Postings

Sunday 28 October 2012

Het die getalle van Numeri nog betekenis vir ons in 2012?



DIE GETALLE VAN NUMERI


                                                                                                 Stes de Necker



Die boek Numeri handel hoofsaaklik met die geskiedenis van die Israeliete tydens die uittog en gevolglik wil dit vreemd voorkom dat daar soveel, oënskynlike, nuttelose statistieke en familie registers in die boek beskryf word.

Wanneer hierdie inligting egter sistematies uiteengesit en geanaliseer word, kom ʼn mens agter dat die boek Numeri waardevolle agtergrond inligting bevat wat veroorsaak dat ons die Nuwe Testament soveel beter kan begryp en waardeer.

Volgens Fig. 1, is dit insiggewend dat 603,550 manlike Israeliete Egipte verlaat het en na veertig jaar se omswerwinge in die woestyn, 601,730 manlike Israeliete die tog oorleef het. Dit was nadat bykans 3,000 gesterf het toe hulle die beeld van die goue kalf begin aanbid het en nog 250 wat deur die aarde ingesluk is toe van die leiers van die volk in opstand teen Moses gekom het. Ons lees van nog sterftes maar ongelukkig word die getalle nie aangedui nie.

As ons in gedagte hou dat slegs 17 dae op die trek self spandeer is en altesaam 39 jaar en 348 dae in kampe deurgebring is, kan ʼn mens seker verstaan dat die Israeliete soms in opstand gekom het! 

Soos reeds gesê handel die boek Numeri met die geskiedenis tydens die uittog, maar van groter belang skets die boek vir ons die agtergrond waarteen die koms van Christus, en die verlossing deur die genade verbond, gesien moet word.

Christus, uit die stam van Juda, is eers 1,446 jaar na die uittog uit Egipte, gebore.

Gedurende hierdie tyd het die Israeliete pal onder die “Mosaïese wet” geleef, wat beteken het dat, soos Galasiërs 3: 10 dit stel: “…almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: ‘Daar rus ʼn vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.”

Enigeen wat al die boek Levitikus gelees het, sal weet wat se enorme verantwoordelikheid dit op elke Israeliet geplaas het. Dit maak ons net meer dankbaar vir die Genadeverbond wat ons Here Jesus Christus vir ons bewerk het.

Bykans 1,480 jaar nadat God die Tien Gebooie aan Moses gegee het, sterf Christus vir ons sondes aan die kruis, sodat ons nie verlore sou gaan weens die vloek van die sonde nie, maar die ewige lewe kan hê.

Toewysing van die grondgebied van Kanaän

     

In Numeri 26: 52 staan daar: “Daarna het die Here vir Moses gesê: ‘Verdeel nou die land tussen die families en gee aan elkeen ʼn eiendom volgens sy grootte.” Josua 14 gee ʼn volledige oorsig van die grondgebied wat elke stam ontvang het. Volgens Numeri 26: 65 het nie een van die Israeliete, vir wie die Here gesê het dat hulle beslis in die woestyn sou sterf, oorgebly nie behalwe Kaleb, seun van Jefunne en Josua, seun van Nun.

Die land Kanaän is soos volg aan die Israeliete toegeken:
1. Manasse
Die helfte van die stam van Manasse het verkies om aan die oostekant van die Jordaan te bly.
Altesaam 7 families bestaande uit 52,700 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 252,960)

2. Naftali
Die stam van Naftali is die gebied wes van die See van Galilea toegeken.
Altesaam 3 families bestaande uit 45,400 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 217,920)

3. Aser
Die stam van Aser is die gebied aan die kus van Israel toegeken.

4. Sebulon
Die stam van Sebulon het die heuwel gebied, tussen die See van Galilea en die see, ontvang.

5. Dan
Die stam van Dan is oorspronklik ook ʼn gebied aan die kus toegeken. Hulle kon egter nie daarin slaag om die Filistyne, wat reeds daar gewoon het, uit die gebied te dryf nie, en het uiteindelik die mees noordelik gebied van Israel beset.
Slegs 1 familie bestaande uit 64,400 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 309,120)

6. Issaskar
Issaskar het die gebied, wat die valley van Jisreёl ingesluit het, ontvang. Die bekende stad Megiddo was in dié gebied geleë.
Altesaam 4 families bestaande uit 64,300 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 308,640)

7. Efraim
Die stam van Efraim het die sentrale berggebied van Israel ontvang.
Altesaam 4 families bestaande uit 64,300 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 308,640)

