Postings

Wednesday 17 October 2012

Gebed, Geloof en Beskikking.





GEBED, GELOOF EN BESKIKKING


                                                                                                Stes de Necker


Inleiding

Vir enige mens met 'n sistematies-, analitiese denkpatroon, kan die Bybel somtyds moeilik verstaanbaar wees. Net soos in die vorige bespreking, “oordeel en veroordeling”, daar oënskynlik openlike teenstrydighede bestaan met betrekking tot die vraag of ons mag oordeel of nie, net so bestaan daar ewe veel verwarring met die Bybelse voorskrifte oor gebed.

Dink byvoorbeeld aan die volgende voorbeelde:

Die Here Jesus leer ons om te bid: “Laat U wil geskied.”, terwyl ons op talle plekke in die Bybel lees dat die Here ons alles sal gee wat ons van Hom vra. Hoe kan ons as mense weet of dit wat ons vra, die wil van God vir ons lewens is?

In 2 Kor. 12: 8  skryf Paulus oor die doring wat in sy vlees was en sê: “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Beteken dit dat God opsetlik nie aan Paulus se versoek wou voldoen nie?

In Psalm 139: 16 sê Dawid: “... al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Beteken dit dan dat God iemand wat baie na aan ons is se sterfdag nie sal skuif na ’n  ander dag, as ons Hom opreg daarvoor vra nie?

Wat beteken dit om te bid: “laat U koninkryk kom.” Jesus leer ons: “Laat U koninkryk kom” terwyl Matteus in Matt. 11: 12 sê “Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ’n  pad oop en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.” en vêrder in vers 28: “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.” Ook in Luk. 17: 21 sê die apostel: “Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”
So kan ek aangaan en nog vele soortgelyke voorbeelde uit die Bybel aanhaal en selfs dan, glo ek, sal daar nog steeds dosyne soortgelyke vrae by meeste gelowiges bestaan.

In die Bybel bestaan daar talle verwysings na die feit dat God vir ons sal gee waarvoor ons vra:

1.      MATTEUS 21:22, “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

2.      MARKUS 11:24, “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het en dit sal vir julle so wees.”

3.      LUKAS 11:9, “Ek sê vir julle: Vra en vir julle sal gegee word. Soek en julle sal kry. Klop en vir julle sal oopgemaak word. “

4.      LUKAS 11:10, “Elkeen wat vra, ontvang en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”
5.      JOHANNES 14:13, “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”
6.      JOHANNES 14:14, “As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
7.      JOHANNES 15:7, “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê en julle sal dit kry.”

8.      1 JOHANNES 3:22, “en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind.”
9.      1 JOHANNES 5:14, “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.”
10.  1 JOHANNES 5:15, “En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.”
As ons dan oor hierdie oorweldigende bron van beloftes beskik, hoekom hoor ons bykans daagliks:
Ø       Dit lyk nie vir my God hoor my nie. Ek bid elke dag maar daar gebeur  niks.
Ø       Ek het God gevra om hom/haar nie van my weg te neem nie, maar Hy het dit nog steeds gedoen.
Ø       Ek vra God om raad maar ek hoor niks van Hom nie.
Ø       Ek vra God elke dag om my sondes te vergewe; maar hoekom voel ek dan nog altyd skuldig?
As jy hierdie vrae vir 'n predikant of teoloog vra, sal die meeste vir jou sê: “Dit is omdat jy verkeerd bid!”
Hoe moet ons dan “reg” bid?
In die Christelike teologie bestaan daar vandag talle artikels, geskrifte, of tesisse, of skripsies oor hierdie onderwerp. Ek gaan nie eers probeer om 'n uiteensetting of opsomming van al die teorieë en dogmatiek wat daar bestaan, te gee nie. Kom ons kyk liewers wat sê die Bybel hoé moet ons bid.
Matt. 6 vanaf vers 5 - Die Onse Vader:
(5) “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.
(6)  Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.
(7) Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n  stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.
 (8) Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
 (9) So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
 (10) laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
(11) Gee ons vandag ons daaglikse brood;
 (12) en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
 (13) en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Sommige manuskripte bevat ook die afsluitingsformule: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Jesus verduidelik self sekere aspekte van die gebed:

1. In vers 14 tot 15 sê Hy: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle Vader julle ook vergewe. (15) Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

2. In verse 16 tot 18 praat Jesus oor die gebruik om te vas: “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. (17)  Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig (18) sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

3. Vêrder in verse 19 tot 21 praat Jesus oor die mens se besittings: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. (20) Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. (21) Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

4. In verse 22 tot 23 waarsku Jesus ons teen hoe ons na dinge kyk. Hoe ons dinge sien: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. (23) Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

5. In vers 24 waarsku Jesus ons teen geldgierigheid. In verse 19 tot 21 het Jesus gepraat van die mens se skatte op aarde. In vers 24 praat Jesus van die allesoorheersende smagting na geld. “Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Die uitdrukking “om mammon te dien” beteken om geldgierig te wees. God wéét wat ons nodig het.

