MORALISME versus GENADE
Stes de Necker
Wat is Moralisme
In die woordelys van die Nederlandse Taal
word die woord “moralisme”, soos dit in teologiese verband gebruik word,
beskryf as: “levenshouding van waaruit alles volgens onwrikbare ideeën over goed of
slecht wordt beoordeeld.”
Kernerman (Kernerman Dictionaries) beskryf dit as: “Het woord opvatting die aan de zedelijke normen absolute
waarde toekent.”
Binne teologiese verband beteken moralisme
dus die siening dat die mens deur goeie werke sy verlossing en saligmaking kan bewerk.
In die Nuwe Testament vind ons talle
verwysings na die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hulle was die mense wat oor
die bevoegdheid beskik het om die Skrif aan die volk te verduidelik en uit te
lê. As kundiges op die gebied van die Ou- Testamentiese voorskrifte en uitleg
van die Mosaïese wette, was die Fariseërs en die skrifgeleerdes,
desnieteenstaande ons negatiewe siening van hulle, in werklikheid toegewyde
godsdienstige mense.
In die Fariseïese teologie was genade, God
se guns; iets wat verdien moes word. Daarom het hulle hulself sovêr as moontlik
toegespits daarop om soveel moontlike goeie en verdienstelike werke en
wetsgehoorsaamheid te doen. Gevolglik was hierdie mense oortuig dat hulle op
hierdie wyse vir hulself “krediete” by God kan bymekaarmaak.
Die tragiese is egter dat dit juis hierdie
oënskynlike godsdienstige Fariseërs en skrifgeleerdes was, wat die grootste
vyande van Jesus geword het aangesien Jesus hulle godsdiens verwerp het as ’n mensgemaakte godsdiens waardeur die méns in plaas
van God, verheerlik word! Dit was ’n
skynheilige, uiterlike, godsdiens, waarin die mens met allerlei
godsdienstige rituele en tradisies voorgegee het dat hulle God dien terwyl
hulle in werklikheid hulle eie belange gedien het.
Dit is nie die evangelie van Christus
nie! Die Fariseïes godsdiens het ’n godsdiens van humanisme, (liefde vir mense)
en moralisme, (korrekte lewe), beteken. Dit was ’n evangelie van “red jouself”.
Dit is nie die evangelie wat ons in die
Bybel vind nie; dit is ’'n evangelie sonder Christus’. Enigeen wat die Bybel so
verstaan, verstaan verseker nie die evangelie van Christus nie.
Dit is
wat die Duitse teoloog Bonhoeffer “goedkoop genade” genoem het. Bonhoeffer was ’n teoloog in Nazi-Duitsland tydens die Tweede
Wêreldoorlog. Vir hom was dit duidelik dat die politieke ideologie van Hitler
van die duiwel self was. Die Duitsers het ook kerk toe gegaan, gereeld eredienste
gehou, bidure gehou, gereeld nagmaal gebruik, hulle kinders gedoop, hulle
bydraes aan die kerk gegee, vas oortuig dat hulle saak met God reg was. Hierdie
mistasting van die Duitsers was juis dit wat Bonhoeffer die meeste gepla het.
Vir hom was dit onmoontlik om te aanvaar dat die Duitse volk met soveel oortuiging, Hitler se
sataniese ideologie so maklik kon aanvaar.
Dieselfde
Duitsers wat so gereeld kerk toe gegaan het en so toegewyd aan die kerklike
bediening deelgeneem het, was dieselfde mense wat, wanneer die kerk uitgekom
het, miljoene Jode vervloek, verontmenslik en vermoor het.
Bonhoeffer
het die oorsaak van die Duitsers se verafgoding van Hitler, by die kerk gesoek.
Volgens hom was hierdie omarming van Hitler niks anders as die resultaat van die
kerk se verkondiging van wat hy “goedkoop genade” genoem het. Mense kon in die
naam van godsdiens selfs hulle sondes regverdig!
Die
ware genade van Jesus is wat ek voorheen na verwys het as “die Woord van God
wat mense verander”. Ons as Christene besef ons geestelike bankrotskap en die
ware omvang van ons sondes wat enige verdienstelikheid by God totaal onmoontlik
maak.
Enige
kerk wat die genade van God tot ’n vlak
van “goedkoop genade” degradeer is niks anders as ʼn moralistiese kerk nie. 'n Tipiese
sektariese geloof wat 'n Fariseërse
mentaliteit koester.
Die
evangelie van Jesus se genade vir die sondaar is terselfdertyd ook die
evangelie van God se vervloeking van die sonde.
In die
gereformeerde geloof waar die genade van onse Here Jesus Christus universeel
staan in ons Christelike geloof, mag daar nie oor die sonde geswyg word nie!
Daarom word sonde ook so gereeld in ons Gereformeerde kerke aangespreek; Ons kan beswaarlik van
genade praat sonder om tegelykertyd ook na die sonde te verwys. Genade is per
slot van rekening God se vergiffenis van die sonde van die mens.
