Postings

Wednesday 24 October 2012

Bestaan daar vandag nog Wonderwerke, Tekens en Geloofs-genesing?



WONDERWERKE TEKENS EN GENESING


                                                                                  
                                                                                                              Stes de Necker

Inleiding

Dwarsdeur die Ou- en Nuwe Testament lees ons van die wonderwerke wat God gedoen het. Vanaf die opening van die Rooi See tot by die handelinge van die apostels, beskryf die Bybel vir ons talle wonderwerke wat God by verskillende geleenthede, om verskillende redes gedoen het. In die Ou Testament om Sy volk teen die mag van die Farao te beskerm; om die sondes van Sy volk te straf; om mense te genees; om Sy volk te voed; om Sy volk in oorloë by te staan, ens. In die Nuwe Testament lees ons van nie minder as 44 wonderwerke wat Jesus tydens Sy bediening op aarde gedoen het. Al hierdie wonderwerke, in die Ou- sowel as die Nuwe Testament, het God met een doel gedoen en dit was om Sy almag en die egtheid van Sy bestaan aan Sy volgelinge te toon, sodat hulle in Hom sal Glo.

In die Griekse Bybel word daar in die Griekse Nuwe Testament gebruik gemaak van die woord “δύναμις” wat ʼn handeling van mag beteken. Die Afrikaanse woorde “dinamies” en “dinamiet” kom van die Griekse woord “δύναμις”. In die Nuwe Testament gebruik die apostel Johannes die woord “σημεῖον” wat “tekens” beteken, terwyl daar in die Handelinge van die apostels die woord “τέρας”  gebruik word, wat op sy beurt weer “wonder” beteken.

Die wonderwerke wat in die Bybel beskryf word, kan in vier hoof kategorieë verdeel word naamlik:
1. God se mag oor die natuur.
2. God se mag oor lewe en dood.
3. God se mag oor ons geestelike vermoëns.
4. God se mag oor ons gesondheid en welsyn.
5. God sê, mag oor Satan en sy bose engele.

Bogenoemde omvat ons totale aardse bestaan en God toon aan ons Sy almag en egtheid deur op elkeen van hierdie terreine wonders te verrig sodat ons in Hom kan glo en nie twyfel oor Sy bestaan nie. In Joh. 21: 25 lees ons: “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.”

Die Vals Profete.
In Matt. 7: 15-23 waarsku Christus ons egter om op ons hoede te wees vir die vals profete wat ook wonders sal doen. In vers 22 sê Jesus: “Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Wonderwerke en tekens is gevolglik nie ʼn bewys van die egtheid van die bediening van die Woord nie. Daar moet baie sorgvuldig gelet word op die vrugte van die bedienaar se lewe om te bepaal wat die bron van sy/haar krag is.

In Eksodus 7 en 8 lees ons dat die towenaars van Egipte ook in staat was om die meeste van Moses se wonderwerke na te maak. Of hulle, soos die verhoog kunstenaars van vandag, bloot van kulkunsies of oëverblindery gebruik gemaak het, weet ons nie, maar dit is uiters belangrik dat ons altyd eers die motief en die lewe van die persoon wat die wonderwerk verrig, eers sal ondersoek. Satan kan ook wonderwerke verrig! In 2 Kor. 11: 14 sê Paulus: “En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as ʼn engel van die lig.” Daarom moet ons altyd versigtig wees wanneer ons van wonderwerke praat en van dié wat dit verrig. Die valse profete, waarteen Paulus ons waarsku, sal enigiets doen en van enige metode gebruik maak net om hulle doel te bereik. Hulle sal selfs soos ware apostels lyk en al die eienskappe van ʼn ware apostel hê. In 2 Kor. 11: 15 sê Paulus egter: “Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.”

Daar is vandag baie wat daarop aanspraak maak dat hulle die gesalfdes van God is en daarom wonderwerke verrig. Hierdie valse profete is egter nie ware boodskappers nie maar veel eerder gesante van Satan. Meeste van hulle “wonderwerke” is ook so oortuigend dat baie daardeur mislei word. (Mark. 13: 22) 

Beoordeling van Wonderwerke
God gebruik vandag nog mense om Sy wonderwerke te doen, maar Goddank, ons het duidelike riglyne hoe ons hierdie wonderwerke moet beoordeel. Ons moet kyk na die lering en die lewe en vrugte van die wat dit verrig. Daar is heeltemal te veel gelowiges wat naïef genoeg is om te glo dat nét God wonders kan doen en dat almal wat wonderwerke doen deur God gestuur is.  In die verlede is talle mense verlei om demone na te volg, bloot omdat die prediker een of ander geheim kon blootlê of omdat hy/sy een of ander wonder kon verrig.  Dit is presies die leun wat Satan wil hê jy moet glo!

