Postings

Wednesday 24 October 2012

Die Belydende Geskrifte - Hoe relevant nog vandag?


DIE BELYDENDE GESKRIFTE

HOE RELEVANT NOG VANDAG

                                                                  Stes de Necker


Met die aflegging van ons Openbare Belydenis van Geloof, getuig ons in die Gereformeerde Geloof dat ons glo dat die kerklike leer, soos wat dit vervat is in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof, en in die kerk geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is.

Die vraag is egter, hoeveel van ons het al die Beleidende Geskrifte gelees en tot watter mate glo ons werklik nog die inhoud daarvan?

1.  APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS                                                             
2.  NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS
3.  HEIDELBERGSE KATEGISMUS                                                                                  
4.  DORTSE LEERREËLS                                                                                                
5.  BELHAR BELYDENIS 1986                                                                           
6.  DIE OPENBARE BELYDENIS VAN GELOOF                                         
7.  DIE GELOOFSBELYDENIS VAN NICéA                                                                       
8.  GELOOFSBELYDENIS VAN ATHANASIUS       
      
   

(1) APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS
SOOS GEBRUIK IN DIE NG KERK
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
Die Skepper van die hemel, en die aarde,
En in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, Ons Here;
Wat ontvang is van die Heilige Gees,
Gebore uit die maagd Maria;
Wat gely het onder Pontius Pilatus,
Gekruisig is, gesterf het en begrawe is
En ter helle neergedaal het;
Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
Wat opgevaar het na die hemel
En sit aan die regterhand van God,
Die almagtige Vader,
Van waar Hy sal kom om te oordeel
Die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike Kerk,
Die gemeenskap van die Heiliges;
Die Vergewing van sondes;
Die opstanding van die vlees,
En ‘n ewige lewe.
Amen.



(2) NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

 Artikel 1

DIE ENIGE GOD
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Artikel 2

DIE MIDDELE WAARDEUR ONS GOD KEN
Ons ken Hom deur twee middele:
Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Artikel 3

DIE GESKREWE WOORD VAN GOD
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet. 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.

Artikel 4

DIE KANONIEKE BOEKE VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg:
Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium, die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi; die boeke van die Nuwe Testament, nl.: die vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.

Artikel 5

DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

Artikel 6

ONDERSKEID TUSSEN DIE KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE
Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die Makkabeërs.
Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sovêr hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.
Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.

Artikel 7

DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: '...maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is' (1 Joh. 4: 1), en: 'As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie...' (2 Joh. :10).

Artikel 8

GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie.
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.
Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.
Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.
Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.

Artikel 9

SKRIF GETUIENIS OOR DIE LEER VAN DIE DRIE-EENHEID
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie.

Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: 'En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis... En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape'; Genesis 3:22: 'Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons'. Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: 'Dit is my geliefde Seun' (Matt. 3:17). Die Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van 'n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: 'Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees' (Matt. 28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word' (Luk. 1:35); eweneens: 'Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal' (2 Kor. 13: 13), en: 'Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig' (1 Joh. 5:7-8).

Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.

Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.

Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.

Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Athanasius, en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.

Artikel 10

DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Hebr. 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Filp. 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word: Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen. 1:1 en Joh. 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Hebr. 1:2 en Kol. 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: 'Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid' (Miga 5:1), en sê die apostel: 'Hy is sonder begin van dae of lewens einde' (Hebr. 7:3). Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.

Artikel 11
DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES
Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Artikel 12

DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel `n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien.

Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is.

Soos moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.

Artikel 13

DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD

Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leringe van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.

Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.

Artikel 14

DIE SKEPPING VAN DIE MENS, DIE SONDEVAL EN DIE GEVOLGE DAARVAN
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deur dat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat in ons is, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie' (Joh. 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as `n slaaf van die sonde is nie en: `'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie' (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: `Niemand kan na My kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie' (Joh. 6:44)?

Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat '...wat die vlees bedink, vyandskap teen God is' (Rom. 8:7)?

Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor. 2:14)?

Kortom: Wie sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor. 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp. 2:13).

Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand gebring het nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: 'Sonder My kan julle niks doen nie' (Joh. 15:5).

Artikel 15
DIE ERFSONDE
Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit 'n giftige fontein. Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word, Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie.

Artikel 16

DIE EWIGE VERKIESING VAN GOD
Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.

Artikel 17

DIE VERLOSSER DEUR GOD BELOOF
Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak - sy Seun, wat uit 'n vrou (Gal. 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel (Gen. 3:15).

Artikel 18

DIE MENSWORDING VAN JESUS CHRISTUS
Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Filp. 2:7) deur werklik 'n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van 'n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook 'n egte menslike siel om so 'n werklike mens te wees.

Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red, aangesien beide verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Hebr. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, 'n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand. 2:30 en Rom. 1:3), 'n vrug van die moederskoot van Maria (Luk. 1:42), gebore uit 'n vrou (Gal. 4:4), 'n spruit van Dawid (Jer. 33:15), 'n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda afstam (Hebr. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte - maar sonder sonde - aan sy broers gelyk geword het (Hebr. 2:17 en Hebr. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23).

Artikel 19

DIE TWEE NATURE VAN CHRISTUS
Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewens einde (Hebr. 7:3) en hemel en aarde vervul, só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel 'n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by 'n ware liggaam behoort.

Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die gediend van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.

Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus 'n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy 'n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe 'n kort tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.

Artikel 20

GOD SE REGVERDIGHEID EN BARMHARTIGHEID IN CHRISTUS
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur sy aller bitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het, en só sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee, en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.

Artikel 21

DIE VERSOENING DEUR CHRISTUS

Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is' (Jes. 53:5, 7, 9); dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps. 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk. 22:44), en Hy het uitgeroep: 'My God, my God, waarom het U My verlaat' (Matt. 27:46).

Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2.2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Filp. 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Hebr. 10:14).

Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt. 1:21).

Artikel 22

ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF
Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs 'n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.

Artikel 23

ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD
Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps. 32:2 en Rom. 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom. 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: 'En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor U aangesig regverdig nie' (Ps. 143:2).

Artikel 24

ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van `n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem 'n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.

Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon verdien?
Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp. 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: `...wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen' (Luk. 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawe bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie.

Artikel 25

DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL
Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig. 

Artikel 26

CHRISTUS ONS VOORSPRAAK
Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van 'n mens en van 'n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filp. 2:6-7 en Hebr. 2:17). As ons dus moes soek na 'n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk.

Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Hebr. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: 'Terwyl ons dan `n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word' (Hebr. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: 'Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus ... laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloof versekerdheid...' (Hebr. 10:19, 22). En voorts: 'maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree' (Hebr. 7:24-25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: 'Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie' (Joh. 14:6)?

Waarom sou ons 'n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om 'n ander een te neem of liewer 'n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23).

Artikel 27
DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK
Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot `n sekere plek of sekere persone nie, maar is die oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Artikel 28

ELKEEN IS VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT
Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal - as lede van een en dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.

Artikel 29

DIE KENMERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK
Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.

Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste lief het, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.

Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.
Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Artikel 30

DIE REGERING VAN DIE KERK
Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Tim. 3).

Artikel 31

DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK
Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van `n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy meet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.

Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is - die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sovêr moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.

Artikel 32

DIE ORDE EN TUG VAN DIE KERK

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.

En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

Artikel 33

DIE SAKRAMENTE
Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en die heilige nagmaal van Jesus Christus.

Artikel 34

DIE HEILIGE DOOP

Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom. 10:4), deur sy bloed te stort 'n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matt. 28:19).

Hy toon ons daarmee dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word, en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel deur die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en om in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament dit wat sigbaar is, maar ons Here gee wat deur die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egte sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.

Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle 'n lam te offer, wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol. 2:11).

Artikel 35
DIE HEILIGE NAGMAAL
Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds weder baar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal. Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus. Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en ontvang word. Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as 'n teken van sy bloed ingestel.

Hy gee ons daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna ons lewe in stand hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof - dit is die hand en mond van ons siel - die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.

Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Homself deel te laat hê nie.

Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet, en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink.

Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose mens ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee.

Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor. 11:29). Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot 'n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng het, as ontheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het, en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.

Artikel 36
DIE BURGERLIKE OWERHEID
Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.

Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim. 2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omvêr wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur.

Artikel 37

DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE
Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het - dié tyd is vir alle skepsels onbekend - en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in 'n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt. 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt. 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as 'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit kon bedink nie.

Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.
Amen




 (3) Heidelbergse Kategismus


JOU ENIGSTE TROOS

1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

2 Vraag: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord: Drie dinge: Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees .                                     
                                                                                                                                                     DEEL EEN : DIE ELLENDE VAN DIE MENS

3 Vraag: Waaruit ken jy jou ellende?

Antwoord: Uit die wet van God .

4 Vraag: Wat eis die wet van God van ons?

Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en
die profete

5 Vraag: Kan jy dit alles ten volle nakom?

Antwoord: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat

6 Vraag: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?

Antwoord: Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys

7 Vraag: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?

Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys . Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word. 

8 Vraag: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?

Antwoord: Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word. 

9 Vraag: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?

Antwoord: Nee, want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen. Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel  en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

10 Vraag: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?

Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf. Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.


                        DEEL TWEE : DIE VERLOSSING VAN DIE MENS


11 Vraag: Is God dan nie ook barmhartig nie?

Antwoord: God is wel barmhartig; maar Hy is ook regverdig. Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word - dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.

12 Vraag: Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?

Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word. Daarom moet ons òf deur onsself òf deur 'n ander ten volle betaal.

13 Vraag: Kan ons deur onsself betaal?

Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter.

14 Vraag: Kan enige ander skepsel vir ons betaal?

Antwoord: Nee, want ten eerste wil God aan geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak het nie. Ten tweede kan geen gewone skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie.

15 Vraag: Hoe 'n middelaar en verlosser moet ons dan soek?

Antwoord: So een wat 'n ware en regverdige mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is.

16 Vraag: Waarom moet hy 'n ware en regverdige mens wees?

Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal. Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie.
17 Vraag: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?
Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid te kon dra en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee.

18 Vraag: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is?

Antwoord: Ons Here Jesus Christus, wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het.

19 Vraag: Waaruit weet jy dit?

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het. Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld;. Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul.

20 Vraag: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan
het?

Antwoord: Nee; maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.

