MARIA MOEDER VAN JESUS EN SY KINDERJARE
Hoeveel weet ons van Maria, die moeder van Jesus, en Jesus se geboorte en kinderjare
Stes de Necker
Waaraan laat hierdie illustrasie jou dink?
Natuurlik, Kersfees! Maar besef ons aldag hoeveel méér daar agter hierdie
bekende toneel verskuil lê.
Ons moet onthou dat, in die oë van die
mense van daardie tyd, Jesus se geboorte in werklikheid die resultaat was van
een van die grootste sondes wat ʼn Jodin in daardie dae kon pleeg, en dit was om
omgang met ʼn man voor die huwelik te hê.
In Lukas 2: 5 lees ons dat: “…Maria, sy verloofde, wat swanger was, het
saamgegaan om ingeskryf te word”. Vergelyk dit met wat in Deuteronomium 22: 21 staan:
“…. Sy moet sterf omdat sy ʼn ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met ʼn
man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was.”
Uit die Ou Testament is dit duidelik dat enige geslagsgemeenskap buite
die huwelik ‘n gruwelike sonde in die oë van die Here is.
Matteus
1: 18 lees ons: “Toe sy moeder aan Josef verloof was, nog voor hulle
getroud was, het dit geblyk dat sy swanger is. Die swangerskap het van die
Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses
getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom
voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.” Ons lees egter verder in
Matt. 1: 24 dat Josef wel met Maria getrou het vóór Jesus se geboorte.
Volgens die feitelike ontleding tussen
Lukas 2: 5 en Matteus 1: 18, blyk dit dus dat Josef met Maria getrou het nadat
hulle in Bethlehem aangekom het, maar voordat Jesus gebore is. Alhoewel Jesus
dus buite die eg verwek is, is Hy binne die eg gebore.
In 1 Kor. 7:
1-2 skryf Paulus: “…. Dit is goed vir ‘n man om sonder ‘n vrou te lewe, maar
weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke
vrou haar eie man.” en verder in vers
36: “As iemand meen dat hy
teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes
te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag
wil: laat hulle gerus trou.”
Josef het geweet dat dit nie sy kind is wat Maria verwag nie,
omdat hy aan God gehoorsaam was en nooit met haar geslagsgemeenskap gehad het
nie (sy was dan ‘n maagd). Hy moes gevolglik ook alle seksuele gemeenskap,
buite die huwelik, as onsedelik beskou het. In daardie tyd het ʼn verlowing
‘n nog belangriker betekenis gehad as vandag en tog het Josef dit nie as
regverdiging gesien om God se gebod te oortree nie. Alhoewel Josef met Maria
getrou het vóór Jesus se geboorte, sou dit seker in elk geval nie baie moeilik
gewees het om te kon vasstel dat die kindjie vóór die huwelik, verwek is nie.
Alhoewel daar geen bevestiging in die Bybel
hiervoor bestaan nie, moet daar tog die
waarskynlikheid bestaan dat, vir die eerste paar maande na Jesus se
Geboorte, Josef en Maria in vrees vir Maria se lewe geleef het weens die
Mosaïese wette wat voorhuwelikse gemeenskap met ʼn man, met die dood strafbaar
gemaak het.
Ons kan aanvaar dat Maria soos ʼn uitgeworpene moes
voel, want hoe verduidelik ʼn jong Joodse meisie aan die ortodokse leiers van
daardie tyd, dat ʼn “gees” haar swanger gemaak het!
Die vlug na Egipte was eers twee jaar ná Jesus se
geboorte. Volgens Matt. 2: 16, het
Herodes opdrag gegee dat alle seuntjies van twee
jaar en jonger, doodgemaak moes word, “… ooreenkomstig die tyd wat hy
noukeurig by die sterrekykers uitgevra het.”
In die Nuwe Testament is daar nie baie inligting oor Maria nie.
Daar word byvoorbeeld niks oor haar kinderjare gesê nie. Sommige Christene het
later verhale oor Maria uitgedink waarin vertel word watter soort kind sy was,
hoe sy grootgeword het en hoe Jesus gebore is. Sommige van hierdie verhale is
in die apokriewe boek, Die Proto-Evangelie van Jakobus opgeteken.
Hier is een van die verhale wat vertel van Maria se kinderjare:
“Maria het elke dag sterker geword. Toe sy
ses maande oud was, het Anna, haar ma, haar op die grond laat staan om te sien
of sy self kan
staan. Maria het sewe treë gestap en omgedraai en teruggestap in haar ma se
arms in! Anna het haar opgetel en gesê: ‘Ek sweer, so waar as die Here my God
leef, jy sal nie weer op die grond loop voordat ek jou na die tempel van die
Here geneem het nie!’ Toe het Anna vir Maria 'n heilige plek in haar slaapkamer
gemaak en niks wat onrein was, of nie aan die Here gewy was, daar toegelaat
nie. Anna het ook rein Hebreeuse meisies laat kom en hulle het met Maria
gespeel.
