Postings

Saturday 27 October 2012

Die boek Openbaring. Verlede Hede of Toekoms.



DIE OPENBARING VAN JOHANNES

Verlede, Hede of Toekoms


                                                                                                  Stes de Necker



Verskillende Uitlegte.

In die hermeneutieke bestaan daar hoofsaaklik vier uitlegte vir die boek Openbaring.

1. Die Futuristiese:
Hierdie skool leer dat hoofstuk 4 tot 22 nog in die toekoms vervul moet word.

2. Die Historiese:
Die historiese skool leer dat daar vanaf Johannes se tyd, ‘n kronologiese vervulling van die boek Openbaring in die geskiedenis was.

3. Die Praeteriste:
Die Praeteristiese skool wil dit hê dat die boek Openbaring alreeds lankal vervul is.

4. Die Harmoniste:
Die Harmoniste probeer op hulle beurt om hierdie verskillende vertolkings met mekaar te versoen en te harmoniseer.

Die laaste twee leerskole is egter by verre in die minderheid in die hedendaagse hermeneutiek.

Die Futuriste glo in die toekomstige “geheime koms” van Christus, waarna daar dan ‘n periode van 7jaar sal wees, wanneer die Antichris op die aarde sal regeer en die Groot Verdrukking sal veroorsaak. Gedurende hierdie periode sal hoofstukke 4 tot 19 van Openbaring dan in vervulling tree. Hierdie teorie is gedurende die 16de eeu deur die Roomse Jesuïtiese priester Ribera ontwerp om as teenvoeter te dien vir die Hervormers se seining dat die Pousdom die groot hoer van hoofstuk 17 is. “vrou … dronk van die bloed van die heiliges en van die getuies van Jesus … ”  (Open. 17:6).

Baie Protestante aanvaar vandag nog die Rooms-geïnspireerde futuristiese vertolking van Openbaring. 

Onder die kerkleiers wat die historiese beskouing onderskryf het was mense soos: Wycliffe, Martin Luther, John Knox, Isaac Newton, John Wesley, Charles Finney, C. H. Spurgeon, D. L. Moody, en nog baie andere.

Die Historiese vertolking is gevestig op vervulde profesieë en nie futuristiese bespiegelinge nie. Op grond van die historiese feite van die verlede, kan ons die vervulling van die profesieë van Openbaring bevestig.

In Openbaring het Jesus Christus self dit wat binnekort sou gebeur, aan die apostel Johannes bekend gemaak. Die totale Openbaring handel oor die Persoon van Jesus en Sy kerk (die Christendom); sedert Sy koms na hierdie aarde, tot en met die voleinding, met Sy wederkoms en die finale oordeel.

Aan die einde van hierdie beskouing kan jy gerus vir jouself die vraag afvra: Hoeveel tyd het die mensdom oor om hulle tot God te bekeer?

Uitleg
(a) Hoofstukke 1 tot 3: - (Veral hoofstukke 2 en 3).
Hoofstukke 1 tot 3 handel oor die tydperk vanaf die skryf van die boek Openbaring (nagenoeg 96 n.C.) tot en met die wederkoms van Christus en die duisendjarige vrederyk. In hierdie hoofstukke word die geskiedenis van die Kerk van Jesus, die heidense Romeinse Ryk, die tydperk van Roomse Katolieke oorheersing die Koninkryk van Christus, sedert die 1e eeu n.C. beskryf, met die klem op die Kerk van Jesus, soos verteenwoordig deur die sewe gemeentes van Klein Asië, voorgestel.

(b) Hoofstukke 4 tot 11: - (Veral hoofstukke 6 tot 11).
Hoofstukke 4-11 handel weereens met die tydperk sedert die ontstaan van die boek Openbaring tot en met die wederkoms van Jesus, maar hierdie keer met die klem op die oorheersing van die Rooms Katolieke kerk en die rol van die Pous, as hoof van die Katolieke kerk.

(c) Hoofstukke 12 tot 22:
Hoofstukke 12-22 handel ook met die Eerste Koms van Christus tot en met Sy wederkoms, maar in hierdie hoofstukke val die klem op die tydperk van die Rooms Katolieke oorheersing deur die Pouse en die Koninkryk van Christus.

Die boek van Openbaring handel dus oor ‘n periode van nagenoeg 2,000 jaar se kerkgeskiedenis, wat geskryf is lank voordat die geskiedenis plaasgevind het!

Op die oog af wil dit voorkom of daar ʼn sekere ernstige teenstrydighede in die boek voorkom, soos byvoorbeeld tussen Op. 2: 10 en Op. 3: 8. In Op. 2: 10 sê Jesus dat die duiwel party van die gemeentelede in die tronk sal gooi en dat hulle “tien” dae baie swaar sal kry, terwyl Hy in Op. 3: 8 sê dat Hy die deur voor hulle oopgesluit het en dat niemand dit weer sal toesluit nie.

Ons moet egter nie Openbaring in die eksakte skryfstyl probeer lees en verstaan nie. Openbaring is die figuratiewe “voorstelling” (openbaring), wat Jesus self aan ons gee met die doel om die betekenis, verloop en uiteindelike gevolg van Sy kerk, (die geloof in Jesus Christus) te verstaan en te begryp. Vir elke gelowige behoort die boek Openbaring, sy/haar persoonlike “statuut” (rede vir geloof in God) te wees. In Op. 22: 6 sê die engel vir Johannes: “Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het Sy engel gestuur om vir Sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”

Naas die boek Maleagi, (Mal. 3: 10) is Openbaring die enigste boek in die Bybel waaraan daar ʼn direkte belofte gekoppel is vir elkeen wat die boek lees en die woorde daarvan ter harte neem.


