HEMEL
Hoeveel Hemele bestaan daar nou eintlik?
Stes de Necker
Inleiding
In die post-moderne tyd waarin ons leef
moet alles en die wetenskap verklaar
word, anders is dit nie aanvaarbaar nie. Indien iets nie en die wetenskap verklaar kan word nie, hoe
teoreties die wetenskap ook al mag wees, word dit eenvoudig verwerp. As gevolg
van hierdie neiging word talle Bybelse gegewens onder verdenking geplaas en
word, veral die Ou Testament, se geloofwaardig dikwels daardeur bevraagteken.
Hierdie verdagmaking het tot gevolg dat
selfs gelowiges al begin twyfel het oor die werklike bestaan van die hemel en
die hel. Daar bestaan vandag selfs teorieë oor die hemel as bloot 'n “toestand
van heerlikheid” terwyl die hel daarenteen bloot as 'n “toestand van pyn en
lyding” beskou word.
Die Bybel leer ons egter dat die
Goddelike-hemel én die hel, nie maar net blote toestande van heerlikheid of
lyding is nie. Die hemel, sowel as die hel, is beide bepaalde plekke in die
heelal waar die mens homself na sy opstanding sal bevind. Vir die gelowiges is
die hemel daardie plek waar ons die ewige heerlikheid sal beleef, terwyl die
hel daardie plek is waar die veroordeeldes die ewige foltering sal beleef.
Net soos die aarde, is die hemel ook ʼn
“plek”, hetsy sigbaar of onsigbaar, waarheen ons as gelowiges op pad is. Al kan
ons die hemel nie tydens ons aardse bestaan sien, of die inhoud en die omvang
daarvan ken nie, weet ons dat die hemel ʼn werklikheid is, net soos wat die
aarde 'n werklikheid is. Om enige iets anders te glo beteken dat ons die boek
Openbaring maar net so wel uit ons Bybels kan verwyder! In Openbaring laat Jesus vir
Paulus die hemel en die hel sien. Die apokriewe boeke, “Die Openbaring van
Paulus” en “Die Openbaring van Petrus” Handel spesifiek oor die Goddelike hemel
wat Jesus aan Paulus en Petrus openbaar het.
Of die hemel egter “daarbo” en die hel
“daaronder” is, is seker 'n ope vraag. Reeds sedert die tyd van Galileo en
Copernicus, is dit bekend dat daar in die heelal nie 'n bo of 'n onder is nie!
Dit hang alles af waar jy jou op die aarde bevind. Op die suidpool sal die
noordpool onder wees en op die noordpool sal die suidpool onder wees.
Tweedens leer die Bybel ons ook van 'n
tweede hemel nie áltyd bestaan het nie. God het beide die aarde én die hemel
geskep. Gen. 1: 1 “In die begin het God
die hemel en die aarde geskep.”
In die derde instansie hoor ons dikwels
dat die uitdrukking, “Hy/sy is in die
sewende hemel” wanneer iemand baie bly of gelukkig is.
Die vraag is, hoeveel hemele bestaan daar
nou eintlik?
Bybelse grondslag
Soos reeds gesê, vind ons die eerste
verwysing na “hemel” in Genesis 1: 1. God het die hemel en die aarde geskep. In
die Afrikaanse vertaling van die Bybel word daar na die hemel van Gen. 1: 1
verwys as 'n enkelvoud. In die Hebreeuse vertaling word daar egter deurgaans na
die hemel verwys as “shamayim” of te
wel ʼn meervoud van hemele.
In die vroeë Hebreeuse geskrifte word daar selfs melding gemaak
van sewe hemele. So was daar byvoorbeeld die hemel wat die lig gedurende die
nag moes bedek. 'n Ander was daar om die reën en die sneeu te hou. Nog 'n
volgende hemel was daar om die sterre en planete vas te hou. Daar was nog een
wat die siele van die geregtigdes en ongeborenes sou oppas. En dan was daardie
sesde hemel waar die engele en die hemelwesens gewoon het en laastens, die
hemelse stad Jerusalem ,
waar die troon van God is. Hierdie hemele was beskou as paleise, “heikhalot” en volgens die Hebreeuse
teologie was dit die roeping van die mens om, so vêr moontlik, na 'n hoër vlak
te vorder, totdat jy by die hoogste vlak, by die Troon van God, uitkom.
