Postings

Tuesday 16 October 2012

Hoe lank kan die aarde nog die mens se aanslag afweer?



Hoe lank nog kan die aarde die mens se aanslag afweer?


                                                                                                 Stes de Necker


Inleiding
In Gen. 1: 28 staan daar: “Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

Die vraag wat ons as Christene onsself moet afvra is: “Hoe kom ons ons rentmeesterskap oor die skepping na?

Wêreldbevolking

In my boek, “Verborge Skatte van die Bybel” het ek in Hoofstuk 1 van Deel I daarvan na die groei in die wêreldbevolking sedert Adam se tyd verwys. Daarin het ek aangedui dat statistici meen dat gedurende die tyd 3,400 tot 3,500 VC. (die tydstip van die ontstaan van die mens Adam), daar reeds 25 miljoen mense op aarde was. Met die sondvloed, in nagenoeg 1,745 V.C., beraam statistici dat daar 44 miljoen mense op aarde was. Met die geboorte van Christus, (jaar 1), word die wêreld bevolking op 200 miljoen beraam en tans (2012) word die wêreld bevolking op 7 biljoen beraam. Die statistici voorsien verder dat in 2025, dertien jaar van nou af, hierdie syfer 8 biljoen sal beloop en in die jaar 2040, 9 biljoen!

Sedert die ontstaan van Adam, het dit die mensdom 5,200 jaar geneem om die 1 biljoen bevolkings kerf te bereik. Daarna het dit 120 jaar geneem om 2 bilj. te bereik; Toe 30 jaar om 3 bilj. te bereik; 25 jaar om 4 bilj. te bereik; 15 jaar om 5 bilj. te bereik; 10 jaar om 6 bilj. te bereik en toe weer 10 jaar om 7 bilj. te bereik in 2012.

Bereken teen hierdie groeikoers, beteken dit dat die aarde binne die volgende twintig jaar, nagenoeg 2 biljoen (2,000,000,000) addisionele mense sal moet akkommodeer en onderhou.




Bogenoemde grafiese voorstelling is uitgegee deur die Amerikaanse Departement van Handel, “World Population Growth Through History” in 2010.
  
Suid-Afrika alleen sal oor die volgende dertien jaar ʼn addisionele 28 milj. Mense moet voed en onderhou!

Grondbesetting

Suid-Afrika het tans 'n bevolking van nagenoeg 50 milj. mense en 'n totale grondgebied van 1,219,912 vk. Kilometer. Dit beteken dat die totale oppervlak per kapita in Suid-Afrika tans 25,000 hektaar beloop.

Met 'n beraamde bevolking van nagenoeg 77 milj. mense in 2025, sal die totale oppervlak per kapita afneem na 16 hektaar! 

Besef ons wat dit beteken?  Onder andere beteken dit dat Suid-Afrika, binne die volgende dertien jaar, 'n verdere 3 milj. hektaar landbougrond sal moet afstaan net om aan die toekomstige vraag na addisionele residensiële grond te voorsien.

Aardverwarming en verwoesting van die Natuur

Anders as in Suid-Afrika gee die internasionale nuus media (veral in die VSA) al hoe minder dekking aan die wesentlike gevare wat die verwoesting van die natuur inhou. Natuur wetenskaplikes en ekoloë beweer byvoorbeeld dat die internasionale pers, oor die afgelope twee jaar, 40% minder nuusdekking aan aardverwarming afgestaan het as in die tydperk voor 2010.

So onlangs as Februarie 2012 het die Wall Street Journal van  Amerika ʼn berig gepubliseer wat deur 16 sogenaamde “wetenskaplikes en ingenieurs” geskryf is onder die titel: “No Need to Panic About Global Warming”. Hierdie sogenaamde wetenskaplikes en ingenieurs is gelukkig vinnig deur wetenskaplikes op hierdie gebied gerepudieer en ontbloot as bloot 'n klomp anti-aardverwarming propagandiste wat in werklikheid nie eers wetenskaplikes of ingenieurs is nie en wie se foutiewe aannames reeds verskeie kere in die verlede deur kundiges verwerp is.