21 Vraag: Wat is 'n ware geloof?

Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

22 Vraag: Wat moet 'n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

23 Vraag: Hoe lui die artikels?

Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en
sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n ewige lewe.

24 Vraag: Hoe word hierdie artikels ingedeel?

Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

25 Vraag: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees ?

Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

26 Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as 'n almagtige God kan en ook as 'n getroue Vader wil doen.

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oral teenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, (rykdom en armoede) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

29 Vraag: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie.

30 Vraag: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem. Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is.

31 Vraag: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het; tot ons enigste Hoëpriester, wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree; tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar.

32 Vraag: Waarom word jy 'n Christen genoem?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek sy Naam kan bely, myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.

33 Vraag: Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook kinders van God is?

Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is, terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is.

34 Vraag: Waarom noem jy Hom ons Here?

Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het.

35 Vraag: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?

Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly, die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het. So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde.

36 Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

37 Vraag: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het. So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf.

38 Vraag: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?
Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom.

39 Vraag: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het nie?

Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, omdat die kruisdood deur God vervloek is.

40 Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie.

41 Vraag: Waarom is Hy begrawe?

Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het.

42 Vraag: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?

Antwoord: Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie, maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe.

43 Vraag: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?

Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy.

44 Vraag: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel?

Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het. Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.

45 Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak. Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek. Ten derde is die opstanding van Christus vir ons n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

46 Vraag: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?

Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem en Hy is vir ons daar ten goede totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het.

47 Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie?

Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.

48 Vraag: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig. Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

49 Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie.

50 Vraag: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God?

Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk kan betoon, deur wie die Vader alles regeer.

51 Vraag: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort. Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar.

52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem.

53 Vraag: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Ten tweede is Hy ook aan my gegee  sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, my troos en ewig by my bly.

54 Vraag: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly. 

55 Vraag: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

56 Vraag: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?

Antwoord:. Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie.

57 Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie, maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.

58 Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys.

59 Vraag: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?

Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is.

60 Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?

Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus; so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie  en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is, God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sovêr ek dit met 'n gelowige hart aanneem.

61 Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?

Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie.

62 Vraag: Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie?

Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem en omdat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is.

63 Vraag: Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?

Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade gegee.

64 Vraag: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie?

Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.

65 Vraag: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan?
Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente.

66 Vraag: Wat is sakramente?

Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit
genade skenk.

67 Vraag: Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?

Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is.

68 Vraag: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?

Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.

69 Vraag: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Antwoord: Christus het die uitwendige waterbad ingestel. Daarby het Hy beloof dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.

70 Vraag: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het. Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe.

71 Vraag: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?

Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees..." (Matt 28:19); en: "Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing
van die sondes noem (Tit 3:5; Hand 22:16).

72 Vraag: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?

Antwoord: Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes.

73 Vraag: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?

Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.

74 Vraag: Moet die jong kinders ook gedoop word?

Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is. Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sonde en die Heilige Gees wat die geloof werk, beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word. So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is).

75 Vraag: Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?

Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof, Ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde
liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.

76 Vraag: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?

Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie. Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word, dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is; al is Christus nou in die hemel en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees - soos die ledemate van die liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word.

77 Vraag: Waar het Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?

Antwoord: By die instelling van die nagmaal wat soos volg lui: "In die nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: `Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my
gedagtenis. Want so dikwels as julle van hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11:23-26). Hierdie belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: "Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood" (1 Kor 10:16, 17).

78 Vraag: Verander die brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: Nee, maar soos die water by die doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van sonde self is nie, maar slegs 'n Goddelike teken en versekering daarvan, so verander die brood by die nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie. Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die liggaam van Christus genoem.

79 Vraag: Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?

Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat, soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe. Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang. Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het.

80 Vraag: Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?

Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het, en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word, wat nou na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader is en daar deur ons aanbid wil word. Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as 'n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus en 'n afgodery wat vervloek is.


81 Vraag: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?

Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink 'n veroordeling oor hulleself.

82 Vraag: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?

Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek. Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

83 Vraag: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.

84 Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie. Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

85 Vraag: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys.

DEEL DRIE: DIE DANKBAARHEID WAT ONS AAN GOD VIR DIE VERLOSSING VERSKULDIG IS


86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry, en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen.

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie.

88 Vraag: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?

Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.

89 Vraag: Wat is die afsterwing van die ou mens?

Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug.

90 Vraag: Wat is die opstanding van die nuwe mens?

Antwoord: Dit is 'n hartlike vreugde in God deur Christus en 'n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.

91 Vraag: Wat is goeie werke?

Antwoord: Slegs die wat uit 'n ware geloof, volgens die Wet van God, tot sy eer gedoen word, en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.

92 Vraag: Hoe lui die Wet van die Here?
Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.

Die eerste gebod
Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Die tweede gebod
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder die aarde is of van wat in die water onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en nie dien nie, want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en die vierde geslag van die wat My haat. En Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My lief het en My gebooie onderhou.
Die derde gebod
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
Die vierde gebod
Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die Here, dan mag jy geen werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Die vyfde gebod
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.
Die sesde gebod
Jy mag nie doodslaan nie.
Die sewende gebod
Jy mag nie egbreek nie.
Die agste gebod
Jy mag nie steel nie.
Die negende gebod
Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie.
Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg, of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

93 Vraag: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?

Antwoord: In twee tafels, waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra, die tweede in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is.