Vir
baie mense het die woord “gereformeerd”, net soos die woord “Calvinisme”, ’n baie negatiewe betekenis. Dikwels word
hierdie terme vereenselwig met konserwatisme, bekrompenheid, wettiesheid ens. Binne
die Suid-Afrikaanse konteks word hierdie woorde nog verder geassosieer met
rassisme, nasionalisme, onderdrukking en selfs die miskenning van die
Christenskap van ons inheemse volke.
In my
boek “Verborge Skatte van die Bybel” verwys ek na die afgelope 2000 jaar se
vervolging van die Jode en die feit dat ons, nie-Jode, niks het om oor te roem
as dit kom by ons onverdiende Christenskap nie.
Ons “uitverkiesing” is blote onverdiende genade!
Indeel 1 van “Verborge Skatte van die
Bybel” het ek die sondeval van die mens bespreek en daarin het ek gesê dat ná
die sondeval, daar ʼn nuwe verhouding tussen God en die mens tot stand gekom
het. Met hulle nuut gevonde redenasie vermoë moes die mens voortaan self kies
tussen reg en verkeerd; tussen geloof en ongeloof.
Met hierdie vermoë, ontwikkel die mens tot
die unieke intelligente wesens van vandag. Die mens se prestasies is alleenlik
moontlik gemaak deur kennis wat hy na die sondeval bekom het. Net soos wat ons
in sonde ontvang en gebore word, net so word ons prestasies ook in sonde
ontvang en behaal. Met kennis en verstand kon die mens sy uitsonderlike
prestasies behaal, maar slegs deur gehoorsaamheid aan die Wet van God (ou
verbond) en geloof in Jesus Christus (nuwe verbond), kan die mens van die straf
vir die sonde, naamlik die dood, gered word. Die Dortse leerreëls verwys hierna
as “die belofte van die evangelie”. Paulus sê in Galasiërs 3: 24: “Ons was dus
onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom sodat ons deur te glo,
vrygespreek sou word.” en in Fil. 3: 9: “...
en een met Hom kan
wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus
glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n
mens in Hom glo.”
In Johannes 8: 24 sê Jesus: “Daarom het Ek
vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek
is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” Slegs deur geloof in Jesus
Christus kan
ons van die straf vir die sonde gered word. Selfs nie eens ons goeie werke kan ons red nie!
In Ef. 2: 8 skryf Paulus: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur
geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.” en dan in vers 9: “Dit kom
nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op
homself trots te wees nie.”
Ons hoor so dikwels dat mense van iemand
praat wat konsuis so ʼn goeie mens is of wat soveel omgee vir andere of wat
soveel vir ʼn ander doen en daarom verdien om hemel toe te gaan. In die
evangelie van Christus is dit nie waaroor dit in die eerste plek gaan nie. Éérs
geloof in Jesus Christus en dán die res. In Matt. 6:33 sê Jesus vir ons baie duidelik:
“ Nee, beywer julle allereers vir die
koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge
gee.”
Die
bekende evangelis Angus Buchan sê gereeld: “Good people don’t go to heaven;
believers do.”
Ons almal ken die uitdrukking dat die pad
hel toe besaai is met mooi voornemens! ’n Mooi lewe sónder die evangelie van Jesus,
beteken nie veel nie. Dit bly altyd bloot ʼn lewenswandel van moralisme,
humanisme en wettisisme. In Matt. 5: 20 se Jesus: “Ek
sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die
skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die
hemel ingaan nie.”
Ons geloof en lewenswandel beteken om die waarheid van
die evangelie uit te leef. Met ware geloof kan
ons ook soos Martin Luther sê: “ 'n Christen
kan doen net
wat hy of sy wil, want ʼn Christen doen altyd net wat die Here wil.”
Vir bloot ’'n mooi lewe sal mense altyd sê “dis mooi
so” maar wanneer ons die evangelie van Jesus se genade daadwerklik uitleef, dán
is dit wanneer mense sien dat jy ʼn ware Christen is. Dan is jy ʼn voorbeeld vir
andere om tot eer van God te leef.
Dit beteken geensins dat ons nie die goeie werke moet
nalaat nie! Inteendeel, in Gal. 5: 6 sê Paulus: “Al wat van belang is, is
geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”
In Jakobus 2: 14 sê die apostel: “Wat help dit, my
broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie.” en dan in
vers 17: “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is
dit sonder meer dood.”
Goeie werke is gevolglik nie die doel op sigself nie;
dit is die logiese uitvloeisel van die ware geloof in Jesus Christus. Dit
borrel voort uit die fontein van God se liefde en kan nie teruggehou word nie!
Geloof en liefde
uit die hart van die gelowige, is die enigste twee elemente van ware
gehoorsaamheid aan God.
No comments:
Post a Comment