Postings

Wednesday 24 October 2012

Naasteliefde - Ou en Nuwe Testamentiese betekenis.



NAASTE EN LIEFDE

ʼn Vergelyking tussen die Ou- en Nuwe Testamentiese betekenisse


                                                                                                 Stes de Necker

Inleiding

In Matt. 22: 39 beveel Jesus ons: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”

Die vraag word so baie gevra: “Wie is nou eintlik my naaste?”

In die Engelse en Hebreeuse Bybels word die woord “neighbor” gebruik. In Afrikaans sou dit dus “jou buurman” beteken!

Die Hebreeuse woord vir “neighbor”, soos gebruik in die Tora, is “rei-acha” wat beteken die Jode se onmiddellike deelgenote (families) of kamerade (mede Jode). Die woord “rei-acha” sluit onder andere begrippe in soos “julle kinders” of “julle broers”. 

Die Hebreeuse woord vir “neighbor” of buurman is “shachen”, en die vir eggenoot of eggenote (spouse) is “rei-ah”.

Die korrekte Hebreeuse vertaling van die woord “naaste” is dus “rei-acha” wat gevolglik uitsluitlik net na  die Jode verwys.

Betekenis van die woord “naaste’

Indien daar nie ʼn Ou Testament was nie, sou ons met ʼn ernstige probleem gesit het, want dan sou dit beteken het dat net die Jode mekaar moes liefhê!

Maar gelukkig vind ons die res van die betekenis van die woord naaste in Lev. 19: 33. “Wanneer daar ʼn vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie.” en dan verder in vers 34: “Julle moet hom soos ʼn medeburger behandel en hom liefhê soos julleself.”  (Eie onderstreping)

Hieruit volg dit dat die Here Jesus se verwysing na “jou naaste” in die Nuwe Testament (Matt. 22: 39), verwys na alle mense wat in enige bepaalde gemeenskap of omgewing leef en woon, Christene én nie-Christene.

Betekenis van die woord Liefde in die Bybel

Die volgende vraag wat net so baie gevra word is: “Wat beteken dit as die Bybel sê ons moet ons naaste ‘liefhê’ ?”

Die Bybelse betekenis van die woord “liefhê” beteken nie ons moet hand om die lyf met iedereen rondloop nie!

In die Ou Testamentiese teks van Levitikus, word die Hebreeuse woord “ahava” of “ahab” gebruik. In Hebreeus bestaan daar nog ʼn woord wat vir die begrip liefde gebruik word en dit is “hesed”.  Die woord hesed  veronderstel egter ʼn hiërargie, waar iemand op ʼn hoër vlak van die hiërargie, “hesed” (liefde) gee aan ʼn persoon laer af in die hiërargie. Dit verwys dus na God se liefde vir die mens, en gevolglik die mens se liefde vir sy medemens of sy kinders. Die woord hesed verwys dus nooit na ʼn kind se liefde vir sy ouers, of die mens se liefde vir God nie.

Die woord “ahava” of “ahab” is gevolglik die enigste Hebreeuse woord vir die begrip liefde soos wat ons die woord liefde normaalweg in Afrikaans sal verstaan. In die Hebreeuse skryfstyl het die woord ahava in werklikheid twee betekenisse naamlik (a) ek gee, en (b) liefde. In Lev. 19:18 in die Hebreeuse Bybel word die woord “ve·'a·hav·ta”  gebruik wat gevolglik beteken “jy moet liefde gee” 

           לא תקם ולא תטר את בני עמך ואהבת לרעך כמוך אני יהוה : Lev. 19:18

Deurgaans in die Hebreeuse vertaling van die Nuwe Testament word die woord “ahava” gebruik om die begrip liefde aan te dui. So bv. lees ons in Matt. 22: 39 :
                           לא תקם ולא תטר את בני עמך ואהבת לרעך כמוך אני יהוה
(Onthou dat Hebreeus van regs na links gelees word)

In beide die Ou- en die Nuwe Testament word die woord “ahava” of “ahab” (ואהבת) gebruik wanneer  die Bybel van liefde praat.   

Wanneer ons verder in die Griekse vertaling van die Bybel (Septuagint) gaan kyk na die Nuwe Testamenties teks van Matteus, dan sien ons dat die Griekse woord “agápe” in Matt. 22: 39 gebruik word.

In Grieks bestaan daar vier verskillende woorde vir die begrip liefde, naamlik:

Die woord agápe (ἀγάπη agápē) beteken onvoorwaardelike, opofferende, deernisvolle liefde. In die Griekse vertaling van 1 Kor. 13, net soos in die res van die Nuwe Testament, word daar deurgaans gebruik gemaak van die woord agápe.

Die woord s'agapo (Σ'αγαπώ), wat “ek het jou lief” beteken, verwys gevolglik nie na die liefde wat daar tussen man en vrou of tussen ʼn kêrel en sy meisie bestaan nie. Hierdie soort liefde word na verwys as Éros, wat intieme, passievolle (ook seksuele) liefde beteken. Vandaar dan ook die woord erotika.