In Op. 1: 3 staan daar: “Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mens wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.” 
Dit wil voorkom of daar by die apostel ʼn dringendheid bestaan, dat almal die boek Openbaring moet lees en moet glo wat daarin staan, voordat dit te laat is.

Die Sewe Gemeentes van Klein Asië

Openbaring 22: 6 “Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”

Dit was op die eiland Patmos waar Johannes, as banneling, sy profetiese visioen gehad en opgeteken het in die boek Openbaring.

In die tweede en derde hoofstukke van Openbaring, beskryf die apostel Johannes, Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes (stede) van Klein Asië (tans Turkye).

In Openbaring verteenwoordig die sewe gemeentes (metafories) die Kerk van Jesus wêreldwyd. 
Hierdie stede was op die hoof pos- en handelsroete van Klein Asië geleë, en het ook as stilhouplekke op die roete gedien. 

In die rekord van Openbaring 2 en 3, spreek Christus hierdie gemeentes aan in presies dieselfde geografiese volgorde soos wat hulle op die handelsroete geleë was. (Sien ook kaart Pg. 328, Afr. Bybel)

Die boodskappe aan die sewe gemeentes in Klein Asië verteenwoordig sewe verskillende tydperke in die geskiedenis van die Kerk van Jesus, en lê die grondslag vir die samestelling van die res van die boek Openbaring. 

Die Sewe Boodskappe

1. Boodskap aan Efese:  Op. 2: 2-5  (2) “Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. (3) Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. (4) Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. (5) Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.”

2. Boodskap aan Smirna:  Op. 2: 9-10  (9) “Ek ken julle verdrukking en armoede, en tog is julle ryk. (10)  Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.”

3. Boodskap aan Pérgamus:  Op. 2: 13-16  (13) “Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou…. “ (14)  Maar ek het ʼn paar dinge teen julle.” … (16) Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond.”

4. Boodskap aan Thiatíre:   Op. 2: 19-26 (19) “ Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore.” (26) Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê sal Ek mag en gesag oor die nasies gee.”

5. Boodskap aan Sardis:  Op. 3: 1-5  (1) “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. (3) Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. (5) Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor Sy engele verklaar dat hy aan My behoort.”

6. Boodskap aan Filadelfía:   Op. 3: 8- 12  (8)  “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan My boodskap vasgehou en My nie verloën nie. (11)  “Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.”

7. Boodskap aan Laodicéa:   Op. 3: 15- 20  (15) “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. (16) Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan ek julle uit My mond uitspoeg. (20) Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.”

Efese

Die Efese tydperk verteenwoordig die Kerk van Jesus ná Sy kruisiging tot en met nagenoeg 135 n.C. toe die tweede Joodse opstand teen Rome totaal verpletter is.  Jesus se boodskap aan Sy kerk in die Efese tydperk, is:  Die kerk het Jesus nie meer so lief gehad as aan die begin nie en dat die kerk (die Christene) moet terugkeer na die tyd soos aan die begin toe hulle die Evangelie entoesiasties verkondig het. Diegene wat in hierdie moeilike tyd getrou gebly het, is deur die Romeinse Katolieke kerk geklassifiseer as “Nasareners” (Sien Hand. 24:5) en “Ebioniete” (arm mense).

Smirna

Jesus se tweede boodskap is gerig aan die kerk in Smirna. In hierdie boodskap spreek Jesus twee aspekte van die kerk aan. Die een aspek was hulle vermoë om te onderskei tussen die voortsetting van die ware Kerk van God en die organisasie wat in werklik­heid die opkomende Sinagoge van Satan was. Die ander aspek was hulle gewilligheid om ver­volging en selfs die dood te verduur om aan God getrou te bly. Fisies gesproke was die Christene van hierdie era baie arm en was hulle wreed vervolg. In God se oë het diegene wat in dié verskriklike tyd getrou gebly het, beskik oor ’n geestelike rykdom van groot waarde, en hulle sal uiteindelik die kroon van die lewe ontvang. 

Pérgamus

Die derde tydperk van die Kerk van Jesus, verwys na die tydperk 303-313 n.C. toe Diocletianus, Keiser van Rome, die ergste vervolging van die Jode en Judaïsme geloods het. Die Jode word uitgedryf tot in Klein-Asië en alhoewel hulle op hierdie stadium reeds honderde kilometers van hulle oorspronklike tuiste of gemeentes verwyderd was, behou hulle steeds die benamings van “die kerk van Efese” en die “kerk van Macedonië”.  In hierdie tyd ontstaan daar die gebruik van die woord “Paulitane”, wat die Joodse geloof aandui. Die Paulitane word gekarakteriseer deur die Kerk in Pergamus (Op. 2:12-17). Die woord Pergamus beteken “versterk” of “vesting” en die Kerklidmate van hierdie era was bekend dat hulle in afgesonderde, bergagtige gebiede gewoon het. In Openbaring 2:13 sê Christus dat die Pergamus Kerk woon waar Satan se troon is. Pergamum was ’n middelpunt van die antieke Babiloniese verborgenheid godsdiens. In 133 v.C. toe Attalus III, die laaste “godkoning” van Pergamum sterf, bemaak hy in sy testament sy koninkryk en sy titel, Pontifex Maximus (“Opperste Brugbouer” tussen mens en God) aan die Romeine. Die Pergamus Kerk – die Paulitane – het geografies na daardie selfde gebied verskuif toe Keiser Konstantyn, Sondag onderhouding op die Romeinse Ryk afge­dwing het.

