BEGINSELS EN GELOOF
Stes de Necker
Inleiding
In sy artikel “Bybel bekoor met eenvoud” (Prof. Piet
Strauss – 2011 Volksblad) skryf Prof.
Strauss soos volg oor die gesag van die Bybelse waarhede in vandag se tyd:
“Asof die teks nie met die
eintlike teks of konstantes en die konteks opereer nie. Asof die enigste
Bybelse konstantes wat altyd geld, nie riglyne vir die alledaagse lewe is nie,
maar slegs waarhede oor die God van die alledaagse lewe. Asof die gelowige met
net die Bybelteks as padkaart vir die lewe nie meer hoop het nie. Dit is nou
die Bybel plus. Mense wat die teks ernstig neem en as vertrekpunt gebruik, loop
die gevaar om as fundamentaliste gebrandmerk en uitgeknikker te word.”
Daar bestaan vandag soveel verskillende teologiese
uitsprake en dogmatiek oor die Bybelse leer, dat ʼn mens somtyds wonder wie se
teorie nou eintlik die korrekte is.
Buite die akademiese omgewings waar die uitleg van die
Woord van God daagliks nagevors en ontleed word, (Hermeneutiek), leef die gewone
belydende kerklidmaat sy alledaagse lewe, salig onbewus van die teologiese
teorieë en dogmatiek wat, meestal in ons kweekskole (ou benaming), geformuleer
word. As die gewone persoon, soos ek en jy, nie per ongeluk (of geluk) op een of
ander wyse daarop afkom nie, sou ons miskien nooit eers daarvan bewus gewees
het nie!
Suid Afrika se Teologiese Fakulteite word vandag erken
as van die bestes ter wêreld. Terwyl ons Tersiêre instellings wonderlike en
verdienstelike werk op Godsdienstige gebied verrig, bly dit nog altyd
noodsaaklik dat die gewone kerklidmaat, die “gewone Christen”, ek en jy, oor ʼn
duidelike beginsel raamwerk van ons Christelike geloof sal beskik.
Gelowiges wat
hulle geloofsbeginsels op basiese Skrifuitsprake, Christelike beginsels en
Bybelse waarhede baseer, word dikwels geëtiketteer as fundamentalistiese-,
konserwatiewe-, of evangeliese Christene.
In die finale
analise en desnieteenstaande die verskillende “etikette” of benamings wat daar
aan verskillende geloofsoortuigings gekoppel mag word, behoort elke Christen
gelowige se geloofsoortuiging nog altyd op die fondament Jesus Christus gebou word.
In 1 Kor. 3: 11 sê
Paulus: “... want niemand kan
‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie. Die fondament is Jesus
Christus.”
Wanneer die storms
om ons losbars en dit lyk of die wêreld om ons wil vergaan, het ons 'n vaste,
onwankelbare fondament nodig om nie te wankel of af te dwaal nie. Hierdie vastigheid kan ons slegs vind in Jesus Christus. Die
sekerheid van ons geloof in Hom, en die onveranderlikheid van sy Woord, bied
aan ons ‘n hoopvolle toekoms in Sy onverganklike, hemelse koninkryk. In Luk. 21: 33 sê Jesus: “Die hemel en die
aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”
Die volgende kernwaarhede van die Bybel, wat nog altyd gegeld het as
Christelike riglyne vir ons alledaagse lewe, kan moontlik help om vir elkeen sy/haar persoonlike
Christelike beginsel-raamwerk, daar te stel.
Erkenning van die gesag van die Skrif.
Dit behels die
erkenning van die Bybel, in sy oorspronklike tale, as die letterlike en
foutlose Woord van God wat deur die Heilige Gees geïnspireer is. Dit verskaf
betroubare kennis oor ons saligheid deur geloof in Jesus Christus, en is ook ‘n
vaste riglyn vir ons Christelike lewe in al sy fasette: “Die hele Skrif is deur
God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te
bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek.” (2 Tim. 4:
16)
‘n Letterlike Skrifverklaring.
