RESPEK VIR DIE BEDIENAARS VAN DIE WOORD
Stes de Necker
Julle voorgangers hou wag oor julle lewe
en moet aan God rekenskap gee.” (Hebr.
13: 17)
In vers 7 van Hebreërs 13 staan daar:
“Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig
het.”
Die voorgangers waarna in Hebreërs verwys
word beteken nie voorvaders nie! Dit beteken dié wat op die Christelike terrein
die leiding neem soos bv. ouderlinge, sendelinge, leraars ens.
Heb.
13: 17 “Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee.
Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie;
anders het dit vir julle geen nut nie.”
Anders as in vers 7, wat na hierdie leiers
in die verlede tyd verwys (verkondig hét), verwys vers 17 na die huidige
geestelik leiers. Die opdrag is duidelik: “Wees gehoorsaam en onderdanig aan
hulle.”
In 1 Tes. 5: 12-13 staan daar: “ (12)
Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en
julle in opdrag van die Here lei en teregwys. (13) Betoon in liefde die hoogste agting aan
hulle ter wille van hulle werk.”
Terwyl die teksvers dus verseker ook
verwys na gehoorsaamheid (agting) aan die voorganger, lê die diepere betekenis
daarvan in gehoorsaamheid aan God.
Soos met so baie ander dinge in die lewe,
kry ons ook met betrekking tot hierdie opdrag, dat sommiges óf glad nie, óf
totaal oorboord gaan met hierdie eerbetoning. Dit is veral onder die sektariese
bewegings waar ons aan die een kant die onderhoriges kry wat die leier slaafs
navolg in ʼn soort van verafgoding, en aan die ander kant die leiers kry wat op
grond van hierdie skrifgedeelte, soos outokrate heersers oor hulle “gemeentes”
regeer.
As gevolg van hierdie ekstreme, is daar in
die verlede reeds baie lewens vernietig, of totaal onherstelbaar beskadig. Dink byvoorbeeld maar net terug aan die
sektariese Jim Jones van Amerika wat in die 1970’s, 909 van sy aanhangers selfmoord
laat pleeg het deur gif te drink.
In 1 Tim. 5: 20 sê Paulus: “Dié wat
verkeerde dinge doen, moet jy openlik bestraf sodat die ander ook afgeskrik kan word.” Bestraf in hierdie gedeelte beteken om so een
selfs van sy amp te onthef.
In Calvin's
Commentaries [Baker], Bld. 352-353, word die kerkleier Calvyn aangehaal wat
in sy kommentaar oor Hebreërs 13 vers 17 sou gesê het: “the Apostle* speaks only of those who faithfully performed
their office; for they who have nothing but the title, nay, who use the title
of pastors for the purpose of destroying the Church, deserve but little
reverence and still less confidence.” *Calvyn het geglo die boek Hebreërs was deur
Paulus geskryf.
ʼn Bekende oudleraar van Bloemfontein
vertel my eenkeer hoe ʼn groep beswaarde ouderlinge van ʼn naburige gemeente hom
gaan sien het, om raad te vra oor hoe hulle van hulle predikant ontslae kan raak. Tydens die
ouderlinge se verduideliking van hoekom hulle nou eintlik van die leraar
ontslae wou raak, het hy agtergekom dat die ouderlinge eintlik bitter onbillik
teenoor die predikant was en toe sê hy vir hulle:
“Soos ek dit sien het julle drie opsies.
Eerstens kan julle probeer om, tydens sy preke, die predikant vierkantig in die
oë te kyk en so nou en dan “Amen” of “Halleluja” uit te roep; want dan preek hy
hom dood.
As dit nie werk nie, kan julle probeer om hom gereeld op die
skouer te klop en hom te vertel wat se groot werk hy in die gemeente doen; want dan werk hy hom
dood.
En as dit óók nie werk nie, dan vra julle
hom om vir julle werk te gee om in die gemeente te doen; want dan sterf hy
verseker aan ʼn hartaanval.”
Vir ʼn leraar, hou vers 17 van Hebreërs 13,
ʼn enorme verantwoordelikheid in: Om toesig te hou
en rekenskap aan God te gee van hulle pligte
in die gemeente.
Om die predikante in hierdie
verantwoordelikheid by te staan, bestaan daar in meeste gereformeerde kerke,
onder andere ook ʼn “Kommissie vir Leer en Aktuele Sake” wie se plig dit is om
oor die suiwer bediening en gemeentelike sorg van die kerk, toesig te hou.
In die Griekse vertaling van Hebr. 13: 17
word die woord “agrupneo” gebruik vir
“hou wag”. “Agrupneo” beteken letterlik
“Hou jouself wakker”. Vir enigeen om oor
ʼn ander se lewe (siel) wag te hou is ʼn oorweldigende taak en
verantwoordelikheid, wat sekerlik die grootste agting en waardering verdien.
Ons is
gewoond om Sondae kerk toe te gaan en na die diens weer huis toe, om die
gebraaide skaapboud, wat in die oond wag, te geniet. Ongelukkig het sommiges
van ons die gewoonte ontwikkel om huis toe te gaan om “gebraaide predikant” te
gaan geniet!
Dit is
elke Christen gelowige se plig om voortdurend vir ons leraars te bid en God se
seën op hulle groot taak te vra. Ons moet altyd onthou, dit is nie ons wat die predikante tot God se diens geroep het nie; dit is God self. Of ons nou van n predikant hou of nie, dit is ons plig om voortdurend vir ons leraars te bid. God sal Sy seen en Sy vrugte op die regte tyd laat kom. Hierdie
versoek (opdrag) om vir ons leraarste bid, vind ons op ʼn paar plekke in die sendbriewe van Paulus:
Rom. 15 : 30-31: “ (30) … Stry
saam met my deur vir my te bid (31) dat God my veilig mag hou tussen
al die gelowiges in Judea en dat my hulp aan Jerusalem aanvaarbaar mag wees vir die
gelowiges daar.”
Ef. 6: 19 “Bid ook vir my dat wanneer ek
preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met
vrymoedigheid kan
bekend maak.”
Kol. 4: 3-4: “… bid tegelykertyd ook vir
ons. Bid dat God vir ons ʼn deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis
van Christus kan
verkondig… (40 Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my
opgelê is.”
1 Tes. 5: 25 “Broers, bid ook vir ons.”
2 Tes. 3: 1 “Verder, broers, bid vir ons,
sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral oorwin soos by julle.”
Wanneer
laas het jy vir jou leraar gebid, of vir hom dankie gesê vir wat hy vir jou
beteken?
No comments:
Post a Comment