Een van die hoof kenmerke van die Antichris is juis sulke vals tekens en wonders wat selfs genesing insluit. Hierdie wonderwerke is nie net ‘n uitvloeisel van sy werk nie, maar die kern daarvan. Dit is ook nie maar net netjiese kulkunsies nie maar vind “met groot magsvertoon” (dunamis) plaas. “Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders (2 Tessalonisense 9:2).

Toets ALTYD die outensiteit van die bewerker van die wonderwerk; of sy/haar lewe getuig van God as die gewer van die wonderwerk. Enige wonderwerk of wonder teken wat nie hierdie toets kan deurstaan nie, is nie van God nie en moet ten alle tye soos die pes vermy word! 

Teologiese en Filosofiese agtergrond
Deur die geskiedenis het daar wesentlike verskuiwings in die teologiese en filosofiese sieninge van wonderwerke plaasgevind.

Vir die grootste deel van die geskiedenis het die kerk en tradisie, die westerse beskawing oorheers. Met die hervorming het daar egter ʼn verwerping van die tradisie en korrupsie van die Katolieke kerk op daardie stadium, ingetree en het die fokus geval op die hervormde siening van “sola-scriptura”.  Die Skrif alleen.

Die Skrif was erken as die hoogste gesag om tussen reg en verkeerd te onderskei en mense is verantwoordelik gehou vir hulle dade. Almal was Godsdienstig beskou. Jode, Katolieke en Protestante en elkeen se teologie is deur sy kultuur beïnvloed.

In die moderne tyd ontstaan die “Verligtes” wie se filosofie van die heerskappy van die menslike rede en verstand, groot ondersteuning by baie mense vind. Die weg-filosofering van die waarhede van die Skrif en ’n relativering van die Bybel oor kwessies  van die lewe of etiese sake, gaan selfs sovêr dat sekere teoloë, homoseksualiteit, soos wat dit in die Bybel veroordeel en verdoem word, so verdraai dat hulle kon aflei dat die Bybel nie ’n mening oor moderne homoseksualiteit bevat nie! Tekste van die Bybel opereer nie meer binne die konstantes en konteks van die skrif nie. Bybelse konstantes geld nie meer as riglyne vir die alledaagse lewe nie en daar bestaan nie meer “absolutes” nie. Meeste historiese wonderwerke word as miete beskou, en wonderwerke word uit die Bybel verwyder aangesien dit volgens hulle beskryf is nádat die wonder reeds plaasgevind het.

Vandag bevind ons onsself in die tyd van die post-modernesisme waar beide verstand en Skrif geïgnoreer word. Die klem val nou op die méns en sy selfverwesenliking. Ons hoor en lees daagliks van mense se regte, mense “verdien beter”, die samelewing is verantwoordelik vir die hoë misdaadsyfer, mense kan nie verantwoordelik gehou word vir hulle dade nie, ens!

Stories van demone en heksery word top verkopers in die wêreld en filmmakers staan tou om die filmregte van sulke verdigsels te bekom.

Dit is te verstane dat mense die wonderwerke van die Bybel sal probeer interpreteer volgens hierdie wêreld beskouings. In plaas daarvan dat ons Godsdienstige oortuigings ons lewens beskouings sal vorm, moet ons egter eerlik erken dat die moderne wêreld beskouings ook ons persoonlike beskouings kan beïnvloed en dat dit ook ons Godsdienstige oortuigings kan beïnvloed.

Hierdie beïnvloeding vind onder andere plaas deur sienings soos:

Ø      Teoloë soos Clark Pinnock wat wil beweer dat daar nie iets soos die Hel bestaan nie en dat almal eendag Hemel toe sal gaan.
Ø       Charismatiese ideologieë wat wil beweer dat siektes as gevolg van die teenwoordigheid van demone in ʼn persoon, veroorsaak word.
Ø      Sekere post- moderne opvattings dat alles relatief is. Stories van demone en heksery is bloot vermaaklikheid en sal nie kinders se norme en waardes beïnvloed nie. Ervaring is al wat nodig is vir die selfverwesenliking van die jongmens.

Die tyd van Wonderwerke.
In die Bybel se geskiedenis was daar in werklikheid net vier tydperke waarin wonderwerke gereeld voorgekom het en deur ʼn individu verrig is, naamlik:
Moses: God gebruik wonderwerke om Moses se rol as boodskapper van God te bevestig en om Sy mag oor die Egiptiese gode te toon. Israel moes van Egipte wegkom en God se wonderwerke was bedoel om die Israeliete te oortuig van Moses se boodskap en hom te volg na die beloofde land.