Die letterlike,
grammaties-historiese verstaan van die Bybel is ‘n grondbeginsel in die Gereformeerde
Christendom. Die Here het bedoel wat Hy in bepaalde tydsomstandighede vir
bepaalde mense gesê het. Beeldspraak en simboliek moet beperk word tot dit wat
die Bybel self duidelik só bedoel. Die Engelse uitdrukking is: “When the plain
sense of the Word makes common sense, then seek no other sense.”
Die verwerping van vergeesteliking.
Die apostels én
die vroeë kerkvaders het die Skrif met die idee van “sensus plenior”
benader (Eng.
plain meaning, Afr. duidelike, alledaagse betekenis). Dit is die
aanvaarding dat daar slegs een betekenis vir ‘n teks is. Later is hierdie
benadering toenemend verwerp. Origenes (185 n.C. ) word beskou as die vader van die
allegoriese interpretasie en het verskeie boeke oor die verstaan van die Bybel
geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van
Plato en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly. Hy het die Bybel as
‘n boek gesien wat vol simbole en allegoriese konstruksies is en dit derhalwe
nie letterlik vertolk nie. Die werklike bestaan was vir hom in die
filosofies-geestelike gnostiek (kennis van godsdienstige verborgenhede waarheen
elke Christen moes vorder) geleë.
Die erkenning van geestelike werklikhede.
‘n Letterlike vorm
van Skrifverklaring behels ook die volle erkenning van geestelike stellings in
die Bybel. Daar is geen waarheid in die bewering deur die vergeesteliking teologie, dat net hulle die Bybel geestelik
verstaan, terwyl die fundamentaliste dit letterlik opneem en sodoende die
geestelike waarhede daarvan ontken nie.
Teologiese konserwatisme.
‘n Fundamentele
Christen is konserwatief en behoudend omdat hy daartoe verbind is om die Bybel
se boodskap in terme van sy grondbetekenis te verklaar en toe te pas. Mense wat
hulleself die vryheid veroorloof om ‘n woord of sin deur vergeesteliking of
allegorisering van sy basiese betekenis te beroof, tree onverskillig en
eiesinnig op. Hulle toon nie respek vir die basiese betekenis van God se Woord
nie, en besluit dan sélf watter ander betekenis hulle daaraan gaan koppel.
Die Bybelse skeppingsleer.
Die Bybelse
beskrywing dat God die Skepper is van alles wat bestaan, moet onvoorwaardelik
aanvaar word. Hierdie oortuiging lei na die verwerping van die evolusieleer,
dat alle lewe evolusionêr uit ‘n eensellige organisme iewers in ‘n groot
moeras, ontwikkel het. Die evolusieteorie is ‘n uitdruklike ontkenning van die
feit dat mense ander attribute as die diereryk het, omdat hulle ook geestelike
wesens is wat na die beeld van God geskape is, en dus vir hulle optrede aan Hom
aanspreeklik is. Die primêre evolusieteorie, dat alle lewe uit ‘n eensellige
organisme ontwikkel het, kan
nooit Bybels verantwoord word nie aangesien dit by implikasie wil beweer dat
God nie ‘n rol in die ontstaan van lewe gespeel het nie.
Die vyandige koninkryk van Satan.
As Christene glo
ons in die bestaan van ‘n opponerende koninkryk van die duisternis wat onder
die hoof van Satan en sy demone staan. Die Here het die poel van vuur (die hel)
as ‘n ewige plek van verdoemenis vir die duiwel en sy engele asook alle
ongeredde sondaars voorberei. (Matt.
25:41; Op. 20: 14) Ons kan
net deur Jesus Christus van ons sonde en van Satan se mag verlos word (Ef. 1:7;
1 Joh. 3:8).
Die Bybelse Dispensasie.
‘n Letterlike
vertolking van die Bybel verbind ons tot ‘n dispensasionele verklaring van God
se geopenbaarde waarheid. Elke dispensasie (bedeling) het sy eie kenmerke,
hoewel dit ook sekere ooreenkomste met ander dispensasies kan hê. Ons moet in gedagte hou dat daar
dispensasionele verskille tussen die Nuwe Testamentiese geloofsuitsprake, en
die Ou Testamentiese geloofsuitsprake mag wees, wat vir ons as Bybelse
paradokse mag voorkom.
Erkenning van die Joodse volk.