94 Vraag: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou, my slegs aan Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê, vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel.

95 Vraag: Wat is afgodery?

Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.

96 Vraag: Wat eis God in die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.

97 Vraag: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien.

98 Vraag: Mag ons beelde as "boeke van die leke" in die kerkgebou toelaat?

Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig.

99 Vraag: Wat eis die derde gebod?

Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek, deur 'n valse eed of deur onnodig te sweer nie. Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie. Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie, sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys word.

100 Vraag: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sovêr moontlik teëgaan en verbied nie?

Antwoord: Ja, seker, want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf.

101 Vraag: Mag 'n mens ook godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eed swering is op die Woord van God gegrond, en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik.

102 Vraag: Mag 'n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?

Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te sweer, beteken dat ek God aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer. Hierdie eer kom geen skepsel toe nie.

103 Vraag: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word. Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdegawes te gee. Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.

104 Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp. Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.

105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?

Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad. Ek moet alle wraaksug laat vaar. Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie. Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer.

106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?

Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat, woede en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord.

107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?

Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel, sovêr moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen.
108 Vraag: Wat leer die sewende gebod ons?

Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek, en daarom moet ons dit hartgrondig haat. Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe sowel binne as buite die huwelik.

109 Vraag: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?

Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons al twee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en alles wat 'n mens daartoe kan verlei.

110 Vraag: Wat verbied God in die agste gebod?

Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal en roof wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. Dit kan gebeur met geweld of 'n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere,, geld, deur woeker of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle
gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes.

111 Vraag: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?

Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil he dat hy my moet behandel. Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help.

112 Vraag: Wat eis die negende gebod?

Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê, niemand se woorde verdraai, nie 'n kwaadsteker of lasteraar wees nie, niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie. Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely. My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder.

113 Vraag: Wat eis die tiende gebod van ons?

Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê.

114 Vraag: Maar kan die wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?

Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar 'n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid, maar tog so dat hulle met 'n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe.

115 Vraag: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?

Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken, en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek. Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik.

116 Vraag: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis: En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

117 Vraag: Hoe moet 'n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?

Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, van harte aanroep vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid. Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig. Ten derde het ons hierdie vaste grond dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het.

118 Vraag: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?

Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het, in die gebed wat Hy self aan ons geleer het.

119 Vraag: Hoe lui hierdie gebed?

Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

120 Vraag: Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?

Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en dat Hy ons veel minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders aardse dinge ons ontsê.

121 Vraag: Waarom word hier bygevoeg: wat in die hemel is?

Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie en van sy almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het.

122 Vraag: Wat is die eerste bede?

Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter. Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word.

123 Vraag: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.

124 Vraag: Wat is die derde bede?

Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee) om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees, sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer soos die engele in die hemel.

125 Vraag: Wat is die vierde bede?

Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.

126 Vraag: Wat is die vyfde bede?

Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie. Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.

127 Vraag: Wat is die sesde bede?

Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyand, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.

128 Vraag: Hoe sluit jy jou gebed af?

Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word.

129 Vraag: Wat beteken die woord Amen?

Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer.


                                (4) DORTSE LEERREëLS
(OOK GENOEM DIE VYF ARTIKELS VAN DIE DORTSE LEERREёLS)

Hoofstuk 1

Goddelike uitverkiesing en verwerping

1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).

2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).

3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14,15).

4. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met 'n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).

5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter 'n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).

6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik - hoe verhard hierdie harte ook al mag wees - en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresende gee dit 'n onuitspreeklike troos.

7. Hierdie uitverkiesing is 'n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping 'n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik.

Soos geskrywe is: In Christus het God Hy ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons vir sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Ef 1:4,5,6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik (Rom 8:30).

8. Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef 1:4,5; 2:10).

9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruit gesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.

10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as 'n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het.
Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie, ..., is vir haar (nl. Rebekka) gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom 9:11,12,l3); en: Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand 13:48).

11. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.

12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (2 Kor 13:5).

13. Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur 'n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel.

14. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God - waarvoor dit in die besonder bestem is - uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder 'n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot 'n lewende troos vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Hebr. 6:17,18).

15. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend~ geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou 'n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God 'n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.

16. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie - ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof, het om hierdie dinge in ons te bewerk - moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.

17. Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7; Hand 2:39;1 Kor 7:14).

18. Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O, mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom 9:20); en ook die woorde van ons Saligmaker: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt 20:15). Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid; roep saam met die apostel uit: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken of wie was sy raadsman gewees? Of wie het iets aan Hom gegee, dat dit vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid! Amen (Rom 11:33-36).

Hoofstuk 2

Die dood van Christus en die verlossing van die mens deur sy dood

1. God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid - soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het - eis dat ons sondes, wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word.

2. Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.

3. Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

4. Hierdie dood het daarom so 'n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen 'n ware en volkome heilige mens is nie, maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so 'n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het.

5. Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.

6. Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.

7. Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.

8. Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader, dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis - waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het - uit elke volk, stam, geslag en taal húlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder, dat Hy hulle van al hulle sondes - sowel die erfsonde as die daadsonde wat ná en vóór die geloof begaan is - deur sy bloed sal reinig. Ten slotte, dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar, en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.

9. Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig uitgevoer ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds uitgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd 'n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet sy Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir die kerk gegee het - soos 'n bruidegom sy lewe vir sy bruid sal gee - standvastig liefhê en Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.


                                                                                                                                                                

Hoofstuk 3 en 4

Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind

1. Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart, sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid.

2. Net soos die mens ná die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het. Net Christus is hierin 'n uitsondering. Die verdorwenheid van die mens ontstaan dus nie deur navolging, soos die Pelagiane vroeër beweer het nie, maar deur die voortplanting van die verdorwe natuur.

3. Alle mense word daarom in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie.

4. Na die sondeval het daar in die mens tog nog 'n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy 'n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in sekere mate 'n strewe na deug en openbare gedissiplineerdheid. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer verduister hy dit heeltemal op verskillende maniere en bedek dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar voor God vir hom geen verontskuldiging nie.

5. Net soos met die lig van die natuur, so is dit ook gesteld met die Tien Gebooie wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die wet vlek wel die grootheid van die sonde oop en oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Die wet het dus, omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, die oortreder onder die vloek laat bly. Daarom kan die mens nie deur die wet die saligmakende genade verkry nie.

6. Wat nie deur die lig van die natuur of deur die wet gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van die Heilige Gees, deur middel van die Woord of die bediening van die versoening. Dit is die evangelie van die Messias, waardeur God besluit het om die gelowiges in die Ou sowel as in die Nuwe Testament salig te maak.

7. Hierdie verborgenheid van sy wil het God in die Ou Testament aan min mense bekend gemaak, maar in die Nuwe Testament, waar die onderskeid tussen die volke nou weggeneem is, het Hy dit aan meer mense geopenbaar. Die oorsaak waarom hierdie bedeling so verskillend is, moet nie aan die waardigheid van die een volk bo die ander of aan die beter gebruik van die lig van die natuur toegeskryf word nie, maar aan die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God. Daarom moet hulle wat sonder en teen enige verdienste so 'n groot genade deelagtig word, dit met 'n nederige en dankbare hart erken. Die ander wat hierdie genade nie ontvang nie, moet saam met die apostel die strengheid en regverdigheid van die oordele van God aanbid sonder om dit met nuuskierigheid te ondersoek.

8. Almal wat egter deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: die geroepenes moet na Hom toe kom. In alle erns beloof Hy ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, die rus vir hulle siele en die ewige lewe.

9. Baie mense wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom nie na Hom toe nie en word nie bekeer nie. Die skuld hiervoor lê nie in die evangelie of in Christus wat deur die evangelie aangebied is nie, ook nie in God wat mense deur die evangelie roep en aan hulle ook verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die geroepenes self. Sommige neem deur sorgeloosheid die Woord van die lewe nie aan nie. Ander neem dit wel aan, maar nie in die binneste van hulle hart nie, met die gevolg dat hulle ná 'n kortstondige blydskap van die tydelike geloof weer terugval. Ander weer, laat die saak van die Woord deur die dorings van die sorge en deur die welluste van die wêreld verstik en dra geen vrugte nie, soos ons Verlosser dit in die gelykenis van die saaier leer (vgl. Matt 13).

10. Ander mense weer, wat deur die verkondiging van die evangelie geroep is, kom en word bekeer. Dit moet egter nie aan die mens toegeskryf word nie asof hy hom deur sy vrye wil van ander onderskei wat net so 'n groot of genoegsame genade tot geloof en bekering ontvang het. So stel die hooghartige kettery van Pelagius dit. Dit moet aan God toegeskryf word. Hy het hulle van ewigheid af in Christus as sy eiendom uitverkies. Hy roep almal kragdadig in die tyd en skenk hulle geloof en bekering. Nadat hulle uit die mag van die duisternis verlos is, bring Hy hulle ook in die ryk van sy Seun, om die deugde van Hom, wat hulle uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep het, te verkondig en om nie in hulleself nie, maar in die Here te roem. So getuig die Apostoliese geskrifte telkens.

11. Verder: wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle die dinge van die Gees van God reg verstaan en onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

12. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, na die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.

13. Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle 'n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser lief het.

14. So is die geloof dan 'n gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, maar omdat dit aan die mens inderdaad geskenk word en vir hom ingegee en ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee nie en daarna van die vrye wil van die mens die instemming of die daadwerklike geloof verwag nie. Sowel die wil om te glo as die geloof self word in die mens tot stand gebring. Immers, Hy wat in die mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal.

15 . Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Hom vooraf niks kan gee nie en waarvoor hy dan vergoed moet word? Inderdaad, wat sou God aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Die mens wat hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig en hy dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie, heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae, of beroem hom, sonder om na te dink, tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend. Vir die ander wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself in so 'n bevoorregte posisie geplaas het nie.

16. Die mens het egter deur die sondeval nie opgehou om 'n mens, toegerus met verstand en wil, te wees nie. Die sonde, wat die hele menslike geslag deurdring het, het die natuur van die mens nie weggeneem nie, maar dit bederf en in geestelike sin gedood. Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset vroeër volkome oorheers het, begin 'n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil. Inderdaad, as die wonderlike Werkmeester van alle goeie dinge nie so met ons gehandel het nie, dan sou die mens glad geen hoop hê om deur sy vrye wil uit die sondeval op te staan nie. Deur sy vrye wil het hy homself, toe hy nog gestaan het, in die verderf gestort.

