DIE GODDELIKE DRIE EENHEID
Waar het die begrip ontstaan
Waar het die begrip ontstaan
Stes de Necker
Inleiding
Nêrens in die Bybel staan daar spesefiek
dat die Vader, Seun en Heilige Gees, ʼn Drie-eenheid is nie. Sovêr bekend is die
term “Drie-eenheid” die eerste keer gebruik deur Tertullianus (150-225 n.C.),
die sogenaamde vader van die Latynse teologie, maar dit is eers in 350-450
n.C. in die Latynse vertaling van die Bybel (Vulgaat) opgeneem, waarskynlik as
gevolg van die St. Jerome manuskripte van die Bybel. (Hy was onder andere ook
verantwoordelik vir die skryf van die Vulgaat) Dit was eers tydens die Eerste
Ekumeniese Konsilie van Nicéa (325 n.C. ),
wat die begrip van ʼn Goddelike Drie-eenheid, amptelike teologiese beslag gekry
het.
Antwoord
25 van die Heidelbergse Kategismus, gee wel vir ons die antwoord op die vraag:
“Terwyl daar maar tog net een, enige
Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige
Gees ?” (Antwoord: Omdat God Hom
so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige,
ware en ewige God is), maar die kategismus gee ongelukkig nie vir ons ʼn
antwoord op die vraag, hoé, hierdie drie onderskeie Persone as een enkelvoudige
“eenheid” verstaan moet word nie!
Eenheid in die Ou Testament
In Deuteronomium 6: 4 lees ons: “Luister , Israel ,
die Here is ons God, Hy is die enigste Here.”
(“Sh’ma Yis’ra’eil Adonai Eloheinu Adonai echad.” [Echad –
Hebreeuse woord vir “een”] “Hear, Israel , the
Lord is our God, the Lord is One.”)
Daar bestaan ʼn siening dat die Hebreeuse
woord “echad” in Deuteronomium 6: 4 na ʼn “saamgestelde eenheid” (composite or
compound unity) verwys en gevolglik kan die Drie-enigheid van God op hierdie
wyse bewys word.
ʼn Saamgestelde eenheid het ʼn
pluralistiese betekenis wat beteken dat die geheel uit ʼn verskeidenheid
afsonderlik identifiseerbare komponente bestaan wat gesamentlik ʼn eenheid vorm,
bv. een tros druiwe. Een druif-korrel verwys nie na die tros nie, en net so
verwys die woord tros nie net na een druif-korrel
nie.
Eenheid in die Nuwe Testament
Die Heidelbergse Kategismus verwys egter
na ʼn enkelvoudige eenheid in vraag 25 as dit sê “Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom
praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees ?”
Terwyl dit waar is dat die woord “echad”
na ʼn saamgestelde eenheid kán verwys, (net soos wat die woord “een” in
Afrikaans of “one” in Engels ook na ʼn saamgestelde eenheid kan verwys), bestaan
daar geen bewyse vir die siening dat die woord “echad” soos gebruik in
Deuteronomium, na ʼn saamgestelde eenheid verwys nie.
Die laaste persoon in die Drie-eenheid is die Heilige Gees.
Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis is die Heilige gees, net soos God en
Jesus, deel van die Drie-eenheid. In Artikel 11 staan daar: Ons glo en bely ook
dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie
gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde
die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese,
majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en
ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.
Terwyl ons dus glo dat God Drie-eenig is,
bely ons terselfdertyd dat Jesus opgevaar het na die Hemel, “en sit aan die
regterhand van God” ….? Hoe verduidelik ons aan ʼn jongmens, of ʼn
nie-christen, hierdie ooglopende paradoks?
Waar het die belydenis van ʼn Goddelike Drie-eenheid ontstaan
In die Nederlandse Geloofsbelydenis staan daar in Artikel 9: “Want
daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees,
en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en
die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.”
Hierdie belydenis was hoofsaaklik geskoei op 1 Joh. 5: 7-8 van die
Nederlandse State Bybel (1637) : (7) “Want
drie zijn er, die getuigen in den hemel, de Vader, het woord, en de Heilige
Geest; en deze drie zijn een. (8) En
drie zijn er, die getuigen op de aarde, de Geest, en het water, en het bloed;
en die drie zijn tot een.”
Ons vind ook dieselfde bewoording in die King James Bybel, (1 John
5 :7-8) : (7) ”For there are three that bear record in heaven, the
Father, the Word, and the Holy Ghost: and these three are one.” en (8) “And
there are three that bear witness on earth, the spirit, and the water, and the
blood: and these Three agree in one.”
