Postings

Friday 19 October 2012

Vrae wat Jongmense baie keer vra.



VRAE WAT JONGMENSE BAIE KEER VRA


                                                                                                 Stes de Necker


Inleiding

Hoe nader ons elke dag aan God en Sy woord leef, hoe meer leer ons van Sy liefde en wil vir elkeen van ons lewens.

Ons moet God voortdurend vra dat Hy self vir ons die Bybel sal “open”. Dit is dan wanneer die Bybel vir ons nuwe betekenis kry en wanneer ons werklik groei in die geloof.

In Jer. 33: 3 sê die Here vir Jeremia: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”  en in Psalm 119: 130 skryf die Psalmdigter: “Wanneer U woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is.”

Ons sal seker nie hier op aarde ál die antwoorde kry op al ons vrae nie, maar dit beteken nie ons kan maar ophou soek nie. In Handelinge 17:27 lees ons: “God het hulle (die nasies) gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moet rondtas om Hom te vind.”

Dit was die soeke na 'n praktiese verstaanbare begrip van die kernwaarhede van die Bybel, wat my gelei het tot die skryf van “Verborge skatte van die Bybel”. In hierdie trilogie het ek gepoog om die Bybel vanuit 'n pragmatiese oogpunt te benader en sodoende die bekoring van die Bybel opnuut weer opwindend en vol verwagting te maak.

Slegs deur vrae te vra, leer ons in die lewe!

Vrae wat jongmense baie keer vra
Volgens predikante en teoloë wat gereeld met jongmense te doen kry, wil dit voorkom of die volgende lysie vrae dié is wat die meeste gevra word. Daar bestaan seker nog dosyne ander vrae wat nie hierin vervat is nie, maar deur na hierdie paar voorbeelde te kyk vanuit die pragmatiese beskouing waarna ek hierbo verwys het, kan dit moontlik van hulp wees in ons almal soeke na antwoorde.

Vraag:
1.       Hoekom is die Christelike geloof nou juis die enigste regte geloof?  
2.       Kan 'n mens ware liefde vind op ‘n jong ouderdom?         
3.       Ons is regtig lief vir mekaar ... wanneer is dit die regte tyd om seks te hê?
4.       Hoe weet ek wanneer God met my praat?
5.       Hoe kan ek verseker weet dat ek régtig 'n Christen is?
6.       Hoekom gee die Here nooit vir my wat ek die graagste wil hê nie?
7.       Wat gebeur met my siel wanneer ek sterf tot die dag wanneer die Here ons kom haal?
8.       Hoekom is mense wat nie in Jesus/God glo nie, steeds suksesvol?
9.       Sal mense van álle gelowe eendag hemel toe gaan?
10.    Wat doen mens as jy getroud is, maar jy is nie meer lief vir jou man/vrou nie?  Skei jy hom/haar of moét jy maar eenvoudig voortgaan om by hom/haar te bly?  En hoekom is dit ‘n sonde om te skei?
11.    As Jesus alreeds ons hele lewenspad ken en dus klaar weet of ons hemel of hel toe gaan, wat is die doel van die lewe dan?
12.    Wat is die verskil tussen stout wees en sonde?  Wanneer weet jy dat jy te ver gegaan het?
13.    Dit wat ek in my lewe wil hê is dit wat ek geniet en wat vir my lekker is; maar dit is verkeerd ... wat doen ek?
14.    Is flieks en boeke soos byvoorbeeld Harry Potter satanisties of mag ‘n mens daarna  kyk?
15.    Is daar dele van die Bybel weg?

Teen die gevaar in dat ek ook as “outyds” of fundamentalisties gebrandmerk kan word, bied ek die volgende antwoorde aan soos dit in die Bybel vir ons gegee word, en moet dit gevolglik geensins gesien word as my eie skeppinge of verdigsels nie. 