Daar bestaan egter geen verwysing in die Bybel wat hierdie
hiërargie van hemele bevestig nie. In die Gereformeerde geloof glo ons dat daar
net één, onsigbare hemel, (of Paradys), bestaan, waarheen elke gelowige ná
sy/haar dood sal gaan.
Hoekom Praat Paulus dan van 'n derde
hemel?
In 2 Korintiërs 12: 2 skryf Paulus: “Ek ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar
gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel.”
Die hemel wat volgens die skeppingsverhaal
“geskep” is, moet nie met ons uiteindelike tuiste by God verwar word nie. Die
hemel waarna Gen. 1: 1 verwys, verwys na die kosmos. Die aarde en sy atmosfeer
en die heelal rondom dit. In die normale spreektaal praat ons van die
“sterrehemel” of “die hemel is blou”.
M.a.w. die uitspansel.
In die Bybelse tyd is hierdie “uitspansel”
as tweedelig beskou. Waarna ons vandag verwys as die aarde se atmosfeer, was
beskou as die “eerste” hemel. Met ander woorde daardie deel waar die voëls
vlieg (die wolke hemel). Gen. 1: 28 “Heers oor die vis in die see, oor die
voëls in die lug ...”
Wanneer Openbaring in Hfst. 21 vers 1
verwys na: “Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die
eerste aarde het verdwyn en die see het nie meer bestaan nie.”, sê dit nie
dat die bestaande Goddelike Hemel sal verdwyn nie, maar verwys dit na die aarde
se atmosferiese ruimte óm die aarde (wolke hemel).
Die “tweede” hemel verwys na daardie deel
waar die sterre is. Die kosmos buite die aarde se atmosfeer of soos die Bybel
dit beskryf, die “hemelgewelf”. In Gen. 1: 14 staan daar: “Toe het God gesê:
‘Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei.” en in vers 17: “God het hulle in die hemelgewelf
geplaas om op die aarde lig te gee …”
Die “derde” hemel is wat ons glo ons
toekomstige tuiste sal wees, die Paradys. Die woonplek by God. In Psalm 11: 4
se Dawid: “Die Here is in Sy heilige tempel! Die Here is op Sy troon in die
hemel.” Vir die sondaar aan die kruis het Jesus gesê: “Vandag sal jy saam met
My in die Paradys wees.”
Wanneer Paulus dan praat van die “derde
hemel”, verwys hy na die geeste wêreld waar die hemel asook die hel bestaan.
Die “man” waarvan Paulus praat is in werklikheid hyself. (Lees gerus die
apokriewe boek, “Die Openbaring van Paulus” )
Dit wat Jesus aan Paulus openbaar het, was
vir hom so afgryslik, dat hy nie kans
gesien het om van homself in die eerste persoon te praat toe hy 2 Kor. 12 geskryf het nie. Hy verwys eerder na
‘n “man” wat hy ken. Binne hierdie derde
hemel het Jesus beide die hemel en die hel aan Paulus openbaar.
Wáár is die hemel?
Miskien sal jy nou vra: Maar waar in
hierdie heelal is die hemel dan? Die antwoord is eenvoudig: Niemand weet nie!
God se Woord openbaar dit nie aan ons nie.
Al die teorieë oor die hemel as ’n sogenaamde parallelle heelal of dat die hemel
in werklikheid bý en óm ons is, is blote spekulasie waarvoor daar géén
wetenskaplike basis bestaan nie.
Meeste van hierdie teorieë het hulle
oorsprong in die kwantumfisika. Hiervolgens sou dit selfs vir die mens moontlik
wees om tegelykertyd in twee verskillende, maar parallel bestaande heelalle, te
wees, sonder dat die een van die ander bewus is.
Die mens is nie bestem om in hierdie lewe
alles te weet nie. In 1 Kor. 13: 12 sê Paulus: “Nou kyk ons nog in
’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons
alles sien soos dit werklik is.”
In soverre dit die werklikheid van die
bestaan van die hemel, (en terselfdertyd ook die hel) betref, moet ons God op sy
Woord neem. In my boek, “Verborge Skatte
van die Bybel”, het ek gesê dat vir die wat nie in die bestaan van die
hemel (of die hel) glo nie, daar in werklikheid nie veel met hulle kan gebeur as hulle
eendag uitvind dat hulle al die tyd reg was nie!
Maar wat as hulle verkéérd
was?!
No comments:
Post a Comment