Die oorblywende twee woorde Philia en Storge verwys na die emosie wat daar byvoorbeeld tussen broer en suster sal bestaan of tussen vriende. In die Afrikaanse idioom sou dit die gevoel wees wat ons vir ʼn troeteldier sal koester. Philia sou gevolglik in Afrikaans vertaal kan word as “broederlike liefde” en storge as “natuurlike toegeneentheid”. 

Wanneer Paulus in Rom. 12: 10 sê “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar” praat hy van phileo.  (werkwoord van philia) Wanneer Jesus ons opdrag gee om ons naaste soos onsself lief te hê, praat Jesus van agápe.


Wat beteken Jesus se opdrag om ons naastes lief te hê vir ons as Christene vandag?

Uit al die verskillende betekenisse van die begrip “liefde vir ons naaste”, Afrikaans, Hebreeus en Grieks, bestaan daar gevolglik net een betekenis vir die woord liefde soos dit in die Bybel bedoel word, en dit is daardie onvoorwaardelike liefde wat niks in ruil daarvoor vra nie. Maar ons weet ook dat dit vir ons as sondige en afvallige wesens moeilik, indien nie totaal onmoontlik, is om sulke liefde te betoon nie. Selfs binne die huwelik is agápe liefde nie altyd moontlik nie. Ek het jou lief, maar jy moet my ook liefhê.

Jesus se opdrag aan ons in Luk. 6: 27-31 : (27) “Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; (28) seen die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word;  (29) As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan; As iemand jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie wyer nie;  (30) Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; as iemand jou goed vat moet jy dit nie terug eis nie; (31) Behandel ander mense soos julle self behandel wil word”  klink weliswaar asof die Heiland darem nou té veel van ons verwag!

Maar is dit nie presies hoe ons onsself lief het nie!? Ons is baiemaal ons eie vyand; soms haat ons onsself; soms vervloek ons onsself; ons verwyt onsself; ons pynig onsself; ons behandel onsself sleg; ons wil behandel word soos wat ons dink ons behandel behoort te word!  Ten spyte van al hierdie emosies het ons onsself nog steeds lief.

Wanneer Jesus dus vir ons sê ons moet ons naastes liefhê soos onsself, dan is dít presies wat Hy daarmee bedoel, “soos wat ons onsself lief het”, want dit is hoe Hy óns lief het.

In Joh. 15 : 9 sê Jesus “Soos die Vader My lief het, het Ek julle ook lief. Julle moet in My liefde bly.” en verder in vers 10: “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in My liefde bly, net soos Ek die opdragte van My Vader uitvoer en in Sy liefde bly.”

Johannes 15: 12 “ Dit is My opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief het.”

Onvoorwaardelik agápe (liefde) is slegs in en deur Jesus Christus moontlik; In onsself kan ons nooit tot daardie liefde in staat wees nie.

In ʼn land soos Suid Afrika waar daar byna 28,000 (nie-vegtende) wit mans, vroue en kinders, en ʼn verdere 14,000 swartmense, in konsentrasiekampe gedurende die Anglo Boereoorlog gesterf het, en nagenoeg 3100 mense in plaasmoorde (tot en met 2009) vermoor is, wonder ʼn mens onwillekeurig of die geliefdes en families wat deur hierdie gruweldade agtergelaat is, werklik Jesus se opdrag dat ons ons vyande moet liefhê (Matt. 6: 44) kan nakom.

Suid Afrika se lewensverliese verdwerg egter teen die 6 milj. (nie-vegtende) Jode wat deur die Duitsers gedurende Wêreldoorlog II uitgemoor is.

Kan Christene régtig onder sulke omstandighede nog steeds vergewe en liefhê? Of kan ons, soos wat die Heidelbergse Kategismus (Bld. 675) vir ons sê: “Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad. Ek moet alle wraaksug laat vaar.” ? (Antwoord. 105)

Dit is binne hierdie konteks wat Jesus vir ons in Joh. 15 : 16 sê “So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in My naam vra.”

Vergifnis en liefde is en bly nog altyd moontlik wanneer ons dit nie in onsself soek nie, maar in die krag en genade van ons Here Jesus Christus.  Menslik is dit nie moontlik nie.

Ons vind gevolglik hierdie bykans onbegryplike paradokse in die Bybel dat –

Ø       Ons moet God vra vir die geloof waarmee ons in Hom moet glo;
Ø       Ons moet God vra vir die liefde waarmee ons Hom moet liefhê;
Ø       Ons moet God vra vir die vertroue (hoop) waarmee ons Hom moet vertrou;
Ø       Ons moet God vra vir die liefde waarmee ons ons naastes moet liefhê.

Wanneer ons, soos wat dit so baie gebeur, twyfel of ons ooit in staat sal wees om aan die vereistes van God se wil te voldoen, dan het ons hierdie wonderlike troos: “So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in My naam vra.”

Ons moet net vra!



No comments:

Post a Comment