Sardis

Die boodskap aan Sardis verwys na die tydperk gedurende die laat Middeleeue toe die Waldensiese groepe (vertakking van die Paulitane) toegelaat het dat Romeins Katolieke priesters hulle kinders doop [besprinkel], en ’n gewilligheid begin toon het om aan die Katolieke aanbidding-seremonies deel te neem. Wetende dat sodanige seremonies nutteloos was vir hulle salig­heid, het baie gevoel dat ’n uiterlike kompromis met Rome, verdere vervolging sou verhoed en hulle toegelaat sou word om hulle eie geloof (Judaïsme) in die geheim en privaatheid van hulle huise te beoefen. Jesus verwys ook in Op. 2: 20- 24. In die oë van God was hulle optrede gelyk aan geestelike hoereerdery en hul gebruik van die Katolieke nagmaal was “om afgod offers te eet”. In Op. 2: 25 sê Jesus: “… hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.”

Filadelfia

Toe algehele afvalligheid die meeste van die oor­blywende Waldense teen die einde van die 1500’s ingesluk het, het God egter ’n getroue groep bewaar wat aan die Kerk van Jesus getrou gebly het. Jesus se boodskap aan die gemeente van Filadelfia verwys na hierdie tydperk in die geskiedenis toe klein groepies Waldense in die Karpate, ʼn bergreeks in Middel- en Oos-Europa, oorleef het. In werklikheid het ’n getroue groep in afsondering in daardie gebiede bly bestaan tot in die moderne tyd. 

Laodicéa

Toe die 17de eeu aanbreek, is die volgende tydperk in die geskiedenis van die Kerk van Jesus, ingelyf. Oorblyfsels van die Duitse Waldense, party­keer die Lollarde genoem, het reeds in die 14de en 15de eeu tot in Holland en Engeland deurgedring en in die finale dekades van die 16de eeu kom die Kerk openlik na vore in Duitsland en Engeland.

Na die beëindiging van Wêreld Oorlog II, bevind die Kerk van Jesus homself weer by ʼn kruispad. Wêreldwyd saai Satan verwarring en ontmoediging. Weens maatskaplike verbrokkeling en agteruitgang, morele verval en losbandigheid, ekonomiese ineenstortings en persoonlike verarming, voel baie Christene seergemaak en kwaad, of oorweldig deur al die hedendaagse probleme en sorge van hierdie lewe. Sekeres word deur vals leraars mislei en verval in verskillende dwaalleringe. Andere raak so louwarm van gesindheid dat hulle bloot uit gewoonte of hoop op ʼn beter toekoms, nog aan die Woord van God vashou.

In Matt. 24: 10-14 staan daar: (10) “In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. (11) Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. (12) Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. (13)  Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. (14) En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

Lou-warm is nie vir God aanvaarbaar nie!

Die Sewe Seëls

Eerste Seël (Openbaring 6:1-2):
Die Wit Perd, 31 v.C. tot 180 na Christus: Rome as Oorwinnaar.

Vers 1-2: (1) “En Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die knal van ‘n donderslag: Gaan uit! (2) En ek het gesien: daar was ‘n wit perd. Sy ruiter het ‘n pyl en boog gehad. ʼn Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin. en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.”

Die eerste perd was “wit”. Die ruiter het ‘n pyl en boog in sy hand en ‘n oorwinnaarskroon word aan hom gegee, dit is ‘n lourierkrans soos aan ‘n oorwinnaar en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.

Die Romeinse generaals en keisers van hierdie tydperk het altyd op wit perde gery en in hulle oorwinnings parades altyd wit lap wat soos ʼn serp gelyk het en ‘n lourierkrans gedra. Gedurende hierdie tyd het die Roomse Ryk se invloed uitgebrei totdat dit die hele bekende wêreld van destyds beslaan het, selfs tot sovêr as die Britse Eilande in die Noorde.

Die laaste van hierdie Romeinse Keisers, Diocletian, het een van sy generaals, Konstantyn gestuur om oor Brittanje te regeer. Hy het daar met ‘n dame uit die Britse adelstand getrou, haar naam was Helena en sy was uit die graafskap van York afkomstig. Hulle het ‘n seun gehad en hom ook Konstantyn genoem, dit is hy wat later Konstantyn die Grote genoem is.

Helena was ‘n Christen en die jong Konstantyn het ‘n Christelike opvoeding gehad. Hy was bestem om ‘n magtige rol te speel in die geskiedenis toe hy die Christelike Geloof die amptelike geloof van Rome gemaak het.

Die pyl en boog in vers 2 van Openb. 6 versinnebeeld die omvang van die Roomse besetting wat tot so ver as Engeland gestrek het. Die uitbreiding van die Romeinse Ryk was enorm en tereg is daar na die Romeinse Keiser verwys as die een wat  “uitgegaan het as ‘n oorwinnaar en om te oorwin”.

Tweede seël (Openbaring 6:3-4):
Die Rooi Perd en Ruiter met die groot swaard. 185 tot 284 na Christus.

Verse 3-4: (3) Toe Hy die tweede seël oopmaak, het ek die tweede lewende wese hoor sê: Gaan uit!  (4) Daar het ʼn ander perd, ʼn vuurrooi, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor. ʼn Groot sward is aan hom gegee.”

Die verandering in kleur van die wit perd na die van ‘n rooie, versinnebeeld die einde van vrede in die Romeinse Ryk en die oorloë wat sou kom; rooi, die kleur van bloed. Vers 4: Hulle sou mekaar doodmaak, wat burgeroorlog sou beteken. Die “groot swaard” was in daardie tyd gebruik in handgemeen gevegte, wat op sy beurt daarop dui dat dit nou nie meer oorlog op ‘n lang afstand is nie (pyl en boog), maar oorlog op die tuisfront. Die handhawing van wet en orde het nou oorgegaan tot heerskappy van die swaard.