Die vraag is egter wié is hierdie propagandiste en wat is hulle motiewe vir die verspreiding van sulke onwetenskaplike beriggewing?

Die antwoord is voor die hand liggend; Die petroleum industrie kan nie bekostig dat die wêreld sal ophou om brandstof, wat uit olie en steenkool vervaardig word, te gebruik nie! Vyf van die “wetenskaplikes en ingenieurs” wat verantwoordelik was vir die verspreiding van die Wall Street Journal  berig, het bande met die petroleum reus Exxon Mobil gehad!

Ekonomiese imperatiewe

Die petroleum industrie beskik tans oor enorme olie reserwes wat ekonome reken 'n verlies van nagenoeg $20 triljoen sal beteken vir die aandeelhouers van maatskappye soos Exxon en andere as hierdie reserwes afgeskryf moet word. Hierdie verlies sluit nie die verdere triljoene dollar verliese in wat motor vervaardigers en sekondêre nywerhede sal ly nie. Vir die olie magnate van hierdie wêreld is dit 'n baie groter bedreiging as droogtes en oorstromings! Inplaas daarvan om die realiteit van aardverwarming en die verwoesting van die natuur in die oë te staar, sal hierdie magnate alles in hulle vermoë doen om die wêreld te oortuig dat aardverwarming nie regtig so 'n groot probleem is nie. Selfs eindelose misleidende veldtogte finansier om mense te oortuig om nie te “panic” nie!

Wetenskaplike wêreldwyd is van mening dat indien ons 'n verdere 565 milj. ton koolstof in die atmosfeer vrylaat,  ons reeds die gemiddelde wêreld temperatuur met meer as 20  Celsius sal laat styg. Die petroleum industrie beskik tans oor olie reserwes gelykstaande aan 2,795 bilj. ton koolstof. Vyf keer meer as die kritieke maksimum wat die aarde kan hanteer! Indien ons die grootste ramp in die geskiedenis van hierdie wêreld wil afweer, moet olie reserwes bly waar dit is; onder die grond!

