Postings

Wednesday 17 October 2012

Skuldgevoel en Selfverwyt.



SKULDGEVOEL EN SELFVERWYT


                                                                                                 Stes de Necker


Inleiding

Hoe dikwels hoor ons:
Ø     As ek maar eerder my mond gehou het en nie teruggepraat het nie, sou ek die- of daardie een se gevoelens nie so seer gemaak het nie.
Ø       As ek maar eerder my humeur beteuel het, sou ek nie op die ander persoon geskel het nie.
Ø      As ek maar eerder geluister het na my ouers se raad sou ek nie nou in hierdie gemors gesit het nie.
Ø       As ek maar eerder stadiger gery het, sou ek nie my gesin nie in 'n motorongeluk uitgewis het nie.
Ø       As ek maar eerder versigtiger was, sou ek nie in 'n rolstoel beland het nie.

As ek maar... As ek maar...

Maar nou is dit te laat. Spyt kom altyd te laat!

Liewe vriend/vriendin, ons almal het al verkeerde besluite in die lewe geneem of verkeerde opsies gekies. Hoeveel mense is daar wat eerlik kan sê hy/sy nog nooit ʼn leun vertel nie; veral as jy weet die waarheid gaan jou duur te staan kom! Of wat van om te veel te gedrink het op die laaste funksie, of iets te sê voordat jy mooi daaroor nagedink het. Soms is dit woede wat so die oorhand oor jou kry dat jy dinge doen waaroor jy later baie spyt is en die skade nie weer ongedaan kan maak nie. Ons almal weet van padwoede, waar mense op die pad so kwaad raak vir 'n ander motoris, dat hulle die ander een selfs sal doodslaan. Hierdie is almal voorbeelde wat 'n mens doen in 'n oomblik van swakheid en jy die verkeerd besluit neem omdat jy jou selfbeheersing verloor het.

Dit is in daardie oomblikke van swakheid wat die Satan vir jou sê: "Nee wat man, skei hom. Hy het jou lewe genoeg opgemors!" of, "almal slaap deesdae saam. Wat is in elke geval nou verkeerd daarmee?" of, "Komaan, nog so 'n lekker loopdop, enetjie vir die pad." of, "As ek jy is, dan kry ek hom/haar terug vir wat hy/sy aan jou gedoen het." of "Mens lewe tog net eenmaal so doen wat lekker is vir jou!" Dis in sulke tye wat dit baie moeilik is om selfbeheersing toe te pas en die regte besluite te neem.

In my skrywe “Beginsels en Geloof”, het ons gesels oor beginsels. Net soos 'n geheim, is 'n beginsel ook net 'n werklikheid as dit nagekom word. Wanneer jy jou beginsels prysgee, is dit nie meer 'n beginsel nie en word dit op die beste iets soos 'n goeie voorneme. Tot die mate wat jy getrou aan jou beginsels bly, sal jy oor die vermoë beskik om die versoekings van die Satan te weerstaan. Wanneer jy één van daardie beginsels prysgee ter wille van  populariteit of selfverheffing, het Satan oorwin! 

Dit is dan wanneer spyt te laat kom. Dit is dan wanneer die gevolge soms 'n ongetroude meisie is wat swanger raak, 'n huwelik wat uitmekaar spat, tronkstraf vir dwelm- of drankverslawing opgelê word, 'n loopbaan wat verwoes is, kinders wat vervreemd van hulle ouers raak, 'n lewe van selfverwyt, bitterheid, en moontlik selfs moord of selfmoord.

Dit is gewoonlik ook dan wanneer ons gewéét het wat die regte ding was om te doen, maar as gevolg van ons eie luste en begeertes en verlangens en selfsugtigheid, besluit het om nié die regte ding te doen nie.

In Gal. 5: 16 skryf Paulus: “Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.”

In ons eie krag is ons nie altyd daartoe in staat om die versoekings van die Satan te weerstaan nie en daarom leef die Heilige Gees in ons, om ons by te staan wanneer ons hierdie besluite of keuses in die lewe moet maak. Die pad wat God vir ons aandui sal altyd die regte pad vir ons lewens wees. Maar dan moet ons luister wat die Gees vir ons sê!

Die groot belofte in die Bybel

Voordat jy verder lees, stop net 'n paar sekondes en dink aandagtig wat die volgende teksvers eintlik vir jou beteken:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het, dié wat volgens Sy besluit geroep is.” (Rom.  8: 28)

Romeine 8: 28 bevat seker een van die kragtigste beloftes van God. Hierdie belofte is so liefdevol soos God self. Hierdie belofte kan enige selfverwyt of skuldgevoel volkome heel en herstel en vir altyd uit die weg ruim. 

Wanneer ons logies na hierdie belofte kyk, dan moet ons glo dat wát ookal in my en jou lewe tot dusver gebeur het, die ENIGSTE was wat kon gebeur het! Niks wat ons tot dusfêr beleef of ervaar het kon, tot in die fynste besonderhede, anders gewees het nie!

Alles wat tot dusfer met jou moes gebeur, het gebeur!

