Postings

Tuesday 16 October 2012

Teleurstellings.



TELEURSTELLINGS


                                                                                                      Stes de Necker


Soos ek al voorheen genoem het, is ek nie 'n teoloog en nog minder 'n sielkundige. Waaroor ek praat is ervarings uit my eie lewe en hoe God my in daardie tye bygestaan en gelei het.

Ons almal gaan een of ander tyd in die lewe teleurstellings ervaar. Teleurstellings is so deel van die lewe soos asemhaal. Soms is jy teleurgesteld in jouself en soms is jy teleurgesteld in andere. Dit maak nie saak wat die bron van jou teleurstelling is nie, wat saak maak is hoe jy daarop gaan reageer en hoe jy daardie teleurstelling gaan verwerk.

Teleurstelling veroorsaak pyn. Wanneer jy 'n ernstige teleurstelling in jou lewe ervaar, kan jy óf vasval in hartseer of selfbejammering, óf dit kan 'n emosie van aggressie in jou wakker maak.

Wanneer jy byvoorbeeld diep teleur gestel word deur 'n ander persoon, voel dit vir jou of jou hart aan flarde geskeur is en jy voel verraai of bedrieg. Die teenoorgestelde is ook moontlik en dan voel jy kwaad en verontreg en wil jy alles met geweld en aggressie benader.

Dit maak nie saak wat jou reaksie is nie, jy moet so gou moontlik daaruit opstaan en die lewe weer vierkantig in die oë kyk, anders gaan jy verseker in 'n toestand van siels-ongelukkigeid en selfbejammering verval.

Huil jou hart uit en stort al jou smart en trane uit voor God, maar sorg dat jy weer opstaan!

Teleurstellings wissel in graad van daaglikse klein teleurstellinkies soos 'n skoenveter wat breek, tot ernstige teleurstellings soos 'n gebroke huwelik of iemand wat jou diep teleurstel deur sy/haar optrede. Afhangende van die aard van die teleurstelling, ervaar jy ook verskillende grade van emosies wat kan wissel van 'n gevoel van ongelukkigheid en terneergedruktheid, tot 'n gevoel van vernedering, hulpeloosheid en selfs wanhopigheid. Hierdie emosies gaan gewoonlik ook gepaard met gevoelens van eensaamheid, ontsteltenis en te nakoming (seergemaak)

Teleurstelling het gevolglik altyd te doen met verlies en hartseer; verlies omdat ‘n geleentheid verbygegaan het en hartseer omdat jy iets verloor het, omdat iemand dalk nie is wie of wat hy/sy voorgegee het om te wees nie.

In Gen. 6: 6 lees ons dat God ook teleurgestel kan word. “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.”

Ook in Heb. 3: 9 staan daar: “Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.”  God was teleurgestel in die Jode.

Koning Dawid het ook teleurstelling geken en daarom kan hy in Psalm 31: 2 sê “By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou.”

Al die negatiewe emosies wat met teleurstellings gepaard gaan kan jou goeie oordeel so aantas dat jou wraakgedagtes naderhand jou lewe oorheers en jy verhinder word om voluit te lewe.

Die wyse waarop jy die teleurstellings in die lewe gaan hanteer, hang nou saam met mate waartoe jy God vertrou met alles wat in jou lewe gebeur.

God sal altyd, op Sy tyd en volgens Sy beskikking, ons probleme iets van die verlede maak. Miskien nie op die manier of op die tyd wat ek en jy dit wou gehad het nie, maar wat ook al gebeur sál tot ons beswil wees. In Rom.  8: 28 se Paulus: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Ook in Fil. 4: 6 sê Paulus: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
In my eie lewe het ek baie keer gevind dat vandag se teleurstelling, môre se kleinigheid is. Ons moet altyd probeer om ʼn balans te vind en 'n optimistiese uitkyk te kry wanneer teleurstellings ons tref. Baie keer ervaar ons dat 'n groot teleurstelling dikwels 'n positiewe draaipunt in ons lewens voorafgaan.
Moet nie toelaat dat teleurstellings jou lewe oorheers nie. Onthou altyd dat: “… God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom.  8: 28)



No comments:

Post a Comment