In my eie lewe moet ek bely dat ek God eerder elke dag behoort te dank vir die dinge wat Hy my NIE gegee het nie. As die liewe Here my alles moes gegee het wat ek Hom al gevra het, sou ek sekerlik vandag veel slegter daaraan toe gewees het!

God het nog altyd geweet wat die beste vir my lewe is en nog nooit het Hy my in die steek gelaat nie. God sal ons nie “drop” nie.

In verse 25 tot 34 waarsku Jesus ons om ons nie onnodig te bekommer nie: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? (26) Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle  en sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? (27) Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? (28) En wat bekommer julle julle oor klere?  Let op hoë groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. (29) Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. (30) As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, (hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?”

En dan in vers 31 en verder sê Jesus: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. (32) Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.(33)  Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.(34) “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Wat leer Jesus ons met die Onse Vader?

1. Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word

Erken die almag en heiligheid van God
Ons praat met die almagtige God en nie met ’n  mens nie! Wanneer ons God in gebed nader, moet ons dit doen met die nodige agting en respek.

2. Laat u koninkryk kom

Erken jou onderdanigheid en lojaliteit aan die “Koning van alle konings”
God se koninkryk is nie beperk net tot die hemelse koninkryk nie. Die totale heelal, die fisiese waarneembare en die onsigbare, is God se koninkryk! Daarom sê Lukas in Luk. 17: 21, “... die koninkryk van God is hier by julle.” Die koninkryk waarvan Jesus praat is die totale koninkryk van God waar Sy wil geskied. Daarom se Jesus dan ook: “laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Ons wat in die koninkryk van God leef, “landsburgers van die Gods-ryk” moet leef soos wat die “Koning” van hierdie ryk van ons verwag.
 
3. Gee ons vandag ons daaglikse brood

Erken God se wil vir jou lewe en dat Hy die beste weet wat goed is vir jou.
God weet wat ons nodig het. God weet dat ons elke dag kos en klere nodig het. Hy ken ons verlange en begeertes. Hy weet ook wat vir ons goed is en wat ons kan hanteer en nie kan hanteer nie. Maar ons moet Hom nog altyd daarvoor vra. In  Matt. 6: 8 se Jesus: “Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.” en  in Matt. 31 sê Jesus wéér: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. God sal nie vir ons ʼn klip gee as ons vir brood vra nie! ( Matt. 7: 9).
4. Vergewe ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree
Erken jou onverdienstelikheid vir alles wat jy ontvang en sodoende ’n  plig het om hierdie genade ook met ander te deel.
In Matt. 6: 14-15 sê Jesus: ““As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle  Hemelse Vader julle ook vergewe. (15) Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”  Ook in Markus 11: 25 lees ons: “En wanneer julle staan om te bid en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”

5. Laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Erken jou sondigheid en dat jy nie sonder God se hulp en genade die sonde kan oorwin nie.
God sal ons nooit in ʼn versoeking inlei nie! Satan is die een wat ons in versoekings inlei. Ons moet God vra om ons teen die versoekings van Satan te beskerm, want in ons eie krag kan ons nie Satan se aanslae afweer nie. Daarvoor is ons nie sterk genoeg nie. Net in die krag van onse Here Jesus en deur Sy genade kan ons die Satan op die beste, afweer. 
Om in versoeking te kom is nie sonde nie! Dit is wanneer ons aan die versoeking toegee dat ons sonde doen.

6. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Sommige van die antieke manuskripte bevat ook die afsluitingsformule: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Jesus het nooit vir ons gesê dat ons nét die Ons Vader mag bid en niks anders nie! In die Onse Vader gee Jesus egter vir ons AL die riglyne en Al die voorskrifte, wat nodig is vir enige gebed wat ons ooit mag bid. God wil verseker nie hê dat ons soos ʼn klomp papegaaie die Onse Vader oor en oor moet opsê nie! God wil hê dat ons met Hom moet práát.

Binne hierdie voorskrifte en riglyne, kan ons alles wat ons vir God wil vra, met vrymoedigheid vra! En wanneer ons dit doen in kinderlike opregtheid en algehele afhanklikheid van God, kan en mag ons God se seën daarop verwag.