Gedurende die periode 185 tot 284 n.C. was daar nie minder as 32 Keisers en 27 aanspraakmakers op die Keiserlike troon. Hierdie tydperk, wat gevolg het op die tyd van vrede en uitbreiding van die Romeinse Ryk, was gekenmerk deur onderlinge stryd, burgeroorlog en bloedvergieting.

Derde seël (Openbaring 6:5-6):
Die Swart Perd en sy Ruiter met ‘n skaal in sy hand; 200 tot 250 na Christus.

Verse 5-6: (5) Toe Hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: Gaan uit! Ek het gesien: daar was ʼn swart perd. Sy ruiter het ʼn skaal in sy hand gehad. (6) Toe het ek iets soos ʼn stem by die vier lewende wesens hoor sê: ‘Net een skeppie koring vir ʼn dagloon en net drie skeppies gars vir ʼn dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.”

Die swart perd versinnebeeld die tydperk van depressie en somberheid. Die skaal beteken belastings. Al die oorloë en binnelandse stryd het die Ryk in groot geldelike moeilikheid gedompel. Die skaal was op die Romeinse muntstukke van daardie tyd afgebeeld, en dit was die kenteken van die ontvanger van belastings.

Waar daar geen geld beskikbaar was nie, was die belasting in die vorm van goedere ingevorder, en dan op die skaal afgeweeg. Hierdie invorderaars word gewaarsku om nie oneerlik te wees met die afweeg van die olie en die wyn nie.

Historici is dit eens dat dié grootste oorsaak van die agteruitgang en uiteindelike val van die Romeinse Ryk, oormatige belasting was. Dit het tot depressie gelei en die verarming van die boere gemeenskap wat die ruggraat van die eens trotse Romeinse Ryk was.

Vierde seël (Openbaring 6:7-8):
Die Vaal Perd met die dood as sy Ruiter en die doderyk as sy Lyfwag; 250 tot 300 na Christus.

Vers 7-8:  (7) Toe Hy die vierde seël oopgemaak het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: Gaan uit!  (8)  Ek het gesien: daar was ʼn vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood, en die doderyk het agter hom aangegaan. Aan hulle is mag oor ʼn kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.”

Die “doderyk” in Openb. 6: 8 is vertaal uit die Grieks “hades”. Die ruiter, die dood, is sy verteenwoordiger en al die dooies die gevolg van sy werk gedurende hierdie tydperk.

Die vaal perd versinnebeeld dood en verval en stel die naderende ineenstorting en verbrokkeling van die Romeinse Ryk voor. Die dood het letterlik tienduisende Romeinse burgers as slagoffers geëis deur oorloë, peste en wilde diere. Peste (plae) het sonder onderbreking in elke provinsie, stad en amper elke familie in die Romeinse Ryk, gewoed. Daar was tye waarin daar tot 5,000 mense per dag in Rome gesterf het.

Namate die bevolking uitgedun geraak het, het die wilde diere toegeneem en sodoende die laaste gedeelte van vers 8 letterlik vervul deurdat sommige Romeine deur hierdie wilde diere doodgemaak is.

Vyfde seël (Openbaring 6:9-11):
Heidense Rome martel die Christene; 303 tot 313 na Christus.

Verse 9-11:  (9)  Toe die Lam die vyfde seël oopgemaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het.  (10)  Hulle het hard geroep: ‘Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde. (11) Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ʼn klein rukkie te wag, totdat hulle mede dienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.”

Daar is nie meer perde nie wat beteken dat die eenheid van die Romeinse Ryk tot niet is. Van nou af is die Ryk verdeel onder verskeie van die generaals met Diocletian aan die hoof. Die vyfde seël is die voorstelling van die tydperk in die geskiedenis toe die vervolging van die Christene deur die Romeine ʼn hoogtepunt bereik het.

Dit was die laaste tien jaar waarin Diocletian, Maximian en Galerius saamgespan het om hulle sukses te vier oor die algehele vernietiging van die “Christelike sekte”. Die boodskap aan die gemeente van Smirna (Open. 2:8-11) gaan oor hierdie selfde tydperk. Liewer as om aan heidense plegtighede deel te neem, het menigtes die dood en openbare marteling verkies. 

Baie Christene het ook in die Katakombes onder Rome geskuil. Hierdie lang, kronkelende onderaardse gange was omtrent 8 tot 10 voet hoog en het vir kilometers onder die Stad van Rome gestrek. Daarin het duisende van die Christene gelewe, gesterwe en is ook daarin begrawe.

Selfs kinders het in daardie dae terwille van hulle geloof gesterf. Die aandoenlike verhaal van Cyril, die seuns-martelaar, is een van baie. Hy het in die tyd geleef toe Valerian, Keiser van Rome was, nagenoeg 300 jaar na Christus. Dit is nie bekend hoe Cyril die eerste keer van ons Here Jesus Christus gehoor het nie. Hy het heidense ouers gehad wat hom uit hulle huis uitgejaag het omdat hy nie die heidense gode wou aanbid nie. Al was hy maar net ‘n seun van ongeveer 13 of 14 jaar oud, het hy nie geweifel nie, maar trou gebly tot op die einde: Hy was gevange geneem en voor die Romeinse Regbank gestel. Sy hande was vasgebind, maar hy het sonder vrees voor die regter gestaan, terwyl daar vir hom gesê is dat hy sou sterf indien hy vir Christus nie prysgee nie. Hy het geantwoord: “Ek is nie bang om te sterf nie, want die dood sal my net na ‘n beter lewe voer. As julle my doodmaak sal ek na my huis in die hemel gaan, na die heerlike stad”. So het hierdie  jeugdige martelaar dan sy jong lewe neergelê en is hy saam met duisende ander tereggestel.