As Christene moet
ons erken dat die Jode nog steeds die uitverkore volk van God is aangesien ons
glo in die vervulling van God se beloftes. (Jes. 11:11-12; Jer.
31:3-10,20-21,31-39; Eseg. 11:17; 36:22-29; 37:21). Israel keer tans terug na die land
wat die Here aan hulle voorvaders gegee het (Gen. 13:14-15; 17:8; 26:3; 28:13).
Die Jode beskik gevolglik nog steeds oor 'n onbetwisbare Bybelse mandaat oor die
grondgebied van Israel .
Voortdurende hervorming.
Christene moet
altyd daarop ingestel wees om toe te sien dat die teologie en gebruike van die
kerk of gesinsgroep waaraan hulle behoort, in lyn met die Bybelse voorskrifte
gehandhaaf word. Bybelstudie en die gebruik van goeie naslaanbronne om dieper
insig in die Woord te kry, is 'n voortdurende proses. Daar moet gewaak word om
Bybels onverantwoordbare standpunte en gebruike te laat voortleef sonder
om dit ooit te bevraagteken.
Bybelse Christologie.
Ons as Christene
is daartoe verbind om die volle openbaring van Jesus Christus in die Bybel te
glo en te verkondig. Daar moet absolute duidelikheid oor sy ewige selfbestaan
wees, sy rol in die skepping van die wêreld, die gelyke posisie wat Hy as God
die Seun saam met God die Vader en God die Heilige Gees in die Drie-eenheid
inneem, sy maagdelike geboorte tydens sy menswording, die volle betekenis van
sy soendood aan die kruis, sy liggaamlike opstanding uit die dood, sy
hemelvaart, sy funksies as profeet, hoëpriester en Koning, asook die feit dat
Hy met sy wederkoms as Koning van die hele wêreld geopenbaar sal word.
Uniekheid van die Christelike geloof.
In ons verhouding
met die wêreld daarbuite moet ons baie sterk standpunt oor die uniekheid van
die Christelike geloof inneem. Geen mens kan
na God gaan anders as deur Jesus Christus nie (Joh. 14:6). “Ek is die weg en
die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Die saligheid is
in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat
onder die mense gegee is, waardeur ons gered kan word nie. In Hand. 4:12 staan daar: “Hý
bring die verlossing. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mens gegee waardeur
God wil dat ons verlos moet word nie.”
Die Evangeliese verlossings leer.
Verlossing geskied
deur bekering (‘n veranderde gesindheid oor jou sonde) en die
geloofsaanvaarding van die Here Jesus as jou Saligmaker (Joh. 1:12; Hand.
16:31). Christus het deur sy kruisdood versoening vir die sondes van die hele
wêreld gedoen (Hand. 17:30; 1 Joh. 2:2). Daarom moet elke Christen sy/haar
geloof in die gekruisigde Here Jesus stel. Christus het deur sy opstanding die
dood en graf oorwin, en leef om vir ons in te tree by God. Geen mens kan op
grond van goeie werke, of doop of aanneming, sy verlossing verkry nie. (Ef.
2:8-9).
Die werking van die Heilige Gees.
Die belangrikste
bedienings van die Heilige Gees staan in verband met die oortuiging van sonde,
wedergeboorte, bekragtiging, onderrigting en vertroosting. ‘n Transisionele
gawe soos die spreek in ander tale, was net vir die oorgang na die nuwe
bedeling van die kerk van Christus onder alle nasies bedoel. Daardeur het die
Here aangetoon dat die evangelie in alle tale verkondig moes word. Hierdie
stelling is in die eerste eeu reeds duidelik gemaak, en niemand behoort meer
vir hierdie gawe te bid nie.
Vryheid van besluitneming.
Die Here het aan
elke mens ‘n morele gewete gegee sodat hy self tussen goed en kwaad moet
besluit. God wil hê ons moet Hom vrywillig liefhê, daarom moet ons onsself deur
‘n wilsbesluit daartoe verbind. Hierdie siening staan direk teenstrydig met die
Calvinistiese uitverkiesings leer wat leer dat God sekere mense alreeds tot die
ewige lewe of die verdoemenis uitgesonder het.
‘n Skriftuurlike leer oor sonde.