1. Hoe kan ek weet dat slegs Christenskap, die regte geloof is?

In ons verhouding met die wêreld daarbuite, moet ons baie sterk standpunt oor die uniekheid van die Christelike geloof inneem. Geen mens kan na God gaan anders as deur Jesus Christus nie (Joh. 14:6). “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Die saligheid is in niemand anders nie, want daar bestaan ook geen ander naam onder die hemel wat aan ons gegee is waardeur ons gered kan word nie. In Hand. 4:12 staan daar: “Hý bring die verlossing. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mens gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

2. Kan 'n mens ware liefde vind op ‘n jong ouderdom?

Ek glo inderdaad 'n mens kan. Ek weet van baie getroude pare wie se verhoudings reeds op skool begin het. In Hfst. 4 van Volume II van “Verborge Skatte van die Bybels” het ek geskryf oor liefde en die verskillende vorme van liefde wat daar bestaan. Wanneer jongmense van liefde binne 'n verhouding praat, verwys hulle normaalweg na “Eros”. Met ander woorde liefde tussen man en vrou of kêrel en meisie. Nêrens in die Bybel bestaan daar enige “ouderdoms beperking” op liefhê nie!

3. Ons is regtig lief vir mekaar ... wanneer is dit die regte tyd om seks te hê?

Meeste van ons ken reeds die antwoord op hierdie vraag, maar wil dit nie regtig aanvaar nie. Wanneer 'n jongmens hierdie vraag vra, behoort hy/sy eers vir hulleself die vraag uit te maak: Soek ek regtig na die regte antwoord, of soek ek eerder na 'n bevestiging van my eie opinie?

Die woord hoerery word dikwels in die Bybel gebruik. Dit sien op geslagsgemeenskap voor die huweliksbevestiging, of as dit na die huweliksbevestiging plaasvind buite die huwelik. So 'n hoerery word ten strengste deur God veroordeel en verbied. Dit blyk baie duidelik uit die Woord van die Here.

In I Kor. 6: 10 sê Paulus: "Geen hoereerder sal die koninkryk van God beërwe nie". en in Efesiërs 5: 5 sê hy dat “geen hoereerder 'n erfdeel in die koninkryk van Christus en van God het nie". Volgens Heb. 13: 6 sal God hoereerders en egbrekers oordeel". En in Openbaring 21:8 word uitdruklik ook van die hoereerders gesê dat "Hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood". In die lig hiervan kan ons verstaan waarom Paulus met soveel nadruk sê: "Vlug vir die hoerery" (I Kor. 6:13-20)

Die Bybel is duidelik: Voor-huwelikse seks is onder geen omstandighede regverdigbaar nie. Sedert die vroegste eeue soek mense al na teorieë en filosofieë om voor-huwelikse seks te regverdig en niemand kon dit nog ooit regkry nie. Die rede hiervoor is duidelik. Geslagsgemeenskap het te doen met sekerlik die grootste wonderwerk in die skepping, naamlik die skepping van lewe! Dit gaan tot die diepste werklikheid van my en jou lewe; die vermoë om voort te plant. Voor-huwelikse seks het gewoonlik nie te doen met daardie diep innige gevoel van liefde en die begeerte tot voortplanting nie.

Inteendeel, die moontlikheid van 'n ongewenste swangerskap is juis wat die meeste jongmense bekommer wanneer hulle seks het! Seks is vir hulle nie 'n daad van liefde nie, maar, in die meeste van gevalle, 'n versadiging van een of ander drang of wellus.

As elke verhouding en selfs verlowing een of ander waarborg vir 'n suksesvolle daaropvolgende huwelik bevat het, sou ek seker ook 'n ernstige probleem met voor-huwelikse seks gehad het!  Maar juis omdat daar geen waarborge voor die tyd bestaan nie, loop ons altyd die risiko dat ons een van die mees heiligste instellings van God, naamlik geslagsgemeenskap, kan onteer en bespotlik maak.

4. Hoe weet ek wanneer God met my praat?

Die Heilige Gees, daardie stil stem in jou binneste, daardie oortuiging in jou hart, daardie wete dat ek verkeerd optree, dít is God wat met jou praat! Daardie stil stem in jou binneste wat gewoonlik moet skreeu om gehoor te word.

5. Hoe kan ek verseker weet dat ek régtig 'n Christen is?

Die Bybel sê vir ons baie duidelik in Rom. 10: 9, “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”

Wanneer jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, hoef jy NOOIT te twyfel of jy waarlik 'n Christen is nie. Indien daar sulke twyfel by jou sou opkom, wees uiters op jou hoede, want dan is dit niks anders as Satan wat jou met twyfel on onsekerheid probeer verlei! 

