraak, wat gehandel
het oor erfreg, gebaseer was op die Mosaïese wet.
In “The Decalogue and
U.S.
Law” word na die Tien Gebooie verwys as: “These commandments are not directed toward the state, but to you
as an individual. Nevertheless, governments in the Common Law tradition have
indeed sought to enforce the Ten Commandments, all ten of them, and encourage
obedience to them, and America
is no exception, the Constitution no barrier.”
Tydens Amerika se Vloot dag viering van 27 Oktober 1945, het
President Harry Truman gesê: “The Ten
Commandments themselves have not yet been universally achieved
over these thousands of years. Yet we struggle constantly to achieve them, and
in many ways we come closer to them each year.”
Op 23 Augustus 1957, by geleentheid van die herdenking van die
Joodse Heilige Dae in Amerika, sê President Eisenhower die volgende: “The
blessings of life and the freedoms all of us enjoy in this land today are based
in no small measure on the Ten
Commandments which have been handed down to us by the religious
teachers of the Jewish faith.”
In Suid Afrika geld die Romeins-Hollandse Gemenereg, wat ʼn
kombinasie van die Romeinse- en Nederlandse regstelsels is.
Voor 451 v.C. het die sogenaamde ius civile Quiritium, of Romeinse Siviele reg, in Rome gegeld. In 451 v.C. stuur Rome ʼn afvaardiging na
Griekeland onder leiding van die Griekse uitgewekene en filosoof, Herodotus, om
die wette van Sparta, Kreta en Athene te bestudeer (Sogenaamde decemviri leibus
scribundis).
Die Griekse filosoof Philo – 20 v.C. tot
50 n.C. - ook
bekend as “Philo van Alexandrië”, beskryf in sy werk Vita Mosis, (Lewe van Moses) hoedat die Griekse regstelsel deur die
Mosaïese wet beïnvloed is. Die Romeinse sending lei tot die uitvaardiging van
die “Wet van die Tien Tafels” van Rome, in 450 v.C. Die naam van die wet is
afgelei van die tien brons tafels wat vir openbare kennisname op die muur van
die Tempel van Jupiter Optimus Maximus (Capitolini
Heuwel in Rome), aangebring was. Hierdie kodifisering was nie bloot ʼn oorerwing
van die Griekse regstelsel nie, maar eerder ʼn aanpassing van die Romeinse Reg,
met dit wat voordelig in die Griekse regstelsel was. Op daardie stadium het hoofsaaklik
die sogenaamde “Draco” wette, (621 v.C.) en die “Solon” wette, (550 v.C.) in
Griekeland gegeld. Die term “drakonies” kom juis van die naam “Draco”.
Kort na die verskyning van die Wet van die Tien Tafels in 450 v.C.
verskyn nog twee tafels van die wet in 449 v.C. en hierdie kodifikasie van die
reg staan bekend as die “Romeinse Wet van die Twaalf Tafels”. Hierdie Wet het
deur die eeue heen gedien as grondslag vir alle wetgewing wat na die tyd in
Rome ontwikkel is, tot en met die kodifikasie van die Romeinse Reg deur Keiser
Justinianus in 529 – 534 n.C. (Sogenaamde Corpus
Juris Civilis) Die Suid Afrikaanse Gemenereg, wat Konstitusioneel in die
Suid Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996) verskans is, lê dus diep gewortel
in die Tien Gebooie en die wet van Moses.
Nie alle gemeenregtelike bepalinge is egter histories op die
Bybelse voorskrifte gebaseerd nie. So byvoorbeeld is die westerse
gemeenregtelike verbod op poligamie (veelwywery) nêrens in die Ou Testamentiese
verordeninge vervat nie. In die Suid Afrikaanse Inheemse reg word poligamie ook
nie verbied nie. Hierdie bepalings, wat as post-klassieke gemenereg bekend
staan, is behoefte gebaseerd, m.a.w. bepalinge om die goeie orde in die
maatskaplike samelewing te beskerm. (boni
mores)
Die Suid Afrikaanse regstelsel is nie maar net ʼn blote skepping
van Suid Afrika se Wetgegewers nie. Die Regstelsel is, oor dekades heen, gegrondves
in die Wet van God, en as sodanig behoort dit vir elke gelowige dieselfde
status en erkenning te geniet as wat die Wette van die Ou Testament geniet het.
Om die landswette te verontagsaam, beteken dat ons ook die verordeninge van God
wat daarin vervat is, verontagsaam.
Elkeen wat glo in die oppergesag van God, moet gevolglik ook die
gesag van die reg erken.
In Hebreërs 8: 10 sê God: “Ek sal hulle my wette in die verstand
gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe.” As dié in Suid Afrika, wat nie eers die
landswette, wat geregtelik afdwingbaar is, eerbiedig nie, hoeveel te meer
verontagsaam hulle dan die Wet van God wat in hulle verstand en harte behoort
te wees.
Net soos wat alle landswette
nagekom moét word, net so is die Wet van God nie aan willekeur oorgelaat nie.
Dit is daar om nagekom te word!