Postings

Sunday 28 October 2012

Die Sondes en Begenadiging van Israel - Lesse uit die boek Rigters.




DIE SONDES EN BEGENADIGING
VAN ISRAEL
                                                                                             



LESSE UIT DIE BOEK RIGTERS
EN DIE VOORSKRIFTE VAN DIE LEVITIKUS

    Stes de Necker


Inleiding
Die naam van die boek “Rigters” is ʼn direkte vertaling van die Hebreeuse woord sjafat, wat bestuur of regspraak beteken, en beskryf die geskiedenis van Israel na die dood van Josua tot en met die salwing van Saul as eerste koning van Israel.
Alhoewel daar in Engels verwys word na “The Book of Judges”, was die Rigters egter nie, juridies gesproke, regters nie, maar mense wat die volk met reg en geregtigheid kon lei.
God wou gehad het dat Sy volk volgens Sy wet en die profete leef, maar die Israeliete het gereeld van hulle geloof in God afvallig geraak.
As gevolg van hulle afvalligheid het God hulle telkens in die hande van vreemde moondhede laat val, en wanneer hulle dan weer spyt gekry het oor hulle afvalligheid , het God ʼn leier, of Rigter, gestuur om hulle van daardie onderdrukking te verlos.


Die boek Rigters handel oor hierdie afvallige tydperk in die vroeëre geskiedenis van die Israeliete en verduidelik in besonder die feit dat God wil hê Sy kinders moet Hom en Hom alleen dien; daar is geen plek vir gedeelde lojaliteite nie.
Alhoewel die boek Rigters die geskiedenis van die volk Israel na die dood van Josua tot met die salwing van Saul as eerste koning beskryf, is dit in die eerste plek nie ʼn geskiedenis boek nie, maar eerder bedoel om die lesse wat uit die geskiedenis te leer is, te beskryf.
Die Israeliete kon nie die “teokrasie” (God se heerskappy), aanvaar nie, en het God as redder eerder as die “wetgewer” gesien. Laasgenoemde was die grootste sonde van die Israeliete gedurende die tyd van die Rigters.
Verder is dit belangrik om daarop te let dat hierdie tydperke van afvalligheid en bekering oor dekades gestrek het en nie in die bestek van enkele jare plaasgevind het nie. Daar was dus genoeg tyd om telkens weer in sonde te verval.
Die tydperk van die Rigters het volgens Paulus (Handelinge 13: 20), nagenoeg 450 jaar geduur. Paulus praat van “omtrent” terwyl daar in 1 Konings 6: 1, verwys word na die tydperk “Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here”. Laasgenoemde sou dus beteken dat die tydperk van die Rigters nagenoeg 380 jaar geduur het.
 20 Jaar langer as wat daar blankes aan die Suid-punt van Afrika is!
Die Rigters
Otniël was die eerste rigter van die Israeliete na die dood van Josua. Hy was die skoonseun van Kaleb, een van die verkenners wat die land Kanaän moes verken.
Die Israeliete het vir agt jaar as slawe onder die Koning van Mesopotamië gewerk. Otniël het die volk bevry en daarna het die Israeliete vir veertig jaar vrede beleef.
Na die dood van Otniël het Ehud rigter geword. Israel het weer van God afvallig geraak, en die Israeliete is vir agttien jaar in ballingskap weggevoer deur die Moabiete.
Die volk het weereens spyt gekry en vir Ehud gevra om hulle van die ballingskap te bevry. Ehud was uit die stam van Benjamin.
Nadat Ehud die koning van die Moabiete vermoor het, het hy, met die hulp van Efraim, die Moabiete verslaan. Daarna het die Israelite vir tagtig jaar vrede beleef.
Die verhaal van Samgar, die derde rigter, word net in Rigters 3: 31 na verwys. Hiervolgens het hy die Israeliete van die onderdrukking deur die Filistyne verlos het toe hy 600 Filistyne met ʼn sweepstok doodgeslaan het.
Die volgende rigter, Barak, is deur die profetes Debora, beveel om ʼn leër saam te stel om die koning van die Kanaäniete, Jabin,  wat die volk vir twintig jaar verdruk het, aan te val.
Barak stem toe in, maar sê hy sal slegs gaan as Debora saamgaan.
Die oorwinningslied van Debora word beskryf in Rigters hoofstuk 5.
Na die oorwinning oor die Kanaäniete beleef die Israeliete vrede vir ʼn tydperk van veertig jaar.
Na Barak word Gideon, uit die stam van Manasse, rigter oor Israel. Die verhaal van die Gideon’s bende, toe Gideon die Midianiete met slegs drie honderd man verslaan het, is wel bekend . Onder leiding van Gideon, het die Israeliete veertig jaar vrede beleef.
Na die dood van Gideon het Tola rigter van Israel geword en die Israeliete vir twintig jaar gelei.
Tola is opgevolg deur Jair, wat met behulp van sy dertig seuns Israel gelei het.

