Postings

Tuesday 23 October 2012

Die Uitverkiesing - Is ek ook uitverkies?



Uitverkiesing


Wat beteken Uitverkiesing nou eintlik.


                                                                                              Stes de Necker


Die Dortse Leerreëls wat tydens die Sinode van Dordrecht (1618 – 1619) opgestel is en wat vandag nog in die gereformeerde kerke as een van die Belydende Skrifte aanvaar word, bely in Artikel 7 van Hoofstuk 1 soos volg:
“Hierdie uitverkiesing is 'n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping 'n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies…. “

Die groot gnostikus, Calvyn, het gesê: “Predestination we call the eternal decree of God, by which He has determined in Himself, what He would have to become of every individual of mankind. For they are not all created with a similar destiny; but eternal life is foreordained for some and eternal death for others. Every man, therefore, being created for one or the other of these ends, we say he is predestinated either to life or to death.” (Institutes, Book III, Ch. XXI, Sec. 5)

Die uitverkiesings leer is in ʼn groot mate geskoei op die boodskap van Paulus in Romeine 9: 13 “Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ʼn mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.”

Op die vraag wat Paulus self onmiddellik hierna vra of God dan onregverdig is, antwoord Paulus sy eie vraag met: “Beslis nie!”. In vers 15 kwoteer Paulus wat God vir Moses gesê het: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” In vers 16 kom Paulus dan tot die gevolgtrekking: “Dit hang dus nie af van ʼn mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is.”

As dit nie vir die Ou Testament was nie, sou dit verseker voorgekom het of ons hier te make het met ʼn paradoks wat geen sterfling ooit kan begryp nie!

Ons moet egter nooit die konteks waarin hierdie gedeeltes in die Bybel beskryf word uit die oog verloor nie. Uit die Ou Testament weet ons dat Israel die uitverkore volk van God is. In Jesaja 44: 1 sê God baie duidelik: “Maar luister nou, my dienaar Jakob, Israel wat Ek uitverkies het…”  Verder in Jesaja lees ons op verskeie plekke dat Israel die uitverkore volk van God is (Jes. 48: 12, 49: 6, 62: 2, 63: 80) Maar dan lees ons ook die blye boodskap van God in Jesaja 56: 1 “Laat reg geskied, doen reg, want die verlossing wat Ek bring, is al aan die kom, en die redding wat Ek bewerk, gaan nou geopenbaar word.” Vers 3: “ʼn Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van Sy volk afsny nie.” Vers 6: “Ek sal die nie-Israeliet wat by My volk aansluit …. na My heilige berg toe bring.”

In die Ou-Testamentiese leer was die uitverkiesing hoofsaaklik gemik op die uitverkore volk van God,  m.a.w. op die Israeliete in volks verband.
 
Calvyn, wat grootliks verantwoordelik was dat die uitverkiesingsleer so pertinent op persoonlik vlak van toepassing gemaak is (op die vlak van my en jou as nie-Israeliet) en uit die terrein van ʼn breër volksverband verwyder is, (verwyder van die Israeliete as die enigste uitverkore volk van God), se siening was grotendeels geskoei op die evangelie van Johannes. In Joh. 15: 16 sê Jesus: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies ….”

Calvyn se siening van die uitverkiesing as “the eternal decree of God” sou jare later lei tot die opvatting by die gereformeerde settelaars in Suid Afrika, dat die swart volkere van Afrika nie-uitverkorenes was nie aangesien hulle nie Christene was nie. Hierdie opvatting het mettertyd so gevestig geraak in die gereformeerde geloof, dat dit gedurende die twintigste eeu een van die grootste steunpilare vir die ontstaan van Suid Afrika se apartheids beleid was. Wat begin het as ʼn “godsdienstige apartheid”, het uiteindelik ontwikkel tot ondermeer “politieke apartheid”. 
   