Toe Maria een jaar oud word, het Joagim 'n
groot fees gehou. Hy het die hoëpriesters, die priesters, die Skrifgeleerdes,
die Joodse Raad en al die ander mense uitgenooi. Joagim het die kind na die
priesters gebring en hulle het gebid en vir God gevra om vir haar goed te wees:
"God van ons voorouers, wees tog goed vir hierdie kind! Maak haar vir
altyd beroemd onder al die mense!" Al die mense het gesê: ‘Mag dit so
wees! Amen.’ Toe neem hulle haar na die hoëpriesters. Hulle het ook gebid en
vir God gevra om vir haar goed te wees: ‘Grote God wat bo alles is, wees tog
goed vir hierdie kind! Gee vir haar die heel beste wat U het!’
Anna het vir Maria teruggevat na die
heilige plek in haar slaapkamer en haar laat drink. Toe het sy vir die Here God
'n lied gesing: ‘Ek sing 'n heilige lied vir die Here my God, want Hy het my
kom help en die skande van kinderloosheid waaroor my vyande my gespot het,
weggeneem! Hy wat altyd doen wat reg is, het aan my laat reg geskied op 'n
manier wat niemand sou kon droom nie, en nog met oorvloed ook! Wie sal vir die
kinders van Rubel gaan vertel dat Anna 'n kind laat drink? Julle moet hoor, al
twaalf stamme van Israel :
Anna laat 'n kind drink!’
Sy het die kind neergelê in die heilige
plek in haar slaapkamer en uitgegaan en die gaste gaan bedien. Toe die ete
verby was, is almal huis toe. Hulle het goed gevoel en die God van Israel
geprys.”
Bron: Die
Proto-Evangelie van Jakobus
Al wat ons met
sekerheid van Maria weet is dat sy verwant was aan Elisabet, die moeder van
Johannes die doper. Luk. 1: 36 “Kyk, ʼn bloedverwant van jou, Elisabet, het in
haar ouderdom self ook ʼn seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is
nou al in haar sesde maand. Verder in Lukas 1 vanaf vers 57 tot 63 word die
geboorte van die kindjie beskryf en in vers 63 lees ons dat sy pa, Sagaria,
beveel het dat die kindjie Johannes genoem moet word. Jesus en Johannes die
doper was dus op een of ander wyse verwant aan mekaar.
Insgelyks word daar in die Nuwe Testament net so min oor Jesus se
kinderjare vertel. Oor die jare het Christene, net soos in die geval van Maria,
ook allerhande verhale uitgedink oor watter soort kind Jesus was, wat het Jesus
as kind gesê, hoe het Jesus teenoor Sy maats en ander grootmense opgetree, hoe
het Jesus teenoor Sy onderwysers opgetree ens.
Sommige van hierdie verhale is opgeteken in die apokriewe boek “Die
Kindheid evangelie van Tomas.”
Hier
is een voorbeeld van hierdie verhale:
“Toe die Kind Jesus vyf jaar oud was, was Hy besig om by 'n drif
in 'n rivier wat sterk afgekom het, te speel. Hy het die lopende water in
poeletjies laat inloop en dit dadelik skoon gemaak - deur net 'n enkele bevel
aan die water te gee. Toe het Hy sagte klei gemaak en daaruit twaalf mossies
gevorm. Hy het dit op die Sabbat gedoen. 'n Klomp ander kinders het saam met
Hom gespeel. Een van die Jode het gesien wat Jesus gedoen het terwyl Hy op die
Sabbat speel. Hy het dadelik vir Josef, Jesus se pa, gaan sê: ‘Jy weet, jou
seun is by die drif en hy het modder gevat en twaalf voëls daaruit gemaak. So
het hy die Sabbatswette oortree!’
Josef het soontoe gegaan. Toe
hy sien wat Jesus gedoen het, het hy vir Hom geskree: ‘Hoekom doen jy iets wat
'n mens nie op die Sabbat mag doen nie?’ Maar Jesus het net sy hande geklap en
vir die mossies geskree: ‘Weg is julle!’ Die mossies het raas-raas weggevlieg
en ʼn groot lawaai gemaak.
Die Jode wat dit gesien het, was baie
verbaas. Hulle is daar weg en het aan hulle leiers gaan vertel wat hulle vir
Jesus sien doen het.”