Jair is opgevolg deur Jefta, wat ʼn belofte afgelê het dat hy die eerste wat uit sy huis sou uitkom, sou doodmaak. Met sy terugkeer by die huis, het sy dogter eerste by die huis uitgekom om hom te groet. Jefta hét toe met haar gehandel volgens sy gelofte wat hy afgelê het. Jefta het die Ammoniete, wat Israel vir agttien jaar onderdruk het, verslaan. Hy was ses jaar lank rigter van Israel.

Ibsan, Elon en Abdon, het opeenvolgend rigters van Israel geword. Daar is egter  nie veel oor hulle bekend nie.

Ibsan was sewe jaar rigter van Israel, Elon was tien jaar rigter van Israel, en Abdon was agt jaar rigter van Israel.

Na veertig jaar se onderdrukking deur die Filistyne, het Simson rigter geword. Met sy geboorte het God beveel dat sy hare nie afgesny mag word nie; hy mag aan niks vat wat reeds dood is nie, en hy mag geen wyn gedrink het nie.

Simson verbreek egter al drie hierdie beloftes. Hy word deur die Filistyne in die tronk gestop, toe hy nie meer oor sy brute krag beskik het nie, maar toe sy hare terug gegroei het, breek hy die pilare van die Filistyne se tempel van Dagon, en sterf saam met drie duisend Filistyne wat ook in die tempel was.

Tot en met sy dood was Simson vir twintig jaar ʼn rigter van Israel.

In 1 Samuel word beskryf dat Eli, die Hoё priester, en die profeet Samuel ook rigters van die volk Israel was. Die goddelose seuns van beide hierdie rigters, het egter tot hulle ondergang gelei.

Na die profeet Samuel wou die Israeliete nie meer onder die leiding van die rigters wees nie en het aangedring op ʼn koning om hulle te lei.

God het toe vir Saul laat salf as koning.

Dit is interessant om daarop te let dat nie een van die Rigters uit die stam van Juda gekom het nie. Die enigste afleiding wat gemaak kan word is dat Juda bestem was vir die Konings, en meer spesifiek Jesus, wat later sou kom.

Opsomming
Israel was vir 8 jaar onder die slawerny van die Mesopotamiërs. Na hulle verlossing deur Otniël  beleef die Israeliete veertig jaar vrede.
Daarna was Israel vir 18 jaar as bannelinge na Moab weggevoer. Na hulle verlossing onder Ehud, beleef hulle vir tagtig jaar vrede.
Na Ehud verlos Samgar die Israeliete van die verdrukking deur die Filistyne.
Daarna word die volk vir twintig jaar deur die Kanaäniete regeer.
Na die oorwinning oor die Kanaäniete deur Barak, beleef die Israeliete weer veertig jaar vrede.
Nadat die Israeliete onder Gideon, die Midianiete verslaan het, beleef hulle wéér vrede vir ʼn tydperk van veertig jaar.
Na veertig jaar se onderdrukking deur die Filistyne, word Simson rigter van Israel en verlos hy die Israeliete van dié onderdrukking.

Gedurende die tydperk van die Rigters het die Israeliete dus vir vyf tydperke van veertig jaar (aaneenlopend), vrede beleef. Gedurende dieselfde tyd het die Israeliete vir altesaam 111 jaar onderdrukking gelei.

In 587 VC. word die Israeliete deur koning Nebukadnesar in ballingskap na Babilon
weggevoer.

Betekenis van hierdie beskouing

1. God is genadig maar straf sonde
Uit die voorafgaande opsomming sien ons dat God, gedurende die tyd van die Rigters, sy volk vir vyf tydperke van veertig jaar, vrede laat beleef het, en vir een tydperk van veertig jaar onder die verdrukking van die Filistyne laat leef het. Die Israeliete moes sekerlik terug gedink het aan die veertig jaar wat hulle voorgeslagte in die woestyn moes deurbring as gevolg van hulle sondes. Trou aan hulle tradisie, kon (of wóú) die Israeliete egter nie God se boodskap aanvaar nie.

Maar God is ʼn genadige God wat Sy kinders keer op keer vergewe. Gedurende die tydperk van die Rigters het God sy volk sewe keer begenadig en uit die hande van hulle onderdrukkers gered.

