Postings

Sunday 28 October 2012

Wysheid, Geloof en Vertroue - Wat is die verskil?



Wysheid, Geloof en Vertroue


                                                                                                 Stes de Necker

Wysheid

Wysheid is nie kennis nie, en om kennis te besit, is nie wysheid nie. Die Bybel onderskei baie duidelik tussen die sogenaamde aardse wysheid, of soos Paulus dit beskryf  “ ʼn skyn van wysheid “ en die ware wysheid wat net van God kan kom. In 1Kor.2: 7 skryf Paulus: “Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.”

Die ou-Testamentiese apokriewe boek “Die Wysheid van Salomo” vers 7 (b) stel dit soos volg: “Ek het tot God geroep en die gees van Wysheid het na my toe gekom.”  Ook in “Die Wysheid van Ben Sirag” (in Engels word na hierdie boek verwys as Ecclesiastics) staan daar: “Alle wysheid kom van die Here en dit bly vir altyd by Hom.”
Nota:
Die boek Ecclesiastes word nie deur die Protestantse Kerke as gesaghebbend aanvaar nie maar verskyn wel in die Engelse-, Griekse- en Katolieke Bybels.

Wáre wysheid is nie ʼn funksie van die verstand nie maar kom alleenlik net van God, in die hart van die mens. In die woordelys van die Bybel (pg. 380) verduidelik die skrywer dit as volg: “Daar is ook ʼn natuurlike wysheid wat aan die mens eie is en daarom deur sonde besoedel is. Hierdie wysheid is aards en aan hierdie wêreld gebonde.”

Geloof

Die Bybel sê vir ons: “Om God te dien, dit is wysheid.” Geloof, net soos wysheid, is gevolglik ook nie ʼn funksie van die verstand nie; Dit kom uit die hart van die mens. Daarom skryf Paulus in Romeine 10: 10: “Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond (verstand) bely ons, en ons word gered.”

In Romeine 1: 17 sê Paulus: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.”

Hoeveel keer hoor ons mense wat sê: “Ek glo in God en ek vertrou op God”, maar wanneer dit kom by die praktiese uitlewing van hierdie “geloof” en “vertroue”, dan vind ons so dikwels dat dieselfde mense in hulle persoonlike lewe alles behalwe hierdie geloof en vertroue uitleef. Mense beweer dat hulle “glo” en “vertrou”, maar leef in frees vir die bose magte van hierdie wêreld. Mense leef agter meters hoë versperrings om hulle wonings, diefwerings voor hulle vensters, alarms in hulle huise, oorgelaaide vuurwapens voor hulle beddens en geslote baan televisie bo elke moontlike ingang na hulle huise.

Hiermee wil ek vir geen oomblik sê dat dit verkeerd is nie. Ons moet nog altyd verantwoordelik optree en nie fatalisties raak nie. Maar wanneer hierdie primêre veiligheid maatreëls belangriker word as ons vertroue in God om ons te beskerm en te bewaar, dan is ons besig om God te wantrou. 

God het ons verstand gegee om te doen wat verantwoordelik en nodig is. Maar wanneer ons dit dan gedoen het, moet ons die res in die hande van God laat en wéét dat hy verder sal sorg. So maklik kan ons in die situasie verval om sê: “Here ek vertrou U, maar wanneer dit kom by my persoonlike veiligheid, dan sorg ek eerder vir myself.”

Dit is nie vertroue nie!

Vertroue – Toets My sê God

In Maleagi 3: 10 staan daar: “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in My huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”  Die ou vertaling het gelees: ”… en op julle ʼn oorvloedige seën sal uitstort nie.” Die Nederlandse Bybel sê: “… en u zegen afgieten, zoodat er geene schuren genoeg wezen zullen.”  Die enigste plek in die Bybel waar God self vir ons sê, ons kan Hom maar hierin toets.

Hierdie een enkele vers bevat sekerlik die grootste praktiese toets vir die mate waartoe ons bereid is om God volkome te vertrou. God sê vir jou en vir my, ‘toets My’, ‘Try’ My!  Sit jou geld waar jou mond is!

God se seëninge bestaan nie net uit finansiële seëninge nie. Daar is soveel meer waardevoller seëninge as geld. God sê vir ons “toets My”, “Kyk of jy My kan klop om meer van jou gawes vir Mý te gee, as wat Ek vir joú kan gee!”       

Neem God op Sy woord en vind vir jouself uit of God Sy beloftes gestand doen of nie. Vir die kind van God wat volkome en onvoorwaardelik in Hom glo en op Hom vertrou vir alles wat hy/sy nodig het, is daar nie genoeg skure om al Sy seëninge in op te berg nie. Lukas bevestig hierdie belofte in Luk. 6: 38 “Gee, en vir julle sal gegee word … “

Die vraag is nie of jy dit kan bekostig om die volle tiende van jou tyd, of jou gawes, of jou geld, of jou talente, vir God te gee nie; die vraag is eerder of jy dit kan bekostig om dit nié te doen nie! Onthou altyd, die aarde en die uitspansel, met alles daarop en alles daarin, ek en jy ingesluit, behoort in elk geval alreeds aan God!

Wysheid is om onvoorwaardelik in God te glo en volkome op Hom te vertrou.

Glo in God, en vertrou volkome op Hom. God sal jou nie "drop" nie!




Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com






No comments:

Post a Comment