Die mens is na die
beeld van God geskape, maar as gevolg van die sondeval het hy geestelik
“gesterf” en ‘n verdorwe natuur met immorele neigings gekry. Alles wat die mens
doen en bedink wat in stryd met God se wil is, word in die Bybel sonde
genoem.
Bybelse beginsels en kultureel bepaalde gebruike.
Bybelse beginsels
vir menslike gedrag verander nie, maar kulturele verskille oor bepaalde
maniere waardeur uitvoering aan sekere Bybelse beginsels gegee word, kan van volk tot volk en
van tyd tot tyd verander. In die Bybel se tyd moes vrouens, as ‘n aanduiding
van onderworpenheid aan alle vorme van gesag, ‘n hoed op hulle hoofde dra. Met
die emansipasie van die vrou in die post-moderne lewe, geld hierdie beginsel
bloot eenvoudig nie meer nie.
Antitetiese lewensbeskouing.
Suiwere Bybelse
denkwyse is in vandag se lewe sterk teenstellend, of antiteties, met die
post-moderne lewensbeskouing. Christene is daarom verplig om duidelike onderskeid
tussen geregtigheid en sonde, mooi en lelik, goed en kwaad, die waarheid en die
leuen, die lig en die duisternis, te tref. Dit beteken dat elke Christen
duidelike geestelike en morele riglyne moet hê wat hy/sy in alle situasies kan gebruik om die regte
besluite te neem wanneer hy/sy met dwaalleringe gekonfronteer word. In 'n sogenaamde “verligte” wêreldorde is dit
lewensnoodsaaklik dat elke Christen sy/haar geloofsoortuiging kan handhaaf.
‘n Verdedigende ingesteldheid.
Die boodskap van
die Bybelse staan lynreg teenoorgesteld van die verdorwe en sondige wêreld
waarmee dit in stryd is. Daarom moet elke Christen skyn soos ligte te midde van
‘n krom en verdraaide wêreld. (Fil. 2:15). Christene is die sout van die aarde
en die lig vir die wêreld (Matt. 5:13-16). Ons moet voortdurend God se Woord en
ons Christelike leefwyse teen die aanslag van ‘n vyandige wêreld kan verdedig.
Erkenning van die
bestaan van die bose.
As bemagtigde
Christene moet ons ook die handeling van die bose en die Antichris kan identifiseer en
teëstaan. (veral ook geestelike dwalings)
‘n Sondaar moet ‘n sondaar genoem word en so ook moet God se oordeel oor
die sonde verkondig word. Daarmee saam mag ons egter nooit nalaat om, in
Christelike liefde, Jesus se verlossing van sonde, te verkondig nie.
Christus gelykvormig.
‘n Lewe van
gelykvormigheid aan die Here Jesus moet die hoogste ideaal van elke Christen
wees. In 1 Joh. 2: 6 sê die apostel: “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort
self ook te lewe soos Jesus gelewe het.” Die Here Jesus het duidelik nie vir
Homself geleef nie, maar vir andere. In Matt. 20: 28 sê Jesus: “So is dit ook
met die Seun van die mens. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te
dien, en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
Die handhawing van ‘n Bybelse gesagsorde.
God beklee die
oppergesag in die heelal. Hy het Christus as die hoof van die kerk aangestel
(Ef. 1:22). Onder die hoofskap van Christus word ouderlinge en diakens
aangestel en word leraars vir ʼn gemeente aangewys.
Kulturele en volks verskeidenheid.
Die Here het die
verskeidenheid volkere gemaak. (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die
taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen.
11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n
wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie
taal gegee. Hulle het uitmekaar gespat en elkeen in sy eie woongebied, onder sy
eie regering, gaan woon. Hieruit het dan ook die verskillende volkskulture
ontstaan.
In Gen. 1: 27-28
lees ons dat, benewens 'n volks identiteit, God die mens ook ʼn persoonlike
identiteit gegee het. In vers 28 se God: “ Wees vrugbaar, word baie, bewoon die
aarde en bewerk dit.” Hierdie opdrag van God vorm die grondslag van die
huwelikslewe om daarmee die mens se voortplanting, versorging, opvoeding
en kultuuroordrag in die samelewing te
verseker. Nieteenstaande die “verligte” siening en teologie oor sogenaamde “Gay
Rights” en onbeperkte menseregte, het God beslis nie geslaglose mense geskape
wat nie regtig weet of hulle mans of vrouens is nie.