In vers 9 lees ons: “sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is …”  Dit is duidelik dat hierdie Christene nie maar net gesterf het nie, maar dat hulle ʼn marteldood gesterf het. Die Romeine het die Christene gehaat omdat dié hulle daarop gewys het dat die heidense gode vals gode was, en dat Jesus die Christus, spoedig,  die komende Koning sou wees.

Die verwysing na “onder die altaar” verwys heel moontlik na die Ou Testamentiese voorskrifte dat die priester die bloed van die offer-dier (bul) moet verf aan die horings van die altaar, wat in die tent van samekoms was. Hy moes dan die orige bloed van die bul uitgiet aan die onderkant van die brandofferaltaar wat by die ingang van die tent van samekoms was. Die martelare “onder die altaar”, was in dieselfde posisie as waar die bloed van die offerdiere uitgegiet was, aangesien hulle marteldood ‘n offerande van liefde, geloof en trou aan God was.

In vers 11 staan daar “….daar is vir hulle gesê om nog ʼn klein rukkie te wag, totdat hulle mede dienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.” Hiermee gee Christus duidelik te kenne dat daar nog ʼn lang tyd van vervolging, voorlê. 

Selfs in die huidige tyd word daar daagliks nog steeds duisende Christene terwille van hulle geloof vervolg. 

Die sesde seël (Openbaring 6:12-17):
Rome verbrokkel - Die einde van die Romeinse oorheersing:  313 tot 395 na Christus.

Verse12-17:  (12) En ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het ʼn groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword.  (13) Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van ʼn vyeboom afval as dit deur ʼn sterk wind geruk word. (14) Die hemel self het verdwyn soos ʼn boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. (15) Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, en die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. (16) Hulle het vir die berge en die kranse gesê: ‘Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. (17) Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”

Vers 12-13: Die “aardbewing” versinnebeeld ‘n “politieke” aardbewing terwyl die “son,  maan en sterre” die “politieke hemel” waarna in die vorige twee verse verwys is, versinnebeeld.  Die berge en eilande versinnebeeld die koninkryke. 

Vers 15-16: Die Christen-martelare het natuurlik die Woord in die krag van die Heilige Gees verkondig en magtig voor die heidene getuig en hulle ernstig gewaarsku teen die toorn van God wat aan die kom was. Deur hulle getuienis het die heidene geweet van die “dag van afrekening” wat sou kom, tensy hulle tot inkeer kom.

Toe hulle “politieke hemele”, wat vir hulle so veilig en ewigdurend gelyk het, begin verbrokkel en ineenstort, het die Romeine egter die waarskuwings onthou wat die Christene aan hulle gegee het.

Die ineenstorting van die Romeinse “politieke hemele”, soos wat Johannes dit persoonlik sien gebeur het, het begin toe die Romeinse Keiser, Diocletian, tesame met ander heersers wat hy in sy Ryk aangestel het, die Christene verskriklik vervolg en daarmee gespog het dat hy selfs die Naam van Christus sou uitwis.

Die bevolking van Italië, wat swaar gebuk gegaan het onder sy wanbestuur en wreedheid, het Konstantyn II wat toe die keiser van die Oostelike helfte van die Romeinse Ryk in 306 A.D. geword het, gesmeek om hulle te kom bevry. Hy het aan hulle versoek voldoen.

Daar word vertel dat terwyl Konstantyn die Groote op pad was om die Christene te gaan bevry, hy ‘n wonderlike droom gehad het. Hy het gedroom hy sien die eerste twee letters van Christus in Grieks, X (Chi) en R (Rho) en bokant hulle was die woorde geskryf: “In Hoc Vinces”, wat beteken: “Hiermee sal jy oorwin”. Hy het dadelik die teken van die Kruis op sy vaandels laat borduur, en op al die skilde van sy manskappe.

Konstantyn het in die beroemde slag van die “Brug van Milvian”, in die jaar 312 n.C. die leër van Diocletian verslaan en in 313 n.C. die Edik van Milaan uitgevaardig, waarin ʼn sekere mate van vryheid van geloof aan die Christene toegeken is.

Na die edik van Milaan is die vervolging en marteling van die Christene  vereers beëindig.  
In die jaar 476 A.D. het die hele Romeinse Ryk verbrokkel. Hierdie ineenstorting het in die jaar 395 A.D. begin toe die Romeinse Ryk in twee dele verdeel is wat teen mekaar gewerk het; die Westelike helfte het onder Honorius gestaan en die Oostelike helfte onder Arcadius.

Met die beëindiging van die “sesde seël” en die “Konstantyn-aardbewing” het die Romeinse Ryk nog nie finaal van die toneel verdwyn nie. Hierdie finale verdwyning vind eers plaas in die tydperk van die “sewende seël” (Open. 8 en verder)

Die sewende seël (Openbaring 8: 1-5):
En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel, omtrent ‘n halfuur lank.

Verse 1 tot 6, is ʼn inleiding tot die sewe trompette van die sewende seël wat op die punt staan om oopgemaak te word.

In hierdie verse lees ons van ‘n voorlopige gesig wat aan Johannes die grondoorsake openbaar van die sewe oordele wat nou op die punt staan om losgelaat te word. In die Ou Testamentiese tyd het die hoëpriester daagliks ‘n vuurpan vanaf die koperaltaar van offerande in die voorhof van die tempel geneem en dit in die Heiligdom ingedra. Daar was ook ʼn wierookbak met spesiaal voorbereide wierook wat voor die voorhangsel gestaan het.