Terwyl dieselfde bewoording ook in die ou vertaling van die
Afrikaanse Bybel (1953) voorkom, staan daar egter in die nuwe vertaling van die
Afrikaanse Bybel (1983): (7)“Daar is dus drie wat getuig: (8)die
Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen.”
In die ou vertalings, was vers 7 van 1 Joh. 5, een van die
belangrike verse van die Bybel aangesien dit die enigste vers in die Bybel was
op grond waarvan die bestaan van die Goddelike Drie-eenheid, teologies beslag
gekry het.
Die verwysing na die drie “getuies in die hemel”, verskyn egter
ook nie in enige van die oorspronklike manuskripte van die Griekse Bybel
(Vulgaat) nie. Volgens Bybelse historici is hierdie gedeelte moontlik bygevoeg
in die Latynse manuskripte van St. Jerome in die
jare 350-450 n.C.
Dit
was hoofsaaklik as gevolg van hierdie dwaling dat die Heidelbergse Kategismus
in vraag 25, vra: “Terwyl daar maar tog
net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader,
Seun en Heilige Gees ?” en dan antwoord: “Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het
dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.”
Die
weglating van “en hierdie drie is een” in vers 7 van 1 Joh. 5 in die nuwe
vertaling van die Afrikaanse Bybel is, histories, die mees korrekte weergawe
van wat die apostel Johannes oorspronklik in 1 Joh. 5: 7 geskryf het.
Die
historiese dwaling rondom vers 7 van 1 Joh, 5. maak egter nie ons belydenis en
geloof in die Goddelike Drie-eenheid vals nie. Daar bestaan nog steeds
voldoende verwysings in die Bybel waarop die leer van die Goddelike
Drie-eenheid gevestig is soos bv.:
Joh. 1: 1 en 14: (1) “In die
begin was die Woord daar en die Woord was by God en die Woord was God
self.” (14) “Die Woord het
mens geword en onder ons kom woon.”
Hand. 2: 17 “Ek sal my Gees uitstort op
alle mense.”
Fil. 2: 6 “Hy wat in die gestalte van God
was...” het aan mense gelyk
geword.
Jes. 42: 1 “Hier is My dienaar, Ek stel
hom aan. Ek laat my Gees op hom kom ...’
Wat
hou die begrip van ʼn Drie-eenheid vir ons as Christene in?
Die vraag wat ontstaan is: “Is daar iets
opgesluit in die begrip van drie-enigheid, in die geheimenis van die mens se
skepping na die “Beeld van God”? (Gen. 1: 27)
Die mens is ook ʼn drie-enige wese!
Ons bestaan terselfdertyd uit liggaam,
siel en gees, en wanneer die volmaakte gekom het, sal ons nog steeds uit ʼn
verheerlikte liggaam, siel en gees bestaan.
Is dit moontlik dat ons die “Beeld-draers
van God” is vanweë die feit dat daar nie nog ʼn maaksel soos ons bestaan wat op
enige wyse, enige ooreenstemming of gelykenis met die “Beeld” van God het nie,
of is ons, soos wat die Afrikaanse verklarende Bybel sê: Die mens
verteenwoordig God, letterlik soos ʼn beeld of afbeelding van Hom, hier op aarde.
In die antieke Romeinse tyd het die Keiser
dikwels standbeelde van homself in die afgeleë gebiede van die Romeinse Ryk
laat oprig om die bevolking daaraan te herinner dat hy die keiser is; die een
wat regeer. Dit is teen hierdie agtergrond dat die Afrikaanse verklarende Bybel
sê dat, net soos die beeld van iemand gegeld het as sy verteenwoordiger (alter
ego) in ʼn sekere gebied, net so verteenwoordig die mens God, as Heerser oor die
skepping.
Alhoewel
die Pentateug geskryf is tydens die ballingskap, nagenoeg 550 jaar voor
Christus, het die skrywers van die Pentateug in werklikheid net die mondelings
oorgedraagde geskiedenis, te boek gestel.
Die grootste gedeelte van hierdie teboekstelling, was die kopiëring of
óórskryf, van die Tien Gebooie en die Mosaïese wette, wat nóg ʼn verdere 900
jaar voor die ballingskap reeds beskryf is.
Hierdie wette was, onder andere, baie spesifiek en verbiedend oor die maak,
bestaan en gebruik van enige beelde.
(1)
Eks. 20:4 ”Jy mag nie vir jou ʼn beeld of enige afbeelding maak van wat
in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde
is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie ….” en in:
(2)
Deut. 7: 25 “…. die afgodsbeelde is afskuwelike goed in die oë van die
Here jou God.” en in:
(3)
Lev. 18: 3 “Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon
het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag
hulle gebruike nie navolg nie.” en verder in Lev. 20: 23 “Julle mag nie die
gebruike van die nasies wat ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie.”