Beginselvastheid
Die Here Jesus het
gekom om ‘n vaste geloof en duidelike lewensreëls aan ons te gee. Hy het nie
gekom om kompromieë te maak nie. Alle mense word in sonde ontvang en gebore, en
word opgeroep om, deur geloof in Jesus Christus, ‘n duidelike oorgang van die
duisternis tot sy wonderbare lig te maak (1 Pet. 2:9). Hy verwag dat ons
ons sal bekeer en met ons sondige verlede sal breek.
Christelike moraliteit, waardes en gebruike.
‘n Christen is ‘n
mens vir wie die evangelie van Jesus die enigste aanvaarbare norm vir 'n
Christelike bestaan is. Ons moet onsself voortdurend vir die eerbiediging van
alle Christelike norme en standaarde in die samelewing beywer.
Vreemdelingskap.
Afgesien van die
positiewe hervorming in baie lande as gevolg van die reformasie, word die
wêreldgeskiedenis gekenmerk deur godsdienstige beskouings waarin daar nie veel
waardering vir fundamentele Bybelse waarhede bestaan het nie. Die gevolg
hiervan was dat ware Christene vreemdelinge en bywoners in ‘n sondige wêreld
geword het. In 1 Pet. 2: 11 staan daar: “Geliefdes, in die wêreld is julle
vreemdelinge en bywoners.” In 1 Joh. 5: 19-20 lees ons: “Ons weet dat ons aan
God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is. (20)
En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om
die ware God te ken... “
Volharding.
Een van die
grootste eienskappe van ‘n Christen behoort volharding in sy geestelike lewe te
wees. Wanneer die pad steil word en die vordering moeisaam, wanneer vriende jou
verlaat en selfs familielede die rug op jou draai, moet jy steeds aan jou
verhouding met die Here Jesus vashou. Heb. 3: 14 “Ons behou deel van Christus
as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” As Christene mag
ons nie toelaat dat teleurstellings of versoekings ons van koers af dwing nie.
Toekomsverwagting.
'n Christen is
altyd ingestel op die wederkoms van Jesus. Hy weet dat hierdie wêreld nie ons
tuiste is nie, omdat God vir ons ‘n ewige woning in die hemel voorberei het.
(Joh. 14:2-3; Heb. 11:10). Dit is hierdie verwagting wat ons weerhou om in ons
eie klein wêreldjie van materialisme en eiebelang vasgevang te raak.
Aanspreeklikheid teenoor God.
Die mens moet
daarteen waak om sy eie god te word deur self op die troon van sy lewe te wil sit.
Ons is deur God geskape en geroepe om aan die beeld van sy Seun gelykvormig te
word en daarom is ons almal aan God aanspreeklik oor wat ons met ons lewe doen.
Alle ongelowiges leef in rebellie teenoor God en sal eendag voor die
regterstoel van Christus verskyn, waar hulle hulle loon vir hulle arbeid sal
ontvang (2 Kor. 5:10)
Fundamentalisme en radikalisme.
Christelike
fundamentalisme en die handhawing van basiese Christelike norme en waardes,
moet geensins met bekrompenheid óf radikalisme verwar word nie. Wanneer ons ons
Christelike geloof en beginsels handhaaf, gebruik ons nie radikale (militante)
metodes om dit te bevorder nie. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar
deur my gees, sê die Here die Almagtige
Vervolging.
Die evangelie van
Jesus Christus is nie daarop gemik om ons vir hierdie wêreld aanvaarbaar te
maak nie. In Joh. 15: 19 se Jesus: “Omdat julle egter nie aan die wêreld
behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld
julle.” En verder in vers 20: “As hulle
My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.”
[Bron: Prof. Johan Malan, Middelburg (Februarie 2008)]
Baie jongmense
beland vandag in geestelike doodloopstrate of selfs op sektariese dwaalweë,
omdat hulle nie oor 'n duidelike beginsel-raamwerk beskik nie.
Moet nie een van hulle wees nie!
No comments:
Post a Comment