6. Hoekom gee die Here nie vir my wat ek die graagste wil hê nie?

In my artikel “Gebed Geloof en Beskikking”, het ek die vrae wat ons so dikwels hoor en wat by hierdie vraag aansluit gelys.

Ø        Dit lyk nie vir my God hoor my nie. Ek bid elke dag maar daar gebeur  niks.
Ø       Ek het God gevra om hom/haar nie van my weg te neem nie, maar Hy het dit nog steeds gedoen.
Ø       Ek vra God om raad maar ek hoor niks van Hom nie.
Ø       Ek vra God elke dag om my sondes te vergewe; maar hoekom voel ek dan nog altyd skuldig?
Lees gerus weer “Gebed Geloof en Beskikking”. Die feit van die saak is: God weet altyd wat vir jou en my die beste is. Al sien ons dit as iets wat God ons bloot net nie wíl gee nie of al verstaan ons nie hoekom God nie aan ons vrae en smekings voldoen nie, moet ons altyd onthou wat Paulus in Rom.  8: 28 vir ons sê: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Liewe vriend of vriendin, wanneer hierdie vraag by jou opkom en jy worstel om 'n antwoord te vind, hou vas aan jou geloof; hou vas aan die wete dat God 'n baie goeie rede het hoekom Hy dit nie vir jou sal gee nie; hou vas aan die oortuiging dat die feit dat Hy dit nie vir jou gee nie, tot jou eie beswil is; hou vas aan die sekerheid dat dit vir jou ten goede sal meewerk!
  
7. Wat gebeur met my siel wanneer ek sterf tot die dag wanneer die Here ons kom haal?

Soos ek al voorheen gesê het, bestaan daar nie iets soos tyd in die Koninkryk van God nie. Tyd is 'n menslike dimensie waarin ons leef en wat veroorsaak dat ons so min van God se wêreld kan verstaan. Ons kan ons eenvoudig nie voorstel hoe 'n omgewing lyk waar daar nie tyd bestaan nie.

Volgens ons begrip van lewe en dood, is dit normaal om te dink dat ná ons dood, ons iewers eers vir 'n tydperk sal moet “aanhang” voordat ons hemel toe kan gaan. Volgens die Openbaring aan Johannes, is daar nie 'n wagtyd nie, bloot eenvoudig omdat daar in die hiernamaals nie tyd bestaan nie!  
 
8. Hoekom is mense wat nie in Jesus/God glo nie, steeds suksesvol?

Soms wil voorkom of dit juis die goddeloses en onverskilliges is wat floreer en met wie dit altyd goed gaan. Daar bestaan egter net so baie suksesvolle Christene!

In die antwoord van vraag 6 hierbo, het ek gesê dat God altyd weet wat vir ons die beste is en dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Dit maak nie saak hoe suksesvol of onsuksesvol 'n mens is nie, dit kan nooit 'n maatstaf vir die beoordeling van die diepte van ons eie, of van enigiemand anders, se geloof wees nie. Geloof is nie 'n waarborg vir sukses nie! Die Fariseërs was ook gelowige mense en dit was juis hulle wat Jesus se grootste vyande geword het.       
Alles wat ons is of besit, is bloot genade.

9. Sal mense van álle gelowe eendag hemel toe gaan?

Nee! Net hulle wat in Jesus Christus glo sal die saligheid beërwe.

Daar bestaan vandag nagenoeg 35,000 verskillende Christelike denominasies wêreldwyd. Ek weet verseker nie wat elkeen van hulle belydenis van geloof is nie, maar wat ek wel weet is dat die Bybel vir ons baie duidelik sê dat net gelowiges, hemel toe sal gaan. In Joh. 3: 16, skryf die apostel:   “... sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

In Matt. 7: 21 se Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”

10. Wat doen mens as jy getroud is, maar jy is nie meer lief vir jou man/vrou nie?  Skei jy hom/haar of bly jy by hom/haar?  En hoekom is dit ‘n sonde om te skei?

In die Tien Gebooie (Eks. 20: 14) verbied God egskeiding. Wanneer 'n egpaar dus besluit om te skei, betree hulle 'n weg wat uitdruklik deur God verbied word.