In Johannes 3: 16 lees ons egter: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê”,  en in Rom. 10: 9 dat: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”

Ons moet altyd in gedagte hou dat die uitverkiesing “in Christus” is. Efes. 1: 4-5 (4) “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. (5) In sy liefde het Hy ons, volgens Sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.”

In Christus word almal, Jood en nie-Jood, die uitverkorenes van God!

In die Nuwe Testament sê Paulus in Romeine 1: 16- 17: “ (16)  Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ʼn krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. (17) In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

In Joh. 15 : 9-10 sê Jesus self: “ (9) Soos die Vader My lief het, het Ek julle ook lief. Julle moet in My liefde bly. (10)  As julle my opdragte uitvoer, sal julle in My liefde bly, net soos Ek die opdragte van My Vader uitvoer en in Sy liefde bly.”

Dit is hier waar die werking van die Heilige Gees inkom. In Rom. 8: 11 sê Paulus: “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy, deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy gees wat in julle woon.” Die Heilige Gees is in alle uitverkorenes, Israeliete en nie-Israeliete, teenwoordig. Die Heilige Gees is die Een wat ons tot bekering bring. Daardie stil stem in ons binneste wat skreeu om gehoor te word!

“Waarom glo jy nie in Christus nie? Waarom vrees jy God nie? Waarom voel jy nog skuldig of skaam oor jou sonde? Waarom wil jy nie die beloftes van God vir Sy kinders aanvaar nie? Waarom dink jy daar is nie iets soos ʼn hemel nie of hoekom dink jy daar bestaan nie iets soos die hel nie? Waarom verwerp jy die onverdiende wonderlike genade van ons Here Jesus Christus?”

As daar ooit enige van hierdie vrae al by jou opgekom het, het ek nuus vir jou. Of jy dit wil aanvaar of nie, dit is die Heilige Gees (God in jou) wat met jou praat!

In Hand. 5: 8 vra Petrus vir die vrou van Ananias: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart?” en in Tes. 4: 8 sê Paulus: “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ʼn mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.”

In Lukas 10 vers sê Jesus: “... en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” en in vers 20 staan hierdie wonderlike woorde: “... maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” In Openbaring 3: 5 sê Jesus: “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor Sy engele verklaar dat hy aan My behoort.”

Wanneer ons in die Ou Testament gaan soek, vind ons in Eksodus 32: 31-32 dat Moses na die Here toe teruggegaan het en vir Hom gesê het: “ (31) Hierdie volk het ʼn ernstige sonde gedoen deur vir hulle ʼn god van goud te maak. (32) Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” Maar dan antwoord die Here vir Moses in vers 33: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee.”

Die vraag ontstaan dan: Sal God iemand wie se naam in die boek van die lewe geskrywe was, later uit die boek wegneem?

In Openbaring 22 vers 19 van die nuwe vertaling lees ons: “... en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.”

Die Nederlandse vertaling sê: “En indien iemand afdoet van de woorden des boeks dezer profetie, God zal zijn deel afdoen uit het boek des levens, en uit de heilige stad, en uit hetgeen in dit boek geschreven is.”

In die ou vertaling van die Bybel staan daar “En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”

1 Tim. 4: 1 skryf Paulus aan Timoteus: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang.” Hebreërs 3 waarsku ook in vers 12 teen toekomstige afvalligheid van God en sê in vers 15: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”  en dan in vers 18-19: “ (18)  Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ʼn eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie. (19) Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.”

Hierdie “voorvaders” was hulle vir wie Moses by God gaan pleit het dat Hy nie hulle name uit Sy boek moet wegneem nie. Ons weet egter dat God wél hulle name uit Sy boek weggeneem het.

Is ek ook uitverkies?

Sommiges sal seker nou sê “Oh well, tot nou toe het ek nog nooit werklik geglo nie; so ek is seker maar klaar veroordeel.”