17. Die almagtige werking van God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit hierdie bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weergebore laat word, volstrek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omvêr nie. Inteendeel, die alwyse God het dit tot 'n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels, en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense oor hierdie genade van God, tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed, gelowig onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie, onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat in die gemeente onderrig gee of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie nou aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad, wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom toe, vanweë die middele sowel as vanweë die verlossende vrug en krag daarvan, alle heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
                                                                                                                     

Hoofstuk 5

Die volharding van die Heiliges

1. Hulle wat God na sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees weder baar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie.

2. Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge, en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang. So moet hulle volhard totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.

3. Vanweë hierdie oorblyfsels van die inwonende sonde, en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan, kan die bekeerdes nie in die genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bevestig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig bewaar.

4. Die mag van God, waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bevestig en bewaar, is so groot dat hulle nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie. Tog word die bekeerdes nie altyd so deur God gelei en beweeg dat hulle - deur hulle eie skuld - in sommige besondere gevalle nie van die leiding van die genade sou kon afwyk en deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei word en dit navolg nie. Daarom moet hulle voortdurend waak en bid dat hulle nie in versoekings gelei word nie. As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan tot groot en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad, onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges, wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit.

5. Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood en bedroef hulle die Heilige Gees, versteur hulle die oefening in die geloof, verwond hulle die gewete ernstig en verloor hulle soms 'n tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God, wanneer hulle deur 'n opregte berou op die regte pad terugkeer, weer die lig van sy Vaderlike aangesig oor hulle laat skyn.

6. God, wat oneindig barmhartig is, neem, weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing, sy Heilige Gees nie heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle jammerlike sonde val nie. Hy laat hulle ook nie só diep val dat hulle uit die genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie.

7. Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Tweedens vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot bekering. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof, met 'n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God wat nou met hulle versoen is, aanbid hulle sy ontferming en trou om daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk.

8. Dat hulle nie heeltemal uit die geloof en die genade uitval of ook tot die einde in die sonde bly of verlore gaan nie, verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie, maar weens die genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het, kon dit nie alleen maklik gebeur het nie, maar sou dit ook ongetwyfeld gebeur het. Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Immers, sy raad kan nie verander, sy belofte kan nie verbreek, die roeping na sy voorneme kan nie herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie, net so min as wat die verseëling deur die Heilige Gees verydel of vernietig kan word.

9. Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof. Hulle het hieroor sekerheid volgens die maat van die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sondes en die ewige lewe het.

10. Hierdie sekerheid spruit dus nie voort uit enige besondere openbaring wat sonder of buite die Woord plaasgevind het nie, maar uit die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy Woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar het; uit die getuienis van die Heilige Gees: Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, mede-erfgename van Christus (Rom 8:16,17), en, laastens, uit die ernstige en heilige strewe na 'n goeie gewete en goeie werke. As die uitverkorenes van God in hierdie wêreld nie hierdie vaste troos het dat hulle die oorwinning sal behou en hierdie onfeilbare pand van die ewige heerlikheid sou besit nie, dan sou hulle die ellendigste van al die mense wees.

11. Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelinge stry en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God, die Vader van alle vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms (1 Kor 10:13), en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker.

12. Dit is egter totaal onmoontlik dat hierdie sekerheid van die volharding die ware gelowiges hoogmoedige en sorglose mense sou maak. Inteendeel, dit is 'n ware wortel waaruit die nederigheid, die kinderlike vrees, die ware vroomheid, die volharding in alle stryd, die vurige gebede, die standvastigheid onder die kruis, die standvastigheid in die belydenis van die waarheid en die standvastigheid van 'n blywende vreugde in God spruit. Ook is die oordenking van hierdie weldaad vir hulle 'n aansporing tot ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie werke, soos uit die getuienisse van die Skrif en die voorbeelde van die heiliges blyk.

13. Wanneer die vertroue in die volharding weer lewendig word in hulle wat uit 'n val in sonde weer opgerig word, bring dit geen ligsinnigheid of verwaarlosing van die vroomheid nie, maar eerder 'n baie groter begeerte om nougeset in die paaie van die Here te wandel. Hierdie paaie is vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou hulle gevolglik die sekerheid van hulle volharding. 'n Verdere gevolg is dat die aangesig van die versoenende God - waarvan die aanskouing vir die gelowiges soeter as die lewe en die verberging bitterder as die dood is - nie weer weens hulle misbruik van sy Vaderlike goedheid van hulle afgewend word en hulle só in swaarder gemoedskwellings verval nie.

14. Dit het God behaag om hierdie Goddelike genade werk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die heilige sakramente.

15. Hierdie leer van die volharding van die ware gelowiges, dit wil sê die heiliges, en van die sekerheid daaroor, het God tot eer van sy Naam en tot troos van die gelowiges uitvoerig in sy Woord geopenbaar en in die harte van die gelowiges ingeprent. Die sondige natuur verstaan hierdie leer nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges en huigelaars misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit. Die Bruid van Christus het dit egter altyd as 'n skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning stand hou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen.