Bid in die naam van Jesus 
Die tweede baie belangrike vereiste vir effektiewe gebed is dat ons altyd in die Naam van Jesus sal bid. Hierin lê die sleutel tot al die krag en beloftes van God. Daarsonder het ons in werklikheid geen reg om na God toe te gaan of enigiets in gebed van Hom te vra nie en daarsonder is ons ook tot niks in staat nie.

Jesus sê ook vir ons baie duidelik dat ons altyd in Sy naam moet bid.

Ø       Matt. 14:13-14 “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
Ø       Matt.15:16 “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra”
Ø       Matt. 16:23-24 “Dit verseker ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees”

Doén ook alles wat jy doen altyd in die Naam van Jesus:

Ø       Weerstaan die Satan in die Naam van Jesus.
Ø       Gebruik die gesag van die Naam van Jesus wanneer jy met ander oor Jesus praat.
Ø       Berispe in die Naam van Jesus Christus.
Ø       Heilig jou gebede in sy Naam.
Ø       Veroordeel die sonde in Sy naam.
Ø       Doen elke taak in Sy naam.
Ø       Pak elke uitdaging aan in Sy naam.
Ø       Begin elke dag in Sy naam.
Ø       Eindig elke dag in Sy naam.

Glo, bid, leef en doen alles in die Naam van Jesus en beleef self die verskil wat Jesus in jou lewe sal maak.

Dan sal jy die ware betekenis ken van wat Jakobus in Hfst. 5: 16 sê “Die gebed van ’n  gelowige het ’n  kragtige uitwerking.”

Kenmerke van opregte gebed
Wanneer ons Matteus Hfst. 6 aandagtig lees, is die eerste ding wat jou opval dat gebed ’n  besondere persoonlike interaksie tussen God en die mens is. Jesus sê jy moet in jou binnekamer, daar waar niemand anders behalwe jy en God teenwoordig is, daar moet jy bid.

Die tweede kenmerk wat jou opval is, al weet God wat elkeen van ons nodig het, Hy  en wil hê ons Hom moet vra. Dat ons ons afhanklikheid van God moet erken en betoon deur Hom te vra. Daarom verwag die Here nie ’n  “stortvloed” van woorde nie, net die eerlike erkenning van ons afhanklikheid van Hom as die enigste gewer waarvoor ons vra.

Die derde kenmerk wat ons opval is dat ons eerlik en opreg moet wees in ons gebed. Wanneer ons bid dat: “ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” dan verwag God dat ons dit werklik sal doen! Hoe dikwels bid ons nie hierdie bede nie, maar vergewe ons regtig hulle wat teen ons oortree het?  Of wanneer ons vas, is dit regtig daardie innerlike persoonlike oortuiging met God, of moet ons darem ook seker maak dat andere moet sien hoe goed ons is.

In die vierde plek waarsku Jesus ons om nie materialisties te wees nie. Hemelse skatte is baie meer werd as aardse besittings en weelde. Dit wat vir ons van waarde moet wees, is dit wat God van ons verwag. Iemand het eendag gesê dat God sy misnoeë met rykdom aandui deur die soort mense wat Hy gekies het om dit te besit!

In verse 22 en 23 waarsku Jesus ons om nie gedurig net die lelike en verkeerde dinge in die lewe raak te sien nie. Ons moet ook die mooi en goeie van die lewe sien en waardeer. Probleme en bekommernisse veroorsaak dat ons so negatief kan word dat ons later nie eers meer kan lag nie! Het julle al opgemerk hoe min mense ons op straat raaksien met ’n  uitdrukking van vrede en geluk op sy/haar gesig. Die meeste lyk asof hulle met ander wil kompeteer oor wie nou juis die mees bekommerdste kan lyk!

Sesdens waarsku Jesus ons teen gierigheid. Die begeerte om ten alle koste soveel as moontlik, so gou as moontlik, te bekom.

In die laaste plek is dit opvallend hoe ernstig Jesus daaroor is dat ons ons nie moet bekommer nie. Bekommernis is 'n aanval op ons Christelike oortuiging en geloof. Bekommernis is wat ons geloof so kan erodeer dat ons naderhand so twyfel dat ons nie meer glo nie. Bekommernis is in werklikheid die teenpool van geloof. Wanneer ons ’n  saak in die hande van Jesus oorgegee het, wanneer ons ons geliefdes aan God opgedra het, wanneer ons ons lewens vir God gegee het, mág ons onsself nie meer bekommer nie. Bekommernis beteken ons vertrou God nog nie hééltemal nie! Wat as?
Vers 33: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Wanneer ons aanhou om self te probeer om ons probleem op te los, beteken dit eenvoudig dat ons God nie vertrou nie, of dat ons God onderskat om ons probleme te oplos. Ons moet nog altyd doen wat binne ons menslike vermoëns is om self ons probleme op te los, maar wanneer ons dit gedoen het, moet ons die probleem aan God oorgee en dit dan in Sy hande laat.