In Matteus 18: 21 vra Petrus vir Jesus: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Dan in vers 22 antwoord Jesus hom:  “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.” Hoeveel te meer sal God dan nie sewentig maal sewe keer vergewe nie. God is lankmoedig en genadig, maar dit beteken ook nie dat Sy genade onbepaald  aanhou nie! 

In 1990, toe die Suid Afrikaanse regering se apartheidsbeleid sy toppunt bereik het, was die blanke bevolking van Suid Afrika ook 3,6 milj. mense. Die apartheidsbeleid het miljoene mense, waarvan die oorgrote meerderheid Christene was, gemarginaliseer en verontreg. Voor 1994 het selfs die Kerk, soos talle ander nie-regerings liggame en instansies, ook die beleid van rassediskriminasie ondersteun en selfs, in sekere gevalle, skriftuurlik regverdig!
 
Die verkiesing van 1994, toe Suid Afrika onder ʼn swart kommunisties- en sosialisties geïnspireerde meerderheid regering beland het, behoort vir elke Christen-gelowige in Suid Afrika van baie groter en dieper Christelike, eerder as politieke, betekenis te wees. Ongeregtigheid, en nie ras, kleur of enige politieke ideologie, is by die stembus verslaan.

2. Wetteloosheid en sonde gaan hand aan hand
In die laaste hoofstukke van die boek word dit duidelik dat daar "in daardie tyd nog nie 'n koning in Israel was nie, elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë" (Rig. 17: 6; 21: 25;  8: 1; en 19: 1). Hierdie siening, om te doen “wat reg is in sy eie oё”, het veroorsaak dat die tyd van die Rigters die mees goddelose  tydperk in die geskiedenis van Israel was. Vir ons wat in 2012 in Suid Afrika leef moet dit ʼn baie groot les wees.

Mense in Suid Afrika wat net doen wat ook al reg is in hulle eie oё, is die grootste oorsaak dat ons vandag te kampe het met soveel misdaad. Daar gaan nie ʼn dag verby dat die media nie berigte oor moord; roof; verkragting; aanranding; aborsie; ontug; prostitusie; korrupsie; bedrog; diefstal ens, bevat nie. Barbarisme; Gods lasterlike uitsprake; sosiale euwels; homoseksualiteit; aanvalle op die Christelike leer en openlike uitdaging van die gesag van God, is aan die orde van die dag.

In ʼn land soos Suid Afrika, wat daarop aanspraak maak dat 80% van die bevolking Christene is, moet daar iets ernstigs verkeerd wees as die land se Grondwet nie meer God as die enigste en ware God erken nie, en as die wetgewers, op nasionale en provinsiale vlak, te “sensitief” is om hulle sittings in die naam van die Here te open. Die bede van die grondwet dat God die mense van Suid Afrika sal seën en beskerm, beteken niks solank Hy nie as die ware en enigste God erken en bely word nie.  

Suid Afrika het vandag nog steeds ʼn minderheid-regering! Die verskil is net dat dit nie meer ʼn regering is wat op rasse-grondslag gebaseer is nie, maar op geloofs-grondslag. Die Christendom, wat verreweg die grootste is en die meerderheid van die bevolking verteenwoordig, word deur ʼn minderheid heidene, wat met ʼn sosialisties geïnspireerde wêreldbeskouing van sekulêre humanisme en radikale liberalisme, regeer. Die mens het belangriker as God geword.   

As ons Suid Afrika (en onsself persoonlik) beoordeel aan die hand van die huidige praktyke in hierdie land, dan moet ons erken dat die toestand in Suid Afrika vandag ʼn spiёlbeeld is van Israel gedurende die tyd van die Rigters!

3. Grondslag van die Suid Afrikaanse Regstelsel - Voorskrifte van Levitikus
Meeste van die primêre elemente van die Westerse Gemenereg is gegrond op die Mosaïese wet en die Tien Gebooie. Die Engelse regstelsel (soos aangepas en gewysig) was oorspronklik grotendeels geskoei op die verordeninge van die Pentateug. In die Ratcliff saak, (3 Coke Rep. 40, b.) het die Engelse “Privy Council” die volgende gesê: “in almost all cases, the common law was grounded on the law of God, which it was said was causa causans”.

In die saak, Die Staat vs. Chandler, {2 Harr. 553 at 561 (1837)} verwys die Engelse Hof na hoofstuk 27 van die Boek Numeri, om aan te toon dat die uitspraak, wat gehandel het oor erfreg, gebaseer was op die Mosaïese wet.

In “The Decalogue and U.S. Law” word na die Tien Gebooie verwys as: “These commandments are not directed toward the state, but to you as an individual. Nevertheless, governments in the Common Law tradition have indeed sought to enforce the Ten Commandments, all ten of them, and encourage obedience to them, and America is no exception, the Constitution no barrier.”