     (5) DIE BELHAR BELYDENIS 1986

NG Sendingkerk in SA
Bybelse versoening en 'n statutêr geskeide gemeenskap

1. Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en
Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die
einde toe.

2. Ons glo aan een heilige algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag. Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié kerk as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is; dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit 'n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees maar terselfdertyd 'n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word; dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo; dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word; dat hierdie eenheid van die volk van God op 'n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar lief het, gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen; daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee; daarin dat ons een geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het, van een Gees deur drenk is, van een brood eet en uit een beker drink, met een doop gedoop is, een Naam bely, aan een Heer gehoorsaam is, vir een saak ywer, een hoop met mekaar deel, saam die hoogte en breedte en diepte van die liefde van Christus leer ken; saam opgebou word tot die gestalte van Christus, tot die nuwe mensheid; saam mekaar se laste ken en dra en so die wet van Christus vervul, mekaar nodig het en mekaar opbou, mekaar vermaan en mekaar vertroos, saam met mekaar ly vir die geregtigheid, saam bid, saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld, saam stry teen alles wat hierdie eenheid mag belemmer of bedreig; dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God; dat die ware geloof In Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk. Daarom verwerp ons enige leer wat òf die natuurlike verskeidenheid òf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot 'n aparte kerk formasie, wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid; wat ontken dat 'n weiering om hierdie sigbare eenheid as 'n kosbare gawe na te jag sonde is, wat uitgesproke of onuitgesproke voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk.

3. Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus
toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon; dat God deur sy lewe skeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy lewe skeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in 'n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring; dat hierdie boodskap ongeloofwaardig gemaak word en dat die heilsame uitwerking daarvan in die weg gestaan word indien dit verkondig word in 'n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig; dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie by voorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is. Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat
belemmer en van krag beroof.

4. Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in 'n wêreld vol onreg en vyandskap op 'n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hom reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek; dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en sal stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom; dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die verontregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.  Daarom verwerp ons enige ideologie wat vorme van veronregting legitimeer en enige leer wat nie bereid is om vanuit die evangelie so 'n ideologie te weerstaan nie.

5. Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees.

Jesus is die Heer.
Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in
ewigheid.



(6) DIE OPENBARE bELYDENIS VAN GELOOF

Die openbare belydenis van geloof is ingestel om aan verbond kinders die geleentheid te gee om persoonlik voor God en die gemeente rekenskap van hulle geloof te gee. So antwoord hulle op die toesegging van God se beloftes in die doop.

Om belydenis van geloof af te lê, beteken dat julle met die mond bely wat julle ook met die hart glo, naamlik dat Jesus die Here is. Dit is 'n belofte wat julle maak om alleen op Hom te vertrou, om te lewe volgens sy Woord, getrou deel te neem aan die erediens en aan alle aktiwiteite van sy kerk, om te volhard in die gebed en om God op alle terreine van die lewe deur woord en daad te verheerlik.

Voorts beteken die openbare belydenis van geloof dat julle verklaar dat dit julle opregte voorneme is om in hierdie belydenis te volhard en steeds daarin te groei.

Aangesien julle die kerkraad oortuig het van julle genoegsame kennis van die Bybel en van die leer van die kerk en van julle persoonlike geloofsvertroue, het die kerkraad met blydskap toestemming verleen dat julle in die openbaar julle geloofsbelydenis mag aflê en so toegang kry tot die nagmaal.

Daarom versoek ek julle om voor God en sy gemeente op die volgende vrae opreg te antwoord:

Ten eerste: Glo jy dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

Ten tweede: Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy genade in die belydenis van die leer tot die einde van jou lewe te volhard, en alle Leringe wat daarvan afwyk, te verwerp?

Ten derde: Bely jy dat die Here Jesus Christus jou persoonlike Verlosser is en dat jy Hom lief het? Beloof jy om Hom te dien, sy Naam getrou te bely voor die mense en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem?

Ten slotte: Beloof jy dat jy jou onderwerp aan die kerklike opsig en tug?



(7) DIE GELOOFSBELYDENIS VAN NICÉA

(Hoewel hierdie geloofsbelydenis die naam dra van die plek Nicéa (Klein-Asië) waar in die jaar 325 die eerste ekumeniese konsilie gehou is, is dit nie letterlik die belydenis wat op die konsilie opgestel is nie. Dit het ná 362 ontstaan en is uitgebrei op die tweede ekumeniese konsilie te Konstantinopel (381), terwyl nog later “en die
Seun” (by die uitgaan van die Heilige Gees) daaraan toegevoeg is. Dit word daarom ook die “Niceno- Constantinopolitanum” genoem.)

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

(God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mens, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewend maker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en

die lewe van die toekomstige eeu.

Amen.



(8) GELOOFSBELYDENIS VAN ATHANASIUS


NEDERLANDSE TEKS

De Geloofsbelijdenis van Athanasius (in het Latijn: Symbolum Athanasianum of Quicumque vult) is een uiteenzetting van de christelijke leer die traditioneel wordt toegeschreven aan Athanasius (295-373), aartsbisschop van Alexandrië. De belijdenis is bedoeld om het arianisme te bestrijden, zoals ook Athanasius dat deed. Maar de meeste geschiedkundigen zijn het er tegenwoordig over eens dat Athanasius niet de auteur kan zijn, omdat de tekst oorspronkelijk in het Latijn is geschreven en niet in het Grieks. De belijdenis is wellicht in de tweede helft van de vijfde eeuw ontstaan in Spanje of Zuid-Frankrijk.