Terwyl die geur van die wierook opgestyg en deurgedring het deur die voorhangsel tot in die Allerheiligste, het die biddende Israeliete in stille aanbidding buitekant gewag vir die priester om uit die tempel uit te kom om hulle te seen.  In Luk. 1: 9 lees ons dat Sagaria: “…. volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altar te brand. (10) Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid.”

Die bedoeling van vers 3 is dat die engel die gebede van die heiliges by die reukwerk van die wierookoffer moet voeg, sodat die gebede as ‘n lieflike geur voor God moet opstyg.

Vers 4, word hierdie bedoeling herhaal as dit sê dat, net soos die geur van die wierook uit die hand van die hoëpriester opstyg, so moet dit die gebede indra in die teenwoordigheid van God. Dit openbaar dus die doel van die reukwerk, naamlik om die gebede van die volk deur die andersins ontoeganklike voorhangsel tot in die teenwoordigheid van God te dra, om sodoende sy seën te ontvang.

Vervolgens lees ons in vers 5 dat die engel hierdie selfde wierookbak geneem en met vuur van die altaar volgemaak het dit op die aarde uitgegooi het. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ʼn aardbewing gekom. Hierdie tekens, donderslae ens., versinnebeeld die “storms” wat op die punt gestaan het om oor die Romeinse Ryk los te bars.  

Hierdie selfde wierook en vuur van die Heilige Gees wat die aanbidding van die getroue gelowiges aanneemlik gemaak en hulle geseën het, het ook die vloek en oordele van God op die valse aanbidders laat kom.

Die sewe trompette
Die eerste vier trompette openbaar aan ons in breë trekke die oordele van God op die
Romeinse Ryk.

Die laaste drie trompette openbaar aan ons baie strawwer oordele wat oor die afvallige Christendom sal kom.

Eerste Trompet: Openbaring 8:7: “ʼn Derde van die aarde is verbrand, ʼn derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand.”  Hierdie gebeurtenis dui op die  Gote onder aanvoering Alaric wat vanuit die Noordooste op die Romeinse Ryk toegesak het in die jare 400-410 n.C. 

Tweede Trompet: Openbaring 8:8-9: “ Iets soos ʼn groot vuurspuwende berg is in die see gegooi. ʼn Derde van die see het bloed geword, ʼn derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en ʼn derde van die skepe het vergaan.” In 425-470 val die vandale onder die aanvoering van Genseric die Romeinse Ryk vanaf die see binne. 

Derde Trompet: Openbaring 8:10-11: “ʼn Groot ster wat soos ʼn fakkel brand, het van die hemel afgeval. Hy het op ʼn derde van die riviere en op die waterbronne geval. Die ster se naam is Bitterels. ʼn Derde van die water het bitter geword, en baie mense het van die water doodgegaan omdat dit besmet was.” In 451 n.C. val die Hunne Die Romeins Ryk vanaf die Donau Rivier binne

Vierde Trompet: Openbaring 8:12: “ ʼn Derde van die son en ʼn derde van die maan en ʼn derde van die sterre is getref, sodat ʼn derde van hulle donker geword het. ʼn Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie.”

In 476 n.C. dien die Herulie, onder aanvoering van Odoacer, Rome die finale slag toe, en die eens trotse Romeinse Ryk stort totaal in duie.  

Vyfde Trompet: Openbaring 9:1-11 beskryf die ster wat op die aarde geval het, en ʼn skag na die onder aardse dieptes gemaak het. Uit hierdie skag het daar rook gekom wat die son verduister het en uit die rook het daar sprinkane gekom wat die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe gehad het nie, vyf maande lank gepynig het.

In vers 12 staan daar: “Die eerste “Wee” is verby. Kyk daar kom nog twee hierna.”
In die jare 612-762 n.C. het die Arabiere (Sarasene) die Midde-Ooste, Noord-Afrika en Spanje vir 150 jaar lank geplunder en verwoes.  

Sesde Trompet: Openbaring 9:13-21 beskryf hoe die vier engele, wat gereed gehou was vir hierdie dag, losgelaat is om ʼn derde van die mensdom dood te maak. Dié wat nie deur die engele doodgemaak is nie, het hulle steeds nie bekeer nie, en aangehou om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg. 

In 1453 n.C. het die Turke Konstantinopel ingeneem nadat hulle eers die Midde-Ooste en Oos-Europa, tot sovêr as Oostenryk, geplunder en verwoes het.  

Sewende Trompet: Openbaring 11:15-19: “ (15)  Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en Sy gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.”  en verder in vers 18: “Die eindtyd het aangebreek: die dooies word geoordeel; aan U dienaars, die profete, en aan die gelowiges, dié wat U vrees, klein en groot, word hulle loon gegee; en dié wat die aarde vernietig, word vernietig. (19) Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan, en Sy verbondsark wat in Sy tempel is, het sigbaar geword.”

Die sewende trompet verteenwoordig die tydperk waarin ons vandag leef, tot en met die wederkoms van Christus.

Die Klein Boekie

Hoekom Johannes nou juis na ʼn klein boekie verwys, is nie duidelik nie. Sekere teoloë beweer dat Johannes die “Groot Boek” gesien het, en dat die Bybel klein daarteenoor vertoon.

Tot met die tyd van die Hervorming, was die meeste mense ongeletterd en vir hulle was die Bybel, wat tot op daardie stadium hoofsaaklik net in Hebreeus, Grieks en Latyn vertaal was, letterlik ʼn geslote boek.

Na die ontstaan van die drukkuns en die behoefte aan ʼn eie talige Bybel wat al groter geword het, is die Bybel sedert die tyd van die Hervorming, reeds in 2000 tale vertaal en in meer as 98% van alle lande ter wêreld versprei. 