Nog nooit in die geskiedenis was die wêreld se ekonomiese doelwitte so in stryd met die chemiese en natuurkundige realiteite van vandag nie. Die jongste finansiële verslag van Exxon Mobil vir die 2010/2011 finansiële jaar toon 'n wins van $41 bilj. of te wel R 308,730,000,000 !    
Die geldmag en aardverwarming.   
Dit wil voorkom of die mensdom magteloos staan teen die volgehou aanslag op die natuur en die aarde se voortbestaan deur die wêreld se geldmag. Menige wêreld konferensie oor die verwoesting van die aarde lewe bitter weinig of geen, resultate nie; westerse regerings weier summier om hulle koolstof vrystellings in te perk uit vrees dat ander moondhede hulle ekonomiese magsbasis sal oorneem; menige natuur-vriendelike uitvindsels en patente word summier opgeraap, net om dit iewers vêr weg te stoor sodat dit nie in die handel kan verskyn nie. Enigeen wat sou durf waag om hierdie magte te opponeer word summier uit die weggeruim. Terwyl ons rustig saans “7e Laan” kyk, heers die “dier uit die aarde” alreeds oor die regerings van hierdie wêreld.
Babilon, politieke en ekonomiese setel van wat eens die Romeinse Ryk was en in Openbaring die huidige politieke en ekonomiese magte van die wêreld verteenwoordig, floreer. Openbaring 18: 3 sê: “... die sakemanne van die aarde het ryk geword uit haar grenselose weelde.” 
In die beskouing van Openbaring in “Verborge skatte van die Bybel” (Hfst. 9 van Deel II) het ek gesê dat die opkoms van die geldmag, wat vandag besig is om die westerse wêreld in ʼn greep van “geld aanbidding” vas te vang en die politieke leiers van hierdie wêreld wat nie skroom om die naam van Christus vir hulle eie politieke gewin te misbruik nie, is duidelike tekens van die mag van die dier waarvan daar in Op. 13 gepraat word.  Openbaring 16 tot 18 word beskryf hoe hierdie Babilon, die “sedelose vrou”, die “politieke en ekonomiese magte van hierdie wêreld”  tot ʼn val sal kom.
In Matt. 24: 7 sê Jesus:  “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees” en vêrder in vers 11: “Daar sal baie vals profete kom en hulle sal baie mense mislei.”  
Ons sien vandag al hoe meer die gevolge van aard verwarming; droogtes, hongersnood, oorstromings, ongekende weerstoestande; die verwoesting van die natuurlike hulpbronne deur die mens en die opkoms van valse profete (soos die skrywers van  “No Need to Panic About Global Warming”). 
In Matt. 16: 2-3 sê Jesus:  (2) “...  en sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi; (3) in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi’. Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie.”
Tekens van die tye
Liewe leser, in Hfst. 1 van Deel I van “Verborge Skatte van die Bybel” het ek gesê dit wil voorkom of ons, in soverre dit ons aardse bestaan betref, reeds diep in beseringstyd is.
Verder het ek ook gesê dat dit NIE beteken dat die aarde noodwendig binne die volgende maand of jaar (of 21 Desember 2012) sal vergaan nie! Dit beteken bloot dat ons as Christene altyd gereed moet wees vir die dag wanneer Jesus weer na hierdie aarde sal terugkeer. Of dit oor 'n maand, 'n jaar, of selfs duisende jare sal wees, weet ons nie. Maar wat ons wel weet is dat ons, “ons klere moet was, sodat ons reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.” (Open. 22: 14)
Wanneer die wederkoms sal plaasvind weet net God. Selfs nie Jesus Christus weet wanneer dit sal wees nie. Wanneer dit ook al die dag gebeur sal elke mens, ek en jy ingesluit, rekenskap moet gee van ons rentmeesterskap oor hierdie aarde.
In die gewone spreektaal praat on almal elke dag oor iets wat sogenaamd aan ons behoort. My grond; my huis; my man; my vrou; my kinders, terwyl niks hiervan in werklikheid aan ons behoort nie. God, aan wie alles behoort, het al hierdie dinge maar bloot aan ons toevertrou. Ons as rentmeesters daaroor aangestel.

'n Rentmeester besit nie iets nie; hy hou bloot dit wat die eienaar aan hom gegee het in trust. In hierdie opsig beskik 'n rentmeester dus nie oor besitreg nie, maar oor 'n verantwoordelikheid waaroor hy as rentmeester aangestel is.

Jesus het verskeie gelykenisse gebruik waarin Hy rentmeesterskap as beeld van die mens se verantwoordelikheid gebruik. Elke gelykenis eindig met die vertelling van ʼn rentmeester wat verslag moet doen oor die eienaar se besittings. Hiermee wou Jesus ons prakties leer van ons verantwoordelikhede as Sy rentmeesters (vertrouelinge)  oor alles wat Hy aan ons toevertrou het: tyd, geld, vermoëns, die aarde, familie  ens. Eendag sal ons ook verslag moet doen aan die eienaar van hierdie dinge  en ons met Sy besittings te werk gegaan het.  Rom. 14: 12  “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.”

Rentmeesterskap, is nie iets wat ons uit vrye wil doen nie; dit is ʼn verantwoordelikheid wat aan ons opgedra is. (1 Kor. 9: 17)

Hoe gaan ons eendag aan God verduidelik wat ons met Sy aarde, Sy skepping, aangevang het?


Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net  http://stesdeneckers.blogspot.com


No comments:

Post a Comment