Tydens Amerika se Vloot dag viering van 27 Oktober 1945, het President Harry Truman gesê: “The Ten Commandments themselves have not yet been universally achieved over these thousands of years. Yet we struggle constantly to achieve them, and in many ways we come closer to them each year.”

Op 23 Augustus 1957, by geleentheid van die herdenking van die Joodse Heilige Dae in Amerika, sê President Eisenhower die volgende: “The blessings of life and the freedoms all of us enjoy in this land today are based in no small measure on the Ten Commandments which have been handed down to us by the religious teachers of the Jewish faith.”

In Suid Afrika geld die Romeins-Hollandse Gemenereg, wat ʼn kombinasie van die Romeinse- en Nederlandse regstelsels is.

Voor 451 v.C. het die sogenaamde ius civile Quiritium, of Romeinse Siviele reg, in Rome gegeld. In 451 v.C. stuur Rome ʼn afvaardiging na Griekeland onder leiding van die Griekse uitgewekene en filosoof, Herodotus, om die wette van Sparta, Kreta en Athene te bestudeer (Sogenaamde decemviri leibus scribundis). 

Die Griekse filosoof Philo – 20 v.C. tot 50 n.C. - ook bekend as “Philo van Alexandrië”, beskryf in sy werk Vita Mosis, (Lewe van Moses) hoedat die Griekse regstelsel deur die Mosaïese wet beïnvloed is. Die Romeinse sending lei tot die uitvaardiging van die “Wet van die Tien Tafels” van Rome, in 450 v.C. Die naam van die wet is afgelei van die tien brons tafels wat vir openbare kennisname op die muur van die Tempel van Jupiter Optimus Maximus (Capitolini Heuwel in Rome), aangebring was. Hierdie kodifisering was nie bloot ʼn oorerwing van die Griekse regstelsel nie, maar eerder ʼn aanpassing van die Romeinse Reg, met dit wat voordelig in die Griekse regstelsel was. Op daardie stadium het hoofsaaklik die sogenaamde “Draco” wette, (621 v.C.) en die “Solon” wette, (550 v.C.) in Griekeland gegeld. Die term “drakonies” kom juis van die naam “Draco”.

Kort na die verskyning van die Wet van die Tien Tafels in 450 v.C. verskyn nog twee tafels van die wet in 449 v.C. en hierdie kodifikasie van die reg staan bekend as die “Romeinse Wet van die Twaalf Tafels”. Hierdie Wet het deur die eeue heen gedien as grondslag vir alle wetgewing wat na die tyd in Rome ontwikkel is, tot en met die kodifikasie van die Romeinse Reg deur Keiser Justinianus in 529 – 534 n.C. (Sogenaamde Corpus Juris Civilis) Die Suid Afrikaanse Gemenereg, wat Konstitusioneel in die Suid Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996) verskans is, lê dus diep gewortel in die Tien Gebooie en die wet van Moses.

Nie alle gemeenregtelike bepalinge is egter histories op die Bybelse voorskrifte gebaseerd nie. So byvoorbeeld is die westerse gemeenregtelike verbod op poligamie (veelwywery) nêrens in die Ou Testamentiese verordeninge vervat nie. In die Suid Afrikaanse Inheemse reg word poligamie ook nie verbied nie. Hierdie bepalings, wat as post-klassieke gemenereg bekend staan, is behoefte gebaseerd, m.a.w. bepalinge om die goeie orde in die maatskaplike samelewing te beskerm. (boni mores)

Die Suid Afrikaanse regstelsel is nie maar net ʼn blote skepping van Suid Afrika se Wetgegewers nie. Die Regstelsel is, oor dekades heen, gegrondves in die Wet van God, en as sodanig behoort dit vir elke gelowige dieselfde status en erkenning te geniet as wat die Wette van die Ou Testament geniet het. Om die landswette te verontagsaam, beteken dat ons ook die verordeninge van God wat daarin vervat is, verontagsaam.

Elkeen wat glo in die oppergesag van God, moet gevolglik ook die gesag van die reg erken.

In Hebreërs 8: 10 sê God: “Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe.” As dié in Suid Afrika, wat nie eers die landswette, wat geregtelik afdwingbaar is, eerbiedig nie, hoeveel te meer verontagsaam hulle dan die Wet van God wat in hulle verstand en harte behoort te wees.

Net soos wat alle landswette nagekom moét word, net so is die Wet van God nie aan willekeur oorgelaat nie. Dit is daar om nagekom te word! 





No comments:

Post a Comment