God sal altyd, op Sy tyd en volgens Sy beskikking, ons probleme iets van die verlede maak. Miskien nie op die manier of op die tyd wat ek en jy wou gehad het nie, maar wat ook al gebeur sal tot ons beswil wees. In Rom.  8: 28 se Paulus: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Die wêreld sal vir jou probeer vertel dat jy onverskillig en fatalisties is, maar moet dit nie glo nie. Sit rustig terug en wag en vertrou op God om sý werk te doen. In Fil. 4: 6 sê Paulus: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. “
Dit laat my elke keer dink aan die ou wat gedurig die Here gevra het dat hy tog die “lotto” moet wen. Dit het so aangegaan totdat daar op ʼn dag ʼn stem uit die hemel gekom het wat vir hom sê: “Ek sal jou help! Maar koop net ʼn kaartjie!”  Ons moet ook net “ons kaartjies koop” en gló dat God ons sal help!

Ons moet ons prioriteite regkry!   Éérs God se wil, dan ons wil. 

Calvyn oor gebed
In 1559 het Calvyn in die sogenaamde Institusie van Calvyn”  gesê dat gebed die belangrikste geloofs oefening is waardeur ons daagliks God se seëninge ontvang. Hoe minder ons bid – hoe minder gaan ons God se genade en seën in ons lewens raaksien!

In Deel 3, hoofstuk 20 van sy institusie, skryf Calvyn breedvoerig oor gebed. Die opskrif van Deel 3 is: “Die manier waarop ons die genade van Christus ontvang, die voordeel wat dit vir ons inhou en die resultaat daarvan.”

In hoofstuk 20 sê hy:

Ø       Gebed is ’n  intieme gesprek tussen gelowiges en God.
Ø      Deur gebed ontvang ons die seën van die Here.
Ø       Gebed is die metode hoe gelowiges se harte gevorm word.
Ø       Ons kan slegs deur Jesus tot  God bid.
Ø       Deur gebed besef jy, as gelowige, dat alles wat met jou gebeur ten goede is.
Ø       Die noodsaaklikheid van gebed is nie ter wille van God nie, maar ter wille van sy kinders.

 In hoofstuk 20 gee Calvyn ses redes vir die noodsaaklikheid van gebed:
  1. Dit is vir die gelowiges belangrik om te bid want hoe meer ons bid, hoe meer groei daar ’n  brandende liefde vir God in ons harte.
  2. Gebed is noodsaaklik vir jou lewenstyl (Coram Deo) voor God.
  3. Gebed stel jou denke in om dankbaar teenoor God te lewe.
  4. Hoe meer jy bid, hoe groter gaan die behoefte wees om oor die liefde van God na te dink.
  5. Gebed laat jou die seëninge wat jy van God ontvang het, meer geniet en raaksien.
  6. Gebed maak dat jy die krag en vrygewigheid van God beter raaksien en ervaar.
God het nie jou gebed nodig nie, maar jy het. (Calvyn)

Gebed in die siklus van die Goddelike evangelie:

Ø       Aan die begin het God alles goed en volmaak geskape.
Ø       Satan vernietig hierdie volmaaktheid as hy die intieme persoonlike verhouding tussen God en die mens vernietig en die aarde en die mens met sy sondige natuur besmet.
Ø       Jesus Christus kom na hierdie wêreld om die beskadigde verhouding en sonde besmette mens te heel en die oorspronklike verhouding tussen God en die mens te herstel.
Ø       Satan en hierdie sondige wêreld word in die verderf gewerp en die volmaakte by God word weer herstel.

Gebed is die skakel waarmee die gebroke verhouding tussen God en die mens weer aanmekaar geheg word. Elke keer wanneer ons bid, herstel ons die las stukkie vir stukkie totdat ons eendag weer by God, ’n  volkome herstelde verhouding met God sal hê.