Egskeiding word nie net in die Tien Gebooie verbied nie, maar ook in Maleagi lees ons: “En boonop doen julle dit: Julle bedek die altaar van die Here met trane, met geween en versugting, omdat Hy hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie. En julle vra: Waarom? Omdat die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond ... Want Ek haat egskeiding, sê die Here" (Mal.2: 13-16).

Ook in die Nuwe Testament se Jesus in Matt. 19: 6 en 9: “Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens skei nie. (9) “Ek sê vir julle, Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.” Die Bybel is gevolglik duidelik oor die vraag of egskeiding sonde is. Matt. 19: 9 is nie onduidelik nie; “Ek sê vir julle, Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.”

Egskeiding statistieke is kommerwekkend. Volgens Statistiek Suid-Afrika is daar bv. in 2007, 180,030 huwelike geregistreer, terwyl daar 29,639 egskeidings geregistreer is.  27% van die egskeidings het voorgekom in huwelike met 'n duurte van vyf tot nege jaar, terwyl die tweede meeste voorgekom het in huwelike met 'n duurte van minder as vyf jaar.

Dit laat 'n mens wonder hoekom paartjies nog enigsins trou!

Om vandag te skei is ook nie meer die ingewikkelde proses van voorheen nie. Ons howe is maar te gretig om die agterstand op die mosie rolle so vinnig as moontlik uit die weg te ruim, met die gevolg dat die proses binne 'n relatief kort tydperk afgehandel word.

Verder vind ons vandag al hoe meer jongmense wat bloot eenvoudig eerder saamwoon en saamlewe soos getroudes, maar wat botweg weier om in die huwelik te tree.

Baie van hierdie jongmense verwys graag na die huweliksertifikaat as daardie "stukkie papier" of "nuttelose papiertjie" wat geen verskil aan hulle verhouding en lewenswyse geen maak nie maar eerder net probleme kan skep.

Saamwonery word dan eerder as 'n soort proefhuwelik gesien, deur middel waarvan jongmense kan vasstel of hulle by mekaar sal aanpas as dit kom by sake soos belangstelling, finansies, seks, ensovoorts. Wanneer dit dan blyk dat hulle nie met mekaar oor die weg kan kom nie, is dit baie makliker om bloot uitmekaar te gaan as om 'n huwelik deur 'n egskeiding te laat ontbind.

Dit wil voorkom of baie van dié jongmense glo dat die grootste oorsaak van egskeidings vandag, huwelike is!

Maar selfs oor saamblyery laat die Bybel ons nie in die duister nie. In 1 Kor. 7: 9 sê Paulus: “ Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.”

God het 'n man en vrou geskape om “een” te word en om mekaar tot hulp en bystand te wees. (Gen. 2: 24) Die huwelik is die vesel wat 'n gesonde gemeenskap aan mekaar bind en in standhou en daarom mag daar nie onverskillig daarmee gehandel word nie.

Jong egpare voel dikwels dat hulle huwelikmaats hulle “soulmates” was toe hulle getroud is, maar intussen het hulle huwelik sy vonk verloor soos duisende ander huwelike. Dit is die tyd dat Satan allerhande verskonings en selfregverdiging in jou kop gaan sit hoekom dit geregverdig sal wees om te skei. Hy sal niks en niemand ontsien nie. Self skoonma of skoonpa sal 'n rede word hoekom die huwelik 'n mislukking is. En die interessante is dat die oorsaak altyd iets of iemand ánders is, maar nooit jyself nie!

Dit is dan wanneer elkeen baie ernstig, eerlike introspeksie, moet doen. Eerlike introspeksie is sekerlik een van die hardste dinge in die lewe om te doen en jou aandeel in die verbrokkeling van 'n huwelik openlik te erken.

Die enigste manier om dit reg te kry is om op jou knieë voor die Here te gaan en hierdie dinge met Hom uit te praat. Bely jou gevoelens en vra vir vergifnis. Jy het die Here nodig vir perspektief. Onthou egter dat op daardie stadium jou hart en verstand vol sal wees van die “redes” wat Satan in jou geplant het, met die gevolg dat alles binne-in jou sal skree teen dit wat God vir jou wíl en kán doen! Nét God kan 'n hart van klip verander in 'n harte van liefde.

11. As Jesus alreeds ons hele lewenspad ken en dus klaar weet of ons hemel of hel toe gaan, wat is die doel van lewe?

Hierdie is 'n vraag wat baie deur, nie net jongmense nie, maar ook baie ouer mense gevra word aangesien dit in wese handel met die sogenaamde “uitverkiesings leer”.