Die Vrou en die Draak

Openbaring 12:1-18.
Die beeldspraak oor die geskiedenis van die “vrou en die draak” in Openbaring 12, is sekerlik van die mooiste prosa in die hele boek Openbaring.

Die boek wat Johannes in die regterhand gesien het van Hom wat op die troon sit en met sewe seëls verseël was, is vandag, 2000 jaar na die openbaring aan Johannes, bykans volledig deur die geskiedenis self geopen. Al wat nou oorbly is die finale vervulling van die profesie, die wederkoms van ons Here Jesus Christus en die finale oordeel.

Die res van Openbaring (hoofstukke 12 tot 22) handel hoofsaaklik met die hooffigure in die openbaring, wat alreeds aan ons bekend is: die Here Jesus Christus, Saligmaker van die wêreld, Verlosser van Israel, en die komende Koning; Satan die Teenstander, wie vir Christus opponeer en wat probeer om Israel te vernietig en die kerk en die Bybel uit te roei. Die Draak, die Slang en die Dier, is Satan, wat dikwels die gedaante van nasies en stelsels aanneem wat vyandig staan teenoor Christus en sy kerk en sy volk. Daar is ook twee vroue. Die een die kerk van God, en die ander een “Babilon” die hoer wat Satan se vennoot en hulp in sy stryd teen God is. 

Die Sewe Persoonlikhede van Op. 12

(1) Die Vrou: Israel -  Openbaring 12:1-2:
1 (1) Toe het daar ʼn groot teken in die hemel verskyn: daar was ʼn vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ʼn kroon van twaalf sterre. (2) Sy was swanger en het geskree van pyn, want die geboorte pyne was daar

Selfs in die Ou Testament is Israel as ʼn vrou voorgestel. Jesaja 54:4-6: “ (4) Moenie bang wees nie, jy sal nie weer in die skande kom nie, moenie so verleë daar staan nie, jy sal nie weer verneder word nie. Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet en nie meer dink hoe jy verneder is toe jy ʼn weduwee was nie. (5) Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem. (6) Jy is ʼn verstote en bitter bedroefde vrou, maar die Here roep jou terug, want hoe kan ʼn man sy eie vrou vergeet? sê jou God.”

Herodes het gedurende hierdie tydperk die Here Jesus probeer vermoor toe Hy nog ‘n klein kindjie was. Hierdie selfde Heidense Romeinse Ryk het gedurende die bittere vervolging van die pasgebore Christelike Kerk probeer om die Liggaam van Christus (die kerk) te vernietig.

Die “kind” wat op die punt gestaan het om gebore te word, versinnebeeld vir ons die Kerk van Jesus Christus dwarsdeur die eeue. Hierdie draad loop dwarsdeur die geskiedenis van hierdie sataniese poging om deur sy aardse instrumente die Christelike getuienis hier op aarde te vernietig.

(2) Satan - Openbaring 12:3-4
3 “ (3) Daar het ook ʼn ander teken in die hemel verskyn: daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe daar sewe heersers krone. (4) Sy stert het ʼn derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om ʼn kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring.”

Die “tien horings” van die draak stel die tien koninkryke voor waarin die Romeinse Ryk later verdeel is. Die “sewe koppe” verteenwoordig die sewe heuwels waarop Rome gebou is. Die “sewe krone” dui die sewe verskillende regeringsvorms aan wat agtereenvolgens oor die Romeinse Ryk geheers het.

In die jaar 63 v.C. het die Romeine die nabye ooste, insluitende Palestina (dit wil sê die Oostelike “derde” van die Romeinse “aarde”) ingeneem en die heersers vervang met Romeine. Dit het die voorspelling vervul dat “die derde van die sterre van die hemel op die aarde gegooi is”: net soos vantevore beteken die “hemel” hier die politieke hemel. Op hierdie wyse het Satan probeer om deur middle van die Romeinse Keisers die Here Jesus Christus en sy kerk dood te maak, deur aanvanklik Rome se aangestelde maghebbers (goewerneurs) te gebruik soos bv. Herodes en Pontius Pilatus.

(3) Die Kind: Christus en sy Kerk -  Openbaring 12:5

5” (5) Sy het ʼn  kind in die wêreld gebring, ʼn seun, bestem om al die nasies met ʼn yster septer te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na Sy troon toe… “

Die kind waarna hier verwys word is natuurlik Jesus.

Die Vlug van die Vrou - Openbaring 12-6:
6 “ (6) … en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar ʼn plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.” 

Alreeds so lank gelede as die jaar 1042 v.C. het God aan Dawid belowe, toe hy nog in Palestina was, dat Hy vir hom ‘n ander plek vir Israel sou gee waar sy veilig sou wees teen die aanslae van die bose. 2 Samuel 7:10: 10 (10) Ek het ʼn woonplek aan My volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen… “ Dieselfde belofte aan Israel vind ons ook in Hos. 2 vanaf vers 13 tot 22.

(4) Die Aartsengel -  Openbaring 12:7-9:
7 “ (7) Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, (8)  maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, (9) want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uitgegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.” en dan vers 12: “… Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle tot gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.” 

Die Apostel Paulus skryf in: Efesiërs 6:12: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.”  Satan is die god van hierdie wêreldstelsel en beheer die verskillende nasies deur middel van hierdie “owerhede” en “magte”  (Luk. 4:5-6).