8. Benjamin
Die stam van Benjamin, wat bykans uitgewis is deur die ander stamme (Rigters 19, 20 en 21) maar die aanslae oorleef het, het die gebied tussen die van Juda en Josef, gekry. Die eerste koning van Israel, Saul, was uit die stam van Benjamin.
Altesaam 5 families bestaande uit 45,600 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 218,880)

9. Juda
Die stam van Juda is die grondgebied wat die stad Bethlehem insluit toegeken. Koning Dawid is in die stad Bethlehem gebore en so ook die familie van Rut, wat later met Boas getroud is.
Altesaam 5 families bestaande uit 76,500 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 367,200)

10. Simeon
Die stam van Simeon is die gebied langs die van Juda toegeken wat die stad Berseba ingesluit het.
Altesaam 5 families bestaande uit 22,200 man het hier gevestig. (Totale aantal mense 106,560)

11. Ruben
Die stam van Ruben het ook verkies om oos van die Jordaan te bly.
Die stam Ruben het bestaan uit 3 families en 43,730 man. (Totale aantal mense 209,904)

12. Gad
Die stam van Gad het ook verkies om oos van die Jordaan te bly.
Die stam Gad het bestaan uit 7 families en 40,500 man. (Totale aantal mense 194,400) 

Ander volke wat reeds in die land van Kanaän woonagtig was, was die Fenisiërs, Filistyne, Edomiete en afstammelinge van Esau se broer Jakob.

In total het 52 families bestaande uit 578,730 man dus in Kanaän gevestig, en so is dan volbring die belofte wat God, bykans ses honderd jaar voor die intog van die Israeliete in Kanaän, aan Abraham gemaak het en waarvan ons lees in Genesis 12: 1 “Die Here het vir Abraham gesê: ‘Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys…..”

Die Israeliete was vir vier honderd en dertig jaar in Egipte en daarna het hulle nog veertig jaar in die woestyn geswerf, m.a.w. altesaam vier honderd en sewentig jaar nadat hulle in Egipte gekom het.

Tydens die Israeliete se trek vanaf Rameses tot by Jerigo, het hulle vier en veertig keer kamp opgeslaan.

Volgens Numeri 1: 44, was daar altesaam 603,550 manlike Israeliete, van 20 jaar en ouer, (uitgesonderd die Leviete) aan die begin van die uittog uit Egipte. Volgens die getalle van Numeri 26, het daar 601,730 Israeliete by die Jordaanrivier aangekom. Bereken teen die huishouding grootte van 6 mense, beteken dit dat 3,610,380 Israeliete die beloofde land bereik het.



Fig. 1

In 1990 was Suid Afrika se totale wit bevolking 3,6 Miljoen!

Betekenis van hierdie beskouing

Jan van Riebeek het drie honderd en sestig jaar gelede in 1652 aan die Kaap geland. Vir ons wat vandag in 2012 in Suid Afrika leef, moet die geskiedenis van Israel sekerlik ʼn les wees.

God het nie Sy Seun verniet na hierdie aarde toe gestuur nie. God het die Christene van Suid Afrika ʼn land gegee om in te woon. Aangesien ons nie meer onder die wet lewe nie, maar onder die genade van Jesus, beteken dit nie dat ons wetteloos of met onbeteuelde vryheid kan lewe nie. In Jakobus 2: 14 staan daar: “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ʼn geloof ʼn mens red?” en verder in vers 17: “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”

Aangesien ons slegs deur die geloof in Jesus vrygespreek kan word, sal daardie geloof dood wees as dit nie tot dade oorgaan nie. Daarom skryf Jakobus in vers 24: “Julle sien dus dat ʼn mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie nét op grond van sy geloof nie.”

Voordat die Israeliete die beloofde land ingegaan het, lees ons in Deuteronomium 28: 15 die volgende: “As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref”….…en dan vers 41: “Jy sal seuns en dogters hê maar jy sal hulle nie behou nie, want hulle sal as ballinge weggevoer word.”

Nadat die Israeliete Kanaän ingetrek het, het hulle (soos gewoonlik) voortgegaan met hulle sondes en in 587 v.C. verower Koning Nebukadnesar Jerusalem, verwoes die tempel en voer die Israeliete as ballinge na Babilon weg.

Sedert 587 v.C. is Israel regeer deur Babiloniese-, Persiese-, Griekse-, Romeinse- en Bisantynse heersers. (In die moderne geskiedenis selfs die Britse Ryk). Die eerste ballingskap het plaasgevind 859 jaar nadat Israel die beloofde land beset het!

As ons kyk na wat vandag besig is om in Suid Afrika te gebeur, wil dit voorkom of die blankedom vinnig op pad is om, soos die Israeliete van ouds, bannelinge in hulle eie land te word.

Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek  http://stesdeneckers.blogspot.com


No comments:

Post a Comment