Uitverkiesing moet nooit fatalisties beskou word nie. Uitverkiesing is, indien enigiets, 'n wonderlike versekering dat ons, in Jesus Christus, uitverkies is tot die ewige saligheid.
Lees gerus Hfst. 2 van Deel II van “Verborge Skatte van die Bybel”.

12. Wat is die verskil tussen stout wees en sonde?  Wanneer weet jy dat jy te ver gegaan het?

In meeste gevalle is hierdie vraag ook een van die waarop ons gewoonlik alreeds die antwoord ken, maar dit net nie altyd wil aanvaar nie. Wanneer die Heilige Gees ons vermaan; wanneer ons God se stem in ons binneste hoor, weet ons wanneer ons iets verkeerds doen.

Ek het voorheen al gesê dat die Heilige Gees daardie stil stem in ons binneste is wat gewoonlik moet skreeu om gehoor te word!

Wanneer ons God se stem, die inspraak van die Heilige Gees, hoor, moet ons luister. God sal vir jou baie duidelik sê wanneer iets verkeerds is en waarsku voordat jy te vêr gaan.

13. Dit wat ek in my lewe wil hê is dit wat ek geniet en wat vir my lekker is; maar dit is verkeerd ... wat doen ek?

Jy LOS dit! So eenvoudig soos dit.

Geen teorie of filosofie kan dit wat jy wéét verkeerd is, regmaak nie. In Matt. 10: 38 sê Jesus: “Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.” en in Luk. 9: 23 staan daar: “Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.”

Ons moet elke dag stry teen die sonde en die verkeerde dinge in ons lewe.
Dit is wat Jesus bedoel met “elke dag jou kruis opneem”.

14. Is flieks en boeke soos byvoorbeeld Harry Potter satanisties of mag ‘n mens daarna  kyk?

Die bose geeste-wêreld is 'n realiteit of die post-modernisme dit nou wil aanvaar of nie. Net soos wat alkohol en dwelmverslawing 'n realiteit is, net so is duiwels-verslawing (besetenheid) 'n realiteit. Net soos wat dwelmverslawing ook nie oornag plaasvind nie, net so vind duiwels besetenheid ook nie oornag plaas nie. Almal begin met daardie eerste onskuldige eksperiment en dan 'n tweede en 'n derde, en voordat die persoon besef waar hy/sy is, is dit reeds te laat.

Boeke en films soos Harry Potter en andere, is seker nie bedoel om satanisties van aard te wees nie. Dit is egter die “onskuldige” aard daarvan wat Satan so effektief gebruik om daardie oorspronklike saadjie van duiwels eksperimentering by baie van ons jongmense te plant.

Moet eerder nooit die Bose uitdaag of probeer aanvat nie. Jy sal nie wen nie! Daarvoor is die duiwel te slinks en te magtig. Bly eerder weg van enigiets wat jou in die versoeking kan laat kom. Maar as jy dan na sulke films wil kyk, doen dit met die wete dat Satan gereed staan om jou in die versoeking te probeer bring en waak dan opsetlik teen daardie versoekings!

15. Is daar dele van die Bybel weg?

In die Katolieke en Engelse Bybels verskyn daar sekere boeke wat nie in ons Afrikaanse vertaling van die Bybel voorkom nie.

Gewoonlik word daar na hierdie boeke verwys as die “apokriewe” boeke wat, alhoewel hulle ook in die Bybelse tyd geskryf is, nie as gesaghebbend aanvaar is nie. In die Gereformeerde geloof vorm hulle gevolglik nie deel van die kanonieke boeke nie.

Alhoewel hierdie boeke baie kan help om ons verstaan en begrip van die Bybel duideliker te maak en daarom ook goed is om te lees, moet hierdie boeke nie as Bybelboeke gesien te word nie.

Baie mense is gevolglik onder die indruk dat aangesien hierdie boeke nie in ons Bybel voorkom nie, daar sekere boeke van die Bybel “weg” is, wat nie die geval is nie. Ons glo dat die 66 boeke van die Bybel die volledige “kanon” is, met ander woorde dat hulle die toets van gesaghebbendheid geslaag het.  




  

No comments:

Post a Comment