Dit is
gevolglik uiters onwaarskynlik dat, toe die skrywers van Genesis in Gen. 1: 27
geskryf het : ”God het die mens geskep as Sy verteenwoordiger, as beeld van
God … ” hulle daarmee bedoel het dat die mens, God letterlik (soos ʼn
standbeeld van die keiser) op aarde moet verteenwoordig. Dit sou in werklikheid
beteken dat hierdie skrywers ʼn suiwer heidense gebruik, wat allerweë deur die
wet van Moses en die Tien Gebooie verbied was, in die Ou Testament sou invoer.
Die King James vertaling van Gen. 1: 27
lees: “So God created man in his own image, in the
image of God created he him; male and female created he them.”
Die
begrip “verteenwoordiger”, as sinoniem met die woord beeld of standbeeld, kom
nêrens in die Engelse of die Hebreeuse tekste van Gen. 1: 27 voor nie.
Die
Hebreeuse woord vir “beeld” (image) wat in Gen. 1:27 gebruik word is tselem (צלם)
wat beteken “skaduwee” of “afbeelding”.
M.a.w. dit beteken nie dat ons soos God lýk nie, maar dat ons ʼn skaduwee
van die aard en wese van die Godheid is. (Gen. 3: 22 “Die mens het nou soos
een van Ons geword …” )
Die mens as die tempel van God.
ʼn Verdere aspek wat in berekening gebring
moet word in die beskouing van die mens as ʼn drie-enige wese, gaan oor die mens
as die tempel van God.
Die tempel van die Jode is verwoes (70 n.C. ) en nou word die
méns, Jode en nie-Jode, die tempel van God.
In 1 Kor. 3: 16 sê Paulus: “Weet julle nie
dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?” en
verder in 1 Kor. 6: 19 “Of besef julle
nie dat julle liggaam ʼn tempel van die Heilige Gees is nie?”
Die Tempel het ook uit drie dele bestaan: die Voorhof, die Heilige en die
Allerheiligste. Die voorhof was die enigste gedeelte waar die gewone mense kon
ingaan.
Die Heilige en Allerheiligste gedeeltes
van die tempel was nie vir die gewone mens toeganklik nie en was van die
Voorhof geskei deur die “voorhangsel”. Net die priesters kon in die Heilige
gedeelte binnegaan en slegs die Hoë-priester kon net één maal per jaar, op versoeningsdag
(Yom Kippur), die Allerheiligste binnegaan.
Met Jesus se versoenings-dood skeur die
voorhangsel in twee, en kry die mens toegang tot God (die Heilige en
Allerheiligste) deur Jesus Christus.
Indien ons die Bybel se beskrywing van “na
die beeld van God” eerder sien as die figuratiewe ooreenkoms met die Drie-enige
aard van die Godheid, (die “beeld” van God) dan kry die versinnebeelding van
die mens, as beeld-draer van hierdie Goddelike Drie-eenheid, vir ons ʼn totaal
nuwe betekenis.
Na Sy opstanding het Jesus nog steeds op
die aarde vertoef sodat Hy homself aan Sy dissipels en geliefdes kon openbaar
as opgestane Heiland, maar nou met ʼn verheerlikte liggaam, en dit was in
hierdie verheerlikte vorm wat Jesus ook opgevaar Hemel toe. Ons glo dat die mens
ook sal opstaan in ʼn verheerlikte liggaam, waarin die siel en die Gees van God
nog altyd sal wees.
In Matt. 10: 28 skryf die apostel: “Moenie
bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat
sowel die liggaam as die siel in die hel kan
laat vergaan.”
Dit bring ons terug by Gen. 3: 22 naamlik,
“Die mens het nou soos een van Ons geword
….”, en dan bied die Ou Testament vir ons, weereens, daardie ryke
agtergrond waarteen ons die inhoud en betekenis van die Nuwe Testament, soveel
meer sinvol en prakties kan verstaan.
God =
Vader, Seun en Heilige Gees.
Die mens by God = Verheerlikte liggaam, siel en gees.
In die geloofsbelydenis van Athanasius
staan daar:
“Het
algemeen geloof nu is, dat wij één God in de drieheid en de drieheid in de
eenheid aanbidden, zonder de Personen te vermengen of het Wezen te delen.” en
dan verder in paragraaf 35: “Want zoals een redelijke ziel met het lichaam één
mens is, zo is ook God en mens (Jesus in Sy menslike voorkoms) één
Christus.” (Gedeelte tussen hakies eie
byvoeging.)
No comments:
Post a Comment