Bron: Die Kindheid evangelie van Jesus.
Die “Kindheid evangelie van Jesus” is
oorspronklik in Grieks geskryf en later in nie minder as dertien tale vertaal.
Die “Proto-Evangelie van Jakobus” wat ook bekend staan as “Die geboorte van
Maria” is oorspronklik ook in Grieks geskryf en is in later jare vertaal in
Latyn, Siries en Etiopies.
Daar
bestaan egter geen gesaghebbende bewyse dat beide hierdie apokratiewe sienings
waar is nie. Meeste
teoloë is van mening dat die werke waarin Jesus se kinderjare beskryf word,
deur mondelinge oorlewering oorgedra is en nie noodwendig skriftelik aangeteken
was tot 'n aantal dekades ná sy kruisiging nie.
Die vroegste oorgeblewe tekste wat die
kinderjare van Jesus in enige detail beskryf is die Evangelies. Siende dat hierdie
boeke deel van die Bybelse kanon uitmaak, het hulle gevolglik veel meer analise
en aanvaarding van Christelike bronne ontvang as die apokriewe geskrifte.
Die eerste werklike verwysing na Jesus se
kinderjare volgens die evangelies, vind ons in die geskiedenis van Jesus toe Hy
twaalf jaar oud was en in die tempel met die geleerdes gesit en gesels het.
(Luk. 2: 45- 47)
Dit is interessant om daarop te let dat,
volgens die evangelie van Lukas, Jesus gebore is tydens die regering van Keiser
Augustus en nie Keiser Herodes soos wat Matteus dit beskryf nie. Vergelyk bv.
Matt 2: 1 en Luk. 2: 1. Die twee
evangelies kom egter ooreen dat die kindermoord die werk van Herodes was.
Ná die beskrywing van Jesus as
twaalfjarige in die tempel, vind ons die volgende verwysing eers agtien jaar
later in die lewe van Jesus, toe Hy met Sy eintlike werk op aarde begin het.
(Luk. 3: 23 )
Maria ~ Geseënd onder die vroue
Luk. 1: 42 “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug
van jou moederskoot.”
Nêrens in die Bybel vind ons nog ʼn vrou
waarvan daar met soveel lof en respek gepraat word as van Maria die moeder van
Jesus nie. In Luk. 1: 28 lees ons : “Toe die engel by haar kom, sê hy: ‘Ek
groet jou, begenadigde! Die Here is by jou” en in Luk. 1: 42 “Geseënd is jy
onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot.”
Maria was die eerste mens op aarde wat
deur beide die Katolieke en Griekse kerk as Heilige (Saint) verklaar is.
Ons almal het al die bekende afbeeldings
van Maria met die baba Jesus gesien, en meeste van ons wat in gereformeerde
huise grootgeword het, het al gehoor van die sogenaamde “Maria aanbidding” van
die Katolieke geloof en hoe onaanvaarbaar en selfs verwerplik dit vir ʼn
gereformeerde gelowige behoort te wees.
Die tragiese hiervan is die feit dat die
meeste sogenaamde gereformeerdes wat hierdie siening handhaaf, nog nooit gaan
sit en die werklike betekenis en Katolieke liturgie met betrekking tot die
Maria beeld bestudeer het nie.
Wat baie gereformeerdes seker sal verbaas
is die feit dat Martin Luther, die vader van die reformasie, dit noodsaaklik
geag het dat alle Christen gelowiges die hoogste agting en eerbied aan Maria
moet betoon. Luther het nooit enige “goddelike verering” van Maria verkondig
nie, maar het dikwels die eerste reël van die sogenaamde “Maria eerbetoning”,
beter bekend as die “Hail Mary”, as ʼn vorm van eerbetoning en agting, self geresiteer.
Hierdie welbekende eerbetoning lui soos
volg:
“Hail
Mary, full of grace, the Lord is with thee; blessed art thou amongst women, and
blessed is the fruit of thy womb, Jesus.
Holy
Mary, Mother of God, pray for us sinners, now and at the hour of our death.
Amen.”
Voordat ons verder hierna kyk is dit nodig
dat ons eers ʼn gemeenskaplike siening van die begrip “aanbid” en “eerbetoning”
het.
Ek glo almal van ons het al die
uitdrukking gehoor van iemand wat ʼn ander “aanbid”. “Die seuntjie aanbid sy pa.”
Terselfdertyd glo ek ook dat hierdie uitdrukking geensins te kenne wil gee dat
die seuntjie sy pa op enige religieuse wyse aanbid
nie. Die probleem is egter dat die
naaste woord daaraan, verering, nie
voldoende “gewig” verleen om die werklike erns waarmee die seuntjie sy pa
“aanbid” oor te dra nie.