Die duiwel en sy engele kon nie daarin slaag om die “vrou” (Israel) te verhoed om die bestemde plek te bereik nie. Hulle het die oorlog in die hemel verloor en is toe op die aarde neergewerp; die Romeinse aarde van daardie tyd. In plaas daarvan om nog langer in besit van die Keisers te wees, het Satan in die Pouse ingevaar en nóg wreedaardiger geword.

(5) Die Draak Vervolg die Vrou - Openbaring 12:13-16:
13 “ (13) Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. (14) Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. (15) Die slang het toe ʼn stroom water soos ʼn rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, (16) maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek gespoeg het.”

Die invalle van die sogenaamde “barbare” van die geskiedenis, wat die mag van
die Romeinse Ryk uiteindelik vernietig het, kon Israel nie vernietig nie.

Die Draak voer Oorlog teen die Ander Nakomelinge van die Vrou             Openbaring 12:17:
(17) Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en
aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het.”

In hierdie gedeelte van Openbaring word daar heel waarskynlik verwys na die tyd van die reformasie toe die draak nie daarin kon slaag om die “vrou” in die Westerse wêreld te vernietig nie. Hy het toe omgedraai en al sy woede uitgehaal op haar ander nakomelinge wat op die vasteland van Europa agtergebly het. In die suide van Frankryk en in Noord-Italië is hele dorpies vernietig en mans, vrouens en kinders wreed om die lewe gebring terwille van hulle geloof in Jesus Christus.

Die Franse Hugenote wat na Suid Afrika gevlug het, was die gevolg van die wraak van die draak op hulle, omdat hulle die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus gehou het. Die afgryslike inkwisisie, toe marteling selfs as metode goedgekeur was om inligting te bekom, is ʼn verdere aanduiding dat die draak selfs die Roomse kerk gebruik het om sy woede op die nakomelinge van die vrou uit te haal.

(6 en 7) Die dier uit die see en die dier uit die aarde - Openbaring Hoofstukke 13 tot 20
In Openbaring 13 lees ons van die dier wat uit die see (6) en die dier wat uit die aarde opgestaan het (7), en wat hulle gesag van die draak ontvang het. Die slegte nuus is dat ons vandag in die tyd van die “dier” leef. Die vervolging van die Jode tydens Wêreldoorlog II, toe hulle nie toegelaat was om hulle besighede te bedryf nie en kentekens moes dra waaraan hulle uitgeken kon word; die opkoms van die geldmag wat vandag besig is om die westerse wêreld in ʼn greep van “geld aanbidding” vas te vang en politieke leiers wat nie skroom om die naam van Christus vir hulle eie politieke motiewe te misbruik nie, is duidelike tekens van die verskriklike dinge waarvan daar in Op. 13 gepraat word.

Die goeie nuus is egter dat Jesaja reeds in die Ou Testamentiese tyd van hierdie dinge geweet het en kon sê: “U het wonders gedoen; dinge wat U lankal besluit het, het U volgens plan uitgevoer. Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder, die doek wat oor al die volke gegooi was, waarmee al die nasies toegemaak was. Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat Sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê.” (Jesaja 25 : 1 en 7-8)

In hoofstukke 14 en 15 word die oorwinning van die gelowiges oor die ongelowiges; die oorwinning van goed oor kwaad; die oorwinning van die lig oor die duisternis,  beskryf.  Soos Israel van ouds, sal die Here ons weer na die beloofde land in Sy koninkryk van die hemel, lei. In Op 15: 5 staan daar: “Hierna het ek gesien: die tempel in die hemel, die woonplek van God, is oopgemaak… “

God is vandag nog besig om Sy volk te lei soos wat Hy hulle gedurende die uittog uit Egipte gelei het. God voorsien vandag nog in ons daaglikse behoeftes. Die vuurkolom snags, en die wolkkolom bedags is nog steeds teenwoordig; Ons sien dit net nie altyd raak nie!

Soos die res van die Nuwe Testament is die boek Openbaring onlosmakend verbind aan die Ou Testament!  Net soos God die volk Israel uit Egipte, die plek van slawerny, gelei het na die beloofde land Kanaän, net so lei God Sy kerk (ons) deur Jesus Christus uit hiérdie wêreld van slawerny, na die beloofde land in die Nuwe aarde en Nuwe hemel.

Hoofstukke 16 tot 18 beskryf hoe Babilon, die “sedelose vrou”, die “politieke en ekonomiese magte van hierdie wêreld tot ʼn val sal kom, en hoe dat Jesus, in hoofstuk 19, soos ʼn “ruiter op ʼn wit perd” sal kom om die Satan te oorwin. (Hfst. 20)

Daarna breek die “nuwe tyd” aan. Die nuwe hemel en die nuwe aarde, waar daar niks meer sal wees wat deur God vervloek is nie, word aan ons openbaar. (Hfst. 21 en 22)

In Johannes 8: 56 sê Jesus: “Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”

Openbaring is nie die geheimsinnige geslote boek wat so baie mense dit wil voorgee om te wees nie. Jesus het alreeds vir ons die volledige geskiedenis en verloop van die “eindtyd”, (die tydperk vanaf Jesus se koms na hierdie aarde tot en met Sy wederkoms) die geboortepyne van die “nuwe tyd”, (die aanbreek van die heerlike hiernamaals) openbaar. (lees weer Matt. 24: 8)

Op. 22: 14 “Geseënd is dié wat hulle klere was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.” 

Die paradys waarin Adam en Eva geleef het, en wat vir die mens ontoeganklik geword het deur die sondeval, word weer vir die mens toeganklik! 

Openbaring is die enigste boek in die Nuwe Testament waaraan daar ʼn direkte belofte gekoppel is: “Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mens wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.”  (Op. 1: 3)

Jy sál seën ontvang.




No comments:

Post a Comment