Elia en Elisa: Beide Elia en Elisa het grootgeword in ʼn tyd van groot afvalligheid tydens die heerskappy van Agab en Jesebel toe Baal aanbidding hoogty gevier het. Beide hierdie profete moes die volk tot ander insigte bring en is die bevoegdheid gegee om baie wonderwerke in die naam van God te doen.

Jesus: Die meeste wonderwerke het natuurlik tydens Jesus se lewe op aarde plaasgevind en was uitsluitlik bedoel om in die eerste plek, die mens van Jesus se majesteit as Seun van God, te oortuig en tweedens die egtheid van Sy leer te bevestig.

Die Apostels: Die wonderwerke wat die Apostels gedoen het was primer bedoel om hulle (die apostels) se egtheid te bevestig as dissipels van Jesus en om die mense te oortuig dat die boodskap wat hulle verkondig van God self afkomstig was. Dit was die Apostels wat die Evangelie uitgedra het na Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die aarde.  

God se doel met Wonderwerke.
Uit die voorgaande is dit duidelik dat God wonderwerke gebruik vir een doel en een doel alleen; Sodat ons in Hom sal glo.

In die eerste instansie gaan dit nie daaroor of God magtig genoeg is om wonderwerke te doen of nie, maar dat ons sal glo as gevolg van die wonders wat ons raaksien en ervaar. God het nie nodig om ons met wonderwerke te probeer beïndruk nie!

In Joh. 10: 37 sê Jesus selfs: “As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. Maar as Ek dit wel doen, en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

In Matt. 11: 20- 24 lees ons van die onboetvaardigheid van die dorpe waarin Jesus die meeste van Sy wonderwerke verrig het en die feit dat hulle, desnieteenstaande al hierdie tekens, hulle self nie bekeer het nie. Vers 21: “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou  hulle, hulle lankal in sak en as bekeer het.” Ook in vers 23 waarsku Jesus selfs vir Kapernaum dat in die oordeelsdag dit draagliker vir Sodom sal wees as vir Kapernaum. 
 
Ek glo dat die meeste van ons al self ʼn wonderwerk van God in ons lewens beleef het, óf iemand ken wat al ʼn wonderwerk van God in sy/haar lewe beleef het. Vir ons wat in die wonderwerke van God glo, hou die boodskap van Matt. 11 ʼn enorme verantwoordelikheid in: Daarom moet ons des te meer in God glo.

Hoe moet ons die wonderwerke van God verstaan.
Ons hoor so baie dat mense sê die tyd van wonderwerke is verby, vernaam as daar ernstige siekte of dood voorkom. Hoekom kan God my nie ook genees nie. Hy het dan talle mense in die Bybelse tyd genees? Hoekom het God ʼn geliefde van ons deur die dood weggeneem as Hy so ʼn persoon se lewe nog kon gespaar het? Hoekom moet ek verlam wees en in ʼn rolstoel sit as God in die verlede soveel verlamdes kon genees? Hoekom...  Hoekom.

Omdat dit in die eerste instansie nie gaan oor die wonderwerk as sulks nie, maar oor die God van die wonderwerk! As dit God se wil is dat ons genees moet word, sonder die verrigting van ʼn sigbare wonderwerk, sal ons genees word. As dit God se wil is dat ons genees moet deur ʼn sigbare wonderwerk, sodat ons of iemand anders se geloof in Hom daardeur bevestig kan word, sal God ʼn wonderwerk gebruik. As dit God se wil is dat ons tyd om na Hom toe te gaan aangebreek het en gevolglik nie genees sal word nie, sal ons nie genees word nie.

Maar as Christen gelowiges het ons een enorme groot versekering en dit is: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is.” (Rom. 8: 28)  God is altyd by ons. In ons beproewinge; in ons leed; in ons smart; in ons lyding, en in ons dood. Hy sal ons nooit alleen deur die beproewing laat gaan nie.

So wat is dan ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: Vir ʼn gelowige mens maak dit nie werklik saak of God ʼn wonderwerk sal of kan verrig nie. Wat ook al ons omstandighede, Sy genade is vir ons genoeg!

Duisende wonderwerke vind nog elke dag plaas. Miskien sien ons dit net nie altyd raak nie. Talle mense word daagliks genees deur geneeshere aan wie God die gawe gegee het om mense gesond te maak. Talle word daagliks bekeer deur predikers aan wie God die gawe gegee het om Sy woord te verkondig. Talle word in rampe gered deur mense aan wie God die oortuiging gegee het om andere te help. Net soos in die antieke tyd gebruik God vandag nog mense om wonderwerke te doen. Omdat hierdie wonderwerke nie gepaard gaan met groot ophef of basuingeskal nie, sien ons dit net nie raak nie.

Die grootste wonderwerk van alle tye, wanneer Jesus weer na hierdie aarde sal kom, sal die laaste wonderwerk wees wat God op hierdie aarde sal doen!




No comments:

Post a Comment