In die hermeneutiek (Uitleg van die Bybel)
en interpretasie van die Bybel, moet hierdie twee begrippe, net soos in die
voorbeeld hierbo, nie met mekaar verwar word nie.
In die
Katolieke teologie bestaan daar ʼn baie duidelike verskil tussen die begrip
“aanbidding” (cultus latriae ) en “eerbetoning” (cultus duliae). Laasgenoemde word egter (foutiewelik) deur
baie gereformeerdes as aanbidding gesien en daarom as on-Christelik beskou,
terwyl dit in werklikheid ʼn meer “eucharistiese” betekenis het. Met ander woorde, iets soortgelyk as die
eerbied wat aan die tekens van die nagmaal (brood en wyn) of die doop (water), betoon
word. Aanbidding verwys altyd na die
diepste betuiging van eerbied en onderwerping (gehoorsaamheid) aan die
Goddelike Drie-eenheid.
Die
verwysing na “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou
moederskoot” in Lukas 1: 42, is presies dieselfde as die eerste reel van die
Maria eerbetoning, “Hail Mary, full of grace, the Lord is with thee; blessed
art thou amongst women, and blessed is the fruit of thy womb Jesus.”
Die
tweede gedeelte van die hierdie eerbetoning, “Holy Mary, Mother of God, pray
for us sinners, now and at the hour of our death” moet weereens nie gesien word
as “aanbidding” nie, aangesien hierdie gedeelte uitsluitlik na Maria as
“voorbidder” verwys. In Engels word daar baie na “intercessor” verwys, wat
voorspraak of voorbidder beteken. Binne hierdie konteks word Maria m.a.w. gevra
om vir die sondaars op aarde, by haar Seun, Jesus, voorbidding te doen.
Weens
die mening dat hier in werklikheid in gesprek getree word met Maria, beskou
baie gereformeerdes dit as aanbidding, en vir hierdie rede het Martin Luther
dan ook nie hierdie gedeelte van die “Holy Mary” ondersteun nie.
Of ons
nou iemand, hetsy ʼn ander persoon, of ʼn
leraar, of ʼn gebeds kring, sou vra om vir ons af iemand anders voorbidding te
doen, klink vir my baie dieselfde as wanneer die Katolieke, behalwe om net vir
aardse voorbidders te vra, Maria óók te vra om vir ons voorbidding by Jesus te doen. Behalwe om haar te vra
om vir ons voorbidding te doen, word daar absoluut niks anders van haar gevra
nie.
Volgens
die “Catholic Encyclopedia” is die eerste gedeelte
van hierdie beryming in die jaar 1050 in die katolieke teologie opgeneem. Die
tweede gedeelte is eers later tydens die jare lange Sinode van Trent (1545-
1563) in die Katolieke teologie opgeneem.
Die
volgende aspek wat hand aan hand met die sogenaamde “Maria verering” gaan is
natuurlik die siening by talle gereformeerdes dat die Katolieke “die beeld van
Maria aanbid.” Hierdie opvatting is net so verkeerd aangesien daar, weereens,
geen sprake van “aanbidding” bestaan nie. Die welbekende Maria beeld, net soos
die beeld van Christus aan die kruis, is primêr bedoel om as herinnering aan
die geboorte en dood van Christus te dien. Elke keer as iemand hierdie afbeeldings
sien, word hulle daaraan herinner dat Jesus vir ons redding en saligheid aarde
toe gekom het om die straf vir ons sondes te dra.
Die
kruis van Christus, (sonder die Jesus figuur daarop), die brood en die wyn van
die Nagmaal en die water van die doop, is vandag nog altyd simbole van die
Christelike Gereformeerde kerk wat ons daaraan herinner dat Jesus vir ons
redding en saligheid aarde toe gekom het om die straf vir ons sondes te
dra. Wanneer
ons dan stil word voor hierdie simbole, beteken dit nie dat ons hierdie simbole
aanbid nie!
Een
van die dae is dit weer Kersfees en dan sien ons weer die talle voorstellings
van die geboorte van Jesus. Wanneer jy weer na so 'n voorstelling kyk, hou
gerus in gedagte dat die geskiedenis van Jesus se geboorte nie bloot net die
geromantiseerde verhaal is van 'n moeder wat geboorte geskenk het aan haar
babatjie in 'n stal naby Bethlehem, met Engeltjies wat sing en sterre wat
skitter, nie.
Die verhaal van Kersfees is in bloed en diepe lyding
geskryf.
Vind nog interessante artikels op
my blog.
Kliek net http://stesdeneckers.blogspot.com
No comments:
Post a Comment