Postings

Thursday 18 October 2012

Bekering en Wedergeboorte.



BEKERING EN WEDERGEBOORTE
                    
                                                                                               Stes de Necker

Inleiding

In Johannes 3: 1 lees ons van Nikodemus wat in die aand na Jesus gekom het en Hom gevra het: “Rabbi, ons weet dat U 'n leermeester is wat van God afgekom het, want niemand kan hierdie wonder tekens doen wat U doen, as God nie by hom is nie.” In vers 3 antwoord Jesus Nikodemus sê: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

In die Griekse vertaling word die woord “ gennhqh anwqen gebruik wat letterlik vertaal kan word as “van bo af gebore”.

Wedergeboorte en bekering beteken nie dieselfde ding nie. In Joh. 3: 6 sê Jesus vir Nikodemus: “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”, terwyl die apostel reeds in Joh. 1: 12 geskryf het: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

Wedergeboorte vra geen aktiewe daad van die mens nie. Wedergeboorte word volledig deur God bewerk sonder enige prestasie van die mens se kant. Al wat ons moet doen is om dit met dankbaarheid aan te neem in geloof. 

Bekering daarinteen beteken dat ons vir God moet sê dat ons ons bekeer van ons sondige lewe en om dan daadwerklik te begin om te leef soos wat God wil hê ons moet leef. Hierdie moet 'n vaste voorneme wees wat ons uit ons harte bedoel en wat ons ook van voorneme is om vol te hou, al gebeur wat ook al. 

In Matt. 4: 17 se Jesus: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Bekering soos wat dit in die Griekse vertaling van die Bybel voorkom, “metanoia beteken letterlik omdraai of verandering. Met ander woorde verandering van denke.

Ons moet egter nie hierdie begrippe onnodig ingewikkeld maak nie, want in Jesus Christus is dit in werklikheid 'n heel eenvoudige reaksie wanneer ons Christus as ons verlosser en Saligmaker aanneem.

Wanneer ons bely dat daar 'n ernstige leemte in ons lewe is; Dat ons besef dat dinge nie reg is nie; Dat ons ons rug wil keer op die sonde en wil omdraai van 'n lewe van selfsug en eiegeregtigheid is die proses van bekering 90% voltooi.

Al wat dan oorbly is om eerlik en opreg teenoor God te erken dat ons Hom waarlik nodig het in ons lewe; Dat ons 'n lewe wil lei waar Hy altyd nommer een sal wees en dat ons sal doen wat Hy van ons verwag.

Resultaat van bekering en wedergeboorte

'n Bekeerde Christen sal voortaan mens sien in terme van die versoening wat ook vir hulle bewerk is in Christus. Wanneer ons hierdie siening begin uitleef sal ons ook beter verstaan waarom ons nie die mens kan of mag oordeel nie.

Van die volgende resultaat lees ons in 1 Pet 1: 3-5 "Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In Sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.”

Asook die volgende: 1 Pet 1: 22-23 "Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te he, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.”

En in Tit 3: 5-7 "Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van Sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

Volgens hierdie tekste is dit ook duidelik dat die lewe van 'n bekeerde Christen,  bepaalde vrugte dra wat die wedergeboorte kenmerk:
Ø       Onvoorwaardelike, goddelike liefde
Ø       Aflegging van sonde
Ø       Geregtigheid
Ø       Verwerping van die bose.

Hierdie kwaliteite of kenmerke is nie voorwaardes vir wedergeboorte nie, maar vrugte wat spontaan voortvloei vanuit mense se lewens wat Christus in geloof aangeneem het. Hierdie vrugte word deur die Heilige Gees in en deur mense se lewens bewerk.

Teenstrydig met die algemene opvatting dat wedergeboorte by wyse van een of ander “Damaskus ervaring” moet geskied, leer die Bybel ons dat dit 'n gawe van God is wat Hy in Sy alwysheid toebedeel aan elkeen wat in Jesus glo. Hoe hierdie toedeling geskied hang van die uitsluitlike wil van God af. Van Timoteus lees ons dat hy van kleins af die heilige Skrif geken het. (2 Tim. 3: 15)
 
Anders as bekering is wedergeboorte dus meer as net ‘n verandering in denke. Wedergeboorte is ‘n werklike metamorfose van die gees van die mens; ‘n metafisiese transformasie waarin die afsterwe van die ou mens en sy sondige natuur, effektief verander na 'n nuwe wese in Jesus Christus.

In 2 Kor. 5: 17 se Paulus: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

Liewe vriend/vriendin, as jy dit nog nie gedoen het nie, vra nou vir Jesus om jou te reinig deur Sy bloed en jou met sy Heilige Gees te vervul. Wanneer jy die weg van Jesus volg, sal die Heilige Gees altyd daar wees om jou by te staan en te beskerm.

Volhard dan op hierdie nuwe en lewende weg en moenie omkyk as jy jou hand eenmaal aan die ploeg geslaan het nie.


Vind nog interessante artikels op my blog.
Kliek net   http://stesdeneckers.blogspot.com



No comments:

Post a Comment