Om op te som:

1.      Gebed is ’n  persoonlike saak tussen jou en God.
2.      Al weet God wat jy nodig het, moet jy Hom nog altyd daarvoor vra.
3.      Gebed moet absoluut eerlik en opreg wees. In Jak. 5: 16 staan daar: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n  gelowige het ’n  kragtige uitwerking.”
4.      Ons vra God vir hemelse skatte en vir ons aardse behoeftes.
5.      Ons moet God met ’n  positiewe gesindheid nader. n  Swartgallige gemoed kan nie positief glo dat God ons gebede sal verhoor nie.
6.      Ons moet nie gierig wees nie. God weet nie alleen wát ons nodig het nie, maar ook hoevéél ons nodig het.
7.      Wanneer ons God om hulp gevra het, moet ons die probleem in God se hande oorgee en aan Hom oorlaat en GLO dat Hy ons sal help. Ons moet nie nou verder aangaan en self probeer om die probleem op te los nie! 

Bid - ʼn Opdrag van Jesus
1.      MATTEUS 5:44
”Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê  en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,”
2.      MATTEUS 6:5
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.”
3.      MATTEUS 6:6
” En, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
4.      MATTEUS 6:7
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n  stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel  en gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.”
5.      MATTEUS 18:19
”Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,”
6.      MATTEUS 26:41
”Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”
7.      MARKUS 11:25
“En wanneer julle staan om te bid en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”
8.      MARKUS 14:38
”Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”
9.      LUKAS 6:28
”seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.”
10.  LUKAS 21:36
”Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”
11.  JOHANNES 16:23
”Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.”
12.  JOHANNES 16:24
”Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”
13.  JOHANNES 16:26
”Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie,”
14.   Rom. 8: 26
”Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
15.  1 KORINTIËRS 11:4
”Elke man wat bid of profeteer met iets op sy kop, doen sy hoof, Christus, oneer aan.”
16.  1 KORINTIËRS 11:5
”Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ’n   en se hare afgeskeer is.”
17.  1 KORINTIËRS 14:15
”Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand.”
18.  EFESIËRS 6:18
”Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.”
19.  1 TESSALONISENSE 5:17
”Bid gedurig.”
20.  JAKOBUS 1:5
”As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
21.  JAKOBUS 1:6
”Maar ’n  mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n  brander in die see wat deur die wind aangejaag en  heen en weer en gedryf word.”
22.  JAKOBUS 4:2
”Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ʼn ander man sêgoed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.”
23.  JAKOBUS 4:3
”As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”
24.  JAKOBUS 5:13
”As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.”
25.  JAKOBUS 5:14
”As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here.”
26.  JAKOBUS 5:15
”En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.”
27.  JAKOBUS 5:16
”Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n  gelowige het ’n  kragtige uitwerking.”
28.  1 PETRUS 3:7
”Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.”
29.  1 PETRUS 4:7
”Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.”
30.  1 JOHANNES 5:16
”As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.”
31.  JUDAS 1:20
”Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle  en geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.”
 
Die Heiligheid en belofte van Gebed
  1. MATTEUS 21:13
    ”en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n  huis van gebed wees, maar julle maak dit ’n  rowersnes.”
  2. MATTEUS 21:22
    ”As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”
  3. MARKUS 9:29
    Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”
  4. MARKUS 11:24                                                                                                                  “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het en dit sal vir julle so wees.”
  5. LUKAS 6:12
    ”In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.”
  6.  Rom. 12:12
    ”Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.”
  7. EFESIËRS 3:14
    ”Daarom kniel ek in gebed voor die Vader”
  8. FILIPPENSE 4:6
    ”Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
  9. KOLOSSENSE 4:2
    ”Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar”
  10. JAKOBUS 5:16
    ”Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n  gelowige het ’n  kragtige uitwerking.”

God se beloftes wanneer ons opreg vra
  1. MATTEUS 6:8
    ”... julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”
  2. MATTEUS 7:9
    “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n  klip gee as hy brood vra,”
  3. MATTEUS 7:10
    ”of ’n  slang as hy vis vra?”
  4. LUKAS 11:12
    ”of as hy ’n  eier vra, vir hom ’n  skerpioen sal gee? “
  5. MATTEUS 21:22
    ”As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”
  6. MARKUS 11:24
    ”Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het en dit sal vir julle so wees.”
  7. LUKAS 11:9
    “Ek sê vir julle: Vra en vir julle sal gegee word. Soek en julle sal kry. Klop en vir julle sal oopgemaak word.”
  8. LUKAS 11:10
    ”Elkeen wat vra, ontvang en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”
  9. LUKAS 11:13
    ”As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
  10. JOHANNES 14:13
    ”Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”
  11. JOHANNES 14:14
    ”As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
  12. JOHANNES 15:7
    ”As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê en julle sal dit kry.”
  13. JOHANNES 15:16
    ”Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra”
  14. 1 JOHANNES 3:22
    ”... en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind.”
  15. 1 JOHANNES 5:14
    ”En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.”
  16. 1 JOHANNES 5:15
    ”En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.”



No comments:

Post a Comment