1.      Al wie behouden wil worden, heeft vóór alles nodig, dat hij het algemeen geloof vasthoudt.
2.      Wie dit niet volledig en ongeschonden bewaart, zal ongetwijfeld voor eeuwig verloren gaan.
3.      Het algemeen geloof nu is, dat wij één God in de drieheid en de drieheid in de eenheid aanbidden,
4.      zonder de Personen te vermengen of het Wezen te delen.
5.      Want de Persoon van de Vader, die van de Zoon en die van de Heilige Geest zijn ieder een andere Persoon.
6.      Maar één is de Godheid van de Vader en van de Zoon en van de Heilige Geest, gelijk is hun heerlijkheid en gelijk van eeuwigheid hun majesteit.
7.      Zoals de Vader is, zo is de Zoon, zo is ook de Heilige Geest.
8.      Ongeschapen is de Vader, ongeschapen de Zoon, ongeschapen de Heilige Geest.
9.      Onmetelijk is de Vader, onmetelijk de Zoon, onmetelijk de Heilige Geest.
10.  Eeuwig is de Vader, eeuwig de Zoon, eeuwig de Heilige Geest.
11.  En toch zijn zij niet drie eeuwigen, maar één Eeuwige.
12.  Zoals zij niet drie ongeschapenen zijn of drie onmetelijken, maar één Ongeschapene en één Onmetelijke.
13.  Evenzo is de Vader almachtig, almachtig de Zoon, almachtig de Heilige Geest.
14.  En toch zijn zij niet drie almachtigen, maar één Almachtige.
15.  Zo is de Vader God, de Zoon God, en de Heilige Geest God.
16.  En toch zijn zij niet drie Goden, maar één God.
17.  Zo is de Vader Here, de Zoon Here en de Heilige Geest Here.
18.  En toch zijn zij niet drie Heren, maar één Here.
19.  Want evenzeer als wij door de christelijke waarheid genoodzaakt worden elke Persoon afzonderlijk als God en Here te belijden, worden wij door het algemeen geloof er van weerhouden te spreken van drie Goden of Heren.
20.  De Vader is door niemand gemaakt of geschapen of voortgebracht.
21.  De Zoon is door de Vader alleen, niet gemaakt of geschapen, maar voortgebracht.
22.  De Heilige Geest is door de Vader en de Zoon niet gemaakt of geschapen of voortgebracht, maar Hij gaat van Hen uit.
23.  Eén Vader dus, niet drie Vaders, één Zoon, niet drie Zonen, één Heilige geest, niet drie Heilige Geesten.
24.  En in deze Drieëenheid is niets eerder of later, niets groter of kleiner, maar alle drie Personen zijn aan elkaar gelijk in eeuwigheid en in hoedanigheid.
25.  Zodat in alles, zoals reeds gezegd is, de eenheid in de drieheid en de drieheid in de eenheid te aanbidden is.
26.  Wie derhalve behouden wil worden, moet deze overtuiging over de Drieëenheid hebben.
27.  Maar het is noodzakelijk voor zijn eeuwig behoud, dat hij ook de menswording van onze Here Jezus Christus oprecht gelooft.
28.  Het ware geloof is dan, dat wij geloven en belijden, dat onze Here Jezus Christus, de Zoon van God, evenzeer God als mens is.
29.  God is Hij, omdat Hij uit de natuur van de Vader vóór de tijden is voortgebracht; en mens is Hij, omdat Hij uit de natuur van zijn moeder ìn de tijd geboren is.
30.  Ten volle God en ten volle mens, met een redelijke ziel en een menselijk lichaam,
31.  gelijk aan de Vader naar zijn Godheid, minder dan de Vader naar zijn mensheid.
32.  Hoewel Hij God is en mens, is Hij toch niet twee, maar één Christus.
33.  Eén is Hij, echter niet doordat de Godheid is veranderd in mensheid, maar doordat Hij als God de mensheid heeft aangenomen.
34.  Eén is Hij, volstrekt niet door een vermenging van naturen, maar door de eenheid van zijn Persoon.
35.  Want zoals een redelijke ziel met het lichaam één mens is, zo is ook God en mens één Christus.
36.  Die geleden heeft om ons behoud, is neergedaald in het rijk van de dood, op de derde dag opgestaan uit de doden,
37.  opgevaren naar de hemel, en zit aan de rechterhand van de Vader, vanwaar Hij komen zal om te oordelen de levenden en de doden.
38.  En bij zijn komst moeten alle mensen wederopstaan met hun lichaam en rekenschap afleggen van hun eigen daden.
39.  En die het goede gedaan hebben zullen in het eeuwige leven gaan, maar die het kwade gedaan hebben in het eeuwige vuur.
40.  Dit is het algemeen geloof. Wie dit niet oprecht en standvastig gelooft, kan niet behouden worden.




No comments:

Post a Comment