Ons weet en glo en bely dat Jesus Christus na hierdie wêreld toe gekom het “... sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3: 16) In verse 17 en 18 van Johannes 3 vind ons die antwoord op al ons bekommernis of ons uitverkies al dan nie. “ (17) God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. (18)  Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” In Efes. 2: 5 sê Paulus: “ Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak.” En dan verder In Efes. 2: 6-7 :  (6)“Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ʼn plek in die hemel gegee, (7)  sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot Sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

Vir elkeen wat nie seker is of hy of sy uitverkies is of nie, het die Woord van God vir jou wonderlike nuus: As jy in jou hart glo dat Jesus Christus die Here is, en jy in Hom glo, wees verseker dat jy uitverkies is!

As jy nog nie die Here Jesus as jou persoonlike verlosser en Saligmaker aangeneem het nie, kan jy ook verseker wees dat dit nog nie te laat is om gered te word nie en dat jy NIE alreeds veroordeel is nie!

Solank daar nog ʼn vandag is, kan elke mens, maak nie saak hoe ongelowig of sondig hy is of was nie, in Jesus Christus, deel word van die ewige hiernamaals by Jesus. Terwyl daar nog ʼn vandag is waarin ons Christus as ons persoonlike verlosser en Saligmaker kan aanneem, is ons NIE alreeds veroordeel nie. Hebr. 3: 15: “Vandag as julle Sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie .... “ (eie onderstreping)

Hebreërs 4: 8 sê vir ons duidelik dat, as ons weens ons sondes en ongeloof alreeds veroordeel was, God nie in die Nuwe Testament nog  van ʼn ánder dag sou praat nie. In Hebreërs drie en vier verskyn die woord “vandag” nie minder as vyf keer nie.

In Romeine 8 vers 14 sê Paulus: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” en vers 17: “Omdat ons kinders is, is ons ook erfgename.” so ook       1 Johannes 4 vers 13: “Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.”  In Jesaja 30: 21 lees ons hierdie wonderlike bevestiging van ons geloof in die Heilige Gees: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’

As God al ooit met jou gepraat het; As daardie stil stem in jou binneste, die Heilige Gees, jou al ooit tereggewys het oor jou kamstige ongeloof; As jy al ooit spyt gekry het oor die verkeerde dinge wat jy al gedoen het; As jy al ooit gewêns het om ook ʼn gelowige mens te wees, dan het die Bybel vir jou ʼn wonderlike boodskap: 
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” (Johannes 3: 16) ”,  en in Rom. 10: 9 dat: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”

Dit is die blye boodskap van die Evangelie, dat die nie-Israeliet, wat voorheen nie deel was van die uitverkore volk van God nie, en daarom uitgesluit was van die uitverkiesing, in Jesus Christus deel geword het van die “volk” van God en sodoende ook uitverkorenes van God geword het.
 
Ons, die nie-Israeliete, die nie-uitverkore nasies, wat vir alle praktiese redes reeds die tweede dood gesterf het aangesien ons voorheen nie deel was van die uitverkorenes nie,  word saam met Christus uit daardie dood opgewek, en verkry nou ook toegang tot die hemel.  

Vir elkeen wat egter hardkoppig volhard in sonde en ongelowigheid, en die belofte en uitnodiging van Jesus voortdurend bly verwerp, sê die Here baie duidelik: “In My rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

In Jesus se boodskap aan die gemeente in Filadelfia in Openbaring 3 vanaf vers 7, sê Jesus in vers 11: “Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.”  “Vashou” kom nie minder as vier keer voor in hierdie brief nie. Vashou aan die boodskap van Christus; vashou aan die volharding in lyding van Christus; Christus sal hulle vashou in tyd van beproewing; en laastens die opdrag, “hou vas wat julle het”. Vashou: vasklem, bewaar, uitleef, nie afdwaal nie, nie toegee nie.

Vir die gelowige mens wat die uitverkiesende genade van God verstaan, bestaan daar 'n wonderlike troos. Die ewige heerlikheid wat ons deur ons eie sondes verloor het, word deur Jesus Christus aan ons teruggegee.

 Dít is God se uitverkiesings plan met ons. 



No comments:

Post a Comment