Om tot in die fynste besonderhede waar te wees, beteken dat daar in Rom. 8: 28 nie iets soos 'n “groot” verkeerde besluit, of 'n “klein” verkeerde besluit, kan wees nie! Net so kan daar ook nie 'n “groot nalate” of 'n “klein nalate” wees nie. In Rom.  8: 28 beteken “alles” presies net dit: ALLES !

Dit beteken dat daar niks in jou lewe gebeur het wat buite God se wil en beheer plaasgevind het nie.

Al lyk dit nie so nie en al gaan dit alle logika te bowe, was ieder en elke situasie wat ons al ooit beleef het, nog altyd perfek vir ons lewe! Net so was die tydsberekening van elke situasie ook perfek. Alles het gebeur op die regte tyd en op die regte oomblik toe dit moes gebeur. Elke situasie het op die regte tyd begin; nie te vroeg of te laat nie.  Elke oomblik van ons lewens, was die regte oomblik.

Al sien ons nie altyd die “ten goede” raak nie, al gebeur dit nie noodwendig op die tydstip wanneer dit ons sou pas nie, en al sou ons met God wil redeneer oor wat presies “ten goede” volgens my en jou mening is, neem dit nie die feit weg dat God presies weet wat tot my en jou beswil is en dit, met of sonder ons goedkeuring, tot uitvoering sal  bring! 

“Ten goede” is ‘n geloofsbelydenis dat ons God genoeg sal vertrou dat, wát ookal ons situasie mag wees, dit altyd tot ons beswil sal wees! 

Om jouself aanhoudend te verwyt of met ʼn skuldgevoel rond te loop oor iets wat jy gedoen of nie gedoen het nie, is om die belofte van God in Rom. 8: 28 nie te glo nie. Hoe onmoontlik dit ookal mag  klink, as ons God volkome op Sy woord neem en oortuig is dat Hy alles vir ons ten goede laat meewerk, dan maak dit nie saak wát ons gedoen of nié gedoen het nie; dit het nog altyd onder die beheer van God plaasgevind.

Dit beteken geensins dat ons nou maar kan doen net wat ons wil en dan sê, “dit was God se wil” nie!  Rom. 8: 28 onthef ons geensins van enige verantwoordelikheid wat ons nog steeds moet nakom nie. Dit beteken bloot dat wanneer ons opreg berou het oor ons sonde of swakhede en ons dit opreg voor Jesus Christus bely het, dan kan ons verseker weet dat ons sondes vergewe is en dat ons Rom. 8: 28 ons persoonlike eiendom kan maak.    

Die belofte van Rom. 8: 28 hang ten nouste af van wat jy oor God glo of nie glo nie. Die mate wat jy glo dat God ernstig is oor hierdie belofte van Hom, gaan die realiteit hiervan in jou lewe bepaal. Wat jy met hierdie belofte maak, hang af van wat jy glo. 

Niemand kan ons seker kwalik neem as ons sou vra:

Ø   Hoe kan ek verseker weet dat alles ten goede meewerk, ongeag die probleem of seer waarvoor ek te staan kom? 
Ø       Wat se waarborg het ek dat die belofte regtig is soos die Bybel dit beskryf?
Ø       Hoe moet ek weet dat dit regtig werk?
Ø       Hoe kan ek seker wees dat daar geen probleem, geen situasie is, geen mag of krag is, wat nie deur hierdie belofte gedek word nie? 
Ø       Kan ek God werklik op Sy woord neem dat Hy vir my persoonlik ‘n vaste en sekere waarborg gee dat Hy werklik alles tot my beswil sal laat uitwerk? 

Al die versekerings en waarborge waaroor jy moontlik mag twyfel, het God reeds in Rom. 8: 28 vir ons gegee. Ons moet dit net glo en aanvaar!

Om God op Sy woord te neem beteken om binne-in die seer; midde in die beproewing, altyd vas te hou aan God, wat alyd in beheer van jou lewe is!

Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein die krisis is wat jy tans beleef nie. Of jy maar net hartsser voel oor iets, of as jy moontlik deur die ergste beproewing nóg in jou lewe gaan, glo God as Hy sê dat alles sal ten goede uitwerk!  Hou vas aan hierdie belofte! 

Verder in Rom. 8: 35-38 lees ons: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.’ Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Jesus het ons reeds vergewe

Omdat Jesus ons vergewe het, moet ons onsself ook vergewe en nie vorentoe probeer leef deur ons gedurig te bekommer en te verwyt oor die verkeerde keuses en besluite wat ons gemaak het nie.

In Gal. 5: 22 skryf Paulus: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid.”

En in Eff. 2: 8 sê Paulus: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dis ‘n gawe van God.  Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”

Die grootste tragedie met selfverwyt of skuldgevoel, is nie dit wat gebeur het nie. Die grootste tragedie is die manier hoe die duiwel skuldgevoelens misbruik om ons weg te dryf van Jesus en Sy genade! 

Moet nóóit toelaat dat die Satan jou skuldgevoelens of selfverwyt gebruik om jou lewe te beroof van die vreugde en troos om te wéét dat jou verlossing in Jesus Christus vas en seker is!

 “Alles werk ten goede mee vir die wat Hy liefhet”






No comments:

Post a Comment